‘n Anderste Sprokie

Wipneus het my ge”tag” om my en die Liefie se storie te vertel, of te wel ons sprokie. Wel, my sprokie is eers glad nie ‘n sprokie nie en dan eers ‘n sprokie; so dis ‘n anderste sprokie. Kom ek voer julle weg na ‘n ver, verre land 🙂

Eendag, lank lank gelede, in die koninkryk van Berg-en-Seeland, is daar ‘n dogtertjie gebore vir koning Kenneth en koningin Magriet. Sy is in die middel van ‘n snikhete somer gebore en soos sy grootgeword het, het haar ouers gesien dat sy vreeslik moeilik en iesegrimmig is as die son nie skyn nie, maar dat sy die soetste kind denkbaar is as dit sonnige weer is. En dat sy baie lief is vir lag en vrolik wees. So het sy later die bynaam Sonnie gekry en almal in die koninkryk het later vergeet wat haar regte naam is en haar net prinses Son genoem.

Sy was ‘n maklike kind, glad nie baie stout nie, net lief vir terg en poetse bak. Sy het baie meer gelag as gehuil en was mal oor diere. Op ‘n tyd het sy 17 katte in die paleisgronde gehad en elkeen by die naam geken. Sy het ook hard geleer aan alles wat ‘n prinses moet leer en sy het haar altyd goed gedra as die koningsgesin in die openbaar moes verskyn.

In die koninkryk het sy baie maats gehad. Sy het darem later ook ‘n sussie bygekry waarmee sy kon speel. Haar ouers het haar toegelaat om met al die ander kinders ook te speel, want koning Kenneth was ‘n goeie koning wat almal dieselfde behandel het en goed was vir die mense in sy koninkryk.

Toe prinses Son 18 jaar oud word, neem die koning die gesin met vakansie na die Land-van-Goud. Daar ontmoet prinses Son vir hertog P en sy word verblind deur sy sjarme, sy aantreklikheid en al die aandag wat hy aan haar skenk.

Kort voor lank kom vra die hertog haar hand, maar koning Kenneth het dwarsdeur hom gesien en hy was nie so seker dat hy wou hê sy dogter moet met hierdie swerkater trou nie. Vir die eerste keer word prinses Son erg rebels en baklei sy lelik met die koning en koningin.

Koningin Magriet was verstom oor haar dogter se “tantrums”, maar dink toe daaraan dat prinses Son nog altyd geweet het wat sy wil hê en dat sy nog altyd ‘n goeie oordeelsvermoë gehad het en sy tree vir die paartjie in die bresse by die koning. Baie teen sy sin stem die koning in dat hulle kan trou.

In Berg-en Seeland word ‘n feestelike troue uit die boeke gereël vir die paartjie. Dis ‘n sprokiestroue en na die paartjie se wittebrood gaan bly hulle in die Land-van-Goud. Vir die eerste keer in haar lewe is prinses Son duisende kilometers van haar familie af. Sy ken niemand in die Land-van-Goud nie, net haar hertog. Die eerste ses maande leef sy en haar hertog ‘n sprokie, maar toe begin die hertog sy ware kleure wys.

Kort voor lank leer prinses Son sy verskriklike humeur ken en sy leer om altyd in haar spoor te trap en versigtig te wees om die hertog nie onnodig kwaad te maak nie. Somtyds raak die hertog so verskriklik kwaad dat hy die prinses seermaak, maar sy vertel vir niemand daarvan nie, ook nie vir koning Kenneth of die koningin nie. Sy sien hulle in elk geval net een keer ‘n jaar en dan sit die hertog sy beste voetjie voor. Die prinses kry te skaam om vir die koning te vertel hy was toe al die tyd reg en sy bly hardkoppig by die hertog, want intussen is daar al reeds ‘n klein hertog en hertogin gebore.

Vir baie jare lewe die prinses so saam met die gemene hertog. Sommige dae is sy gelukkig, of maak sy haarself wys sy is gelukkig, maar meeste van die tyd lewe sy maar net. Al haar sonskyn het verdwyn en sy het byna nooit meer gelag nie. Sy het ook nie baie vriende gehad nie, want die hertog het niks daarvan gehou as sy baie lag en gesels nie. Dit het hom net nog meer humeurig gemaak.

Op ‘n dag kom die hertog weer dronk by die huis aan en verskree die prinses, maar val toe gelukkig aan die slaap voor hy te kwaad kon raak. Die prinses het lank doodstil vir hom sit en kyk waar hy lê en slaap en baie dinge gedink. Toe staan sy op en besluit tot hiertoe en nie verder nie.

Terwyl hy slaap, pak sy net die nodigste vir haar en die klein hertog en hertogin. Sy span haar koets en perde in en val in die lang pad, terug na die koningshuis in Berg-en-Seeland. Omdat sy weet dis verskriklik ver en dat die hertog dalk agter haar sal aankom, vat sy ‘n ompad, wat haar drie keer langer neem om by Berg-en-Seeland uit te kom. Maar uiteindelik sien sy haar ouers se paleis in die verte. Doodmoeg haal sy die laaste bietjie uit die perde, wat net so verskriklik moeg is en jaag deur die hekke.

Die koning en koningin was diep geskok toe hulle uiteindelik die hele waarheid uit prinses Son kon uitkry en die koning wou dadelik van sy manskappe stuur om te gaan oorlog maak teen die hertog. Die koningin het hom egter tot bedaring gebring en laat besef dat die hertog immers hulle kleinkinders se pa is en hy dus nie sommer net die hertog kan laat doodmaak nie. Die gevolge sou verskriklik wees.

Die koning het toe sy hoogste geleerde raadslede laat kom en hulle het gesorg dat die hertog verbied word om naby die prinses te kom, en net die klein hertog en hertogin kon sien onder toesig van die koning se raadslede. Die huwelik tussen die prinses en die hertog is ook ontbind deur die koning se raadslede.

Twee jaar het verbygegaan, waarin prinses Son weer stadig maar seker haar lag en lewenslus teruggekry het. Die klein hertog en hertogin het ook gedy onder hulle ouma en oupa se aandag en daar was weer die vrolike gelag van kinders in die paleis.

Daar het gereeld hofmakers by die paleis opgedaag. Prinses Son het gelag en gedans, maar van ernstig raak oor enigeen en weer trou, wou sy niks weet nie. Sy het haar vertroue in haar eie oordeel verloor en as sy van ‘n hofmaker begin hou het, was sy aspris lelik en aaklig met hom, totdat die arme vent moed opgegee het en vanself verdwyn het.

Terwyl prinses Son in die Land-van-Goud gebly het, het sy bevriend geraak met die ma van ‘n ridder wat verbonde was aan die koningshuis van die Land-van-Goud. Soms was hierdie vrou amper vir haar soos ‘n tweede ma.

Op ‘n dag kry sy ‘n uitnodiging na ‘n dinee. Die uitnodiging was van die ridder se ma, wat besluit het om in Berg-en-Seeland te kom aftree. Prinses Son was vreeslik bly en aanvaar dadelik die uitnodiging.

Toe sy die aand by die dinee aankom, is die ridder aan sy ma se sy. Aan etenstafel sit hy langs haar en hulle gesels kort voor lank land en sand. Hy het die hertog geken en op ‘n diplomatiese wyse maak hy seker dat prinses Son weet wat hy van die hertog se lae gedrag dink en ook dat hy baie graag die prinses van nader sal wil leer ken.

Die prinses stem in om die volgende week saam met die ridder te gaan perdry, maar hoe nader die tyd aan die afspraak kom, hoe benouder word die prinses, want sy besef dat sy darem al te veel van die ridder hou.

Op die dag van die afspraak, kruip die prinses in die toringkamer weg en niemand kan haar kry toe die ridder opdaag nie. Die koningin besef dat die prinses weer besig is met haar ou streke om die ridder die skrik op die lyf te jaag, maar sy kan maar net magteloos toekyk hoe die prinses probeer om die ridder die hasepad te laat kies deur haar aaklige gedrag.

Soms kan die prinses haarself nie keer nie, en dan gaan sy saam met die ridder op uitstappies, net om agterna weer dubbeld so kwaad te wees vir haarself, want sy besef dat sy heeltemal te veel van die ridder hou.

Op ‘n dag besluit die koning hy het genoeg van haar gedrag gehad teenoor die gawe ridder en hy laat haar roep na sy studeerkamer toe. Prinses Son weet onmiddellik dat sy ernstig verbrou het, want die koning het haar omtrent nog net vier keer in haar lewe na sy studeerkamer ontbied.

In plaas van om egter met haar te baklei, laat die koning haar sit en praat mooi met haar. Hy verduidelik dat hy verstaan dat sy nie meer haar eie oordeel vertrou nie, maar dat sy darem nog sy oordeel kan vertrou en dat hy dink die ridder is regtig ‘n goeie man. Hy kan sien dat sy baie van die ridder hou en dat die ridder tot oor sy ore verlief is op haar. Hy laat dan ook die prinses belowe dat sy nie verder die ridder vir die gek sal hou nie. Sy moet hom of finaal wegstuur, of ‘n regverdige kans gee.

Hierdie keer het die prinses besluit om die koning se raad te volg. Sy het die ridder genooi vir ‘n piekniek en toe hulle alleen by die rivier sit, het sy hom alles vertel van haar lewe saam met die hertog en dat sy jammer is dat sy lelik was met hom, maar dat sy graag voor wil begin en hul vriendskap ‘n kans wil gee.

Die ridder het haar hand vasgehou en belowe dat hy haar sal leer om weer te vertrou en weer lief te hê. En dat hy ook baie mooi na die klein hertog en hertogin sal kyk.

‘n Jaar en ‘n half na daardie dag by die rivier, is die prinses en die ridder stil getroud in die kerk langs die paleis. Hulle leef nou nog gelukkig saam en hy het sy belofte nagekom, tot vandag toe nog!

Fluit-fluit, my storie is uit 😉

‘Punks’ by die Plaas Paartie

My suster, Lisa, sing verskriklik mooi. Gewoonlik speel ek kitaar, sy speel keyboard en sy sing ook. Nou, as mens kan musiek maak, word daar gewoonlik sommer gou gekuier waar mens ook al gaan en ontmoet jy soms vreemde karakters.

Lisa het ook op ‘n tyd deur die stadium gegaan waar sy haar hare ‘n paar kleure gemaak het, ‘n stud in haar neus gehad het en omtrent so agt gaatjies in haar een oor en ‘n paar in die ander oor ook. Soms, as sy regtig daarop uit was om aandag te trek, het sy ‘n fyn kettinkie van die neusstud na die een stud in haar oor laat hang.

My arme ma het na die eerste skok besluit dis beter om nie te veel ophef van die kind se streke te maak nie, want dan waai dit dalk gouer oor. Gelukkig was ek die oudste en min of meer normaal en my ma het hierdie vertroue gehad dat ek sal keer dat my suster nie te heeltemal mal raak nie of iets doen wat die polisie betrokke sal maak nie!

Op een stadium het Lisa saam met swart vriende (in die goeie ou dae!) gaan konserte hou in die lokasie met ons Oupa se kamerjas aan – dit was een van daardie “check” oumenskamerjasse. Sy was ‘n moerse “hit” tussen die swart mense, want sy het daai verhoog aan die brand gesing en die swart anties onder die tafel in gedans.

Gelukkig vir ons almal het sy een oggend opgestaan, haar hare een kleur gemaak, die neusstud en al die oorringe weggegooi en vandag is sy ‘n “boring” voorstedelike ma en vrou en g’n mens sal glo dat sy eens op ‘n tyd ge-“live on the wild side” het nie.

In hierdie tyd wat sy soos ‘n punkrocker lyk, vra ‘n kennis van haar, wat saam met haar op kollege is, vir ons om te kom musiek maak by sy verjaarsdag. Die ou lyk op die oog af ook maar wilderig en ons neem toe aan dat dit die aard van die paartie sal wees. Lisa vertel my toe ook sommer dat sy my sal aantrek en my hare sal doen vir die paartie, want ek gaan nie daar aankom tussen die ander sommer net met ‘n jeans en t-hemp aan en haar in die skande steek as haar koekerige suster nie.

So moet ek die aand ‘n leerbroek en so ‘n blinkerige pienk baadjie (waarin ek vandag nie dood gesien sal word nie!) aantrek (haar klere, natuurlik) met ‘n paar doodskop stewels. Sy doen my make-up en my hare en toe ek in die spieël kyk, skrik ek myself eers in ‘n ander dimensie in voordat ek besef ek kyk eintlik na myself. My hare is in alle rigtings in ge-jel, my oë is swart omlyn en ek lyk soos iets wat jy AC/DC kan noem.

Lisa lyk self nie minder skrikwekkend nie en ons metgeselle is ook vooraf aangesê om in “leathers” aan te trek en sommer so hier en daar ‘n klinknael armband ook.

So vertrek ons na die plaas waar die verjaarsdag paartie is, min wetende dat dit die ou wat verjaar se pa se plaas is en dat dit eintlik letterlik ‘n plaas paartie is! Na so bietjie soek, kry ons die plaas en sien sommer gou waar al die karre parkeer is. Ons parkeer ook en klim uit en stap ewe breë skouers die skuur binne.

Ek weet nie wie het die grootste geskrik of was die meeste geskok, ons of die ander kuiergaste, nie. Want daar binne is dit plaasmense wat solank by tafels sit en wag vir die musiek om op te daag. Tannies met rokke en jerseys aan en ooms met kortbroeke en skoene met lang kouse! En tafels vol boerekos.

Toe ons instap en hulle sien ons, het daar so ‘n doodse stilte neergedaal. Agterna wanneer ek teruggedink het aan daardie aand, het dit my altyd herinner aan een van daai cowboy flieks waar die skurke die dorpie se kroeg so breëbors binnestap en almal van die dorpie word so stil in die kroeg, uit vrees vir die brekers.

Die tannies se oë het gerek en gerek en ek dink die ooms was al oppad om te besluit hoe hulle ons gaan weg donner van die plaas af, toe Kobus (die verjaarsdag ou) ons name uitroep en ons welkom heet. Toe hy by ons kom, fluistersis Lisa vir hom tussen haar tande deur: “Hoekom de hel het jy nie vir my gesê dis ‘n plaas paartie nie?!” Hy: “Maar ek HET vir jou gesê dis ‘n plaaspaartie.” Sy: “NEE, jy het nie gesê dis ‘n plaaspaartie met jou MA-HULLE nie.”

En ek en ons “partners” staan en ek wens die aarde wil oopmaak en my net insluk, want ek het in my lewe nog nooit so uit my plek uit gevoel nie. En niemand het my nog ooit so gekyk asof die kat my ingesleep het nie.

Maar nou ja, Lisa besluit daar en dan dat ons vanaand vir hierdie mense sal wys ons KAN musiek maak, al lyk ons soos iets wat hulle nie naby hulle agterdeur sal laat kom nie. So, ons slaan ons musieke op en ons val daar weg en ek sal nooit vergeet nie, sy begin met “By the Rivers of Babilon” van Boney M.

Ek kan maar net vermoed wat die mense verwag het, seker iets soos Bat out of Hell, want na die duidelike verbasing toe die eerste note die lug tref, vat-vat die eerste oom sy tannie en begin so half versigtig dans, asof hulle nog nie lekker seker is ons gaan nie dalk enige oomblik oorslaan in ‘n “head banger rock ‘n roll” nie. En so een vir een begin die ooms en die tannies ontspan en begin dans. En Lisa sing en ek speel daai kitaar en ons gaan haal ou songs uit wat ons ma en ons pa ons nog geleer het.

En so deur die spelery sien ons, wanneer ons “partners” vir ons iets te drinke gaan haal by die boere bar, dan maak daai oompies so ‘n pad oop vir hulle. Weet nie of hulle bang was vir die klinknaels nie, maar ek weet net, ons “partners” staan nie in die ry by die kroeg nie!

Maar hoe later, hoe kwater. Toe ons hier teen driekwart deur die paartie wegval en vir hulle so ‘n tipiese Briel nommertjie sing, daai een van die seuntjie wat op sterwe lê en vra dat sy speelgoed en als vir sy boeties gegee moet word, maar dat sy ma net sy skoentjies moet bêre, en Lisa rek daai note so uit, en ek gooi so ‘n ekstra draai met daai kitaar, amper so asof ek in Hawai is, toe kon ek sweer ‘n paar van die tannies knip-knip hulle oë so teen die trane.

En teen twaalfuur, toe ons oppak om huis toe te gaan, toe het die ooms al begin arm om die skouers staan met ons “partners” en die tannies het ons al begin ‘hartjie’ en ‘my kind’. Toe weet ek, vanaand het hierdie boere gesien hoe kan “punks” ‘n boere paartie aan die brand sing!

Tussen Treine, Tussen Stasies

trein_1.jpg

Ek vermoed dat elkeen van ons, veral dié met ‘n paar of wat jare agter die blad, se lewenspad al met ‘n spoorlyn gekruis het. Voorstedelike-trein, slaap-trein, troepe-trein.

Vir my het treine en treinry nog altyd ‘n vreemde bekoring ingehou. Met geskeide ouers het ek kort na my 16de jaar die land ten minste twee keer ‘n jaar deurkruis per trein. Ek onthou die fluit by ‘n oorgang, ysterwiele wat ratel op spore – ketik ketikke-tikketak ketik ketikke-tikketak. Die klank wat opslaan van die spore se lawaai wanneer jy die toilet spoel. Die klang-klang-klang van die kondukteur in die gange, die sjjjjjjjjjt suis geluid as die trein stoom afblaas by die stasies.

Ek onthou die kraakskoon treinbeddegoed, waarin ek my altyd verdraai het op die heel boonste slaapbank. Die aan-die-slaap-gesus word in die arms van die trein se wieg oor die aarde. Soet slaap, droomlose slaap, ver slaap.

Ek onthou die uithang by die treinvensters op elke stasie. Die onbeskaamde kykie in vreemdelinge se blydskap of verdriet met aankoms of vertrek. Blydskap oor hul geliefdes veilig arriveer het, hartseer oor ‘n onafwendbare afskeid tussen geliefdes as die trein stadig die stasie uitstoom. Geliefdes wat saam loop-draf langs die venster tot aan die einde van die perron, om dan daar te bly staan en waai en waai tot die armbewegings net nog ‘n lugspieëling in die verte is. Hoeveel trane van blydskap en verdriet lê vergete op ons stofverwaaide perronne.

Vandag is daar nie meer stasiewinkels met lang stoepe nie, geen stasiebankies met interessante mense wat wag vir treine na wie-weet-waar nie. Hele stasiedorpies het bouvalle geword, verlate spookdorpe. Het verdwyn, soos die lokomotief se stoom in die wind.

My storie kom uit ‘n tyd van treinry voordat die spore al hoe stiller geword het, die stasies al hoe minder.

Ek is net-net 18 en oppad Pretoria toe, saam met 50 ander, oppad na die keuring vir aansluit by die Staande Mag. Die toetse neem ‘n week, ‘n week van groot avontuur en kuier vir ons mengelmoes van jongmense wat opeens so bymekaar uitgekom het. Bedags flenter ons agtermekaar aan deur die gange van VHK en saans soek ons enige en al die kuierplekke in Pretoria op. Daar is twee groepe van ons, een vir die lugmag en een vir die weermag.

Meeste van ons slaag die keuring en kry treinkaartjies terug Kaap toe, met die opdrag om vroeg Januarie weer aan te meld by die onderskeie basisse waar ons ingedeel is.

Dis amper middel Desember en die treine Kaap toe is oorvol, maar ons wil HUIS TOE. Somer, son en SEE toe. Tipies Staatsdiens, selfs daai jare, het die Weermag nooit ons plekke terug huis toe bespreek nie! Daar is toe net plek vir die helfte van ons, omtrent een hele wa vol. Maar die Weermag klap sweep en die Suid-Afrikaanse Spoorweë spring en hulle haak ‘n ekstra wa aan die trein. Dis ook nie Trans Karoo nie – dis melktrein! Maar “who cares”. Ons weet ons is oppad huis toe, maak nie saak hoe lank die oppad vat nie. Tot dan, KUIER ons. Ons kos en slaapplek is mos betaal!

Op die snikhitte van die namiddag kom ons op De Aar stasie aan. Kyk mens by die treinvenster uit, dans die hitte ‘n riel bo die spore. Ek en 3 ander kuier in die eetsalon, die enigste naastenby koel plek op die trein. Ek het ‘n romp en halternek top aan en is kaalvoete. Ek is kaalvoet gebore en sukkel met die konsep van skoene, veral in sulke hitte.

Enige iemand wat al trein gery het en op De Aar, (of eintlik enige ander stasie) was, sal weet dat daar aanhoudend afkondigings afgerammel word oor die interkomme en alles klink dieselfde, amper soos ‘n afslaer by ‘n vendusiekraal. Daardie afkondigers het die kuns om enige taal soos Grieks te laat klink, vervolmaak.

Ons steur ons dus nie veel aan die gebrabbel nie en ook nie aan die trein wat elke nou en dan dié kant toe of daai kant toe ruk nie.

Uiteindelik stoom die trein De Aar uit en gou is ons terug op die vlaktes. Soos gebruiklik is na elke groot stasie, kom die kondukteur om ons kaartjies na te gaan en seker te maak dat geen ongewenste elemente hulself sonder kaartjies op die trein versteek het nie. Almal moet eers teruggaan na hul kompartemente toe, sodat hy sy lysie noukeurig kan aftik, amper soos ‘roll call’.

Ek en die ander 3, al drie van die lugmag en dus in ‘n voorafbespreekte wa, verlaat dus maar die eetsaal om eers te gaan aanmeld by ons kompartemente. My wa is anderkant hulle s’n, so ek neem afskeid by hul kompartement en stap aan. En stap aan. En stap aan. Tot daar niks meer waens oor is nie. Ook nie my wa nie. My eerste gedagte is – ek het seker my kompartement gemis, al sê my ‘common sense’ vir my ek het nie. Ek draai om en ek loop terug, naderhand verby die ander 3 se wa, terug deur die eetwa, tot daar ook nie meer trein oor is nie, behalwe derdeklas. Ek begin soos iets in die “Time Machine” voel. Weereens oppad terug, kry ek die kondukteur beet en voel soos die aap van die eeu om vir hom te sê ek kry nie my wa nie.

Na ‘n paar verduidelikings oor wie ek is en van waar, raak hy heel omgekrap met my en vra of ek dan nie op De Aar die afkondigings gehoor het nie. Die EKSTRA wa van die weermag rekrute, (waar van ek, kiepie, een is), is afgehaak op De Aar, met duidelike afkondigings daaroor. Duidelik, se VOET, dink ek so by myself. En hy maak dit vir my BAIE duidelik dat ek op die volgende halte – ja HALTE, nie eers stasie nie! – sal moet afklim en sal moet wag vir my wa wat saam met die volgende trein sal verbykom, SES ure later.

Ek gaan sit toe in die ander 3 se kompartement en ek dink, gmf, in jou drome, meneer die kondukteur. Ek sal eers kyk hoe LYK die volgende halte. Dis dan ook toe net soos ek gedink het – ‘n verlate gehuggie van ‘n stasie met basies net ‘n melkkan. En dit begin reeds skemer word.

Ek kyk die ander drie vas in die oë: “Sal julle my asseblief by julle wegsteek, want daar is nie ‘n MANIER in hierdie lewe wat ek vir 6 ure op hierdie plek gaan wag vir my wa nie?” (Dis mos nou darem ook nie asof ek iets steel van die Spoorweë nie, my kaartjie is mos betaal!)

Natuurlik besluit hulle net daar ek bly op die trein. Ons moes net hoop die kondukteur vergeet om seker te maak ek het wel afgeklim. Toe die trein egter sommer gou weer die stasie begin uitstoom, weet ons die koeël is deur die kerk.

Ek weet uit ondervinding dat die kondukteure op elke groot stasie ruil en dat daar eers weer kaartjies nagegaan sal word op Beaufort-Wes. Die plan van aksie is toe om my dan op die boonste bank toe te pak met al hul bagasie.

Daardie nag word daar nie veel geslaap nie, maar dis niks nuuts nie. Ons kuier maar so van kompartement tot kompartement en vang ‘n paar ure se slaap, partykeer sommer so sit-sit. Alles verloop seepglad en ek kom veilig as verstekeling in Kaapstad aan. Met slegs ‘n paar skewe kyke van die mense wat die trein inwag, want hier klim ek af, sonder bagasie en kaalvoete! Maar ek het net geweet – ek is veilig by die huis! Te hel met die res.

Gelukkig kon ek huis toe gaan en bad en skoon aantrek en baie later daardie dag, toe my eintlike wa die stasie inkom en my mede Weermag-rekrute sien hier staan ek lewensgroot en wag vir hulle, toe cheer hulle omtrent uit daai treinvenster uit en laat my weet hulle het gedink ek het gesneuwel op die Karoovlaktes!

En so het ek trein gesteel van De Aar tot in Kaapstad!

Anoesjka op die plaas – Deel 2

plaas2.jpg

Ek het anderdag hier vertel van Anoesjka en Jaco op die Karoo plaas . Gister kry ons toe ‘n lekker lang brief en ‘update’ oor die plaaslewe. Vir die wat dalk gewonder het hoe dit intussen op die plaas gaan – hier is ‘n opvolg. Ek stel Anoesjka self aan die woord:

“Vir almal vir wie ek dit nog nie gesê het nie… Voorspoedige Nuwe Jaar! Hoop dit gaan goed met julle almal.

Die slag is ek glad nie opgewonde oor eiers nie. Ons hennetjie het elke dag so getrou vir ons gelê en ons kon nie wag dat sy op haar nessie begin sit en broei nie. Ons het beplan om ‘n ander soort hoendereier onder haar te sit sodra sy nou net lekker gevestig raak. Met so ‘n bietjie geduld het sy uiteindelik toe begin nes skrop en kon ons ‘n paar van haar eie eiers omruil met die ander. In totaal het sy toe 8 eiers gehad. Ons het mooi op die almanak gemerk wanneer ons kuikens sou uitbroei, maar die volgende oggend was al ons eiers weg!

Eers was ek bang dat dit dalk ‘n slang is, maar ‘n dag of wat later toe kom Tinkie weereens op ons Likkewaan af. Jaco het gaan kyk waarvoor sy so ‘n keel opsit en toe met die likkewaan hier aangekom. Hy’t hom in ‘n boks gesit bo-op die kalfhok sodat ons hom later die middag ver in die veld kon gaan aflaai, maar toe ons later by die boks kom, was dit leeg. So ons eiervanger is nog op vrye voet.

Intussen het ons nog nie weer op die henne se nuwe lêplek afgekom nie – hopelik kry die likkewaan dit nie voor ons nie. Met my skapie gaan dit sommer te goed. Hy raak nou groot en vet en ek is bevrees sy daggies hier raak nou min. Hy moet glo mark toe, maar daai dag huil ek my seker dood.

My tannie-hulle het vir ‘n paar dae hier en ook op die buurplaas gekuier. Kort nadat hulle hier aangekom het, het hulle aangebied om vir Jaco die melk op die buurplaas te gaan haal. Met hul terugkomslag kry hulle toe vir Bliksem en Baba (skapie) langs die pad – al halfpad op pad na die ander plaas toe – tonge amper op die grond. Toe word een van die sitplekke van die VW Polo ewe platgeslaan en skapie word ingelaai en in styl terug huis toe gebring. Ou Blikkies moes maar weer agterna hardloop.

Daardie selfde aand is Jaco amper deur ‘n pofadder gepik. Hy’t ‘n verdagte voertuig sien ry en na die pad geloop om te gaan kyk. Dit was al redelik donker. Toe dit lyk of die kar wil omdraai, het Jaco in die bosse ingeloop sodat hulle hom nie kan sien nie. Die volgende oomblik hoor hy net hoe blaas die slang voor hom. Dit was BAIE amper!

Terwyl ek hier tik, is die muskiete alweer besig om my aan die brand te steek! Hier is duisende… of nee… miljoene van die goed. Ons het so ‘n shock lig hier buite en soggens lê daar omtrent ‘n matras van muskiete en motte hier buite. Alhoewel, die motte is darem nou weer minder erg as voorheen. Het fotos geneem en sal dit een of ander tyd by die ander fotos sit.

Verder het ek vir die eerste keer probeer om gemmerbier te maak, maar wat ‘n ramp! Dit was net voordat my ma en my suster-hulle kom kuier het – sodat ons dit nou kan drink terwyl hulle hier is. Die maak daarvan was heel maklik en eenvoudig en dan gooi jy dit nou maar net in bottels en wag totdat die rosyntjies bo-op dryf. Fout nommer een was dat ek die verkeerde gis gebruik het (met ekstra skop), fout nommer twee was om dit in glas bottels te sit nadat ek gis met ekstra skop gebruik het, en fout nommer drie was om dit in die spens te bêre.

Die Saterdagoggend besluit ons om ons kuiergaste vir ‘n trippie in die veld op die bakkie te neem. Net voor ons ry kyk ek toe na die bottels om te sien of daar nie al een is wat reg is om te drink nie en sowaar, een van hulle se rosyntjies dryf toe bo. Ek het hom skelm in die yskas gaan sit sodat ek hulle daarmee kon verras as ons terug kom. Eintlik was dit al laat oggend en teen die tyd wat ons teruggekom het, was dit al middag. Dit was warm en ons almal het in die son verbrand en was moeg na ons uitstappie en yskoue gemmerbier sou toe net die ding wees wat almal nodig het. Toe ek die huis se deur oop maak, ruik ek onraad. Onmiddellik gaan kyk ek in die yskas, maar daar was nie fout nie. Toe ek in die spens kom, was dit ‘n ander storie! Die hele vloer was vol gemmerbier en glasstukke het die wêreld vol gelê … tot in die kombuis! Nou ja, toe is dit operasie skoonmaak ipv rus en koue gemmerbier drink. Alles was taai en die reuk van gemmerbier het nog vir lank daarna in die spens gehang. Ek het nou die dag nog my vinger raak gesny met ‘n stukkie glas. Weet nie of ek dit gou weer gaan probeer nie.

Ek en Kiddo het nou die aand op ons eerste skerpioen afgekom… in die kombuis nogal! Kiddo wou nog nader gaan – sy vreet mos enige ding wat op die grond lê of hardloop – maar gelukkig het sy geluister toe ek sê sy moet dit los. Al was dit nog ‘n kleintjie moes Jaco hom kom doodmaak.

Ons het nou die dag amper nog ‘n toevoeging tot ons familie gekry… ‘n bergskilpad. Ons het hom in die tuin gesit, maar gedurende die nag het hy besluit die veld is groener en ons het hom nog nie weer gesien nie. Met die ander diere gaan dit ook nog goed. Hannie (mookiekind) word nou groot (het al vir Blikkies verbygesteek) en begin ook horings kry. Sy het ook van kleur verander en het nou heelwat donkerder dele met ‘n oulike ligte kringetjie om haar snoet. En van melk kan sy nie genoeg kry nie! Het my nou die dag omtrent vies gemaak. Eers wou sy nie in die hok ingaan voor ek haar melk gee nie en toe trap sy nog met haar swaar lyf op my kaal toon ook. Ek het nie geweet of ek moet lag en of ek moet huil nie.

Met Jaco gaan dit ook nog goed. Die plaaslewe hou hom aan die gang van vroeg tot laat. Nee wag, nou gaan die gorramanjorras my hier begin wegdra. Almal kom natuurlik agter die lig aan. Dis motte, muskiete, muggies en nou ook ‘n sprinkaan! Ek gaan eers groet. Laat dit goed gaan met julle almal! Hoop om gou van julle te hoor. Gogga groete, Anoesjka”

plaas5.jpg

Vir die wat dalk wil gaan loer – hier is fotos van die plaaslewe:

http://www.putfile.com/anoesjka

Anoesjka, jy beter die piesangbrood reghou, Februarie is om die draai! En gelukkig drink ek nie gemmerbier nie, so moenie daarmee sukkel nie! 😆

Ek soek my polonie!

Om hierdie storie te kan waardeer, moet ek julle net eers bietjie vertel van my ma. My ma is wat mens sal noem ‘n “artist”. VREESLIK kunstig, teken die mooiste prentjies, kon die mooiste stories vir ons uitdink toe ons klein was, en al daai dinge.

Maar sy is ook so verstrooid soos tien professors. Sal haarself op ‘n plek vergeet en dan nie weer die plek kan kry nie nevermind haarself kry. En ALTYD laat, vir alles. Een van ons huisvriende het altyd gespot en gesê sy sal nog eendag laat wees vir haar eie begrafnis! So verstrooid dat sy sal soek na haar bril, terwyl sy dit eintlik op het en sulke goed.

Sy het altyd gelees terwyl sy bestuur het – ja, ek speel nie! Verder het sy een dag vergeet om ons by die skool te kom haal. Tot haar verdediging moet ek darem net noem dat my pa ons gewoonlik kom haal het. Dalk hoekom sy nie onthou het van ons nie. Maar ek dink baie sy sou ons dalk meer kere op plekke vergeet het as my pa nie by was om ons te onthou nie.

Sy was nie ‘n slegte ma nie, hoor. Inteendeel. Sy was lief vir sing en het ons van kleinsaf allerhande liedjies geleer. Sy was net sy. Punt. Meer vrou as ma. Anderdag het ek dit eers verstaan.

Wel, een Desember, terwyl ons vakansie hou in Mosselbaai, gaan my ma en my tannie, haar suster, met my by, Woolworths toe in Mosselbaai. Ek is toe so 11 jaar oud. Maar voor ons in Woolworths ingegaan het, het my ma iewers van daardie rolle polonie gekoop – my pa was mal daaroor. Elk geval, so het sy die polonie in ‘n sakkie in haar hand en ons travel nou hier deur Woolworths.

Nou, daar was niks wat my ma meer getrek het as ‘n uitverkoping nie. En hier staan twee sulke groot houertipe goed, met klere op uitverkoping. Die houers is toe nou al ‘n bietjie deurmekaargekrap, want julle weet mos nou hoe krap mense deur sulke “bargains”. En my ma duik daar in die goed in, eers deur die een en toe deur die ander een.

My tannie, wat nou weer HEELTEMAL anders as my ma is, raak naderhand ongeduldig en kry my ma aan die arm beet en sê hulle moet nou loop. En daar kom my ma agter haar sakkie met die polonie is weg!

Nou weet sy dit moet iewers tussen hierdie klere wees en sy begin soek. Sy krap daai eerste houer deur dat die klere naderhand soos ‘n berg in een hoek staan, maar aikona, niks polonie nie. En die winkelmense begin snaaks kyk. Intussen staan my tannie en ek so ‘n ent weg, want ons wil nie nou meer eintlik saam met my ma gesien wees nie.

Toe vat sy daai tweede houer en toe sy nou so halfpad berg gebou het, toe kom die man na haar aangestap. Ek dink hy was een of ander bestuurder van die winkel. En hy tik haar so op die skouer en vra: “Dame, is daar dalk iets waarmee ons u kan help?” En my ma duik tussen die klere uit en fokus eers so sekond of twee om hom mooi raak te sien en sê: “Ag nee wat, dankie meneer, ek soek net my polonie.”

Die uitdrukking op daai man se gesig: “Priceless”! En soos die duiwel dit wil hê – woeps, hier vat sy die polonie raak. Sy gee hom so ‘n lam knie smile en sleep daar uit, met ek en my tannie agterna, te verstom vir eers om te lag. En die man staan nog soos Lot se vrou. Nie seker of die mooi vrou met die polonie nie dalk ‘n ontsnapte uit die malhuis is nie!

Maar toe ons die sypaadjie tref, toe lag my tannie dat sy moet gaan stil staan en my ma lyk asof botter nog nooit in haar mond gesmelt het nie. Vandag nog, as ons iets soek en iemand vra wat soek ons, dan is die standaard antwoord: “Ag, ek soek net my polonie!”

Besoek aan sex shop!

Hierdie post van Platterfuss

http://platterfuss.wordpress.com/2007/09/06/poppers-sexpos-en-sex-shops/

het my laat dink aan my uitstappie so 3 maande gelede.

Saam met  my werk ‘n hele paar jong mense en twee van die girls, het ek agtergekom, is nogal nog redelik onskuldig, of naief. Weet ook nou nie eintlik of dit die regte beskrywing is nie, maar nou ja. Vir hulle eie redes het hulle my gemerk as iemand vir wie hulle dinge kan vra wat mens nou nie gewoonlik sommer net vir enige iemand sal vra nie.

So kom die een toe een oggend by my en wil weet of sy my ‘n moerse groot guns kan vra. Ek se maar altyd ja, ek sal help as ek enigsins menslik moontlik kan. So hak hak kom die storie toe uit dat hulle die Saterdag genooi is na ‘n bachelorette (het nou die Afrikaanse woord vergeet, maar daai wat mens doen voor jy nou gaan trou, so vir oulaas se uithak voor die vashaak!).

En hulle wil nou opsluit vir die “bride-to-be” ‘n sex toy en ‘n blou movie gaan koop en kan ek miskien help, want hulle is seker ek weet waarheen om te gaan (Ja, moenie julle wenkbroue vir my lig nie!!!) en hulle sal NOOIT alleen by so ‘n plek ingaan nie en kan ek nie sommer self net gaan en dit namens hulle gaan koop nie!

Ek verduidelik toe mooi, ek sal hulle enige tyd soontoe neem, ja ek weet waar is die naaste een, ek ry verdomp elke dag verby die plek, as iemand nou dalk hier wonder. Maar ek trek die streep by die gaan koop namens hulle. Ek sal SAAM met hulle ingaan en al daai dinge, maar hulle gaan self kyk en self kies en self koop.

So gaan vertel ek die baas ons sal so bietjie langer etenstyd nodig he as ‘n halfuur, want ek en die dames het ‘n mission. Nou, die baas was ‘n cool ou (hy lewe nog, hy is nou net baas op ‘n ander plek) en hy se dis reg so, maar dan moet ek se waarheen die mission is. Ek se nee, ek kan nie, want ek is tot stilswye gesweer en ek mag nie mense se vertroue breek nie. maar ek belowe ek sal dalk vir hom iets saambring van ete af.

Nou verstaan mooi, ons is ‘n baie ordentlike klomp mense wat daar werk, maar ons kan ‘n goeie grap vat as ons moet. Elk geval, etenstyd kom en ek laai die twee girls in my kar en hier gaan ons. Die plek is omtrent so 5 kilometer van ons werk af. Heelpad vertel hulle my ek moet net nie reg voor die plek se deur parkeer nie! Daar aangekom, soos die duiwel dit wil he, is daar ‘n parkering reg voor die deur en ek trek daar in, tot hulle groot ontsteltenis en verleentheid en heeltyd wil hulle net weet: “Se nou iemand wat ons ken, sien ons? Se nou iemand wat ons ken is hier binne?” Wat my laat vra; “Nou wat dan, dan is daai persoon mos ook op ‘n plek waar hy / sy nie gesien wil word nie?”

Nou is die twee al klaar aan die giggel, meer van senuwees as iets anders en die duiwel werk hard hier op my skouer, maar ek hou myself in toom. Ek meen, hulle sien mos nou darem op na my! LOL!

So, is ons die plek in, en hier staan twee jong mannetjies agter die toonbank. Ek sien al klaar die twee girls trippel ongemaklik rond en weet nie waar om te BEGIN kyk nie, want daar is “variety” glo vir my. Maar toe hulle eers oor hulle aanvanklike verleentheid kom, begin ek wens ek het nooit die mal perd opgesaal nie. Want toe ruk hulle skoon hande uit. Hulle vat hier en hulle voel daar en hulle meet die teen daai en roep sommer hard na my en vra: “Hoe lyk hierdie vir jou?!” Ek het naderhand gevoel om weg te kruip agter een van die rakke!

Intussen kom daar nog 3 vrouens in. Ja, glo my, daar was in die hele tyd gelukkig geen mans in die plek nie, behalwe die ouens agter die toonbank. En die ander 3 girls begin na die nurse uniform en dergelike goed kyk. Ek het so stil stil een kant toe beweeg en die hele gedoente dopgehou en begin voel hoe borrel die lag uit my op.

My twee metgeselle het toe darem uiteindelik op ‘n gepaste DVD vir die okkasie besluit en ‘n “vibrator” vir die aanstaande bruid. Maar dis toe hulle by die toonbank kom, dat die eintlike pret begin. Vriendin 1 skuif so ewe dapper die aankope oor die toonbank en die een outjie begin die vibrator uit die pakkie haal en begin batterye daarin sit.

Sy kyk verskrik om na my en fluister: “Why is he doing that?” Ek is ook nie links nie en antwoord haar: “He can probably see that you are a bit inexperienced, so he is going to show you now how to use it!” Haar oe rek so groot soos pierings en sy gryp my aan die arm. Die volgende oomblik toe dans daai vibrator so bzzz bzzz bzzz oor die toonbank en sy fluister al hoe harder, terwyl sy my arm vasgryp: “No no nooooo.” Ek dog ek maak my vandag nat hier in die winkel soos ek lag, maar die outjie hou ‘n straight face en se: “We have to check that it is working properly, Ma’m.” En pak ewe rustig weer alles terug in die verpakking.

Teen daai tyd het ek moeite om regop te bly van die lag, want die ander girl het versteen soos  Lot se vrou en haar oe was vasgenael op daardie dansende tool op die toonbank.

Maar die cherry, die absolute cherry op die koek, was toe Vriendin 1, na alles, haar Virgin Money krediet kaart uithaal om te betaal vir die hele storie. Toe gee ek pad, want toe lag ek so dat ek bang raak dat hulle my vir altyd en ‘n dag gaan verban uit die sex shop.

En ons het toe vergeet om vir die baas iets saam te vat. Tot vandag kon hy nog nie uit my kry waar ons was nie!

Môre is Eric se verjaarsdag

Môre is Eric se verjaarsdag. Kan nie Eric se van onthou nie, kan nie onthou of ek ooit Eric se van geken het nie. Ek onthou egter sy verjaarsdag, want dit was die dag voor Soweto dag (soos 16 Junie vroeër bekend was). En vir Eric sal ek nooit vergeet nie.

Wie is Eric? Eric was my “tache boy”.

Middel 1995 tot middel 1996 het ek besluit ek is moeg vir ‘n kantoor se vier mure. Op daardie stadium het ek by ‘n baie bekende siviele konstruksie maatskappy in die Wes-Kaap gewerk. Ek het met my senior gaan praat en na baie mooi praat en toetse skryf, het hulle besluit om my as proefkonyn “site” toe te stuur. Ek sou die eerste vrou op hulle “sites” wees. Ek sou help met Admin, maar ek sou ook leer “survey”. Dit was die jaar wat ek die hardste in my lewe gewerk het, dit was ook die jaar wat ek 15 kg verloor het en dit was ook die jaar wat ek geleer het om die mens agter die massa raak te sien.

Ons “site” was in die Waterfront. Ek was die enigste vrou op die “site” en ek was ook meestal die enigste wit mens op die “site”. Toe ek die eerste oggend opgetel word deur die bakkie, het die swart manne my net so gekyk en ek het geweet ek sal moet hard werk om hier aanvaar te word. Maar, hardkoppig soos ek nog altyd was, het ek besluit ek sal hulle wys.

Die eerste dag het niemand juis met my gepraat nie, net Eric, die swart outjie wat aan my toegewys is as my tache boy. Hy sou my tache en level help dra en opstel as ek opmetings doen. Etenstyd het hulle gaan katkop en chips koop – dis iets soos uitgeholde brood met chips – en saam gesit en eet. Ek het maar daar gesit met my toebroodjies, niemand het met my gepraat nie.

Die volgende dag moes ons die pad toemaak met daardie groot dromme en toe elkeen ‘n drom vat en hom so skuins-skuins begin aanrol, het ek nie op my laat wag nie en ‘n drom gegryp en laat rol. Gelukkig het ek op ‘n plaas grootgeword en ken van sakke voer rondsleep, ens. So tussen die drom rollery deur kon ek sien hulle hou my dop.

Teetyd kom Eric na my aangestap met ‘n sak vol Liquorice All Sorts – daai lekkers met die drop in die middel. Nou, van kleintyd af eet ek nie drop nie, kon nog nooit die smaak daarvoor ontwikkel nie. As dit enige plek, enige ander tyd was, sou ek nee dankie gesê het, maar ek het geweet, vandag is dit “Do or Die”. As ek vandag nee dankie sê vir hierdie lekkers, is ek gef&*k!

So, ek sê toe dankie en ek vat ‘n handvol en ek sit dit in my mond en ek kou en ek eet asof dit die beste ding is wat ek nog ooit in my lewe gedoen het.

Daarna was die ys gebreek. Liquorice All Sorts het my een van die span gemaak!

Etenstye het hulle vir my my eie katkop gekoop. Ons het meestal saamgegooi en 2 liter Coke gekoop. Hulle het ALTYD die bottel eerste vir my gegee om oop te maak en uit te drink of vir my uit te skink. Ons het saamgelag, saam gehuil as iemand se familie iets oorgekom het.

Eric het my regterhand geword. Soms het ek en hy 5 keer rondom die Waterfront geloop, as my koördinate nie reg wou uitwerk nie. Dan het hy my uitgeskel en somtyds geweier om my tache te dra. Dan het ek dit maar opgetel en self gedra, maar kort voor lank het hy my jammer gekry en dit by my kom oorvat.

Ons was eers verontwaardig en het toe saam uitgebars van die lag toe die een wit oom my eendag iets viesliks toegesnou het waar ons een etenstyd saam geloop het langs die pad in die Waterfront. Die oom was beslis onder die indruk dat ek oor die kleurgrens heen vry.

Later het ek my eie bakkie gekry waarmee ek soggens en saans in die plakkerskampe ingegaan het om my manne te gaan oplaai. Ek het nooit bedreig gevoel nie en ek is altyd met respek behandel. As een wou skeefneuk, was daar altyd ‘n ander een wat hom gou vasgevat het.

Elke tweede Vrydag (Forthnight, soos ons dit genoem het) was betaaldag. Dan het ons 3 uur ge-tjaila. As ek dan in Lwandle kom om my laaste manne af te laai, het hulle vir my pap en vleis gekoop by een antie wat altyd op betaal Vrydag vleis gebraai het op die hoek van die straat.

Toe ek die dag vir Eric sê ek gaan bedank, want ek gaan weer trou, het hy doodernstig gesê dat hy dan ook gaan waai en verder sy “skorro skorro” taxi gaan ry. Of hy vandag nog taxi ry, weet ek nie, maar ek dink altyd aan hom met sy verjaarsdag. En aan daardie jaar op “site”.

As ek sien hoe lyk dinge vandag in ons land, dan onthou ek daardie tyd en ek onthou dat daar ook goeie mense agter die massas is.