Wat is jou Proustiaanse beskuitjie?

Wie was Proust en waar pas die beskuitjie in die storie?

proust.jpg

Marcel Proust was ‘n Franse skrywer, meesal bekend vir sy boek “In Search of Lost Time”. Die Proust Madeleine verskynsel is nou al amper so bekend soos Newton se appel. ‘n Man eet ‘n beskuitjie (Madeleine beskuitjie) saam met sy tee en die smaak roep skielik ‘n vloedgolf van herinneringe by hom op, soveel so dat hy ‘n boek daaroor skryf.

So, nou vra ek vandag – watter reuk, smaak, klank of voorwerp laat ‘n kasdeur in jou kop oopgaan en ‘n wêreld se herinneringe uittuimel?

Die reuk van varsgesnyde gras ruik altyd vir my soos waatlemoen en dit neem my onmiddellik terug na Sondagskoolpieknieks.

Oggendmis het ‘n reuk en dit laat my onthou van skool toe ry met my fiets, in die mis, en die klam reuk wat aan my skoolbaadjie bly kleef het.

Varsgebakte brood – ek ruik dit deesdae so min, maar daardie reuk plaas my binne sekondes terug in my vriendin Nicolene se ma se kombuis. Sy kon die lekkerste brood in die wêreld bak, en die korsie was altyd myne. Met botter en appelkooskonfyt, so op die louwarm brood.

Minder aangenaam – die sulfur reuk as ek soms by Caltex se raffinadery verby ry – dit plaas my vierkantig terug in my jare in Secunda en dan is ek elke keer diep dankbaar ek is terug in die Kaap. Dis ‘n reuk wat my nou nog elke keer tussen die oë slaan – ‘n “ek wil nie hierdie onthou nie”- reuk.

So, wat is jou Madeleine beskuitjie?

20 Responses

  1. Die reuk van reëndruppels in die stof laat my om een of ander rede altyd terugdink aan die 2 jaar wat ons in Suidwes gebly het.
    Die reuk van houtsaagsels laat my aan my Pa dink, en die reuk van moerkoffie aan ouma se kombuis in Bonnievale.

  2. Sout en asyn Simba skyfies laat my dink aan my “morning sickness”.Dis al wat daarvoor gehelp het.
    Die reuk van ‘n biblioteek het ‘n kalmerende invloed op my.Ek lief boeke en kan ure in ‘n bib ronddwaal.
    Vars gebakte vetkoek…. MY MA!!! Net sy kan dit so spesiaal bak!
    Filter koffie laat my dink aan my ouerhuis. Ons het moerkoffie gemaak in ‘n kan met ‘n flenniesakkie!!!

  3. Die reuk van jou Charlie parfuum – dit laat altyd die kasdeur oopgaan en die onthou uitklim, van Pretoria, La Estancia, Gordonsbaai en hoe jy daai rooi BMW bestuur het! Onthou jy nog?

  4. Soms in ‘n skare vang ek die die geur van ‘n vreemdeling met dieselfde aftershave as een van my kêrels op hoErskool, dan dink ek altyd aan hoe hy gesoen het – asof hy my wou insluk!

  5. Die reuk van oestyd, daardie suur, gis druiwereuk, neem my altyd terug na die tye toe ek nog klein was en saam met die plaaskinders in die kelder gespeel het.

    En die reuk van winterreën onder die akkerbome laat my verlang na my studentedae.

  6. Daai coconut suntan olie (kry mens dit nog?) sal my altyd laat terugdink aan klein-tyd by die see. Ek sien sommer die kaalvoet Indiër man wat in die sand verby loop en toffie-appels smous.

  7. Deep Heat laat my altyd dink aan die tyd in die kleedkamer voor ‘n rugbywedstryd.

  8. Olay se dagroom voer my terug tot in my gunsteling oupa en ouma se slaapkamer waar ouma voor haar spieëlkas sit, besig om gereed te maak vir nog ‘n dag wat voorlê – ‘n tyd toe ek nog nie omgegee het wat voorlê nie!

  9. Xanika, daai selfde reuk laat my ook met groot verlange aan my Ouma dink. Asook die reuk van chocolate koek. Ek mis haar! Son, die reuk van Old Spice, my pa en pannekoek, my ma. En as ek babapoeier ruik, verlang ek terug na die tyd toe my kinders baba’s was.

  10. Graffiti laat dink my aan my eerste boyfriend, so ook Fire&Ice for men. Peach vinolia seep laat dink my aan my een ouma, Silk-E seep laat dink my aan my ander ouma. Die reuk van moerbeie laat dink my aan die huis waarin ons gebly het toe ek St1 was, het my oor-eet aan dit en opgegooi daarna…kan die reuk nie verdra nie. Old Spice, gemeng met ‘n sigaret-reuk laat dink my aan my pa. Nat gras in die somer en waatlemoen laat dink my aan rus-tydjie, so oord waarnatoe ons Sondae gegaan het toe ek Sub A was en ons nog in Kraaifontein gebly het..daar is so baie reuke wat my laat dink aan mense en tye in my lewe..

  11. Reuke… daar’s soveel wat soveel herinneringe oopkrap … of oopstreel!

    Gesnyde gras…. reen….. vars, gestrykte linne…

    En dan… daai DIESELFUME-reuk… OMF!!

    Maar reuke is ‘n belangrike ‘iets’ in my lewe…..

    Nog ‘n voorbeeld: Waar ek bly, is daar net ‘n ‘skoon’ reuk, iets wat mens nie in woorde kan beskryf nie, maar wat ‘uniek’ is… en dit laat my veilig voel….. (Hehe, veral na ‘n dag in die Jhb traffic)!

  12. Die geluid van ‘n dial-up modem sal my altyd laat dink aan hoe excited ek was om ook die groot wye internet te mag verken…choing choing choing gggggggg…en dan flikker die twee blou blokkies.

    Die reuk van ‘n nuwe kar met leer sitplekke.

    Dis regtig net die reuk van koffie wat my soggens oortuig om ook maar op te staan.

    Mal daaroor as ek wasgoed nadertrek masjien toe en dit nog na Wikkel se perfume ruik.

  13. Moet ook sê die reuk van koffie. Toe ek en Renate mekaar leer ken het, was dit ons gunsteling aktiwiteit. Oor honderde, nee dalk duisende koppies koffie het ek en sy mekaar beter leer ken. Elke oggend vat ek nog vir haar koffie, en as ek die koffie maak en die reuk van daardie koffie kry, dan dink ek aan hierdie wonderlike stukkie onskuld wat ek die genade gehad het om te mag ontdek. Meestal rodnom die reuk van koffie.

  14. Koffie, kaneel, pannekoek, die skoon, vars reuk van wasgoed, die reuk van grond na die eerste reëns. Dan dink ek ook aan die reuk van vloerpolitoer en die geluid van die poleerder as ons vakansies by die huis was en ek vir my ma die kombuisvloer gepoleer het totdat dit soos ‘n spieël geblink het. Die reuk van sonbrandolie op die strand, die seewater wat skitter soos die son daarop skyn, die soutreuk in jou neusgate… Om laventelblare stukkend te vryf tussen jou vingers of ‘n vanieljepeul oop te breek en daaraan te ruik. Marina het ook genoem van die reuk van boeke. Ek was van kleins af mal oor ‘n biblioteek.

  15. Fenjil badolie laat my na my ma verlang, kaneel en pannekoek na my ouma se kombuis. Cherry en maple tabak rook laat my na Oupa verlang. En die reuk van petrol laat my die “uitnaweke” huistoe onthou toe ek nog in die koshuis was, en viskoekies laat my die koshuis onthou, maar nie mis nie!

  16. Sonson, jy is ‘n asgat!

    Maar jy IS reg oor gras en waatlemoen. Ding het net vanoggend weer by vrim’e man se plaas enemaal loop botstilstaan oor daai nou se gesnyde gras wat waatlemoen se ruik het. Is mos opslag net daar dat ding skoon ophou onthou waar hy eintlik is, vir vrim’e man se tuinwerker sê staan tog net so effe opsy en handig my daai grasmasjien oor … Ding het darem nie lank anner man se gras gesny nie; net bietjie. En toe met lang oë maar die grasmasjien uitgelos – ten minste het die tuinwerker besef daar IS iemand wat graag sy werk sou wou doen. hehe

    Sien jy nou, tot vir ding gekry om te wil-wil onthou – jy laat mense praat sonder keer!

  17. ding, het ding dan ook so gedink? Daai tuinwerker gee dalk glad nie om om effens opsy te staan dat ding maar net bietjie sy werk vir hom doen nie.

    Daai werker gaan nou uitkyk vir ding om weer daar verby te kom en hom bietjie af te los. hehehe!

  18. ambulanse laat my dink aan my broer

  19. very interesting.
    i’m adding in RSS Reader

  20. Mijn proustiaanse madeleine is een paperclip! Als ik een paperclip vasthoud moet ik altijd denken aan de eerste keer dat ik A la Recherche du temps perdu las. Met paperclips gaf ik aan dat er een interessante passage in een boek zat. Bij Proust heb ik zoveel paperclips gebruikt dat ik nu een document van 100 pagina’s heb, met alleen maar citaten/passages van Proust.

    Sorry dat ik in het Nederlands antwoord. Ik hoop dat jullie mij net zo goed verstaan en begrijpen als dat ik jullie begrijp.

Lewer kommentaar op platterfuss Kanselleer antwoord