Ek het myself uit die dood uitgeskryf,
stukke siel aan die papier afgevryf
met ‘n pen; riffels gemaak met ‘n grou griffel
om my eie hart weer op te wen;
krummels gesaai met lettergrepe
as roetewyser om terug te kan draai soos Hansel en Gretel.
Ek’t ‘n pad gebou met my graadeen-juffrou se abc
om my aan myself terug te gee.
Bladsy na bladsy probeer ek myself raakskryf
en versigtig terugdruk in my eie lyf.
Advertisements
Uit die dood uitgeskryf; flentertjies siel hier en daar vasgedraai in onthou-my-oomblikke – en dan? Daardie ek sal nie pas in my lyf nie; dis hoekom ek dit by die dood moes loop uitskryf. Anderdag kos dit om daai verbanne ek weer dood te lewe.