Getsemane (Angie Kleijn)

Die vrou wat ek nie is nie

wag vir my, wind-af wag sy,

sku in die skadu van ‘n sambreeldoringboom,

skraap sy met haar groottoon

in die stof.

En ek hoef nie te kyk nie want ek weet,

onthou die naaimasjien, die trapvoet

se plief-plif-plof.

Staan stil; die spelde steek, vlek bloed.

Maatband, mousgate, op met die arm dat ma kan sien.

Die kind wat ek nie was nie

wag vir my, wind-af wag sy

met ‘n weerhaan aan ‘n leiband,

met ‘n rokspant, pylnate, bice binding,

knoopsgate.

Kan jy haar nie sien nie?

Sy wag in die tuin

vir haar haan om drie keer te kraai

sodat ek haar nog een keer

kan verraai.

One Response

  1. Van dag een af bly hierdie by my spook. Hoeveel keer maal drie keer moet die haan kraai. Jy het bepaald ‘n vermoë om die gedigte te gaan uitsoek, het jy nie?

Lewer kommentaar