Baba Jaga

Doringrosie tag my om te skryf oor vlieg. Sy het nie voorwaardes gestel oor watse vlieg nie, so ek fantaseer bietjie en vertel julle van Baba Jaga, iemand uit Russiese volksverhale.

Baba Jaga is ‘n heks, ‘n towenares, ‘n wilde ou vrou uit die Slawiese mitologie. Sy is ook soms ‘n woudgees wat ander geeste lei.

Baba Jaga vlieg deur die lug op ‘n stamper, van ‘n vysel. Sy gebruik die stamper as ‘n roer en vee haar spore dood met ‘n besem gemaak van silwerberkehout. Sy bly in ‘n houthut wat kan rondbeweeg op dansende hoenderpote. Haar hut het geen vensters en deure nie. Baba Jaga self gebruik dikwels die skoorsteen om in en uit haar huis te vlieg.

Baba Jaga se houthut is omring deur ‘n heining met ‘n kopbeen op elke paal. Daar is gewoonlik een paal sonder ‘n kopbeen sodat daar plek is vir die kopbeen van die verhaal se held. Die voordeur se sleutelgat is ‘n mond vol skerp tande. In party volksverhale is die deur aan die ander kant van die hut en kan die held dit nie sien nie. Hy moet dan eers ‘n towerspreuk sê: “Hut, o hut, draai jou rug na die woud, jou voorkant na my.” So dwing hy die hut om om te draai en kan hy dan die deur sien.

In party volksverhale word Baba Jaga se huis verbind met drie ruiters: een in wit geklee op ‘n wit perd met ‘n wit tuig, (hy word Dag genoem); ‘n rooi ruiter (Son) en ‘n swart ruiter (Nag).

In haar huis werk onsigbare bediendes. As iemand haar na die ruiters vra, sal sy verduidelik, maar as iemand na die bediendes vra, kan sy hulle dalk doodmaak. Baba Jaga is soms ‘n goeie mens en soms ‘n slegte mens. In sekere stories help sy mense, in ander vang sy kinders en dreig om hulle op te eet. Dit is gewoonlik gevaarlik om haar hulp te vra. Sy glo mens moet behoorlik voorbereid wees, goeie maniere en ‘n reinheid van gees hê, anders raak sy baie kwaad.

In die volksverhaal Wasilissa die Mooie, kry ‘n meisie drie onmoontlike take wat sy moet uitvoer met die hulp van ‘n towerpop wat haar ma vir haar gegee het. Wasilissa word na Baba Jaga gestuur en word deur haar gevang, maar die heks se bediendes – ‘n kat, ‘n hond, ‘n hek en ‘n boom – help vir Wasilissa ontsnap omdat sy vriendelik was met hulle. Op die ou end word Baba Jaga in ‘n kraai verander, maar sy ontsnap weer en vlieg weg.

Baba Jaga verskil bietjie in Poolse volksverhale van die Russiese Baba Jaga. Haar huis het byvoorbeeld net een hoenderpoot. Slegte hekse wat in gemmerbroodhuise woon, word ook Baba Jaga genoem. Sy vlieg weer op ‘n mop rond met swart en rooi gestreepte klere.

In party verhale, soos Die Veer van Finist die Valk, ontmoet die held sommer drie Baba Jaga’s. Sulke getalle is gewoonlik ‘n goeie teken, omdat dit aan die prins raad of towergeskenke gee.

Baba Jaga se houthut sonder vensters en deure is moontlik die interpretasie van ‘n doodgewone boustyl wat gewild is onder nomadiese jagtervolke van Siberië. Dit word so gebou om voorrade te beskerm teen diere wanneer hulle vir lang tye van die huis af weg is. ‘n Houthut sonder vensters en deure word gebou op stutte gemaak van stompe van nabygeleë bome. Die stompe, met hul wortels, gee die indruk van “hoenderpote”.

Baba Jaga is ‘n gewilde karakter van Russiese rolprente en tekenprente. Georgi Milliar, ‘n manlike akteur, het Baba Jaga gespeel in verskeie rolprente van die 1930’s tot die 1960’s, onder meer in Wasilissa die Mooie, Ryp, Die nuwe Avonture van die Gestewelde Kat en ander. Hy het ook al Kosjtsjei, die Onsterflike gespeel.

Volgende keer as dit volmaan is, kyk mooi. Dalk sien jy Baba Jaga verby vlieg.

Bron: – Wikipedia

Pretoria girl skop gat!

Kyk nou net hoe steek die Pretoria se girl ons Kaapse meisies in die skande!  😈

Ek hou hiervan, ek hou sommer BAIE hiervan, veral die deel waar hulle hom TERUGSLEEP na die motor toe  😆 😆

http://www.dieburger.com/Stories/News/18.0.624196137.aspx

Muses

Wipneus vertel hier van haar Muse. Toe raak ek nuuskierig en gaan lees bietjie oor Muses.

Baie kunstenaars, skrywers, digters en musici het al vertel dat hul kreatiewe werke deur iemand anders geïnspireer is. Na hierdie iemand verwys hul dan gewoonlik as hul Muse.

‘n Muse is iemand wat so ‘n groot invloed op ‘n ander persoon het, dat hy of sy die fokus van daardie persoon se skeppende werke word. Histories is hierdie term deur mans gebruik wanneer hulle verwys het na die vroue wat hulle liefgehad het en wat hul werke geïnspireer het. Hulle het dan ook oor hierdie vroue geskryf, gedig of hulle geskilder.

Die woord muse kom van die Griekse mitologie. Zeus, koning van die gode en Mnemosine, godin van die geheue, het nege dogters gehad, wat die Muses genoem is. Hierdie nege dogters was een in hart, gees en denke. As die Muses ‘n man liefgehad het, het hierdie man se sorge soos mis voor die son verdwyn. Hierdie man is dan ook as meer heilig geag as enige ander heilige man.

Dwarsdeur die geskiedenis van die kunste is mans en vrouens geïnspireer deur hul eie muses. Dink aan John Lennon en Yoko Ono, twee mense wat mekaar geïnspireer het en ook die onderwerpe van mekaar se werk geword het. Nog ‘n wêreldberoemde kunstenaar wat deurentyd sy muses gebruik het in sy werk, was die skilder Pablo Picasso. Elkeen van die vroue wat hy ontmoet en liefgehad het, is later in sy werke verewig.

Picasso het verskeie verhoudings gehad, waarin hy vele vroue se harte gebreek het. Picasso se werk toon hoe elke verhouding van hom verloop het, van die eerste opwinding van ‘n nuwe romanse tot by die verbrokkeling van die verhoudings. Al die stadiums kan in sy werk gesien word. Hy is somtyds fel gekritiseer omdat hy die vrouens in sy lewe so maklik kon eenkant skuif as die inspirasie begin kwyn het en sy werk daaronder begin ly het. Dan het hy doodeenvoudig aanbeweeg na ‘n nuwe vrou, ‘n nuwe romanse, ‘n nuwe muse, wat hom opnuut weer inspireer het.

Die muse is nie altyd ‘n lewende wese nie. Muses kan ook van ‘n spirituele wêreld of van ‘n ander dimensie kom. Of jou muse nou van ‘n spirituele of van ‘n persoon van vlees en bloed kom,  jy sal altyd jou inspirerende of kreatiewe oomblikke te danke hê aan jou Muse. Jou lewe sonder ‘n Muse is heelwat armer.

Hier is die nege Muses, met die velde waarvan hulle die beskermers is:

Kalliope (wonderskone van spraak) – hoof van alle muses en die muse van epiese en heroïse poësie

Clio (die glorieryke een) – muse van geskiedenis

Erato ( die amoreuse een) – muse van liefdes- of erotiese poësie, lirieke en huweliksliedere

Euterpe (die welgevallige een) – muse van musiek en liriese poësie

Melpomene (die voorsanger) – muse van tragedie

Polyhymnia (die sanger van vele gesange) – muse van gewyde liedere

Terpsigore (die een wat lief is vir dans) – muse van sang en dans

Thalia (die bloesende een) – muse van komedie en herderspoësie

Urania (die hemelse een) – muse van astronomie

***************************

Wipneus, jy moes tog kon raai wat my Muse is – nie ‘n mens of wese nie 😆

Het jy ‘n Muse? Vertel ons! 😉

Bronne:

http://www.wisegeek.com/what-is-a-muse.htm

http://en.wikipedia.org/wiki/Muses

Gooi weg jou kierie

“People only see what they are prepared to see” – Ralph Waldo Emerson 1803-1882

‘n Man is blind gebore. Sy wêreld het reuk en klank ingesluit, maar hy het geen begrip gehad van lig of kleur of skoonheid nie. Hy het nog nooit bloeisels aan die bome gesien in lentetyd nie, of die goud, rooi en geel prag van die blare in die herfs nie, of die goue-geelbruin van die grasvelde van die hoëveld in die winter nie. Die unieke hoop van ‘n sonsopkoms oor die see of die prag van ‘n sonsondergang in ‘n stowwerige woestyn, was onbekend aan hom. Hy het nog nooit wolke gesien nie, ook nie die sagte val van reën of die skielike helder flits van weerlig of die vele kleure van ‘n reenboog nie. Hy kon nog nooit net sit en kyk na water nie … in stil helder poele of in ‘n murmelende stroompie of in die stadige vloei van die oseaan nie. Hy het nog nooit die see gesien en gesien hoe breek die branders nie.

Hy het in ‘n donker ruimte geleef, onbewus van wat hy mis, tot op ‘n dag toe die dokters uitvind hoe om sy blindheid te genees.

Die spesialis het hom vertel presies hoe die operasie gedoen gaan word. Hoe lank dit gaan neem, wat gaan gebeur en hoe, maar dit het gelyk asof die man teensinnig is om die operasie te laat doen. Die dokter het sy familie en vriende se hulp gevra om hom te oorreed en te vertel hoe wonderlik dit sal wees om te kan sien. Hoe meer hulle aan hom verduidelik het, hoe meer verward het hy geword. Hy het geen begrip gehad van rollende, groen heuwels nie, hy het geen idee gehad van ‘n mistige, blou oseaan nie, hy het net geweet wat nat beteken. Hy het geen bewustheid gehad van lekkende rooi en geel vlamme in ‘n kaggel nie, hy het net geweet wat warm en brand beteken.

Sy vriende en familie het ergerlik geraak met hom, sy dokter was besorgd en die spesialis het gedink die man is ondankbaar.

Uiteindelik het die man ‘n vraag gevra: “Sal ek nog my kierie kan gebruik? Ek wil nie kan sien as ek nie my kierie kan gebruik nie.” Vir meer as veertig jaar het hy vertrou op die leiding van sy wit kierie. Dit het hom gehelp om afstand en diepte te skat; dit het hom gehelp om hindernisse in sy pad te onderskei van leë ruimtes: dit het hom gehelp om grootte en vorm en dimensies te skat.

Sy kierie was sy oë. Alles wat hy van die wêreld waargeneem het, was gebaseer op dit wat sy kierie hom help waarneem het. Die gedagte dat hy sy kierie moes opgee, het hom vreesbevange gelaat. Die gedagte dat hy sonder hierdie leiding moes lewe, was vir hom vreesaanjaend.

“Ja”, het die spesialis gesê. “Jy kan steeds jou kierie gebruik as jy wil, vir solank as wat jy wil. Mettertyd sal jy dalk daarvan ontslae wil raak, maar dit sal jou keuse bly.”

Die blinde man moes nou ‘n keuse maak. Om vir die eerste keer te kon sien. Om die prag en skoonheid en grootsheid van die wëreld van sig te betree of om te bly soos wat hy is … in duisternis.

Watter opsie het hy gekies?

Watter opsie sou jy gekies het? Jy sien (‘pardon the pun’) soos die blinde man in die storie, gebruik sommige van ons ook ‘n kierie om mee oor die weg te kom in hierdie wêreld, ons kieries help ons ook ‘sien’.

Ons kieries is toegedraai in die vrese en vertwyfelings wat ons toelaat om ons lewens te reël. Ons dink ons kieries hou ons veilig omdat dit ons beskerm daarteen om risikos te neem. Dit weerhou ons daarvan om nuwe keuses te maak, nuwe oplossings te vind, nuwe opsies te oorweeg. In werklikheid hou ons kieries ons stewig vasgevang in ons groef, terwyl ons navigeer tussen die mure van vrees en twyfel, verby oop deure of nuwe geleenthede skarrel so vinnig as wat ons kan, terug na die veiligheid van ons groef.

Nou dat jy weet daar is ‘n helderder, wyer, meer opwindende wêreld anderkant die reikwydte van jou kierie, wat gaan jy doen?

{Met erkenning aan Alchemie Solutions}

Lees en lag!

Ek lees selde kortverhaal bundels. Ek hou van ‘n boek met ‘n begin en ‘n einde en tussen in moet ‘n ordentlike storie wees. Maar soms gaan ek deur ‘n stadium waar ek moeg raak van ‘hele’ boeke lees en dan krap ek rond vir kort stories of sketse. So kom ek onlangs af op Dana Snyman se bundel sketse – Uit die binneland.

uit-die-binneland-dana-snyman.jpg

Ek begin lees en kort voor lank kan ek die boek nie neersit nie; dalk ook omdat ek met so baie dinge waaroor hy skryf kan identifiseer. Gisteraand lees ek ‘Neem my op vlerke’, en terwyl ek lees, begin ek lag. Ek lag naderhand so dat die Liefie kom kyk wat aangaan. Ek probeer vir hom voorlees, maar ek lag so, (want ek het toe mos reeds die prentjie in my kop), dat hy geen woord kan uitmaak wat ek lees nie. Na ‘n paar probeerslae, waarin die lag net elke keer bo-oor my lees hardloop, het hy maar die boek gevat en self gelees. Ek hoop Dana vergewe my, maar ek gaan die skets hier vir julle herhaal. Alle erkenning aan Dana Snyman, wie se ander boeke ek nou gaan soek en ook gaan lees!!! Ek hoop julle geniet dit net soveel soos ek.

Neem my op vlerke

Ek kan steeds nie na daardie liedjie luister nie. Daardie een van Anneli van Rooyen: “Neem my op vlerke”. As dit speel, skakel ek die radio af. Jammer.

Dit herinner my te veel aan die nag toe Oupa tussen Grootfontein en Otjituru in die ry uit ons Hilux-bakkie geklim het.

Ons is die oggend vroeg by die huis weg, op pad om by oom Jors Stroh op sy plaas anderkant Grootfontein te gaan jag. By Postmasburg ontdek ons toe ons het die tassie met die kassette vergeet. Al wat ons gehad het, was Annelie se Ek wil jou ken-kasset wat Ma in die Hilux se kassetspeler gelos het. (“Neem my op vlerke” is nommer 3 op kant 2, as ek dit nie mis het nie.)

Daar was darem ook die radio maar êrens tussen Nakop en Karasburg het dit ontroosbaar begin suis en krap. Toe stoot Pa maar vir Anneli in. Neem my op vlerke verby Karasburg, Grunau en Keetmanshoop. Later was dit donker. Êrens anderkant Rehoboth het die vaak gekom. Oupa het reeds geslaap. Ek weet want ek het met my kop teen hom gaan lê en ek kon voel hoe ruk die snork aan hom.

Pa het wakkerblypille gedrink.

Pa het ná daardie nag ook ‘n inskrywing in die Guinness Book of Records verdien: Die man wat die meeste kere agtereenvolgens na Anneli van Rooyen se Ek wil jou ken-kasset geluister het. Want halfvyf daardie oggend toe ons by die vulstasie op Grootfontein stilhou, meer as 1000 kilometer verder, toe sing sy steeds.

Die pad tussen Grootfontein en Otjituru, oor die makalanivlakte, het toe nog hekke gehad. Die vlakte het die naam gekry oor die baie makalanipalms wat daar groei; sulke hoës wat ‘n bietjie soos windpompe in die maanlig lyk.

Nie dat ek of Oupa daardie nag veel makalani’s gesien het nie. Ons het te lekker geslaap. Êrens het Pa stilgehou en my in die ribbes gestamp. Daar was ‘n hek. Ek het op my beurt aan Oupa gestamp en Oupa het uitgeklim en die hek gaan oopmaak. Anneli het bly sing. Pa het deurgery en Oupa het teruggeklim. Ek en Oupa het verder geslaap. Tot daar weer ‘n hek was. Ek weet nie deur hoeveel hekke ons is nie, maar later was dit ‘n outomatiese reaksie: Pa stamp aan my, ek stamp aan Oupa en hy gaan maak oop.

Naby Otjituru het Pa weer aan my gestamp. Ek het my kop gelig en aan Oupa gestamp. Toe besef ek die bakkie beweeg nog. Dit is nie ‘n hek nie. Pa wil net hê ons moet na die koedoes langs die pad kyk.

“Nee, Oupa!”

Te laat.

Die deur was reeds oop, Oupa besig om uit te klim terwyl Anneli sing: “Neem my op vlerke…”

Oupa Swannie het darem niks gebreek nie. Maar hy is ‘n waardige man, ek gaan nie hier vertel van sy nerfaf lyf en sy stukkende bril en hoe hy gevloek het waar hy in die stof gelê het nie.

Die res van die pad het ons in doodse stilte afgelê.

Dankie Dana Snyman!

Slaaf

{Met erkenning aan Inge}

Neem my hande, maar los uit my hart

Kyk in my oë, maar sien nie my siel

Vee af my trane, maar hoor nie my huil

Neem jou skoene en los nie spore

Neem jou hande en los nie jou ring

Neem jou liefde en los nie jou hart

Nes suurstof in longe

Jou stem in my ore

Betaal die prys, betaal die prys

Koop my los en slaan my in boeie

Jou liefde hou my vas

Ek bly jou slaaf.

29 Februarie – Skrikkeldag

Môre is skrikkeldag, 29 Februarie 2008.

Op 29 Februarie 1988 word aartsbiskop Desmond Tutu saam met 100 geestelikes gearresteer in ‘n vyf dae lange anti-apartheid betoging in Kaapstad.

‘n Skrikkeljaar is ‘n jaar wat ‘n ekstra dag bevat om sodoende die kalenderjaar te sinchroniseer met die astronomiese jaar. Seisoengebeure en astronomiese gebeure herhaal nie op ‘n presiese aantal dae nie, met die gevolg dat ‘n kalender met dieselfde aantal dae in elke jaar geleidelik sal verskuif ten opsigte van die gebeurtenisse waarmee dit moet ooreenstem. Deur dus by geleentheid ‘n ekstra dag in die jaar by te voeg, kan hierdie verskuiwing herstel word.

Julius Ceasar is die eintlike vader van die skrikkeljaar. Die ontstaan daarvan was in 45 BC. Die vroeë Romeine het ‘n 355 dag kalender gehad en om feeste elke jaar gedurende dieselfde seisoen te kon hou, het hulle elke tweede jaar ‘n ekstra maand van 22 of 23 dae gehad. Julius Ceasar het toe besluit om dinge eenvoudiger te maak en het ekstra dae by elke maand gevoeg om sodoende ‘n 365 dag kalender te skep. Die eintlike berekening is deur Ceasar se sterrekundige, Sosigenes, gemaak. Elke vierde jaar het Februarie, wat normaalweg net 28 dae het, dus 29 dae gehad.

In 1582 het Pous Gregory XIII die kalender verfyn met die reël dat skrikkeljaar elke jaar sal wees wat deur 4 kan deel, basies maar net presies wat Ceasar gedoen het.

Die Gregoriaanse kalender voeg ‘n ekstra dag by Februarie in jare wat deelbaar is deur vier, behalwe vir jare wat deelbaar is deur 100, maar nie deur 400 deel nie. Dus is 1996 en 2000 skrikkeljare, maar nie 1900 of 2100 nie.

In 1712 het die kalender van die Sweedse ryk ‘n tweede skrikkeldag gehad, 30 Februarie, om ‘n fout reg te maak met hul oorskakeling van die Juliaanse na die Gregoriaanse kalender wat sou plaasvind deur 40 jaar se skrikkeldae weg te laat van 1700, maar in 1704 en 1708 is skrikkeldae wel ingesluit.

In 1930 en 1931 het die Sowjet-Unie 30 dae gehad in Februarie as gevolg van hul revolusionêre kalender. Volgens hierdie kalender het elke maand 30 dae gehad, met 5 of 6 maandlose vakansiedae. Die oorspronklike maandlengtes is in 1932 herstel.

Skrikkeljare is ook tradisioneel die tyd waarin ‘n vrou ‘n man kan vra om met haar te trou. In ons hedendaagse tyd hoef vrouens darem nie regtig meer vir skrikkeljaar te wag as hulle ‘n man wil vra nie, maar voorheen is daar neergesien op ‘n vrou wat so iets sou waag. Toe word besluit om vroue toe te laat om op een dag in elke vierde jaar dit te mag doen, nl. 29 Februarie.

Die tradisie het blykbaar ontstaan in die 5de eeu in Ierland. St Bridget het by St Patrick gekla omdat vrouens so lank moet wag vir mans om die jawoord te vra. Volgens die legende het St Patrick toe ‘n toegewing gemaak dat vrou mans mag vra op hierdie een dag in vier jaar.

Volgens die Engelse wet is 29 Februarie ignoreer en het dit geen wetlike status gehad nie, dus het tradisies daaraan verbonde ook geen status in Engeland gehad nie.

Die eerste dokumentasie oor hierdie praktyk dateer uit 1288, toe Skotland ‘n wet uitgevaardig het dat vrouens wettig toegelaat word om mans te vra om te trou op 29 Februarie. Die wet het ook gestipuleer dat, as die man sou nee sê, hy ‘n boete moes betaal. Die boete kon enigiets wees van slegs ‘n soen tot ‘n paar handskoene of ‘n syrok.

In die Verenigde State verwys sommige mense na 29 Februarie as Sadie Hawkins Dag. Dié tradisie het in 1937 begin na aanleiding van die strokiesprent Li’l Abner. Sadie het op die dorpie Dogpatch gewoon. Sy was ‘n regte plat-op-die-aarde-meisie. Maar niemand wou haar vra om te trou nie. Toe sê haar pa, die burgemeester, dat 29 Februarie Sadie Hawkins-dag is. Die ongetroude meisies van Dogpatch kon agter enkellopende mans aanloop. As ‘n vrou ‘n man kon vang en hom teen sonsondergang saamsleep na die eindstreep, moes hy met haar trou. Sadie het darem ‘n outjie oor die eindstreep gesleep!

Baie mense verkies egter om Sadie Hawkins Dag in November te vier, die dag waarop Al Capp die eerste vermelding van Sadie Hawkins gemaak het

Die Griekse bygeloof is dat paartjies wat in ‘n skrikkeljaar trou, ongelukkig sal wees. Blykbaar trou net een uit elke vyf verloofde pare in Griekeland gedurende ‘n skrikkeljaar.

Geniet die dag môre en mag die waaghalsige vrouens die dag goed gebruik om daar die groot vraag te vra! Hopelik is die antwoord ja.  🙂