Tussen Treine, Tussen Stasies

trein_1.jpg

Ek vermoed dat elkeen van ons, veral dié met ‘n paar of wat jare agter die blad, se lewenspad al met ‘n spoorlyn gekruis het. Voorstedelike-trein, slaap-trein, troepe-trein.

Vir my het treine en treinry nog altyd ‘n vreemde bekoring ingehou. Met geskeide ouers het ek kort na my 16de jaar die land ten minste twee keer ‘n jaar deurkruis per trein. Ek onthou die fluit by ‘n oorgang, ysterwiele wat ratel op spore – ketik ketikke-tikketak ketik ketikke-tikketak. Die klank wat opslaan van die spore se lawaai wanneer jy die toilet spoel. Die klang-klang-klang van die kondukteur in die gange, die sjjjjjjjjjt suis geluid as die trein stoom afblaas by die stasies.

Ek onthou die kraakskoon treinbeddegoed, waarin ek my altyd verdraai het op die heel boonste slaapbank. Die aan-die-slaap-gesus word in die arms van die trein se wieg oor die aarde. Soet slaap, droomlose slaap, ver slaap.

Ek onthou die uithang by die treinvensters op elke stasie. Die onbeskaamde kykie in vreemdelinge se blydskap of verdriet met aankoms of vertrek. Blydskap oor hul geliefdes veilig arriveer het, hartseer oor ‘n onafwendbare afskeid tussen geliefdes as die trein stadig die stasie uitstoom. Geliefdes wat saam loop-draf langs die venster tot aan die einde van die perron, om dan daar te bly staan en waai en waai tot die armbewegings net nog ‘n lugspieëling in die verte is. Hoeveel trane van blydskap en verdriet lê vergete op ons stofverwaaide perronne.

Vandag is daar nie meer stasiewinkels met lang stoepe nie, geen stasiebankies met interessante mense wat wag vir treine na wie-weet-waar nie. Hele stasiedorpies het bouvalle geword, verlate spookdorpe. Het verdwyn, soos die lokomotief se stoom in die wind.

My storie kom uit ‘n tyd van treinry voordat die spore al hoe stiller geword het, die stasies al hoe minder.

Ek is net-net 18 en oppad Pretoria toe, saam met 50 ander, oppad na die keuring vir aansluit by die Staande Mag. Die toetse neem ‘n week, ‘n week van groot avontuur en kuier vir ons mengelmoes van jongmense wat opeens so bymekaar uitgekom het. Bedags flenter ons agtermekaar aan deur die gange van VHK en saans soek ons enige en al die kuierplekke in Pretoria op. Daar is twee groepe van ons, een vir die lugmag en een vir die weermag.

Meeste van ons slaag die keuring en kry treinkaartjies terug Kaap toe, met die opdrag om vroeg Januarie weer aan te meld by die onderskeie basisse waar ons ingedeel is.

Dis amper middel Desember en die treine Kaap toe is oorvol, maar ons wil HUIS TOE. Somer, son en SEE toe. Tipies Staatsdiens, selfs daai jare, het die Weermag nooit ons plekke terug huis toe bespreek nie! Daar is toe net plek vir die helfte van ons, omtrent een hele wa vol. Maar die Weermag klap sweep en die Suid-Afrikaanse Spoorweë spring en hulle haak ‘n ekstra wa aan die trein. Dis ook nie Trans Karoo nie – dis melktrein! Maar “who cares”. Ons weet ons is oppad huis toe, maak nie saak hoe lank die oppad vat nie. Tot dan, KUIER ons. Ons kos en slaapplek is mos betaal!

Op die snikhitte van die namiddag kom ons op De Aar stasie aan. Kyk mens by die treinvenster uit, dans die hitte ‘n riel bo die spore. Ek en 3 ander kuier in die eetsalon, die enigste naastenby koel plek op die trein. Ek het ‘n romp en halternek top aan en is kaalvoete. Ek is kaalvoet gebore en sukkel met die konsep van skoene, veral in sulke hitte.

Enige iemand wat al trein gery het en op De Aar, (of eintlik enige ander stasie) was, sal weet dat daar aanhoudend afkondigings afgerammel word oor die interkomme en alles klink dieselfde, amper soos ‘n afslaer by ‘n vendusiekraal. Daardie afkondigers het die kuns om enige taal soos Grieks te laat klink, vervolmaak.

Ons steur ons dus nie veel aan die gebrabbel nie en ook nie aan die trein wat elke nou en dan dié kant toe of daai kant toe ruk nie.

Uiteindelik stoom die trein De Aar uit en gou is ons terug op die vlaktes. Soos gebruiklik is na elke groot stasie, kom die kondukteur om ons kaartjies na te gaan en seker te maak dat geen ongewenste elemente hulself sonder kaartjies op die trein versteek het nie. Almal moet eers teruggaan na hul kompartemente toe, sodat hy sy lysie noukeurig kan aftik, amper soos ‘roll call’.

Ek en die ander 3, al drie van die lugmag en dus in ‘n voorafbespreekte wa, verlaat dus maar die eetsaal om eers te gaan aanmeld by ons kompartemente. My wa is anderkant hulle s’n, so ek neem afskeid by hul kompartement en stap aan. En stap aan. En stap aan. Tot daar niks meer waens oor is nie. Ook nie my wa nie. My eerste gedagte is – ek het seker my kompartement gemis, al sê my ‘common sense’ vir my ek het nie. Ek draai om en ek loop terug, naderhand verby die ander 3 se wa, terug deur die eetwa, tot daar ook nie meer trein oor is nie, behalwe derdeklas. Ek begin soos iets in die “Time Machine” voel. Weereens oppad terug, kry ek die kondukteur beet en voel soos die aap van die eeu om vir hom te sê ek kry nie my wa nie.

Na ‘n paar verduidelikings oor wie ek is en van waar, raak hy heel omgekrap met my en vra of ek dan nie op De Aar die afkondigings gehoor het nie. Die EKSTRA wa van die weermag rekrute, (waar van ek, kiepie, een is), is afgehaak op De Aar, met duidelike afkondigings daaroor. Duidelik, se VOET, dink ek so by myself. En hy maak dit vir my BAIE duidelik dat ek op die volgende halte – ja HALTE, nie eers stasie nie! – sal moet afklim en sal moet wag vir my wa wat saam met die volgende trein sal verbykom, SES ure later.

Ek gaan sit toe in die ander 3 se kompartement en ek dink, gmf, in jou drome, meneer die kondukteur. Ek sal eers kyk hoe LYK die volgende halte. Dis dan ook toe net soos ek gedink het – ‘n verlate gehuggie van ‘n stasie met basies net ‘n melkkan. En dit begin reeds skemer word.

Ek kyk die ander drie vas in die oë: “Sal julle my asseblief by julle wegsteek, want daar is nie ‘n MANIER in hierdie lewe wat ek vir 6 ure op hierdie plek gaan wag vir my wa nie?” (Dis mos nou darem ook nie asof ek iets steel van die Spoorweë nie, my kaartjie is mos betaal!)

Natuurlik besluit hulle net daar ek bly op die trein. Ons moes net hoop die kondukteur vergeet om seker te maak ek het wel afgeklim. Toe die trein egter sommer gou weer die stasie begin uitstoom, weet ons die koeël is deur die kerk.

Ek weet uit ondervinding dat die kondukteure op elke groot stasie ruil en dat daar eers weer kaartjies nagegaan sal word op Beaufort-Wes. Die plan van aksie is toe om my dan op die boonste bank toe te pak met al hul bagasie.

Daardie nag word daar nie veel geslaap nie, maar dis niks nuuts nie. Ons kuier maar so van kompartement tot kompartement en vang ‘n paar ure se slaap, partykeer sommer so sit-sit. Alles verloop seepglad en ek kom veilig as verstekeling in Kaapstad aan. Met slegs ‘n paar skewe kyke van die mense wat die trein inwag, want hier klim ek af, sonder bagasie en kaalvoete! Maar ek het net geweet – ek is veilig by die huis! Te hel met die res.

Gelukkig kon ek huis toe gaan en bad en skoon aantrek en baie later daardie dag, toe my eintlike wa die stasie inkom en my mede Weermag-rekrute sien hier staan ek lewensgroot en wag vir hulle, toe cheer hulle omtrent uit daai treinvenster uit en laat my weet hulle het gedink ek het gesneuwel op die Karoovlaktes!

En so het ek trein gesteel van De Aar tot in Kaapstad!

Advertisements

19 Responses

  1. haha, kwl storie! ekt nog net trein gery tussen die stad en Stb, maar moet sê ek geniet dit baie. dis asof ‘n mens met die goeie, alledaagse werkende SA-mense in aanraking kom – ‘n ervaring wat jy as enkeling in jou mercedes nooit beleef nie.

    dis jammer ons stoomtrein nie meer rond nie – dit moet mos nou ‘n belewenis wees.

    NS: …ekt aan jou versoek voldoen wat die xhosa-lesse betref en jyt nou huiswerk tot volgende keer 😉 haha, geniet dit!

  2. Ek het my klompie myle gehad, tussen Upington en die Kaap, en tussen Upington en Pretoria – elke keer via De Aar natuurlik. Ek dink my laaste keer vas van Sishen na Olifantsfontein (tussen JHB en Pretoria). Ek is net spyt ek het nooit trein gesteel nie!

    As jy nou dalk Creedence se album Pendulum het, luister bietjie weer daai half absurde stuk musiek “Rude Awakening #hoeveel?” Dit herinner my so half…

    • Hi Knersis, ons verkoop ‘n trein simulator met al Suid-Afrikaanse inhoud van Suid- Afrikaanse Treine na roetes. Ons is tans besig met die Sishen lyn vanaf Saldanha na Postmansdam.Jy kan op ons Facebook bladsy gaan kyk na ons vordering( ons is tans besig om 3D ad-ons te bou van treine en waens) ons doen stoom, diesel, en elektriese lokomotiewe. Baie van die ou trein drywers koop dit en dan is daar ook mense wat dit koop om te leer trein ry.( ons is tans besig om 3D ad-ons te bou van treine en waens) ons doen stoom, diesel, en elektriese lokomotiewe. Baie van die ou trein drywers koop dit en dan is daar ook mense wat dit koop om te leer trein ry. Die link na die bladsy is http://www.facebook.com/rsatrainz?ref=hl#!/rsatrainz

  3. Oulike storie. Die kere wat ek op lang treinritte gegaan het (JHB -Kaap – nooit weer nie!) en oorsee (Indie, Rusland) bly my vreeslik by. Daar is iets anders omtrent ‘n treinreis. Ek het ook grootgeword met my pa se treinstories. Kosskool en universiteit van Dordrecht – Kaapstad.

  4. Baie trein gery in die Weermag, maar ook heelwat tussen bellville en Stellenbosch terwyl ek student was. Ek wonder of melankolies ‘n raak beskrywing sou wees.

  5. ‘n Baie oulike storie.
    Een van die byvoordele om in Europa te woon is dat mens baie geleentheid het om trein te ry. Ek het so ‘n paar jaar terug per trein gependel tussen my werk en huis. Dit was net ‘n 40min rit, maar as mens darm laataand doodmoeg en voetseer op daardie trein klim, het hy jou sommer gou-gou aan die slaap gesus. Gelukkig (hoe weet ek nie) het ek altyd daarin geslaag om wakker te word, net voor my afklim, so ek het nooit nodig gehad om ‘trein te steel’ terug nie.

  6. Koot, dis nou ‘n oulike storie.

  7. Haai ja, ek is ook destyds uit die Vrystaat weg met ‘n trein – Pietersburg toe! Ek was angsbevange, want van oorklim en treine ruil het ek niks geweet nie!

  8. En vandag kan mens nie eens meer trein vat nie… tensy jy op die dak wil sit 😉

  9. Baie oulike storie en jou uitbeelding van treine en treinry is puik. Maak mens sommer lus om weer te gaan treinry! 🙂

  10. ja van kleintyd af wou ek altyd treinry,ons het in bloem langs die spoorlyn gebly,en ja ek werk al 30jaar op treine as n treindrywer.

  11. Ek het 33 jaar vir Transnet gewerk, en as gevolg daarvan jaarliks ’n vrypas gekry. Baie trein gery, Kaapstad-P.E.; Kaapstad – Durban en na Pretoria. Tot en met 1976 al die naamtreine gery, o.a. die Drakesberg en natuurlik die Blou Trein. Vir laasgenoemde 2 moes ek natuurlik betaal, maar treinry was in my bloed. Onthou nog soos gister die stoom vanaf Worcester P.E. toe, met die Garrett vooraan. Dis mos treinry. Ek het selfs sover gegaan om vir ’n aantal jare ’n beoeremusiektrein te reël vanaf Kaapstad na Hartenbos toe, watter feeste was dit nie. Mooi herinnerings van treinry wat niemand van jou kan wegneem nie

  12. De Aar,eens ,die lewensbloed van die Suid Afrikaanse spoorwee,nou nie meer nie

  13. De Aar roep my en ek moet gaan

  14. Ag jinne ek’s nog baie jonk & hou daarvan om te hoor van di Ou S.A. Dus n’ baie pragtige storie. Om die waarheid te se’ ek ‘s baie bang vir trein ry. As dit nou moes gewees het soos destyds dan het ek seker anders gevoel….Lovies

  15. Sal graag die foto wil skilder as ek die fotograaf se naam en toestemming kan kry. Naam van fotograaf sal op skildery verskyn.

  16. Kan iemand vir my se of daar DVD’s is van stoomtreine waar hul in aksie is, ek het in sewentige jare met my 2seuns verskeie stoomtrein ritte geneem, ons 2 kleinseuns weet nie wat dit is nie, dis tog so kosbaar. Dankie Netti vd Merwe 079 880 2951

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: