Somtyds voel mens jouself gedrewe om raad te gee, waar raad dalk nie regtig welkom sal wees nie, of meer spesifiek – dat die raad wat jy gaan gee, dalk nie die raad is wat die ander persoon wil hoor nie.
Ek wou nog oor iets anders skryf, toe lees ek vanaand hier by Tristan van haar eks wat in plein Afrikaans nie ‘n pa se gat werd is nie, en ek lees ook die kommentaar daarby. Ek wou ook kommentaar los, maar toe word dit ‘n opstel, toe besluit ek om maar hier by my eie plek iets te kom skryf.
Ouers skei, dis ‘n realiteit. My ma het eendag gesê as jy deesdae nie uit ‘n gebroke huis uit kom nie, dan is jy uit die mode uit. “Sad, but true.” Maar ‘n ouer skei ‘n ander ouer, nie sy/haar kinders nie, of so behoort dit te wees. Maar ongelukkig werk die lewe nie altyd so nie.
Toe ek my kinders se pa skei, het hy besluit hy skei sy kinders ook. Ek wou dit nie so gehad het nie. Al was hy hoe, al was hy wie, hy was steeds my kinders se pa. Ek het ‘n eed gesweer dat ek nooit vir hulle een skewe woord oor hulle pa sal vertel nie. Nie vir hulle nie en ook nie waar hulle dit kon hoor as ek met ander mense praat nie. Ek het daardie eed gehou, deur al die jare.
Ek glo vandag nog die wreedste ding om te doen is om ‘n kind tussen twee ouers te laat kies. Jy bereik niks, behalwe om jou kind uitmekaar te skeur.
Ek het baie jare na my eie egskeiding geluister hoe verbitterde ma’s vir hul kinders vertel hoe sleg hulle pa is, hoe hy rondloop, hoe hy dit en hoe hy dat is. Hoe hy nie kom kuier nie omdat hy ‘n ander meisie het, of iets dergeliks. Soms het ek my mond oopgemaak en gesê; “‘n Slegte eggenoot is nie noodwendig ‘n slegte pa nie.” Ek is weinige kere bedank vir my kommentaar.
My eks het vir 10 jaar nie sy kinders besoek of onderhoud betaal nie. Hy was kwaad vir my en het sommer besluit hy straf sy kinders ook daaroor. Ten spyte daarvan het ek gereeld dat hulle hom bel, op my eie onkoste. Het ek vir hom verskoning gemaak, dat hy te ver bly, of te besig is.
Toe hulle groter word, het hulle my ‘n paar keer gevra hoekom het ek hulle pa geskei. Ek het deels gejok en gesê ons was te jonk toe ons getrou het en het later nie meer bymekaar gepas nie. Ek het niks van die wrede waarheid vertel nie. Soms het ek harder as ander kere gesluk aan die galbitter wat wou uitstort as hulle my vra na hul pa, maar met genade van Bo, het ek nooit iets slegs van hom gesê nie. Soms het dit verskriklik baie genade van Bo gekos, maar ek het dit reggekry.
Hul Oupa was my kinders se vaderfiguur, en later hul stiefpa en toe ek eendag by my ma huil dat hul pa hulle nie eers meer sal herken as hy by hulle verbyloop nie, het sy my getroos en die situasie probeer ligter maak deur te sê; “Ag jong, Pa’s is nie familie nie.” Dit is nie waar nie, maar dit het my darem laat glimlag.
Toe my seun matriek klaar geskryf het, het hy besluit dat hy vir sy pa wil gaan kuier. Drie weke later het ‘n ontnugterde kind teruggekom van sy pa af. Vir die eerste keer het hy besef hoekom ek sy pa geskei het. Toe hy my daaroor konfronteer, het ek hom vir die eerste keer ‘n kort weergawe van die waarheid vertel, maar aan die einde bygevoeg dat dit sy pa bly, dat die Bybel sê ‘Eer jou Vader en jou Moeder’, en NIE ‘Eer jou GOEIE Vader en jou GOEIE Moeder nie.’
Twee jaar gelede het my eksman vir die eerste keer in 13 jaar Kaap toe gekom om vir sy kinders te kom kuier. Een aand laat het hy in ons sitkamer gestaan, met trane in sy oë en vir my en Liefie bedank dat ons sy kinders so mooi grootgemaak het en erken dat hyself dit nooit so sou kon doen nie en dat hy bitter spyt is oor die verlore jare.
Daardie aand het daar vrede gekom. Ek het geweet dit was dubbel en dwars die moeite werd om my vir al die jare te weerhou daarvan om hom by ons kinders sleg te maak. Die wiel draai vanself en die lewe het sy eie tyd.
As jy geskei is en daar is kinders, bêre jou hatige gevoelens vir jou eksmaat, wanneer dit by jou kinders kom. Moenie uitpak oor hoe sleg hy/sy is, waar jou kinders kan hoor nie. Jy voel dalk nou daardie ander ouer is nie die naam ouer werd nie, maar jy gaan niemand meer skade aandoen as net jou kind, deur sy pa, of ma, voor hom sleg te maak nie. Geen kind wil slegte goed van sy pa of ma hoor nie, al het die kind dit dalk al self ervaar. Dit bly sy ouer en bloed bly dikker as water, maak nie saak hoe ons daar verby wil redeneer nie.
Al is dit soms hoé moeilik, al stoot die bitter jou keel hoé dik, laat jou kind altyd glo sy ander ouer is lief vir hom en sal altyd lief wees vir hom. Jy gaan niks verloor nie, maar jou waardigheid behou en jou kinders se harte beskerm.
Filed under: Sommer net | 20 Comments »