Donker Liefde – Heroien

Ek sien verlede naweek die boek in ‘n vriendin se huis; Donker Liefde, my verhouding met heroïen – Anoux Venter.

Dis duidelik dat die boek al deur en deur gelees is. Ek tel op en blaai daardeur en my kop loop ver draaie. Sy kom die vertrek binne en sê: “Jy kan dit kry, vat dit saam en lees dit. Gee dit daarna vir wie jy ookal dink nodig het om dit te moet lees. Ek het dit by L gekry.”

Ek weet L se dogter is dood van ‘n oordosis. Ek wonder wat die boek vir haar vertel het.

Sondagoggend trek ek die boek nader en begin langtand lees. Ek sit die boek nie weer neer nie, behalwe net om aan te trek. Ek lees selfs terwyl ek eet. Ek lees aaneen, ek lees tot die boek klaar is, al 200 bladsye. Ek dink aan soveel mense vir wie ek graag die boek sou wou gee om te lees.

Anoux Venter skryf oor haar jarelange verslawing aan dwelms en uiteindelik aan heroïen, dodelikste dwelm van almal.

Sy skryf:

“Ek kan aangaan en aangaan oor daardie eerste keer, die emosies en gevoelens was enorm groot. Maar ek moes dit net nooit gedoen het nie, dis die punt. Sommige mense, soos ek, is gemaak om daarvan te hou. Ons persoonlikhede, swakhede, vrese en liggaamselle is eenvoudig gemaak om heroïen te aanbid. En jy sal nooit weet watter mens jy is totdat jy dit probeer het nie, en dan is dit reeds te laat.”

“Waar heroïen die vorige dag nog vir my ‘n aaklige, vieslike ding was, het dit skielik my persoonlikheid versterk, my goed laat voel oor myself. Ek het myself vinnig oortuig dis glad nie so erg as wat die TV en grootmense dit laat klink het nie.

 Daardie aand het ek die trickster ontmoet – dis daardie stemmetjie wat jou altyd vertel dat jy okay is, nie verslaaf is nie, dat jy nie werklik steel of lieg of die waarheid vermy nie. Dit laat jou altyd beter voel.”

“Die ontrekkingsimptome het gereelder geword omdat ons geld begin opraak het. Die demoon wat op my siel geteer het, was heeltyd honger, heeltyd op soek.

 Ons het Raine se ouers leeggetap. Mooi gevra vir geld, gesmeek, gesteel. Alles gevat wat hulle gehad het. Ek kon soms nie glo wat ek alles gedoen het nie, maar ek het probeer om so min as moontlik daaraan te dink, anders sou ek mal word. Ek het eenvoudig gedoen wat ek moes terwyl ek gesukkel het om dit vir almal weg te steek. As jy siek en seer is en jy het nie ‘n sent op jou naam nie, gee jy nie ‘n hel om van wie jy steel of hoe jy dit doen nie.”

Wanneer Anoux uiteindelik besluit om haar verslawing te verbreek, draai sy naby die dood om voor sy haar lewe weer kan begin opbou.

Elke mens met kinders behoort hierdie boek te lees, en ook dié sonder kinders. Vir die van ons wat al die paadjie gestap het met ‘n kind, sny hierdie boek skoon tot op die been.

Verlore kinders

Net soos ek, is my vriendin ‘n vurige leser. Sy is egter versot op historiese romans, met ‘n held en heldin en ‘n “happily ever after”. Ek hou van iets met meer om die lyf.

Anderdag kom sy by my aan met hierdie boek:

“Jy MOET dit lees, dis verskriklik. Ek kan nou nog nie glo sulke dinge het gebeur nie.”

Die boek lyk vir my soos een van haar tipe boeke en ek wil-wil eers die boek eenkant sit, maar iets dryf my om dit tog te lees. Op ‘n manier is daar toe ook ‘n “happily ever after” vir een van die karakters, maar wat ek in die boek lees, skok my tot so ‘n mate dat ek gaan naslaan om meer te wete te kom. Wat ek op afkom, is NIE vir die “fainthearted” nie, maar ek voel tog om dit te deel.

Dis ‘n ongelooflike storie, een wat meer na ‘n slegte fliek klink as die werklikheid, maar dit het regtig gebeur. In die twee dekades na die Tweede Wêreldoorlog is 10 000 Engelse kinders na Australië gestuur. Baie van hierdie kinders is mishandel en misbruik. Vir al hierdie kinders is daar gelieg.

Die storie begin in Engeland na die oorlog – ‘n triomfantelike nasie, maar nogtans gehawend, bankrot en met die las van oorvol kinderhuise. Baie van hierdie kinders is na tehuise gestuur deur familie wat doodeenvoudig te arm was om hulle groot te maak. Wat hierna gebeur, is amper onmoontlik in ‘n beskaafde land in moderne tye.

Die Britse regering, in samewerking met die kerke en welsynorganisasies, smee ‘n geheime plan om van hierdie kinders ontslae te raak. ‘n Plan wat eers in die laat negentiger jare oopgevlek word. Hierdie kinders word vertel dat hulle na ‘n wonderlike nuwe land, met baie geleenthede, gaan en dat hulle daar ‘n groter kans sal hê om deur liefdevolle families aangeneem te word. En hulle is in hul duisende verskeep na Australië. So eenvoudig soos dit.

Die eerste skip wat in 1947 vertrek, is die SS Asturias. Vrag: 147 seuns en meisies. John Hennessy, een van die seuns en 11 jaar oud op daardie stadium, vertel:

“Ons het gedink Australië was net om die draai. Hoe moes ons weet dis aan die anderkant van die wêreld? In elk geval, hulle het ons vertel dis ‘n wonderlike plek met baie vrugte.”

Soos baie ander kinders, het Mary Molloy nie mooi begryp wat aan die kinders voorgestel is nie: “Ek het gedink ons gaan net weg vir ‘n rukkie.

Regoor Brittanje, by weeshuise en ander inrigtings, is dieselfde ding aan al die kinders vertel: julle gaan na ‘n nuwe land, ‘n nuwe lewe, ‘n nuwe familie. Baie was buite-egtelike kinders. Ander was kinders van enkelma’s wat finansieel nie meer alleen die mas kon opkom nie.

Vir al hierdie kinders is vertel dat hulle ouers dood is en dat hulle nou weeskinders is. Daar was niks en niemand meer vir hulle in Engeland nie en hulle sou beter af wees in die nuwe land.

Oor die volgende 20 jaar is 10 000 kinders, sommige so jonk as 3 jaar en geeneen ouer as 15 nie, na Australië gestuur.

Ses weke en 12 000 myl later, het die kinders arriveer in Fremantle hawe in Wes-Australië. Die kinders het opgewonde rondgekyk vir die vrugtebome, die kangaroos en hulle nuwe families, maar daar was nie ‘n teken van enige van hierdie beloofde dinge nie Daar het iets heel anders op hulle gewag.

Hierdie kinders was bloot ‘n kommoditeit wat uitgevoer is deur ‘n nasie wat ‘n surplus van kinders gehad het. Hulle is bloot verskeep vanuit inrigtings in Brittanje na inrigtings in Australië. Geen wonderlike nuwe lewe of familie het vir hulle gewag nie – slegs pikke en grawe en harde arbeid.

Hennessy vertel: “Nadat hulle ons vingerafdrukke geneem het, het hulle susters en broers van mekaar geskei. Die kinders het geskree toe hulle geskei word. Ek hoor vandag nog hoe hulle skree.”

John Hennessy is na ‘n plek genaamd Bindoon gestuur, ‘n inrigting wat bestuur is deur die ‘Christian Brothers’, ‘n orde van Katolieke monnike, 60 myl uit die beskawing, in die snikhete bosveld van Wes-Australië. Bindoon was ‘n inrigting en skool vir seuns, maar hier was onderwys geensins prioriteit nie.

Prioriteit was konstruksie. Broer Francis Keaney, ‘n imposante Ier wat aan die hoof van die inrigting was, het ‘n obsessie gehad om Bindoon op te bou as die grootste Katolieke inrigting in Wes-Australië. En die kinders was die arbeiders. Van sonsopkoms tot sonsondergang moes hierdie kinders aan Keany se heiligdom bou, sonder skoene en sonder vrae.

Bindoon is vandag ‘n regte skool, ‘n landboukollege, en word steeds bestuur deur die ‘Christian Brothers’. En oudskoliere is nie welkom nie, veral nie as hulle vergesel word van die pers nie. Dié wat dit gewaag het, is weggejaag van die perseel af. Die ‘Christian Brothers’ is nie gretig om blootgestel te word as gebruikers en misbruikers van kinderarbeid in die onlangse verlede nie.

Vir hierdie kinders was daar geen ontsnapkans nie. Die kos was soos iets uit ‘n Dickens verhaal. Hulle was konstant honger en ondervoed. As enige een gevang is waar hy kos steel, is hy kaal uitgetrek en byna doodgeslaan met ‘n sambok, voor al die ander kinders. Broer Keaney het self die slaanwerk gedoen.

Lyfstraf was deel van die kinders se daaglikse roetine. Deel van die nagtelike roetine was besoeke aan die kinders se beddens, deur die ‘Christian Brothers’. Soms het hulle seuntjies selfs jonger as 10 jaar uit hul beddens kom haal en gesodomiseer.

Daar was niemand na wie hierdie kinders kon vlug nie. Die Australiese regering, wat veronderstel was om die kinders se voog te wees, kon hulle net sowel weggegooi het. Geen kinderwelsynsbeampte het ooit gaan seker maak dat hierdie kinders versorg is nie.

Die hoof van die ‘Christian Brothers’ in Wes-Australië, Tony Shanahan, erken dat daar kinders misbruik is, maar gee voor dat dit nie so erg was nie en meeste van die stories erg oordryf is. In 1993 het die Christian Brothers’ egter in antwoord op ‘n regsgeding, amptelik verskoning gevra teenoor die kinders en skadevergoeding ter waarde van 2.5 miljoen doller aan 250 gewese inwoners uitbetaal. Die meisies, wat na ander plekke gestuur is, is baie min seksueel misbruik in vergelyking met die seuns, maar hulle is net so erg fisies mishandel en geslaan en moes ook as goedkoop arbeid werk.

In 1967 het hierdie verskeping van kinders na Australië skielik opgehou. Die doodeenvoudige rede was dat Brittanje nie meer kinders vir uitvoer oorgehad het nie. Van die 10 000 kinders in Australië is net 5 aangeneem deur families. Bitter min van die kinders het geboortesertifikate of dokumente van enige aard gehad. Dit wil voorkom asof hul vaderland hulle doodeenvoudig net spoorloos wou laat verdwyn.

Mary Molloy het grootgeword in ‘n inrigting buite Sydney. Toe sy as volwassene gaan aansoek doen vir ‘n paspoort, het daar ‘n verrassing op haar gewag.

“Die enigste manier waarop ek ‘n paspoort kon kry, was om ‘n genaturaliseerde Australiër te word,” vertel Mary. “Ek het gedink ek was. Die hele storie was malligheid. Ek is al hier vandat ek 9 is. Ek is hierheen gestuur en tog word ek nie gesien as ‘n burger van hierdie land nie. Volgens Brittanje bly ek ook nie meer daar nie. So, waar behoort ek? “

Vir dekades het Engeland dit reggekry om van hierdie weggooi-kinders te vergeet. Vir dekades het hierdie kinders geglo hulle was almal weeskinders. Maar ‘n handjievol jare terug het hierdie verlore kinders – nou verlore volwassenes verspreid oor Australië – tot hul skok uitgevind hulle is vir 50 jaar belieg en bedrieg deur die regerings van Brittanje en Australië, die Katolieke kerk en die Kerk van Engeland.

Hulle was nie weeskinders nie. Hulle het families gehad in Engeland, families wat genoodsaak was om hulle in kinderhuise te los, maar alle intensies gehad het om hulle weer te kom haal sodra hulle finansieel in staat was om vir hulle te sorg.

Een van hulle, Tony Jones, was geskok toe hy hoor dat sy ma nog lewe. Omdat Maud Jones te arm was om vir Tony te sorg, het sy hom na ‘n kinderhuis gestuur. Sy het nooit toestemming gegee dat Tony na Australië kon gaan nie. Haar toestemming is nooit eers gevra nie!

Twee weke voor Tony met sy ma herenig sou word, is sy oorlede. Hy was gebroke. “Ek het my ma in haar doodskis gesien. Dit was die mees hartverskeurende ervaring van my lewe. En hulle het geweet sy lewe. Die ‘bastards’ het geweet!”

As seuntjie het die Kerk van Engeland vir Tony gesê sy ma is dood. Dit was ‘n leuen. As volwassene het die Britse en Australiese regerings vir Tony gesê sy rekords bestaan nie. Dit was nog ‘n leuen. En Tony Jones is nie die enigste een met wie dit gebeur het nie.

Margaret Humphreys, ‘n Engelse welsynswerkster, het begin om hierdie veragtelike stuk Britse geskeidenis oop te krap, nadat een van haar kliënte haar vertel het dat haar jonger boetie as kind per skip na Australië gestuur is. Humphreys het ‘n trust gestig om hierdie kinders te help om hul geboortesertifikate, hulle ouers en hul verlede te vind.

Humphreys het uitgevind dat van al 10 000 kinders, was slegs EEN werklik ‘n weeskind. Regoor Engeland het hulle ouers en familie gevind van hierdie kinders. Geeneen van hierdie ouers het geweet dat hulle kinders na Australië gestuur is nie, geeneen het toestemming gegee nie. Daar is bloot aan die ouers vertel dat hul kinders uitgeplaas is by liefdevolle families in Engeland, baie goed aanpas en dat die Welsyn nie gaan toelaat dat hulle lewens weer ontwrig word nie.

Humphreys sê duisende van hierdie sogenaamde “weeskinders” het nog nie hulle ouers gevind nie en omdat beide ouers en kinders reeds oud is, raak die tyd min.

Die Australiese regering het geen hulp aangebied om hierdie kinders se families te vind nie. Toe daar vir Philip Ruddock, die Australiese minister van immigrasie, gevra is hoekom die regering nog geen verskoning teenoor hierdie kinders gevra het nie, het hy geantwoord.

“Ek weet nie waarvoor ons verskoning moet vra nie. Wat ons in Australië wou doen, was om jong mense hierheen te bring en hulle geleenthede te bied vir ‘n nuwe begin, ‘n nuwe lewe. En hulle het van daardie geleentheid gebruik gemaak. Ek is glad nie seker dat al hierdie aaklige stories waar is nie.

Sover dit Engeland aangaan, is daar sedert hierdie kinders se vertrek na Australië net een groot stilte oor die hele onderwerp. Die Engelse stel nie belang hierin nie. Hulle wil nie daarvan weet nie. Dis asof hierdie kinders met hulle vertrek uit Engeland doodeenvoudig ophou bestaan het vir hul vaderland en sy mense.

Wie in die Britse regering het geweet van hierdie kinders se verskeping? David Hinchliffe, ‘n lid van die Parlement en die leier van die Britse regering se ondersoek na hierdie gebeurtenis, glo dat baie hoë amptenare – insluitende die eerste minister, die aartsbiskoppe, moontlik selfs die koningin – heel waarskynlik bewus was van die skema.

Die beste waarmee die Britte vorendag kon kom na 50 jaar, was om in 2000 te erken dat die skema misleidend was en ‘n reisfonds is gestig vir kinders, nou volwassenes, wat wou terugkom om met hul families herenig te word.

Sedert 1999, toe die meeste van hierdie wrede skema op die lappe gekom het, het daar nog baie volwassenes vorentoe gekom om hul stories te vertel as verlore kinders. Sommige is na ‘n half eeu weer met familielede herenig.

John Hennessy, een van die seuns wat by Bindoon mishandel en misbruik is, is ook in 1999 met sy ma in Engeland herenig. Hy was 65 jaar oud en sy ma 86.

Die merkwaardigste ding van hierdie stuk geskiedenis, is dat dit amper nooit vertel is nie. As ‘n maatskaplike werker in Nottingham nie per ongeluk hierop afgekom het toe sy ‘n ander geval probeer opspoor het nie, sou hierdie tragiese stukkie geskiedenis nooit die boeke gehaal het nie. Nóg die Britse regering, nóg die Australiese regering en nóg die ‘Christian Brothers’ wou dat die wêreld hiervan te hore kom nie. Hulle het almal gehoop dat die tyd dit sou laat verdwyn en dit het amper. Die jongste verlore kinders is reeds in hulle 50’s

Nog ‘n paar dekades en daar sou niemand oor gewees het om die stories te vertel nie. Daar is wel ‘n reisfonds, maar daar mag dalk binnekort ook nog regsgedinge wees. Maar daar kan nooit geregtigheid vir hierdie verlore kinders wees nie.

Die uiterste tragedie vir hierdie kinders is iets waarmee die meeste van ons ons nooit sal kan vereenselwig nie. Probeer jou voorstel dat jy nie een enkel gelukkige herinnering uit jou kinderdae kan onthou nie. Nie een nie.

Ja, dit is wat hierdie verlore kinders nie het nie. Geen gelukkige herinneringe uit hul kinderdae nie. En dit is iets wat niks en niemand ooit vir hulle sal kan teruggee nie!

Bron: http://www.cbsnews.com/stories/1999/03/24/60II/main40269.shtml

OCD, die Obsessie

Wipneus vra HIER of sy ‘weird’ is. Die kommentaar het my laat besef daar is baie van ons “out there”. Maar is dit werklik obsessiewe gedrag, of soos die Engels sê OCD (Obsessive-Compulsive Disorder)? Ek het bietjie gaan lees en op ‘n paar interessante, maar ook kommerwekkende (vir myself) feite afgekom.

OCD is ‘n sielkundige angsversteuring, meestal gekarakteriseerd deur die persoon se obsessiewe, ontstellende, indringende gedagtes en verwante dwanghandelings (take of rituele) wat die persoon doen of gebruik om die obsessies te neutraliseer.

Die frase ‘obsessief-kompulsief’ het egter al sy pad so ingewurm in die wyer betekenis van die taal en word soms sommer op ‘n ongeërgde manier gebruik om iemand wat bloot puntenerig, oorpresies of eksie-perfeksie is (lees ook dalk hier ‘pyn-in-die-gat’), te beskryf.

Sulke optredes moenie nou sommer as OCD aangesien word nie. Dit is ook belangrik om te onderskei tussen OCD en ander tipes angs, insluitende spanning en stres, wat maar in mens se alledaagse lewe voorkom. Alhoewel hierdie tekens ook gereeld voorkom in OCD, beteken dit nie noodwendig dat ‘n persoon wat tekens toon van fiksasie met ‘n onderwerp of voorwerp, of ‘n persoon wat kenmerke van perfeksionisme het, aan OCD ly nie. OCD is ‘n spesifieke en goedgedefinieerde toestand.

Om gediagnoseer te word met obsessiewe-kompulsiewe gedrag, moet mens óf net obsessies óf  net kompulsies hê, of albei.

Obsessies is:

  • 1. Herhalende en aanhoudende gedagtes, impulse of beelde wat ervaar word as indringend en onvanpas en wat merkbare angs en stres veroorsaak
  • 2. Die gedagtes, impulse of beelde is nie bloot net oormatige kommer oor werklike probleme nie.
  • 3. Die persoon probeer die gedagtes, impulse of beelde ignoreer of neutraliseer met ‘n ander gedagte of aksie.
  • 4. Die persoon besef die obsessiewe gedagtes, impulse of beelde is ‘n produk van sy eie denke en nie gebaseer op die werklikheid nie.

Kompulsie is:

  • 1. Herhalende gedrag of denke wat die persoon gedrewe voel om uit te voer in reaksie op ‘n obsessie, en volgens reëls wat onbuigsaam moet toegepas word.
  • 2. Die gedrag of denke is daarop gemik om angs te verminder of om een of ander aaklige gebeurtenis of situasie te verhoed. Hierdie gedrag of denke is egter glad nie op ‘n realistiese manier gekoppel aan die gebeurtenis of situasie wat dit veronderstel is om te neutraliseer of te voorkom nie en is heel duidelik oordadig.

Tesame hiermee moet die obsessies of kompulsies ook meer as een uur van die persoon se tyd per dag in beslag neem, dit moet angs veroorsaak en dit moet die persoon verhoed om normaal sosiaal te verkeer of hom strem in sy funksionering in die werks- of skoolomgewing. OCD veroorsaak ook heel dikwels gevoelens soortgelyk aan depressie.

Selfs met vandag se gevorderde wetenskap is daar steeds ‘n skeuring onder wetenskaplikes oor wat hulle glo die oorsaak van OCD is. Een groep glo dis sielkundig van aard, terwyl ‘n ander groep glo dis neurologies.

Die kognitiewe gedragsmodel stel voor dat die gedrag wat uitgevoer word om die angsgedagtes te verwyder, slegs tydelike verligting bring. Elke keer as die gedrag voorkom, word dit negatief versterk deur die verligting van die angs. Dus neem die disfunksionele gedrag toe en kan dit mettertyd oorgaan tot ander, verwante stimuli.

Byvoorbeeld: Na die persoon aan ‘n deurknop gevat het, dink hy dat hy ‘n siekte gaan kry van die kieme aan die knop. Hy word angstig en gaan was dadelik sy hande, wat verligting van die angs bring. Die volgende oomblik begin die persoon wonder; “Het ek my hande deeglik genoeg gewas?”. Hierdie gedagte veroorsaak opnuut weer angs en die persoon voel gedrewe om sy hande weer te gaan was. Die angs word verlig, net totdat die persoon weer dink dis dalk nie goed genoeg gewas nie en so ontstaan die bose kringloop.

Nog ‘n voorbeeld kan iemand wees wat aanhoudend seker maak dat sy geparkeerde motor gesluit is voordat hy wegloop of iemand wat die ligte ‘n paar keer aan en af sit voordat hy ‘n vertrek verlaat. Fisiese simptome kan ook voorkom as gevolg van die angs, soos byvoorbeeld trekkings of Parkinsons tipe simptome, byvoorbeeld styfheid, bewerigheid of onwillekeurige rukbewegings van sekere ledemate.

Simptome kan die volgende insluit:

  • Herhalende was van die hande.
  • Herhalende keelskoonmakery, al is daar niks in die persoon se keel nie.
  • ‘n Spesifieke tel sisteem – bv. tel in groepe van vier, rangskik onderwerpe in groep van drie, rangskik goed in ewe/onewe genommerde groep.
  • ‘n Ernstige simptoom is wanneer die persoon sy treë begin tel en byvoorbeeld voel hy MOET net ‘n sekere hoeveelheid treë na sy motor toe loop in die oggend.
  • Die perfekte opstelling van onderwerpe, met absolute reghoeke, of presies parallel.
  • ‘n Vrees vir geweldadige optrede of die oormatige gevoel van verantwoordelikheid vir ander se veiligheid.
  • Seksuele obsessies of ongevraagde seksuele gedagtes. Twee klassieke voorbeelde is dat die persoon vrees dat hy dalk ‘n homoseksueel is of ‘n pedofiel is.
  • Vreemde en kroniese kommer oor sekere dinge soos slaap, eet, die huis verlaat, ens, sonder sekere items. Amper soos ‘n kind met ‘n trooskombersie of ‘n fopspeen.
  • ‘n Vrees om mal te word.
  • ‘n Vrees om siektes op te doen deur ander mense se spoeg, bloed, sweet, trane, ens.
  • Die behoefte om te sorg dat albei kante van die lyf in balans bly. ‘n Persoon met OCD sal op die sypaadjie loop en met sy linkervoet op ‘n kraak trap. Hy sal dan voel hy MOET met sy regtervoet ook op ‘n kraak trap, anders is alles uit balans uit. As een hand nat word, moet die ander hand ook nat word.
  • ‘n Obsessie met nommers. Sommige mense is obsessief oor gelyke getalle en haat ongelyke getalle.

Die persoon se brein stel vir hom ‘n uitdaging wat veroorsaak dat hy voel hy sal doodgaan as hy dit nie presies reg doen nie.

OCD lyers weet ook dat hulle gedagtes en gedrag nie rasioneel is nie, maar voel hulpeloos om dit te verander. OCD word ook beskou as een van die moeilikste angsversteurings om te behandel.

OCD begin gewoonlik eers in die laat tienerjare tot die middel 20’s, maar dit neig om vroeër voor te kom by mans as vrouens. Dit is ook vasgestel dat OCD lyers oor die algemeen bo-gemiddeld intelligent is.

Hoe lyk my eie prentjie?

Ek gaan slaap nie in die aand sonder dat my skottelgoed gewas is en my kombuis 100% aan die kant is nie. Ek het nogal ‘n obsessie daaroor.

Ek sal nooit my klere net iewers neergooi nie. As ek uittrek, word alles onmiddellik gebêre of in die wasgoedmandjie gegooi. En behode enige een wat sy klere iewers net neergooi.

My klere in my kas is in netjiese hopies sorteer, volgens my eie stelsel, wat net ek natuurlik verstaan. En die wat hang, het ook ‘n presiese plek – soort by soort. Maar ek bekommer my nie oor enige iemand anders se kas nie.

As ons iewers heen weggaan, sal ek aan die anderkant onmiddellik eers alles uitpak en ‘n plekkie vir alles kry, voordat ek kan begin ontspan en vakansie hou.

(Dammit, hoe meer ek skryf, hoe meer onthou ek nog)

As ek ‘n motor eers een keer gestamp het, verkoop ek hom. Ek sal nooit weer dieselfde oor hom voel nie.

Ek probeer om nie op die lyne op sypaadjies en blokkiesvloere te trap nie, maar ek gaan darem nie terug en doen dit oor as ek nou wel op ‘n lyn getrap het nie. Hierdie obsessie het ook al bietjie vervaag met die jare.

Ek tel ALTYD die trappe as ek dit klim, dis nogal ‘n erg een by my.

Ek haat tandepasta buisies wat in die middel gedruk is.

Ek verpes ‘n onnet en vuil plek en alhoewel ek nie ‘n aanval kry vir ‘n bietjie stof nie, maak ek my huis self skoon en ten minste elke tweede week amper soos in ‘spring cleaning’ skoon. Die res van die tyd darem net bolangs. Maar dis altyd netjies.

Goed, dan moet ek darem ook net noem – ek vergeet soms my huis se ligte aan, ek het al met oop deure geslaap, my motor is meer vuil as wat hy blinkskoon is, ek het ook al vergeet om my motor te sluit in ‘n parkeer area, ek is nie sommer bang vir kieme nie en ek was nie aanmekaar my hande nie.

So, is ek OCD, of sommer net soms ‘n pyn in die gat? 😆

En jy?

{Bron: – Wikipedia}

Die sondes van ons vaders

Seks, godsdiens, politiek – die drie gespreksonderwerpe wat mens veronderstel is om ten alle koste te vermy, want dit kan van jou vriende vyande maak. Die uiteenlopende opinies oor hierdie drie musketiers kan maak dat mense nooit weer met mekaar praat nie. Tog is dit die drie onderwerpe wat direk of indirek die meeste aangeraak word in gesprekke, ook hier in die bloglaer. Nou wil ek ook my muntstuk in die fontein gooi. Dis ‘n politieke ene en ek sal maar solank koes ook vir die verwagte dwarsklappe.

Gisteraand toe ons gaan swem, is daar ‘n bankie naby die swembad wat leeg staan. Ons sit ons handdoeke, klere en skoene op die bankie neer. Nou moet ek net ter verduideliking byvoeg dat daar ‘n ent verder aan nog twee bankies was wat ook leeg was.

So swem ons rustig in die louwarm water rond en is naderhand aan die anderkant van die swembad, ver weg van die kant waar die bankie met ons goed is. Toe ons ‘n slag terugkyk, sien ons twee mans sit op die bankie waar ons goed lê. Ek is nogal versigtig om nie ander mense se spasie binne te dring nie, want ek hou nie daarvan dat vreemde mense sommer my spasie binnedring nie. So swem ek toe terug na die kant waar ons goed is en toe ek nader kom, sien ek dat die twee menere basies bo op ons goed sit.

Ek is toe sommer opslag woedend en klim uit en loop nader en vra of hulle nie kan sien ons handdoeke, klere en skoene lê daar nie en hoekom is hulle so ongemanierd om daarop te sit. Hoekom sit hulle nie op een van die ander oop bankies nie? Die menere is toe hoogs verskonend en sê hulle het nie ons klere raakgesien nie (??? – maar hulle ruik soos twee wynvate, so dalk KON hulle nie sien nie).

Maar wat die kersie op die koek was, is die feit dat hulle hulself toe net so effens oplig, menende dat ek nou eintlik my goed daar moet verwyder sodat hulle verder kan sit. Toe verloor ek dit so effe en omdat die twee menere nou nie wit is nie, sien ek hier kom ‘n rassekaart. Voordat hulle die kaart kan speel, vat ek toe eerder net my goed en verskuif na die ander kant van die swembad.

Die insident het ‘n slegte nasmaak in my gelos, maar dit het my ook laat dink. As die menere wit was, sou ek beslis nie teruggestaan het nie, maar hulle al hulle hel gegee het en aangedring het dat hulle hul gatte oplig van my goed af en elders loop sit. Maar omdat ons wittes so versigtig moet wees vir die etiket ‘rassis’, staan ons baie keer terug, net om tog nie rassisties te lyk nie, waar ons vir ons eie ras glad nie sou terug gestaan het nie.

Gaan ons altyd hierdie “askiestog dat ek lewe en askiestog dat ek wit is”-houding in ons land moet hê? Gaan die sondes van ons vaders altyd besoek word aan ons en ons kinders? Het dit nie tyd geword om op te staan vir onsself nie?

Want, of ons dit nou wil weet of erken of nie, ons vaders of grootvaders het die grondslag gelê vir die land waarin ons en ons kinders vandag moet lewe.

Stel jou die volgende voor: Daar was nooit so iets soos apartheid nie. Elke mens wat in hierdie land gebore is, het ‘n gelyke kans gekry wat skoolopvoeding betref, wat werk betref, ongeag sy of haar velkleur. Dan was daar geen nodigheid vir ‘affirmative action’ vandag nie. Die wat die beste gekwalifiseerd was, sou die werk gekry het. Telkom en Eskom en Spoornet en dies meer sou deur opgeleide, gekwalifiseerde mense bestuur word, effektief bestuur word. Mense wat sou weet van voorsiening maak vir onderhoud en vooruitgang.

Natuurlik sou daar nog die armes en die ongeletterdes onder ons gewees het, maar hulle sou nie kon aandring op hoë posisies NET omdat hulle voorheen benadeeldes is nie, want almal sou ewe bevoordeeld of benadeeld wees. Dalk sou ons ‘n grotendeels swart regering gehad het, maar hulle sou daar gesit het omdat hulle verdien het om daar te wees, nie omdat hulle swart is en voorheen deur die wittes onderdruk is en nou vry is nie.

Nou is ons land in ‘n gemors en ons draai om en sê maklik dit was nooit so toe die wittes regeer het nie. Geen mens met ‘n greintjie verstand sluit ‘n kind in ‘n kamer op vir jare en leer hom net die basiese dinge in die lewe en kry dan op ‘n dag berou en laat die kind-grootmens dan uit en stop hom ‘n motor se sleutels in die hand en sê: “Daar’s vir jou ‘n mooi nuwe kar, klim in en ry net waar jy wil. En daar is vir jou ‘n meisie, maak met haar wat jy wil. En hier is vir jou geld, koop wat jy wil.” Natuurlik is dit ‘n donnerse resep vir disaster! En wie se skuld gaan dit wees? Nie die kind s’n nie, maar daardie ouer wat die kind al die jare toegesluit het.

Nou hardloop die wittes wat kan, weg na anderland, want Suid-Afrika is vrot van die misdaad, vrot van die werkloosheid, sommer net vrot. En ons sê maklik dis die swartes se skuld. Nee mense, dis ons EIE skuld. Dalk nie myne en joune nie, maar heel waarskynlik my oupa en jou pa, of jou oupa en my pa se skuld. Die sondes van ons vaders…

Dalk voel ek te sterk hieroor, dalk voel ek nie sterk genoeg hieroor nie, maar glo my, ek gaan nêrens heen nie. Ek bly hier, want dis my land ook. Ek gaan nie verskoning maak omdat ek wit is en omdat my voorvaders aangejaag het nie, en ek gaan ook nie langer terugstaan omdat ek bang is ek word gebrandmerk as rassis nie. As so iets soos hierdie insident hier bo weer gebeur, gaan ek ‘n ‘wobbly’ gooi en eis dat die persone opstaan en op ‘n ander plek gaan sit, want ek was eerste daar. En as daardie persone nie wit is nie, tough shit.

Kom ons staan op, kom ons staan saam en ons sê genoeg is genoeg. Ons weet die verlede was verkeerd. Niks kan regverdig dat een mens ‘n ander bloot op die kleur van sy vel oordeel nie. Maar jy kan hom wel oordeel op sy maniere, op sy optrede, op sy opvoeding. Laat die van ons wat hierdie mooi land liefhet vir eens saamstaan en probeer opbou en regmaak. Laat ons ophou weghardloop en laat die kleur van ons velle net ‘n “minor” detail word en nie ‘n brandmerk nie.

Waar is die Steve-wa?

In hierdie ou landjie waar ons dan nou almal deesdae die demokratiese reg het om ons sê ongekwalifiseerd te sê, wil ek gou asseblief vir die Steve-wa vra om stil te hou as hy hier verbykom – ek wil ook gou opklim en my sê sê.

Maar voor ek my sê sê, lees mooi – EK IS AAN NIEMAND SE KANT NIE. EK DINK NIE STEVE WAS REG NIE, EK DINK NIE JANINE WAS REG NIE.

Ek lees of koop nie Rapport nie, maar het uit nuuskierigheid die aanlyn berig gaan lees. Hel, ek kan nie die enigste oningeligte in die dorp wees nie. En toe gaan lees ek ook die comments op SSSB nadat die Rapport-Janine-bom ontplof het.

Party wil hom stenig, ander wil hom vergewe, ander wil stilbly en hoop alles waai net oor. Ander kry Natasha jammer. Ander wil Janine weg verwens.

Wat is Steve? Wat is Janine? Wat is Natasha? Hulle is almal net mense. Doodgewone mense wat foute maak, net soos elke ou in die straat. Maar omdat hulle bekendes is, word hulle lewe, hulle sondes, hulle hartseer ge”splash” op die voorblaaie van die koerante – die gewone dagblaaie en die sensasiebeluste Sondagkoerante.

Hierso wolwe, hier is hulle, vreet hulle op!

Ons sit met ernstige kragprobleme in ons land. Ons sit met ‘n misdaadsyfer wat jou asem wegslaan. Ons sit met kinderprostitusie, kindermishandeling, werkloosheid. Ek plaas ‘n beroep in die kommentaar op SSSB om die mense wat die nuwe kantoor in Kaapstad vir vermiste kinders se ouers en ook kinders wat teruggevind is, te help. Bydraes van enige aard om die plek te help inrig sodat dit nie ‘n koue en onpersoonlike plek is vir daardie mense wat reeds deur hel gegaan het nie.

Wat is die reaksie? Niks, Zilch, Nada, Fokol! Nee, almal stoom net voort oor Steve en sy Sondes. Klink soos ‘n destydse Springbokradio middagstorie.

Het ons so blasé geword teenoor die dinge in die lewe wat REGTIG saak maak? Is ons hierdie mense wat by ‘n ongeluk langs die pad stop en naderloop en staar en staar omdat ons hierdie perverse neiging in ons het om ander se pyn en hartseer te aanskou? Omdat ons ons “deep down” verlekker in ‘n ander se sonde, se hartseer, se lewe wat in sy gesig ontplof? Omdat ons bly is dis nie ons wat daar in die pad lê en bloei nie?

Steve se lewe het ontplof. Sy huwelik gaan heelwaarskynlik in die slag bly. Twee onskuldige kinders gaan moontlik nog ‘n statistiek van die egskeidingshof word. Nog werk vir ons gesinsadvokate.

Steve is ‘n grootmens – hy het geweet wat hy doen. Janine is ‘n grootmens – ook sy het geweet wat sy doen. Ek glo vir geen oomblik dat Steve haar in die aborsie ingeboelie het nie. Gee die duiwel wat hom toekom. Hy het slegs, volgens haar, vir haar gesê sy sal die kind alleen moet grootmaak, maar die finale besluit is hare. Sy het gekies.

Ook Natasha is ‘n grootmens. Natuurlik is die hele debakel ‘n seer wat sy sal moet verwerk. Maar ek glo ook sy is ‘n sterk vrou. Ek glo nie sy sal ineenstort sonder Steve nie, sou dit ooit tot daardie punt kom. So, moenie haar beledig deur haar te onderskat en haar hierdie bejammerenswaardige figuur te maak nie. Was ek in haar skoene, sou ek nie bejammer wou word nie. Dit sou vir my nog meer vernederend gewees het. Gee haar empatie, nie simpatie nie. Daar is nogal ‘n wêreld se verskil tussen die twee.

Die waarheid is waarskynlik iewers in die middel van Steve en Janine se onderskeidelike weergawes. Maar dit is vir daardie drie mense om dit uit te werk. As jy ‘n “fan” is van Steve se musiek, behoort jy nie nou op te hou om na sy musiek te luister nie. Hy sing nie nou skielik anders nie. Alhoewel, Waarmaker is vir my een van sy swakste albums tot dusver. Maar dit het ek reeds verklaar lank voor die poeding die waaier getref het. Sê nie veel vir Janine as inspirasie nie 😉

Volgende week is dit dalk weer Dozi wat dronk bestuur wat die voorblaaie tref, of Jan Blohm wat van die waterkar afgeval het. Die hoogste bome vang die meeste wind.

Die koerante gaan lankal ander voorblad stories en Jerry Springer sagas uitbasuin het, dan gaan Steve en sy gesin en Janine ook, nog steeds die naskok van die bom beleef.

Los die mense nou uit, dat hulle in vrede die skerwe van hul lewens kan optel en kyk of daar enigsins iets te redde is uit die asblik wat die pers en die bewonderaars van hulle lewens gemaak het. Ja, hulle het daartoe bygedra, maar ek en jy en julle almal daarbuite, doen elke dag sonde. Ons maak elke dag foute. Ons is net gelukkig dat elke fout, elke oortreding, nie aan die groot klok opgehang word en op die dorpsmeent uitgestal word vir Tom, Dick en Harry om ‘n oordeel daaroor uit te spreek nie. Of ons te stenig nie.

Ek hou nie van wat Steve gedoen het nie, maar ek het nooit gedink dat hy nie net ‘n gewone mens is met voete van klei nie. Verder het ek nie al die feite oor sy en Natasha en Janine se lewens nie, so ek weerhou my oordeel. As jy hom wil boikot en nie meer sy musiek koop of luister nie, of nie meer SSSB wil lees nie, doen dit. Maar doen dit in stilte. Hy sal wel die verlies voel.

Sal ek nog sy musiek luister en koop? Ja, ek sal.

Laat die van ons wie se sondeboekie rein en wit en skoon is, verder klippe optel om te stenig.

Kinderdief

Dit kom en steel ons kinders weg, onder ons oë, en laat vir ons ‘n volslae vreemdeling agter.

Hierdie is vir Dellie se vriendin en vir Zee en elke ouer daar buite wie se kind die dodedans met dwelms dans.

DWELMS – die vloekwoord van ons tyd. Die ding wat jou kind kom wegsteel onder jou oë, en vir jou ‘n vreemdeling agterlaat. ‘n Vreemdeling met jou kind se gesig wat vir jou lieg, jou bedrieg, jou selfs soms besteel. ‘n Vreemdeling met jou kind se gesig, vir wie dit moeilik is om lief te wees. ‘n Vreemdeling wat jy soms doodwens, want dis werklik soms makliker om te weet jou kind is dood as om nie te weet waar jou kind vanaand op die strate is nie, bedwelmd.

Na 3 jaar praat ek nog steeds moeilik hieroor. Dis soos ‘n ledemaat wat gebreek was en altyd weer pyn as die winter kom. Die letsel bly vir altyd, al het die pyn verdof. Al is dit net ‘n dowwe seer as die wolke saampak. Maar die laaste ruk het ek al hoe meer gelees van ander ma’s met kinders wat hierdeur gaan en dalk help my bietjie vertel iewers ‘n ander ma.

My seun, BK, het deur die loop van sy tienerjare my geen noemenswaardige probleme gegee nie. Hy het goed gedoen op skool, matriek goed geslaag en is Vloot toe. Hier en daar was die gewone ‘hiccups’ wat mens maar met tieners het, maar in geheel gesien, niks kommerwekkend nie. As alleen ouer het ek hom en sy suster streng, maar regverdig grootgemaak. Hulle is geleer dat dit reg is om dinge te bevraagteken en dat ek ook nie altyd onvoorwaardelik alles weet nie. Die kommunikasie lyne tussen ons was oop, of so het ek geglo.

In sy 2de jaar in die Vloot, het BK nog soms huis toe gekom, en die tekens was daar, maar ek het dit nie raakgesien nie. Voor die bom gebars het, het my man vir my gesê daar is fout met BK. Hy is net TE hiperaktief as hy by die huis kom. Hy sit nie stil nie en hy het ‘n snaakse trekking aan sy mond, amper soos ‘n senuwee wat spring. Hy vermoed die kind gebruik dwelms. Ek praat dit dood, want ek wil dit nie weet nie en ek wil dit nie glo nie. Hoekom sal hy so iets doen? Hy het geen rede om dit te doen nie. Daar is niemand in ons familie wat sulke neigings of probleme het nie.

Toe lui die telefoon een oggend 3 uur. BK is in die Militêre hospitaal in Wynberg opgeneem. Hy het dit heeltemal verloor en sy vuis deur sy ruit geslaan en amper sy slagaar oopgesny met die glas. Nog ontken ek dat die probleem meer is as net ‘n humeur wat verloor is. Ons gaan besoek hom en ek sê vir hom hy moet homself regruk.

Drie dae later moet ek hoor dat my kind homself in die hospitaal se badkamer probeer ophang het, dat hy aan erge depressie ly en dat hy aan tik verslaaf is. Ek het soos Alice in Wonderland gevoel, wat deur die ‘looking glass’ geval het.

Waar, wanneer, hoe, hoekom? Daar was te veel vrae sonder enige antwoorde. Hoekom my kind? Wat het ek verkeerd gedoen, waar het ek verkeerd gedoen? Is dit omdat ek hulle pa geskei het? Is dit omdat ek hulle grootgemaak het om onafhanklik te wees, omdat ek nie regtig die ma-erige tipe is nie? Die vrae het nooit opgehou nie. Nes ek dink daar is nie meer ‘n klip waarmee ek myself kan gooi nie, dan het ek met een in my hand gestaan. Slegte, slegte ma! En om alles te kroon, bel sy pa, wat  in 10 jaar nie moeite gedoen het om sy kinders te sien nie, en skree-vra hoe ek kon toelaat dat so iets met ons kind gebeur.

Ek het nie geslaap nie. Ek het snags lê en dink. En nog steeds geen antwoorde, geen aanwysing van waar sy pad donker geraak het nie. Die kapelaan van die Vloot het ons gebel en ingelig dat die Vloot vir BK na ‘n rehabilitasie sentrum gaan stuur en dat ek niks het om oor bekommerd te wees nie. Alles sal regkom. Ek was nie so seker daarvan nie. Ek was van niks meer seker nie. Maar ek was bereid om enigiets te probeer.

Binne ‘n week is BK weggestuur na Stepping Stones en ek sal die staat en spesifiek die Vloot, ewig dankbaar wees. Hulle het my kind se lewe gered. Stepping Stones is een van die beste rehabilitasie sentrums in ons land en BK was vir ses weke daar. Vir die eerste keer is sy depressie behoorlik gediagnoseer en kon hulle besluit wat se medikasie werk die beste vir hom.

In sy soeke na ‘n uitkoms uit die donker gat, het hy begin eksperimenteer met dwelms en in tik se kloue beland. Daar was sielkundige dinge wat hy nooit verwerk het nie. Vir die eerste keer het hy daaroor gepraat en daardeur gewerk. Met professionele mense.

Vir die eerste paar weke mag ons hom nie besoek het nie, en hy is ook nie toegelaat om ‘n selfoon in sy besit te hê of enige ander kontak met die buitewêreld nie. Dit was moeilik om so afgesny te wees van my kind, maar ten minste het ek geweet waar hy is en dat hy veilig is.

Ons moes ook, ek en sy stiefpa, die Familie Program, bywoon. Dis ‘n werkswinkel van ‘n dag lank, saam met die ander ouers van die kinders wat op daardie stadium in die rehabilitasie program is. Dit gee jou as ouer die “tools” om die situasie te hanteer. Daardie dag het ek baie geleer en stories gehoor wat my hart in duisende stukke versplinter het.

Daar was hierdie gewone, doodnormale ouers van ‘n plattelandse dorp. Hulle dogter het stad toe gekom, universiteit toe, en met heroien deurmekaar geraak. Toe hulle begin agterkom daar is fout, het haar ma stad toe gery en haar dogter bedwelmd in haar kamer aangetref. Sy is daarna in en uit 2 ander rehabilitasie plekke en Stepping Stones was hul laaste hoop. Hulle het hul huis verkoop om vir hul kind se behandeling te betaal. Haar pa het gehuil terwyl hy vertel. Sy is hul enigste kind en hulle het soveel drome vir haar gehad.

Omdat BK vandag nog kontak met haar het, weet ek dat sy ook vandag nog ‘skoon’ is, maar dat sy elke dag teen die duiwels van heroien baklei, dat sy gereeld haar ondersteuningsgroep bywoon en dat sy in ‘n koffiewinkel in die Kaap werk. Sy is ‘n skaduwee van die kind wat sy was, maar sy byt vas. Van verder leer is daar vir eers nie sprake nie, net eers oorleef, sonder die dwelm.

Dan was daar hierdie skatryk familie – net die ma en suster het die werkswinkel bygewoon. Die seun is 36, maar al vir jare verslaaf aan dwelms. Hy het sy vrou en 2 kinders probeer doodmaak. Hy het in sy suster se huis ingebreek. Die ma bly oorsee en die dogter beheer die familie besigheid in Suid-Afrika. Die seun ontvang ‘n toelaag elke maand en het nog nooit nodig gehad om ‘n steek te werk vir sy geld nie. Dit was die suster wat uit radeloosheid haar broer laat opneem het vir behandeling. Die ma het daar gesit, maar dit was duidelik dat sy geensins die omvang van haar seun se probleem aan haarself wou erken nie. Die berader het haar reguit vertel dat sy die geldkrane moet toedraai, dat sy hom in sy kwaad sterk. Die suster was woedend vir die ma, want sy het gevoel dat sy al die werk doen en haar broer word geensins tot verantwoording geroep nie. Hulle het op mekaar begin skree en ek het sit en kyk hoe skeur ‘n familie uitmekaar. Geen geld in die wêreld kon ‘n verskil maak aan hulle pyn nie.

Skel, smeek, skree, dreig, ignoreer – dis alles dinge wat ‘n ouer probeer met ‘n verslaafde kind – en selde werk enige van hierdie dinge. ‘n Verslaafde se gesin voel kwaad, alleen, sielsmoeg en depressief en het self ook professionele behandeling nodig. Navorsing het bewys dat die gesin se betrokkenheid by die verslaafde se behandeling van kardinale belang is en dat dit een van die grootste vereistes is vir die suksesvolle herstel van enige verslaafde.

Die familieprogram het die volgende doelstellings:

* Om gesinslede te help om die dinamika van verslawing te verstaan.

* Om aan gesinslede die geleentheid te gee om die verwoestende effek wat die verslawing en die   verslaafde op elkeen se lewe het, te deel – dit gee ook ondersteuning aan gesinslede en help om hul ontkenning van die probleem en hul isolasie af te breek.

* Om gesinslede te help met die veranderinge wat hulle in hul lewe moet aanbring om aan die verslaafde die beste geleentheid te verskaf om ten volle te herstel.

* Om die gesinslede te help om ‘n infrastruktuur te skep wat aan die verslaafde die beste kans gee op volkome herstel.

Ons het ook die volgende geleer:

Een van die algemeenste redes wat ‘n verslaafde laat voortgaan met sy vernietigende gedrag, is wanneer hy nie tot verantwoordeing geroep word vir die gevolge van sy dade nie. Dit is wanneer die ouers, of soms lewensmaat, die verslaafde in effek help om met sy verslawing voort te gaan deur sy boetes of regskostes te betaal, sy verslawing ‘n geheim hou, hom verskuif na ‘n ander skool, ensovoorts. Die familieprogram leer jou om strepe te trek, wat die verslaafde en sy gedrag betref.

Die mite dat ‘n verslaafde persoon eers ‘rock bottom’ moet tref, self vir hulp moet vra of kan weier om gehelp te word, hoef nie meer ‘n gesin magteloos te laat nie.

Strukturele bemiddeling is ‘n dinamiese en hoogs suksesvolle manier om die verslaafde wat skop teen behandeling, sover te kry om vir behandeling te gaan. Die doel van hierdie bemiddeling is om ‘n sogenaamde krisis te skep, waar al die belangrike mense in die verslaafde se lewe bymekaargebring word en daar aan hom, op ‘n besorgde en geborge manier, die harde realiteit van sy verslawing uitgespel word. Om dan die verslaafde te help om die regte behandeling te kies, voordat hy alles van waarde in sy lewe verloor en voordat so ‘n gesin heeltemal verwoes word deur een persoon se gedrag.

Almal wat deelneem aan hierdie bemiddeling, moet gemaklik voel met dit wat aan die verslaafde gesê en voorgelê gaan word. So ‘n bemiddeling is ‘n laaste uitweg en moet slegs gedoen word in die teenwoordigheid van ‘n gekwalifiseerde en ervare bemiddelingsberader. Al is hierdie bemiddeling ‘n laaste uitweg by ‘n verslaafde wat behandeling weier, moet dit gesien word as ‘n begin en nie ‘n einde nie. Dit moet aan die verslaafde oorgedra word as ‘n proses van gesondmaak, eerder as seermaak en as ‘n verklaring van liefde en omgee vir die verslaafde.

Die verslaafde word gekonfronteer met die realiteit van sy verslawing, met die rol wat ander familielede dalk onbewustelik in sy verslawing gespeel het, met ondersteuning in sy genesingsproses, maar ook met duidelike grense gestel om hom te help met die beste kans op herstel.

Vir die verslaafde, want hy bly ALTYD ‘n verslaafde, al is hy hoe lank ookal skoon, is dit moeilik. Vir die ouer is dit moeiliker en vir ‘n broer of suster is dit soms nog moeiliker. Hulle word vergeet, op die agtergrond geskuif, terwyl die verslaafde se doen en late alles oorneem, alles insuig.

Ek was gelukkig. Ons het nie die helfte van die dinge deurgegaan wat sommige ander ouers met verslaafde kinders ervaar nie. Ek dank nog elke dag die Here. My kind het anderkant uitgekom. Stepping Stones het sy lewe gered. Red nog elke dag sy lewe, want hulle het hom die gereedskap gegee om op die regte pad te bly, waar ek seker altyd sal voel dat ek as ouer gefaal het.

Maar of dit 3 jaar of 13 jaar is, die kommer gaan nooit weg nie. Mens kyk anders na jou kind, in die sin dat jy hom dophou, heeltyd bedag op tekens dat die verslawing teruggekeer het. Jou grense het verskuif. Jy het dinge gesien en gehoor wat kon gebly het. Daar is ‘n teenwoordigheid in jou lewe wat nooit weer wyk nie en dit is Tik, of Heroien, of wat ookal jou kind se keuse van dwelm was. Of dalk meer as een.

Die wat meer wil weet oor Stepping Stones, kan hulle webtuiste besoek by

http://www.steppingstones.co.za/

Op hulle webblad nooi hulle ook mense uit, wat ‘n familielid / kind het wat verslaaf is en dalk net met iemand wil gesels, om vir Carry Bekker te email of te skakel by 021-7834230, ongeag of jy iemand het wat by Stepping Stones is vir behandeling. Enige iemand kan ook hul een-dag familieprogram bywoon, wat elke tweede Woensdag is.

Vroue in ons tronke.

Womaninprison

Op vandag se “search engine terms” het iemand “kinders onder 5 saam met ouers in tronke” ingetik en by my blog uitgekom. Vreemd. Ek wonder hoekom iemand oor so iets sal wil lees. Ken die persoon so iemand? Of was dit bloot vir navorsingsdoeleindes?

Uit nuuskierigheid gaan google ek toe dieselfde en het met naarheid die volgende raak gelees. Dit kom uit Beeld van Mei 2004:

‘n Vrou, wat ‘n witboordjie misdaad gepleeg het, word tot tronkstraf gevonnis. Sy is toe reeds 12 weke swanger. (En hier wonder ek, want hofsake vat gewoonlik meer as 12 weke. So, was sy uit op borg? En as sy was, hoe kon sy so onnadenkend gewees het om swanger te raak? Met ‘n vonnis wat oor haar kop hang?)

As ma van vyf kinders (En ek wonder weereens?!) het sy nie kans gesien vir nog ‘n baba nie. Die tronkowerheid stem in dat sy ‘n aborsie kan kry, maar op haar eie onkoste. Haar man stem in om vir die aborsie te betaal, hulle voltooi die nodige vorms en dien dit in by die tronkowerheid. Eers ses weke later, toe die vrou al 18 weke swanger was, word die aborsie amptelik goedgekeur.

Nou moes die vrou wag vir die dokter wat die gevangenes weekliks besoek. In sy spreekkamer moes sy op die bed gaan lê, terwyl hy gereed maak. Wat daarop gebeur het, was skokkend.

Die dokter het een van die fetus se ledemate in haar liggaam afgebreek en dit uitgetrek. Later die dag is sy hospitaal toe gebring, waar sy aan die dooie baba geboorte geskenk het. Haar voete was aan die hospitaalbed geboei. (Ek wil huil as ek hierdie lees. Hoeveel kinderlose mense is daar wat maar te graag hierdie kindjie sou wou aanneem?!)

Hierdie is maar net een van die verskriklike verhale wat prof. Christina Landman, ‘n teoloog van Pretoria, weekliks moet aanhoor wanneer sy as ‘n amptelike onafhanklike gevangenisbesoeker (OGB) ‘n tronk in Gauteng besoek om die klagtes van die vroue aan te teken.

“Die liggame van vroue in Suid-Afrikaanse tronke is besonder weerloos,” sê prof. Landman. Daar word nie voldoende omgesien na vroue se sanitêre behoeftes nie – hulle kry tien sanitêre doekies per maand en twee rolle toiletpapier. Baie van die vroue het nie eers ‘n matras waarop hulle snags kan slaap nie. Hulle rol bloot hul beddegoed op die vloer oop terwyl ander twee-twee op ‘n enkelbed slaap.

Babas word in oorvol selle gebore en bly dan tot hul derde jaar saam met hul ma’s tussen die ander gevangenes, van prostitute tot witboordjie-misdadigers. Die kinders kry geen vorm van buite-stimulasie nie.

Net 2% van die mense in Suid-Afrikaanse tronke is vroue. Die vroue word meestal aangehou in een van ses tronke wat uitsluitlik vir vroue is, hoewel daar ook by tronke vir mans landwyd geriewe is vir vroulike gevangenes.

Die geriewe in die vrouetronke is egter onvoldoende. Tot 60 vroue word in ‘n sel met net een toilet opgesluit. Baie van hierdie vroue is in die tronk vir klein oortredings, soos die diefstal van kos.

“Mense wat sulke klein oortredings begaan, hoort nie in die tronk nie. Daar moet alternatiewe maniere gevind word waarop hulle gestraf kan word.” sê prof. Landman.

“‘n Derde van die vroue in ons tronke is wit en die meeste is aan bedrog skuldig bevind. Die vroue sê altyd hulle het geld vir hul families gesteel. Om hul kinders te kon kos gee. Dis ook verstommend hoeveel vroue uit gegoede omstandighede geld gesteel het vir plastiese snykunde omdat hul mans begin rondloop het!”

“Daar is ‘n ernstige tekort aan sielkundige dienste. Dis asof die owerheid se houding is dat depressie normaal is wanneer jy in die gevangenis is.
Tog is die tronk, met die rotte wat oor die vloere skarrel en die wurms in die pap, vir sommige vroue beter as die lewe daar buite.”

‘n Vrou het aan Landman vertel sy is eers deur haar pa en later deur haar man aangerand. Vir haar was die tronklewe “wonderlik” omdat sy nie daagliks geslaan is nie.

Landman het ook tronke vir mans besoek en gevind dat die situasie in tronke vir mans baie verskil. In baie van die tronke het die mans meer ruimte. Mans in die tronk word ook aangemoedig om te studeer, terwyl dit nie lyk asof die owerheid enigsins die vroue aanmoedig om te studeer nie.

So, selfs in die tronklewe is daar diskriminasie tussen die geslagte!