Ek soek my polonie!

Om hierdie storie te kan waardeer, moet ek julle net eers bietjie vertel van my ma. My ma is wat mens sal noem ‘n “artist”. VREESLIK kunstig, teken die mooiste prentjies, kon die mooiste stories vir ons uitdink toe ons klein was, en al daai dinge.

Maar sy is ook so verstrooid soos tien professors. Sal haarself op ‘n plek vergeet en dan nie weer die plek kan kry nie nevermind haarself kry. En ALTYD laat, vir alles. Een van ons huisvriende het altyd gespot en gesê sy sal nog eendag laat wees vir haar eie begrafnis! So verstrooid dat sy sal soek na haar bril, terwyl sy dit eintlik op het en sulke goed.

Sy het altyd gelees terwyl sy bestuur het – ja, ek speel nie! Verder het sy een dag vergeet om ons by die skool te kom haal. Tot haar verdediging moet ek darem net noem dat my pa ons gewoonlik kom haal het. Dalk hoekom sy nie onthou het van ons nie. Maar ek dink baie sy sou ons dalk meer kere op plekke vergeet het as my pa nie by was om ons te onthou nie.

Sy was nie ‘n slegte ma nie, hoor. Inteendeel. Sy was lief vir sing en het ons van kleinsaf allerhande liedjies geleer. Sy was net sy. Punt. Meer vrou as ma. Anderdag het ek dit eers verstaan.

Wel, een Desember, terwyl ons vakansie hou in Mosselbaai, gaan my ma en my tannie, haar suster, met my by, Woolworths toe in Mosselbaai. Ek is toe so 11 jaar oud. Maar voor ons in Woolworths ingegaan het, het my ma iewers van daardie rolle polonie gekoop – my pa was mal daaroor. Elk geval, so het sy die polonie in ‘n sakkie in haar hand en ons travel nou hier deur Woolworths.

Nou, daar was niks wat my ma meer getrek het as ‘n uitverkoping nie. En hier staan twee sulke groot houertipe goed, met klere op uitverkoping. Die houers is toe nou al ‘n bietjie deurmekaargekrap, want julle weet mos nou hoe krap mense deur sulke “bargains”. En my ma duik daar in die goed in, eers deur die een en toe deur die ander een.

My tannie, wat nou weer HEELTEMAL anders as my ma is, raak naderhand ongeduldig en kry my ma aan die arm beet en sê hulle moet nou loop. En daar kom my ma agter haar sakkie met die polonie is weg!

Nou weet sy dit moet iewers tussen hierdie klere wees en sy begin soek. Sy krap daai eerste houer deur dat die klere naderhand soos ‘n berg in een hoek staan, maar aikona, niks polonie nie. En die winkelmense begin snaaks kyk. Intussen staan my tannie en ek so ‘n ent weg, want ons wil nie nou meer eintlik saam met my ma gesien wees nie.

Toe vat sy daai tweede houer en toe sy nou so halfpad berg gebou het, toe kom die man na haar aangestap. Ek dink hy was een of ander bestuurder van die winkel. En hy tik haar so op die skouer en vra: “Dame, is daar dalk iets waarmee ons u kan help?” En my ma duik tussen die klere uit en fokus eers so sekond of twee om hom mooi raak te sien en sê: “Ag nee wat, dankie meneer, ek soek net my polonie.”

Die uitdrukking op daai man se gesig: “Priceless”! En soos die duiwel dit wil hê – woeps, hier vat sy die polonie raak. Sy gee hom so ‘n lam knie smile en sleep daar uit, met ek en my tannie agterna, te verstom vir eers om te lag. En die man staan nog soos Lot se vrou. Nie seker of die mooi vrou met die polonie nie dalk ‘n ontsnapte uit die malhuis is nie!

Maar toe ons die sypaadjie tref, toe lag my tannie dat sy moet gaan stil staan en my ma lyk asof botter nog nooit in haar mond gesmelt het nie. Vandag nog, as ons iets soek en iemand vra wat soek ons, dan is die standaard antwoord: “Ag, ek soek net my polonie!”