Riaan Carsten – R.I.P.

9 Oktober 1965 – 2 Augustus 2008

Gisteroggend in die koudste ure, toe die nag op sy donkerste was, het jy ons gegroet, sommerso in jou slaap. Jy was ook een van die Anderstes, al het so min mense dit ooit besef. Net, jy het dit met drank verdoof. Daarom het ons jou soms misgekyk, die diepte wat jy in jou gedra het, verbygekyk. Nie altyd besef dat jy eintlik nie van hierdie wêreld hou nie.

Onthou jy destyds toe jy my in ‘n grap gevra het om met jou te trou, want dan sal jy ophou drink? Ek het jou in ‘n grap in jou dinges gestuur, maar ook geweet dat jy eintlik ernstig was. Jy het toe nooit getrou nie en op 42 was jy eintlik al amper die spreekwoordelike knorrige oujongkêrel.

Onthou jy hoe het ons jou ma geterg, net omdat sy tog so dierbaar tergbaar was? Ek en jy het haar siel uitgetrek tot dit net aan een lang flenter hang. Sy was een van die sout van die aarde en toe sy in 2003 groet, was jy stukkend. Jy was altyd haar “baby”, die jongste van julle drie broers.

Jy was die beste “mechanic” wat daar was, daar is nie ‘n motor wat jy nie kon regmaak nie. En jy was die enigste een wat ek ooit vertrou het om aan my motors te werk. Waarheen gaan ek nou en wie gaan ek ooit weer vertrou om die eerste keer reg te werk? Martin het vanaand gesê hy gaan die besigheid verkoop. Dis die einde van ‘n era, Riaan.

Jy het tog soms so kwaad geword vir jou boeta en gereeld gedreig jy gaan vroeg aftree, dan moet hy maar aansukkel sonder jou. Toe breek jou vroeg “aftree” heeltemal te vroeg aan.

Die Liefie sou komende Maandag sy motor vir jou gebring het en toe laat jy hom verlede Maandag weet hy moet kom, jy is reg vir hom en al die onderdele het gekom. Het jy dalk toe al vermoed dat jy nie hierdie Maandag sal sien nie?

En vanaand vertel hulle my dat jy reeds die afgelope maand al opgehou drink het. Het jy jou dalk onwetend voorberei vir die weggaan? Ten minste glo ek dat jy jou ma met ‘n nugter siel gaan ontmoet het. Sy sal tog so bly wees.

Ons het vanaand gesels oor julle twee en ons dink julle sit nou lekker iewers en skinder oor wat alles gebeur het vandat sy weg is. 😉

Weet een ding – jy het ons almal vandag in ons spore gestop en laat besin. Jou weggaan sny te na aan die been – jy is dan so oud soos ons! Jy moes nog hier gewees het. Jy moes vanaand saam gebraai het en ons weereens verpes het met jou terglustigheid.

Nou is jy weg en binnekort sal ons jou as ook Kleinmond toe neem.

Mooi loop, daar waar jy nou is, Riaan. Ons gaan jou mis.

Onverdiende Genade

Wanneer mens se kinders groot en uit die huis is, sien jy hulle mos maar min. Wat nog te sê van ‘n dag of halfdag saam met hulle spandeer. Dan weer, so lief soos wat ek hulle het, het ek nog altyd my eie lewe gehad en het my lewe nooit in totaliteit net om my kinders gedraai nie.

Ja, ek was dalk nie ‘n modelma nie, maar ek het geglo kinders moet selfstandig wees en veral ‘n seun moet tog groot asseblief nie aan sy ma se rokspante vasklou nie. En so het ek hulle grootgemaak – selfstandig. (Ek dink ek sal eendag enige skoondogter se droom-skoonma wees! 😆 )

Vir Megan sien ek elke dag, want ons ry saam werk toe. Maar omdat Bernard in die vloot is en baie weg is, sien ek hom heelwat minder. Dan is ‘n dag soos vandag, wat ek sommer netso die kans kry om saam met my seun deur te bring, ‘n verrassingspakkie.

Vanoggend bel hy en laat weet hy het ‘n geleentheid gekry tot in Kaapstad en kan ek hom daar kom haal? Liefie werk en ek ry gou stad toe; kry vir Bernard regoor die stasie, by een van daardie standbeelde.

Ek maak ‘n U-draai en hy spring in, met sy sak klere, wat ek weet eintlik ‘n sak vol wasgoed is. Gelukkig was hy dit self, dis maar net gemakliker by ma se huis. Oppad stel hy voor ons draai by Canal Walk af, want hy wil bietjie in die winkels gaan rondloop.

Ons lag en gesels al die pad en by die robot, na ons die afrit gevat het, stop twee jong girls in ‘n Audi langs ons en ek sien hulle loer-loer so. Ek vertel hom die girls loer vir hom.

Hy sê: “Nee, hulle wonder seker hoe kry ‘n ou vrou soos jy dit reg om so ‘n aantreklik jong lat aan te keer.”

Ek sê: “Ag jou gat man!”

Hy sê: “Kom nou ma, ek is jou kind, jy moet sê ek is aantreklik.”

Ek sê: “Mens lieg nie vir jou kinders nie!”

Ons altwee lag en ek dink, haai weet jy, ek het hom gemis.

In Canal Walk loop ons by Due South in. Hy soek ‘n lekker rugsak. Ek staan en kyk na die GPS’e en toe hy by my kom staan, wys ek hom hoe die een gelyk het wat die Liefie gehad het en wat hulle mos by hom geroof het. (ek het destyds HIER daarvan vertel )

Langs die een wat soos Liefie s’n lyk, is ‘n pienke, presies dieselfde soort, maar net pienk! Nogal met ‘n pienk sakkie ook by.

Ek sê: “Dalk moes ek eerder destyds vir Liefie ‘n pienke gekoop het, dan het die vark dit dalk nie geroof nie.”

Bernard antwoord droogweg: “Nee fok ma, dan het hulle hom dalk geroof EN ge-rape as hulle sien hy het ‘n PIENK GPS!”

Ons bars altwee onbevange uit van die lag, sodat mense wat verbyloop eintlik omdraai, vir ons kyk en met ‘n ‘smile’ verder loop.

Ons stap verder en skerts en lag en winkels kyk. Hy draai my arm om vir hom ontbyt te koop en vra of hy die grootste ontbyt op die menu kan kry. Hoe kan ‘n ma dan nou nee sê?

Terwyl ons koffie drink en vir die kos wag, skuif hy heeltyd alles netjies op die tafel. Naderhand kan ek dit nie meer hou nie, en vra/sê:

“Bernard, hou op. Vir wat skuif jy alles heeltyd in reguit lyne en maak heeltyd netjies?”

Hy antwoord met ‘n glimlag: “Ma, dis deurmekaar genoeg in my kop. Ek kan nie nog deurmekaarheid rondom my ook hanteer nie.”

Ek sit stil en kyk vir hierdie kind van my wat al so lankal cope met die swart depressie monster. Behalwe vir die netjiesmakery rondom hom, kan ek sien dat dit tog goed gaan met hom.

En ek weet, hierdie dag vol lag saam met hierdie anderste kind van my, is onverdiende genade.

 

 

Woorddroogte

Dalk is dit die griepvirus. Ek stel my sulke klein, groen, harige, rondhardlopende klein trolle voor. Hulle steel my asem, maar ‘n rukkie voor hulle my suurstof begin steel het, het hulle al begin om my woorde te steel.

Sonkind het woorddroogte. Dis al ‘n rukkie. Eers wou ek dit nie aan myself erken nie. Ek het geglo ek verbeel my. More oggend as ek wakker word, sal ek sommer weer iets hê om oor te skryf. Of in die middag. Of in die aand.

Maar nee, my kop is plat, leeg, sonder woorde. So skoon soos ‘n nuwe aantekeningboek aan die begin van ‘n nuwe skooljaar. Ek speel met ander se woorde, maar my eie woorde is op AWOL.

Dis nie net my skryfwoorde wat opgedroog het nie, my praatwoorde is ook nie deesdae te baie nie. Dalk is dit die winter. Ek weet lankal ek moes eintlik ‘n hibernerende gedierte/gedoente gewees het, wat winters om kon slaap.

Ek het nie lus vir praat nie, ek het ook nie lus vir antwoord as daar met my gepraat word nie. Ek het ook nie lus vir mense om my nie. Ek IS nog lus vir skryf, dis net dat die woorde weg is. Dit loer vir my, terg my, en nes ek dink ek kan my hand daarop lê, dan verdwyn dit soos mis voor die son.

Jare terug het ek en my suster dowetaal met mekaar gepraat in die kerk. Ons het dit (vingertaal) geleer by ‘n dowe oom wat vriende was met my pa-hulle. Vir die res van ons jare daarna het ons so met mekaar gepraat, ook as ons wou skinder van iemand. Of iewers was waar ons nie hardop kon praat nie. Ons kon dit nogal vinnig doen en volsinne praat, sonder dat iemand wat horende is, ons gesprek sou kon volg.

My  ma het haar soms gruwelik vererg vir ons, veral as sy ons aangepraat het oor iets en dan gesien het hoe sein ons vir mekaar. Nodeloos om te sê dat sy tog nooit die gesprek uit ons kon trek nie 🙂

Dalk is my woorde more of oormore terug, ek hoop! Maar vir nou dink ek dat ek vir my suster moet gaan kuier, waar ek in stilte kan sit en praat.

Son vol winter

Tussen Maandag en vandag het ek ‘n ander lewe geleef in koorsdrome. Terwyl die Kaap verspoel in hemelwater en nogmaals water, het ek verspoel in ‘n griepvirus.

Hoe voel dit om te dink jy is besig om dood te gaan en om dan maar later net te wens dat jy eerder tog maar net dood WIL gaan? Ek weet nou hoe.

Siekte sit nie goed aan my nie, ek sit nie goed aan siekte nie. Ek het ook nie veel geduld met siekte nie en glo nog steeds mens kan jou gesond dink – dis ‘n kwessie van “mind over matter.” Dalk is dit hoekom Baas Lewe besluit het om my ‘n les te leer.

Van Maandag tot gisteraand het ek ‘n stuk lewe verloor. Ek het gaan draai by die horlosiemaker oom wat jare gelede al dood is en nie kon rus kry nie, by my standerd vyf maatjie wat in ‘n motor ongeluk dood is een aand oppad terug van die inryfliek af, by ander lank gelede oorledenes. Ek het net nooit besef ek het al die pad gekruis van so baie mense wat nie meer lewe nie.

Soms het hulle in ‘n ry voor my verby beweeg, besig om in my koorsdrome te lewe, met mekaar te praat, met ander lewendes te praat, maar nooit, net NOOIT met my nie. Ek bly op die rand staan, ‘n toeskouer. Maak nie saak hoe ek probeer uitreik nie, hulle sien my nie, hoor my nie. Seker omdat dit nog nie my tyd is nie.

Met tye het ek besef ek is siek. ‘n Mens kan nie hoes dat jou longe skeur sonder om iewers in jouself te weet dat jy siek is nie. Ek weet Liefie het my gedokter, ek weet ek het goeters gesluk en dan weer die genadige slaap oor my voel toemaak. En tussen-in was daar die koors en die drome en die dooies.

Gistermiddag laat het ek vir die eerste keer geweet wie en waar ek is, met totale bewussyn. Vandag het ek begin kriewelrig raak, vir iets om te eet en iets om my brein te stimuleer. Dit beteken vir seker ek word gesond.

Ek is nog in my bed, mooi skoon en netjies, met my rekenaar om my geselsskap te hou. Ek het bietjie opgestaan, maar voel soos iemand wat net onder narkose uitgekom het. Nou kuier ek maar onder die komberse by julle. Al is dit sneeukoud, skyn die son ook vandag vir die eerste keer buite. Dalk is dit hoekom ek besig is om gesond te word.  😉

Ek, die gek

Daar is een ding wat ek in my kinders ingedril het. Nee, wag, dit was twee. Die eerste een was dat hulle nie mag lieg nie. Die oumense het altyd gesê as jy lieg, dan kan jy steel, en as jy steel, dan kan jy moor. Ek stem nou nie heeltemal saam met daai redenasie nie, want dan kon ons almal vandag moordenaars gewees het. Maar lieg is vir my erg. Hulle het ook gou geleer dat hulle 9 uit 10 keer minder swaar gestraf is vir die waarheid, nadat hulle drooggemaak het, as wat ek hulle gestraf het as ek die droogmaak agter ‘n leuen uitgevind het. Maar dis nie waaroor ek hier wil skryf nie.

Die tweede ding wat ek in hulle ingedril het, is dat jy nooit, en ek bedoel NOOIT ‘n ander kind / mens spot nie. Nie oor hy dom is, lelik is, vet is, sy pa of ma iets is of hoegenaamd wat ook al nie. Ek sou hulle gatvelle aftrek, in gewone mooi Afrikaans, as ek uitvind hulle maak hulself skuldig aan so iets. (Ja, ek glo nog in pakslae vir ‘n kind, vir die wat wonder en ook die wat my daaroor wil aanvat.)

Ek het hulle geleer elke mens is ‘n individu, elke mens het ‘n hart, elke mens het goed én kwaad in hom, en dat dit nie ons plek is om enige iemand te oordeel nie. Dat ons uit die aard van die saak nie met almal kan of hoef te meng nie, maar dat ons almal menswaardig moet behandel. En dat ons eerder stilbly as ons niks goeds te sê het nie.

Vandag is hulle groot en het ek nie regtig meer beheer oor hoe hulle optree nie, maar ek het al verskeie kere gesien hoe hulle ander mense aanspreek wat aanmerkings maak oor iemand wat “anders” is, so dit wat ek hulle geleer het, het wel vasgesteek en hopelik sal hulle eendag hul eie kinders dieselfde leer.

Die afgelope ruk het ek op ‘n paar blogs goed raakgelees wat my nie lekker laat voel nie. Ek gaan nie name noem nie, dié wat die skoen voor pas, sal self weet om hom aan te trek.

Daar is niks mee fout om te blog en dinge te bevraagteken nie. ‘n Goeie debat op die regte manier is net ‘n plesier. Maar hoekom iemand aanval? Met naels en tande en lelike woorde. Wat bereik so iemand?

Ek lees hoe iemand vir skynheilig uitgeskel word, terwyl die uitskeller agter ‘n vals naam wegkruip. Hoe lafhartig is dit?

Ek lees hoe iemand anders se geloof bevraagteken word, op ‘n erg beledigende manier. Ek het ook al vrae oor geloof gehad, maar daar is maniere en dan is daar maniere. Wat se genot kry ‘n persoon daaruit om alles wat ‘n ander persoon sê, te probeer afbreek en sleg maak? Al stem jy nie saam nie, kan jy dit nie ten minste beskaafd doen nie?

Ek lees hoe een persoon iemand anders se vetsug in detail skets. Dink jy daardie persoon het nie ‘n hart nie? Dink jy daardie persoon voel nie dalk ook selfbewus oor sy so lyk nie, maar steek dit agter bravade weg nie?

Ek lees hierdie tipe goed en ek word naar. Ja, kom vertel vir my ek hoef nie daar te lees nie, ek kan verbyhou. Dit gaan net mooi niks aan die feit verander dat daardie goed geskryf is nie. Dat daar mense is wat eerder sal probeer om die lelike in ander raak te sien as die goeie, die mooie. Mense wat teer op ander se seer.

Het julle al ooit gesien hoe blom iemand as jy eerder op sy/haar goeie punte konsentreer, as om net die slegtes uit te wys? Ek is nie ‘n dwaas nie, ek weet daar is mense wat onherroeplik boos is, maar ek wonder altyd, ALTYD, as iemand dalk iewers in hulle lewens anders opgetree het, sou hulle vandag nog net sleg gewees het, of sou die goeie dalk gegroei het en die slegte oorwin het?

Ek weet dit gaan nooit gebeur nie, maar ek sou so graag wou hê dat ons eerder die goeie in mekaar sou soek, sou uitlig, sou oorvertel. Maar natuurlik, ek het vergeet, die goeie dra nie genoeg sensasiewaarde nie!

Wie wil dan nou net goeie nuus lees? Wie wil dan hê dat ons eerder verdraagsaam teenoor mekaar moet wees? Mekaar moet ruimte gee – “live and let live.”

Seker net ‘n gek

Soos ek

In ‘n gekkeparadys.

Een jaar later!

Happy Birthday

More is 24 Mei. More is hierdie blog ‘n hele een jaar oud!

Ek het begin as ‘n SSSB leser, maar toe raak dit nie meer lekker daar nie en ek besluit om my eie skoene aan te trek. As ek nou terugdink oor hoe dom ek met alles was, wil ek lag kry. Maar hoe meer ek ander blogs ontdek het, hoe meer het ek gesien wat WordPress alles kan doen en ek het met val-en-opstaan probeer en geleer.

Nou, ‘n jaar later, is daar nie regtig iets aan my blog wat ek wil verander nie. Dalk gee ek dit weer eendag ‘n “facelift”. maar vir eers is ek tevrede. Dis my plek.

Ek het so baie mense leer ken, so baie dinge geleer, van alles onder hierdie son. Ek het geleer dat daar baie mense daar buite is wat dink soos ek dink. Ek het ook geleer dat dit okay is om jou eie opinie te hê, al pas dit nie by die samelewing se opinie nie.

Ek het geleer dat ons almal ‘n storie het om te vertel. En al vertel ons almal nie ons storie ewe goed nie, beteken dit nie dat ons storie self nie goed genoeg is om te vertel nie.

Ek het geleer dat selfs in die virtuele wêreld almal nie van almal sal hou nie, maar dat dit ook okay is, want daar is genoeg plek vir elkeen van ons.

Ek het mense sien kom en later weer sien gaan. Sommiges se weggaan het my meer geraak as ander s’n. Ek het gewens dat hulle eerder kon bly, maar hulle het hul eie redes gehad wat gemaak het dat hulle die virtuele wêreld moes groet. Een van hulle is Ding, wat met sy nommer 13’s diep spore in baie van ons se harte getrap het. Ek mis Ding se stories nog elke dag en ek hoop hy en sy Dina leef lank en gelukkig saam 🙂

Ek het geleer dis soms nodig en ook okay om jou persoonlike hartseer met jou virtuele vriende te deel. Ek het soms gewens ek kan party net in die regte lewe ‘n drukkie gee en verseker dat die son altyd weer skyn, al is dit nie more nie, dan is dit oormore of die dag daarna.

Soms het ek nie woorde gehad by party inskrywings nie, my hart en my kop het net stil geword voor ‘n medemens se seer. Ander kere kon ek my kop agteroor gooi en skaterlag vir sommiges se uitstekende humor.

Nie een dag was ooit dieselfde nie en soms, as my regte lewe te besig geraak het en ek nie kon kom lees nie, het dit gevoel of ek iets iewers verloor het. Amper so asof ek my kind in die supermarktrollie in die parkeerarea agtergelaat het!  😆

Ek het ‘n hele paar bloggers persoonlik ontmoet en ek was nie een keer teleurgesteld nie. Elkeen van hulle is die moeite werd om te ken.

Die lewe is nie voorspelbaar nie, maar as dit van my afhang, sal ek volgende jaar dié tyd nog steeds hier wees. En ek hoop elkeen van julle ook!

Ek dra nie rok nie

Maak dit my gay, skeef, ‘n reënboogkind? Ek dink nogal nie so nie. Nie dat dit my sou gepla het as ek was nie, maar dis ‘n ander storie vir ‘n ander dag.

Ek het myself so bloediglik vererg vandag. Hulle sit in die kombuis, want hier mag ons mos nie by ons lessenaar eet nie, so as ek in Rome is, dan maak ek nou maar soos die Romeine. Langs my sit ‘n skewe girl, noem haar maar E, iemand van wie ek baie hou en met wie ek goed oor die wegkom. Sy het nie fieterjasies nie en haar werks-etiek is dieselfde as myne, m.a.w. jy doen ‘n ding flippin ordentlik of jy doen hom glad nie.

Oorkant ons sit ‘n paar ander vroumense. Ek het nie die gesprek gevolg nie, want in my kop was ek nie daar nie. Toe vang ek net so die laaste deel op, toe my bord hier by amper leeg kom en ek terugkom van waar ek in my kop was. Iemand moes van rokke gepraat het, iemand moes seker gevra het oor wat se rok iemand anders iewers heen gaan aantrek en toe moes iemand vir E gevra het wat sy gaan aantrek of so iets.

Ek vang op waar E antwoord dat sy nie ‘n rok gaan aantrek nie, want sy besit nie een nie. Toe daal daar so ‘n asem-ophou-stilte en toe sal die een koeksuster so fokkin wragtig sê: “Ag sorry man, natuurlik sal jy mos nie rok dra nie.” En ek sien hoe sak E se kop. My bliksem, hoe onsensitief! En wie sê net straight girls dra rokke? Of dat alle gay girls NIE rok dra nie?

Dis toe net daar wat die duiwel mos reg van my oor afspring, so ‘n Tarzan swaai aan my hare maak, terwyl hy “hie-ha hie kom k&k” skree en tot binne in my mond spring. Ek kyk so stadig op van my bord af, sit my mes en vurk so mooi neer, kyk vir Koeksuster mooi reguit in die oë en sê so half stadig, asof sy nie te vinnig van begrip is nie; “E k  d r a  o o k  n i e  r o k  n i e.”

En ek wag en ek bly kyk vir haar en ek wag en sy weet nie waar om te kyk nie. Niemand sê iets nie. En ek wonder of hulle sit en wag vir ‘n groot onthulling van my kant af.

En toe eers las ek by; “En ek besit ook nie ‘n rok nie. Maar weet jy, ek hou van mans, sommer baie, veral baie van my eie man. Eintlik is ek nog na al die jare dolverlief op hom. So ek dink nie rokdra of nie, het iets daarmee te doen nie, né.”

Sy het eers rooi geword en toe mompel sy iets van sy het dit nie so bedoel nie, en toe sê ek dat sy dalk volgende keer moet dink voor sy praat. Toe staan ek op en sê vir E; “Kom ons loop. Ek het nog nooit in my lewe sooibrand gehad nie, weet nie eers wat dit is nie, maar ek dink ek is so pas besig om uit te vind.” Toe loop ons.

Agterna het ek gedink ek het dalk bietjie kras opgetree, tot E my vertel dis nie die eerste keer dat die koeksuster haar afknou met woorde nie. Toe is ek spyt ek het nie my oorskietkos op koeksuster se kop uitgegooi nie. 👿

Ek dra regtig nie rok nie, bloot omdat broeke veel meer gemaklik is. Ek het mooi langbroeke, sexy langbroeke, mooi kantoorklere, mooi toppies en hemde en stylvolle broeke. Ek vrek oor mooi juwele, veral oorbelle en mooi onderklere. Ek het die mooiste skoene met die fynste hakke. Maar ek HOU NIE van rokke nie. So wat maak dit my?

Ek voel ‘n “flying feather” wat iemand dink omdat ek nie rok dra nie, want ek weet wie ek is. Maar wat my wel tot in oneindigheid afpis, is dat mense ander mense nog steeds wil “label” oor uiterlike dinge. Vet mense is lui, mooi mense is windgat, blondines is dom, mans soek almal een ding. En pas jy NIE in die hokkie nie, is hulle stom verbaas, amper asof jy jou nou snaaks hou en nie mooi wil saamspeel nie.

Hoe de fok kan mens so vlak wees dat jy net kan vaskyk in die sienlike en dan GLO jy het reg geoordeel? Somtyds wens ek daar was ‘n ander planeet waar menslike lewe moontlik was, baie ver van hier af. En dat ek sou kon kies wie ek met my saamneem soontoe.