Kinderdief

Dit kom en steel ons kinders weg, onder ons oë, en laat vir ons ‘n volslae vreemdeling agter.

Hierdie is vir Dellie se vriendin en vir Zee en elke ouer daar buite wie se kind die dodedans met dwelms dans.

DWELMS – die vloekwoord van ons tyd. Die ding wat jou kind kom wegsteel onder jou oë, en vir jou ‘n vreemdeling agterlaat. ‘n Vreemdeling met jou kind se gesig wat vir jou lieg, jou bedrieg, jou selfs soms besteel. ‘n Vreemdeling met jou kind se gesig, vir wie dit moeilik is om lief te wees. ‘n Vreemdeling wat jy soms doodwens, want dis werklik soms makliker om te weet jou kind is dood as om nie te weet waar jou kind vanaand op die strate is nie, bedwelmd.

Na 3 jaar praat ek nog steeds moeilik hieroor. Dis soos ‘n ledemaat wat gebreek was en altyd weer pyn as die winter kom. Die letsel bly vir altyd, al het die pyn verdof. Al is dit net ‘n dowwe seer as die wolke saampak. Maar die laaste ruk het ek al hoe meer gelees van ander ma’s met kinders wat hierdeur gaan en dalk help my bietjie vertel iewers ‘n ander ma.

My seun, BK, het deur die loop van sy tienerjare my geen noemenswaardige probleme gegee nie. Hy het goed gedoen op skool, matriek goed geslaag en is Vloot toe. Hier en daar was die gewone ‘hiccups’ wat mens maar met tieners het, maar in geheel gesien, niks kommerwekkend nie. As alleen ouer het ek hom en sy suster streng, maar regverdig grootgemaak. Hulle is geleer dat dit reg is om dinge te bevraagteken en dat ek ook nie altyd onvoorwaardelik alles weet nie. Die kommunikasie lyne tussen ons was oop, of so het ek geglo.

In sy 2de jaar in die Vloot, het BK nog soms huis toe gekom, en die tekens was daar, maar ek het dit nie raakgesien nie. Voor die bom gebars het, het my man vir my gesê daar is fout met BK. Hy is net TE hiperaktief as hy by die huis kom. Hy sit nie stil nie en hy het ‘n snaakse trekking aan sy mond, amper soos ‘n senuwee wat spring. Hy vermoed die kind gebruik dwelms. Ek praat dit dood, want ek wil dit nie weet nie en ek wil dit nie glo nie. Hoekom sal hy so iets doen? Hy het geen rede om dit te doen nie. Daar is niemand in ons familie wat sulke neigings of probleme het nie.

Toe lui die telefoon een oggend 3 uur. BK is in die Militêre hospitaal in Wynberg opgeneem. Hy het dit heeltemal verloor en sy vuis deur sy ruit geslaan en amper sy slagaar oopgesny met die glas. Nog ontken ek dat die probleem meer is as net ‘n humeur wat verloor is. Ons gaan besoek hom en ek sê vir hom hy moet homself regruk.

Drie dae later moet ek hoor dat my kind homself in die hospitaal se badkamer probeer ophang het, dat hy aan erge depressie ly en dat hy aan tik verslaaf is. Ek het soos Alice in Wonderland gevoel, wat deur die ‘looking glass’ geval het.

Waar, wanneer, hoe, hoekom? Daar was te veel vrae sonder enige antwoorde. Hoekom my kind? Wat het ek verkeerd gedoen, waar het ek verkeerd gedoen? Is dit omdat ek hulle pa geskei het? Is dit omdat ek hulle grootgemaak het om onafhanklik te wees, omdat ek nie regtig die ma-erige tipe is nie? Die vrae het nooit opgehou nie. Nes ek dink daar is nie meer ‘n klip waarmee ek myself kan gooi nie, dan het ek met een in my hand gestaan. Slegte, slegte ma! En om alles te kroon, bel sy pa, wat  in 10 jaar nie moeite gedoen het om sy kinders te sien nie, en skree-vra hoe ek kon toelaat dat so iets met ons kind gebeur.

Ek het nie geslaap nie. Ek het snags lê en dink. En nog steeds geen antwoorde, geen aanwysing van waar sy pad donker geraak het nie. Die kapelaan van die Vloot het ons gebel en ingelig dat die Vloot vir BK na ‘n rehabilitasie sentrum gaan stuur en dat ek niks het om oor bekommerd te wees nie. Alles sal regkom. Ek was nie so seker daarvan nie. Ek was van niks meer seker nie. Maar ek was bereid om enigiets te probeer.

Binne ‘n week is BK weggestuur na Stepping Stones en ek sal die staat en spesifiek die Vloot, ewig dankbaar wees. Hulle het my kind se lewe gered. Stepping Stones is een van die beste rehabilitasie sentrums in ons land en BK was vir ses weke daar. Vir die eerste keer is sy depressie behoorlik gediagnoseer en kon hulle besluit wat se medikasie werk die beste vir hom.

In sy soeke na ‘n uitkoms uit die donker gat, het hy begin eksperimenteer met dwelms en in tik se kloue beland. Daar was sielkundige dinge wat hy nooit verwerk het nie. Vir die eerste keer het hy daaroor gepraat en daardeur gewerk. Met professionele mense.

Vir die eerste paar weke mag ons hom nie besoek het nie, en hy is ook nie toegelaat om ‘n selfoon in sy besit te hê of enige ander kontak met die buitewêreld nie. Dit was moeilik om so afgesny te wees van my kind, maar ten minste het ek geweet waar hy is en dat hy veilig is.

Ons moes ook, ek en sy stiefpa, die Familie Program, bywoon. Dis ‘n werkswinkel van ‘n dag lank, saam met die ander ouers van die kinders wat op daardie stadium in die rehabilitasie program is. Dit gee jou as ouer die “tools” om die situasie te hanteer. Daardie dag het ek baie geleer en stories gehoor wat my hart in duisende stukke versplinter het.

Daar was hierdie gewone, doodnormale ouers van ‘n plattelandse dorp. Hulle dogter het stad toe gekom, universiteit toe, en met heroien deurmekaar geraak. Toe hulle begin agterkom daar is fout, het haar ma stad toe gery en haar dogter bedwelmd in haar kamer aangetref. Sy is daarna in en uit 2 ander rehabilitasie plekke en Stepping Stones was hul laaste hoop. Hulle het hul huis verkoop om vir hul kind se behandeling te betaal. Haar pa het gehuil terwyl hy vertel. Sy is hul enigste kind en hulle het soveel drome vir haar gehad.

Omdat BK vandag nog kontak met haar het, weet ek dat sy ook vandag nog ‘skoon’ is, maar dat sy elke dag teen die duiwels van heroien baklei, dat sy gereeld haar ondersteuningsgroep bywoon en dat sy in ‘n koffiewinkel in die Kaap werk. Sy is ‘n skaduwee van die kind wat sy was, maar sy byt vas. Van verder leer is daar vir eers nie sprake nie, net eers oorleef, sonder die dwelm.

Dan was daar hierdie skatryk familie – net die ma en suster het die werkswinkel bygewoon. Die seun is 36, maar al vir jare verslaaf aan dwelms. Hy het sy vrou en 2 kinders probeer doodmaak. Hy het in sy suster se huis ingebreek. Die ma bly oorsee en die dogter beheer die familie besigheid in Suid-Afrika. Die seun ontvang ‘n toelaag elke maand en het nog nooit nodig gehad om ‘n steek te werk vir sy geld nie. Dit was die suster wat uit radeloosheid haar broer laat opneem het vir behandeling. Die ma het daar gesit, maar dit was duidelik dat sy geensins die omvang van haar seun se probleem aan haarself wou erken nie. Die berader het haar reguit vertel dat sy die geldkrane moet toedraai, dat sy hom in sy kwaad sterk. Die suster was woedend vir die ma, want sy het gevoel dat sy al die werk doen en haar broer word geensins tot verantwoording geroep nie. Hulle het op mekaar begin skree en ek het sit en kyk hoe skeur ‘n familie uitmekaar. Geen geld in die wêreld kon ‘n verskil maak aan hulle pyn nie.

Skel, smeek, skree, dreig, ignoreer – dis alles dinge wat ‘n ouer probeer met ‘n verslaafde kind – en selde werk enige van hierdie dinge. ‘n Verslaafde se gesin voel kwaad, alleen, sielsmoeg en depressief en het self ook professionele behandeling nodig. Navorsing het bewys dat die gesin se betrokkenheid by die verslaafde se behandeling van kardinale belang is en dat dit een van die grootste vereistes is vir die suksesvolle herstel van enige verslaafde.

Die familieprogram het die volgende doelstellings:

* Om gesinslede te help om die dinamika van verslawing te verstaan.

* Om aan gesinslede die geleentheid te gee om die verwoestende effek wat die verslawing en die   verslaafde op elkeen se lewe het, te deel – dit gee ook ondersteuning aan gesinslede en help om hul ontkenning van die probleem en hul isolasie af te breek.

* Om gesinslede te help met die veranderinge wat hulle in hul lewe moet aanbring om aan die verslaafde die beste geleentheid te verskaf om ten volle te herstel.

* Om die gesinslede te help om ‘n infrastruktuur te skep wat aan die verslaafde die beste kans gee op volkome herstel.

Ons het ook die volgende geleer:

Een van die algemeenste redes wat ‘n verslaafde laat voortgaan met sy vernietigende gedrag, is wanneer hy nie tot verantwoordeing geroep word vir die gevolge van sy dade nie. Dit is wanneer die ouers, of soms lewensmaat, die verslaafde in effek help om met sy verslawing voort te gaan deur sy boetes of regskostes te betaal, sy verslawing ‘n geheim hou, hom verskuif na ‘n ander skool, ensovoorts. Die familieprogram leer jou om strepe te trek, wat die verslaafde en sy gedrag betref.

Die mite dat ‘n verslaafde persoon eers ‘rock bottom’ moet tref, self vir hulp moet vra of kan weier om gehelp te word, hoef nie meer ‘n gesin magteloos te laat nie.

Strukturele bemiddeling is ‘n dinamiese en hoogs suksesvolle manier om die verslaafde wat skop teen behandeling, sover te kry om vir behandeling te gaan. Die doel van hierdie bemiddeling is om ‘n sogenaamde krisis te skep, waar al die belangrike mense in die verslaafde se lewe bymekaargebring word en daar aan hom, op ‘n besorgde en geborge manier, die harde realiteit van sy verslawing uitgespel word. Om dan die verslaafde te help om die regte behandeling te kies, voordat hy alles van waarde in sy lewe verloor en voordat so ‘n gesin heeltemal verwoes word deur een persoon se gedrag.

Almal wat deelneem aan hierdie bemiddeling, moet gemaklik voel met dit wat aan die verslaafde gesê en voorgelê gaan word. So ‘n bemiddeling is ‘n laaste uitweg en moet slegs gedoen word in die teenwoordigheid van ‘n gekwalifiseerde en ervare bemiddelingsberader. Al is hierdie bemiddeling ‘n laaste uitweg by ‘n verslaafde wat behandeling weier, moet dit gesien word as ‘n begin en nie ‘n einde nie. Dit moet aan die verslaafde oorgedra word as ‘n proses van gesondmaak, eerder as seermaak en as ‘n verklaring van liefde en omgee vir die verslaafde.

Die verslaafde word gekonfronteer met die realiteit van sy verslawing, met die rol wat ander familielede dalk onbewustelik in sy verslawing gespeel het, met ondersteuning in sy genesingsproses, maar ook met duidelike grense gestel om hom te help met die beste kans op herstel.

Vir die verslaafde, want hy bly ALTYD ‘n verslaafde, al is hy hoe lank ookal skoon, is dit moeilik. Vir die ouer is dit moeiliker en vir ‘n broer of suster is dit soms nog moeiliker. Hulle word vergeet, op die agtergrond geskuif, terwyl die verslaafde se doen en late alles oorneem, alles insuig.

Ek was gelukkig. Ons het nie die helfte van die dinge deurgegaan wat sommige ander ouers met verslaafde kinders ervaar nie. Ek dank nog elke dag die Here. My kind het anderkant uitgekom. Stepping Stones het sy lewe gered. Red nog elke dag sy lewe, want hulle het hom die gereedskap gegee om op die regte pad te bly, waar ek seker altyd sal voel dat ek as ouer gefaal het.

Maar of dit 3 jaar of 13 jaar is, die kommer gaan nooit weg nie. Mens kyk anders na jou kind, in die sin dat jy hom dophou, heeltyd bedag op tekens dat die verslawing teruggekeer het. Jou grense het verskuif. Jy het dinge gesien en gehoor wat kon gebly het. Daar is ‘n teenwoordigheid in jou lewe wat nooit weer wyk nie en dit is Tik, of Heroien, of wat ookal jou kind se keuse van dwelm was. Of dalk meer as een.

Die wat meer wil weet oor Stepping Stones, kan hulle webtuiste besoek by

http://www.steppingstones.co.za/

Op hulle webblad nooi hulle ook mense uit, wat ‘n familielid / kind het wat verslaaf is en dalk net met iemand wil gesels, om vir Carry Bekker te email of te skakel by 021-7834230, ongeag of jy iemand het wat by Stepping Stones is vir behandeling. Enige iemand kan ook hul een-dag familieprogram bywoon, wat elke tweede Woensdag is.

Advertisements

24 Responses

  1. ((son))

  2. Sjoe, mens het nie woorde nie!

  3. Sonkind,

    My hart gaan uit — uit — na ouers wat in sulke situasies vasgevang is. Dis moeilikheid waarvoor geen mens vra, of ooit iemand anders kan toewens nie. Dit skeur harte. Dit skeur lewens. Dit skeur op emosionele vlak oop tot op die rou. Godsydank dat daar mense is wat dit hulle lewenstaak maak om geliefdes — die stille offers van verslawing — deur sulke situasies te help, te lei en te begelei.

    En soos Krista sê: ((son))!

    S
    (Met groen koring op die land, ‘n klem in die hart en Groot Genade wat ons almal dra!)

  4. sonkind, wat kan ek sê…

    Dankie dat jy jou diepste diep met ons deel. En erens gaan iemand hierdeur gehelp word… En hy kan trots wees om jou as ma te hê!

    (((son)))

  5. Dankie Son, dankie dat jy hier sê wat ek al so lank al probeer om op papier te sit, dit was my hoofdoel om my blog te begin, om dalkies net een persoon te help. Ons het vandag goeie nuus gekry dat seun aanvaar is by Swartfontein in Witrivier vir ‘n 3 maande program. Hulle kort nog net een vorm van die hof af en dan kan hy in Feb gaan. Hopelik het hy nie by daai tyd ge “overdose” nie. Al wat ek kan doen is bid dat dit hierdie keer moet werk. Al die vorige kere het hy onder dwang gegaan maar die keer het hy self gegaan en vir hulp gevra. Het nog bitter kontak met hom, maar bid elke dag vir my kind dat hy uit die kloue van heroin sal ontsnap. Son, ek hoop nie ek het ‘n can of worms hier losgelaat nie maar ouers van veral jong kinders moet weet van die euwel daarbuite, hy sluip soos ‘n dief in die nag by jou voordeur in. Baie dankie dat jy jou storie met ons gedeel het, dankie dat ek kan weet ek is nie alleen nie.
    (((Son)))

  6. Ja Son. Ek het ook nog groen koring op die land. Kan maar net bid. ((Son))

  7. En die van ons wie se kinders nog nooit sulke neigings gehad het nie kan net baie dankbaar wees.

  8. Dankie vir hierdie ene Son, ek is baie seker my vriendin sal krag hieruit kan put. Sterkte vir jou, elke dag!

  9. Son, dit moes moed gevat het om hierdie te skryf. Dankie. Mens moet maar jou kniegies deurbid, want dwelms gebeur nie net met “slegte” mense nie. Al die stories wat ek die afgelope tyd gelees het, was ware eye openers.

  10. En ek wou nog byse, jou titel “Kinderdief”, is baie gepas.

  11. Waar kan ek heen trek waar daar NIE dwelms is nie??????
    Wat is die neiging, net alleen kinders wat dalk bederf is, teveel kinders in die huisgesin wat dalk voel hulle kry nie genoeg aandag nie? Of gebeur dit maar net?
    Sterkte vir al die ouers wat al daarmee te doen gehad het, ek stem saam met Boendoe, dat ons maar ons kniegies moet deurbid!

  12. Sjoe, ek moes net weer hier kom lees. Ek kan die inskrywing van jou nie uit my kop kry nie!

    Niks wat ek sê kan vir jou troos of versekering bring nie. Hierdie is net jóú seer. Net jy ken werklik die intensiteit daarvan.

    Jy is ‘n uitsonderlike mens. Mag jou vertel nooit hier stop nie. Daar is so baie wat dit moet hoor! So baie wie jy hierdeur kan help. Ek hoop ek lees hierdie stuk eendag in ‘n tydskrif of nog beter ‘n skoolkoerant raak. Dis waar dit hoort!

    Ek is jammer dat die lewe so wreed was met jou kind.

  13. […] loer gerus ook by Dellie en Sonkind […]

  14. Genade!! Mens weet nie altyd hoe dit regtig is en wat mense soos jy deurgaan nie!! Dit was asof ek jou kon hoor vertel. Ek glo dat net Jesus kan ‘n mens deur sulke dinge dra! Wees sterk, staan sterk en baie sterkte!! Mens kan ook net glo en hoop jou kinders word nie deur hierdie duiwel gesteel nie! Baie sterkte en ‘n lekker drukkie!

  15. Sonkind – dankie. EK het ‘n paar ouers wat ek hierdie gaan laat lees.

  16. 😦 Daar is net te veel sulke stories vandag.

    Ek is bly dat dinge goed uitgedraai het in julle geval. Dankie dat jy daaroor geskryf het.

  17. Hats off 2 u!

  18. Sonkind, mens lees in die blogsfeer rond en so kry mens ‘n prentjie van die mense agter die blogs in jou kop. Vir jou het ek gou gesien as iemand met baie lewenservaring en ek het vermoe daar is ‘n seer iewers. Nou weet ek wat. Jy is gebrei en getoets. Jy staan nog sterk en jy glo nog. Jou son skyn nog helder. Ek bewonder jou vir dit wat jy gedeel het met die hoop dat dit iemand help. Ek glo dit sal.

  19. Ons is so gewend die ‘instant alles’ deesdae, dat wanneer ‘n ramp ons tref, ons dit ‘instantly’ wil oplos.

    Maar mens moet nooit uit die oog verloor dat die proses van seerkry nie instant gebeur het nie, daarom sal dit langer vat om te genees as wat dit geneem het om te gebeur.

    Hou maar altyd vas aan jou Skepper, want mense wat jou ondersteun, raak ook soms gesidetrack met hulle eie dinge en lewens, en soms voel ‘n ou of jy vokin alleen in die wereld staan, maar as jy jou tou van dag een af aan die Anker vasgeknoop het, sal jy altyd krag kry.

    Ek dink skole en ouers moet sommer ‘n no shit attitude inslaan, en flieks wys van junkies wat besig is om te sterf, of kinders na rehabs vat waar mense le en ruk en skree vir ‘n fix. Die vokin nonsens van ‘ons wil hulle beskerm’ is waar alles begin het, want ons weerhou hulle van die ware harde realiteit.

    As ek as kind lank gevat het om weer in die see te swem, mind you, ‘n swembad had ook daai uitwerking, na Jaws, hoeveel te meer gaan ‘n kind nie wegskram van drugs as hy ‘n vreeslike prent daarvan in sy kop het nie?

  20. Dankie, almal. BK was pas vir ‘n week by die huis met sy jaarlikse verlof. Hy is nog steeds in die Vloot. Ja, hulle het hom weer ‘n kontrak gegee na alles. Hy is nou ‘n honde opleier en het twee Rottweilers.

    Dit gaan goed met hom. Vreemd genoeg het hy een aand by my kom sit en die volgende gesê: “Ma, ek weet jy worry nog oor my en ek weet ook niks wat ek sê sal jou laat ophou worry nie. Maar ek wil hê jy moet weet ek sal nooit weer aan daai goed raak nie. Nie vir jou of enigiemand anders nie, maar vir myself.”

    Dis vir my genoeg. Vir meer kon ek nie gebid het nie. Nou kan ek net bid vir die kinders daar buite wat nog vasgevang is in die dwelmgreep. En spesiaal vir jou Zee.

  21. Sonkind, weet nie hoekom ek vandag hier so by jou ronddwaal nie, ek weet nie hoekom ek weer vandag hier moes lees nie, is dit omdat iets hier sien wat ek so na smag, as ek na hierdie laaste week van my kyk pyn my hart so, my meisiekind sê vir my hierdie week as sy genoeg geld gehad het , het sy hom na die beste rehab in die wêreld toe gestuur, een waar hy nie kan wegloop nie, en een wat ons weet ‘n 100% slaagsyfer het. Ek is al hierdie week gedreig dat hy selfmoord gaan pleeg, as ek nie vir hom geld gee nie, hy iets onverantwoordeliks sal doen, dit het op so punt gekom dat my man my selfoon van my moes af wegvat want ek kon net nie meer nie. Maar ai, ek sal nooit ophou bid en hoop nie. En weet jy wat, Zeethan kan al hierdie stress aanvoel, hy was so omgekrap hierdie hele week, nie sy sonnige self nie. Sorry ek pak nou hier af, maar voel darem beter oor ek weet jy verstaan presies hoe ek op hierdie oomblik voel.

  22. Ek was een van die kinders, ek was op ‘n tyd deur die Kaapse polisie geklasifiseer as ‘n menace to society, hulle het nie geweet wat om met my te doen nie. Ek’t op 11 begin rook, op twalf dagga gerook en toe begin met baie sterker dwelms nadat ek op 14 jarige ouderdom gemolesteer was deur ‘n man wie nou nog op vrye voet rondloop. Ek wou hom skiet , dank die vader ek het nie so ver gekom nie. Ek was toegesluit en gevang met my oupa se pistool. Na dit was ek 3 keer weer toegesluit vir diefstal en dwelms. Dinge het so ver gegaan dat ek toe betrokke geraak het met die groot koppe wie in bedryf was met Ernie Solomons asook die onwettige bedryf van perlemoen. Ek het baie geleer by die mense, ek het nooit self begin perlemoen smokkel nie, ek het ook glad nie geduik nie, maar ek het wel tik opgetel by verskaffers en na handelaars toe geneem. Ek was n drywer, een van die beste. Die polisie het my baie kere probeer vang, maar ek was altyd slimmer as hulle. Ek is glad nie trots op wat ek gedoen het nie, ek is self lankal land uit, omrede dat my lewe in gevaar was nadat ek besef het dat my familie baie goed bevriend was met Helen Zille. Die smokelaars het dit ontdek voordat ek geweet het daarvan en dinge het lelik begin skeef loop. Dit is iets wat ek nooit sal vergeet nie, wat gebeur het. Die vriende en familie wie teen my gedraai het. Die mense wie ek verloor het. Ek het nooit geld gevat vir enige van die dwelms wat ek vervoer het nie, ek wou net hoog word. Ek het vere gevoel vir die geld. Ek is al 9 jaar skoon van dwelms en alkohol, sonder die hulp van my familie of vriende, sonder enige ander medisyne. Ek was op n tyd ‘n tik monster genoem, want ek het soms vir 15 dae aan een wakker gebly sonder kos of water. Ek het 9 jaar gelede die land verlaat met hulp van familie, ek is tans ‘n Engelse onderwyser wie klasgee vir die soldate van Thailand se Minister van verdediging. Ek is baie trots op myself. Ek het groot geword in a baie abusive household. My Ma het 2 keer geskei, sy was al die jare enkel ouer met 3 seuns en boonop dit was en is sy nog steeds ‘n alkohol verslaafde. Sy was nooit by die huis nie, het gereeld uit geslaap. Ek het op ‘n tyd myself so veel gehaat vir wat ek gedoen het aan my eie lewe en al die tieners en vriende wie se goedheid ek gekoerrup het, dat ek eendag ‘n 1.5 liter wellington skoon afgesluk het binne 2 minute na ‘n hele dag se gekuier, en myself toe gehang het met ‘n extension lead in my buite kamer by my Ma se vorige huis in die Strand. Toe die reddings dienste opdaag, het een van my eks vriende my kamer deur klaar afgeskop, hy het vir my eks gese dat dit te laat was, ek was weg. Hy het gesien hoe die urine van my broekspype afdrup. Sy wou dit nie glo nie, hy’t haar gehelp om my af te haal van die kabel af, en my pols gevat, daar was niks. My liggaam was yskoud. Hy het in die huis in gestap en iets einaardigs besef, die mure het begin kraak oral in die huis, vanaf die fondasie tot teen die ceiling . Lang reguit krake. Die reddings dienste het n half uur later opgedaag, hulle het als geprobeer . Teen die uit einde het hulle ‘ n wit laken oor my liggaam gegooi. Ek het gesien hoe hulle dit doen, ek was vir meer as 45 minute dood. Ek was nie gereed om te gaan nie, ek onthou dat ek ‘n keuse gegee was, ek onthou hoe ek gesmeek het vir ‘n tweede kans en dat ek vir God gese het, al kos dit wat, al moet ek deur hel op aarde loop om weer te kan lewe, dan sal ek, ek kon nie die meisie daar alleen los nie, ek was te lief vir haar. Ek onthou dit asof dit gister was, hoe die verpleegsters geskrik het toe hulle geluide uit my mond hoor kom, hoe hul die laken van my koue lyk afgehaal het, hoe hulle gesigte soos wesens van die buitenste ruim gelyk het toe ek weer terug in my liggaam in spring… Hoe die een verpleegster begin huil het en gese het, ” my liewe vader, dis onmoontlik” hoe haar trane op my gesig geval het, hoe my eks my hand gegryp het en hoe my oe ieweskielik weer oopgegaan het en ek was ….nugter. Daar is hoop. Liefde kan mense help. Almal het ‘n sagte plek erens. Ek is tans verloof aan ‘n soldaat en kuier lankal nie meer nie. Ek gee ook klas by die Koning Mongkut se Verpleegsters Kollege in Thailand. Ek wens dat ek kon help in SA , maar tans help ek met wat ookal ek kan van buite af, dis veiliger. As ek in SA sou wees, dan sou ek nooit kon uithelp met die regruk van wetgewing nie, want ek sou al lankal vermoor of vermis gewees het. Dalk is my familie se lewens in gevaar, maar daar is so veel ander families in SA wie ek ook moet help. God se wil sal geskied. Sommige tye moet mens selflose opofferings maak sodat ander ook vry kan wees van korrupsie. Ek lewe nie meer in vrees nie. Ek het God langs my al die pad. Ek loop al vir 9 jaar deur hel, maar ek glo dit sal finaal eindig teen volgende jaar. Ek was ‘n boodskap gegee, toe ek terug gekom het. Die einde is rerig nader as wat ons gedink het.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: