Onverdiende Genade

Wanneer mens se kinders groot en uit die huis is, sien jy hulle mos maar min. Wat nog te sê van ‘n dag of halfdag saam met hulle spandeer. Dan weer, so lief soos wat ek hulle het, het ek nog altyd my eie lewe gehad en het my lewe nooit in totaliteit net om my kinders gedraai nie.

Ja, ek was dalk nie ‘n modelma nie, maar ek het geglo kinders moet selfstandig wees en veral ‘n seun moet tog groot asseblief nie aan sy ma se rokspante vasklou nie. En so het ek hulle grootgemaak – selfstandig. (Ek dink ek sal eendag enige skoondogter se droom-skoonma wees! 😆 )

Vir Megan sien ek elke dag, want ons ry saam werk toe. Maar omdat Bernard in die vloot is en baie weg is, sien ek hom heelwat minder. Dan is ‘n dag soos vandag, wat ek sommer netso die kans kry om saam met my seun deur te bring, ‘n verrassingspakkie.

Vanoggend bel hy en laat weet hy het ‘n geleentheid gekry tot in Kaapstad en kan ek hom daar kom haal? Liefie werk en ek ry gou stad toe; kry vir Bernard regoor die stasie, by een van daardie standbeelde.

Ek maak ‘n U-draai en hy spring in, met sy sak klere, wat ek weet eintlik ‘n sak vol wasgoed is. Gelukkig was hy dit self, dis maar net gemakliker by ma se huis. Oppad stel hy voor ons draai by Canal Walk af, want hy wil bietjie in die winkels gaan rondloop.

Ons lag en gesels al die pad en by die robot, na ons die afrit gevat het, stop twee jong girls in ‘n Audi langs ons en ek sien hulle loer-loer so. Ek vertel hom die girls loer vir hom.

Hy sê: “Nee, hulle wonder seker hoe kry ‘n ou vrou soos jy dit reg om so ‘n aantreklik jong lat aan te keer.”

Ek sê: “Ag jou gat man!”

Hy sê: “Kom nou ma, ek is jou kind, jy moet sê ek is aantreklik.”

Ek sê: “Mens lieg nie vir jou kinders nie!”

Ons altwee lag en ek dink, haai weet jy, ek het hom gemis.

In Canal Walk loop ons by Due South in. Hy soek ‘n lekker rugsak. Ek staan en kyk na die GPS’e en toe hy by my kom staan, wys ek hom hoe die een gelyk het wat die Liefie gehad het en wat hulle mos by hom geroof het. (ek het destyds HIER daarvan vertel )

Langs die een wat soos Liefie s’n lyk, is ‘n pienke, presies dieselfde soort, maar net pienk! Nogal met ‘n pienk sakkie ook by.

Ek sê: “Dalk moes ek eerder destyds vir Liefie ‘n pienke gekoop het, dan het die vark dit dalk nie geroof nie.”

Bernard antwoord droogweg: “Nee fok ma, dan het hulle hom dalk geroof EN ge-rape as hulle sien hy het ‘n PIENK GPS!”

Ons bars altwee onbevange uit van die lag, sodat mense wat verbyloop eintlik omdraai, vir ons kyk en met ‘n ‘smile’ verder loop.

Ons stap verder en skerts en lag en winkels kyk. Hy draai my arm om vir hom ontbyt te koop en vra of hy die grootste ontbyt op die menu kan kry. Hoe kan ‘n ma dan nou nee sê?

Terwyl ons koffie drink en vir die kos wag, skuif hy heeltyd alles netjies op die tafel. Naderhand kan ek dit nie meer hou nie, en vra/sê:

“Bernard, hou op. Vir wat skuif jy alles heeltyd in reguit lyne en maak heeltyd netjies?”

Hy antwoord met ‘n glimlag: “Ma, dis deurmekaar genoeg in my kop. Ek kan nie nog deurmekaarheid rondom my ook hanteer nie.”

Ek sit stil en kyk vir hierdie kind van my wat al so lankal cope met die swart depressie monster. Behalwe vir die netjiesmakery rondom hom, kan ek sien dat dit tog goed gaan met hom.

En ek weet, hierdie dag vol lag saam met hierdie anderste kind van my, is onverdiende genade.

 

 

Advertisements

16 Responses

  1. “En ek weet, hierdie dag vol lag saam met hierdie anderste kind van my, is onverdiende genade.” selah!

  2. Ai, Sonkind,
    Ek het sommer nou ‘n flippen knop in my keel gekry!
    Ek’s ook ‘n ma, en ek ken van dit wat jy van praat.
    Wat ‘n kosbare geskenk van Bo was hierdie spesiale dag nie vir julle twee!
    Wens jy kon dit in ‘n botteltjie opvang, om vorentoe, op ‘n donderweer dag, weer oop te maak en weer te beleef.
    Antie Koekie

  3. Ek sit met ‘n glimlag so breed soos die Vader se genade! Dis so mooi en ek kan hierin lees dat julle ‘n baie spesiale verhouding het!
    Dit laat my sommer na my kleinboet verlang.

  4. ‘Ja, ek was dalk nie ‘n modelma nie…’ se gat! Dit klink vir my of jy elke kind se droomma is!!! Ek sit hier en ruk net kleenex uit! My kiddies is nog klein, maar my grootste begeerte is dat hulle eendag ook saam met my sal loop, lag, skerts en gevoelens deel… ‘n Hengse stand-up applous vir ‘n hengse goeie Ma!!!!!

  5. Bring nader daai Kleenex…

    Mooi storie, Son.

  6. Dit voel vanoggend vir my of die pappaster met dagbreek sy kinders bed toe gejaag het, maar opsetlik hulle nagliggies aan gelos het om saam met jou sonnetjie ʼn ekstra vrolikheidjie aan die dag te verleen.

    Droomskoonma – ek glimlag diep gelukkig oor die genadehappies van die enetjie, ek proe daai vreugde in die warmte van my L-kind se spontane liefde. Dis nog beregoedjies vir die botteltjie of hoe se jy Antie Koekie? Mens het nie eers ʼn preserveermiddel nodig nie, dit bly altyd vars en smullekker. My spens is stampvol gepak met vrugteflesbottels gemerk ‘sonkind’

  7. Dit was nou ‘n besondere oomblik. Ek het ook sommer ‘n knop in my keel. Dit was vir hom beslis ook ‘n voorreg om ‘n dag te kon deel met iemand wat hom onvoorwaardelik lief het. Niks kan ‘n Ma in ‘n mens se lewe vervang nie. ‘n Proefbuis sal net nie werk nie.

  8. Wat ‘n lekker storie, wat ‘n gemaklike verhouding.

  9. Dit is ‘n mooi inskrywing. Soos ek hier lees dink ek jy is ‘n modelma! Julle het mooi herinneringe geskep.

    Lekker week.

  10. Dit laat my weet besef hoe onverantwoordelik ek soms met my woorde is. Ek het een keer op universiteit met ‘n rubic cube gespeel. Een van die HK lede (ek was ‘n jar) was baie geamuseerd gewees daardeur. Sy het my gevra wat op aarde ek doen. Ek het haar geantwoord dat die dag dat ek die rubic cube kan doen, ek met my eie chaos ook kan deal. Ek het niks daarmee bedoel nie, maar sy was weke lank baie bekommerd oor my.

    Sonkind

    Kliek gerus op die link. Dit sluit hierby aan.

    http://www.toksies.iblog.co.za/2008/02/22/histadien-kind/

  11. Mooi storie.

    Ek sien môre my ma. 🙂

  12. Sonnie, dis so mooi en spesiaal….dankie!

  13. Hmmm … jaaa …
    die sleutelbord het skilderkwas geword;
    die skerm het skilderdoek geword;
    hande groot en sterk genoeg om ‘n seun die lewenspad in te lei,
    maar sag genoeg
    om sonoomblikke saam met hom te vang,
    daardie hande het met woorde geskilder
    ‘n oomblik geleef
    waarvan ander met ‘n traan in die oog
    net droom…

  14. Kriskras, jy asem diepmooi gedagtes uit, en jy is reg;
    waarvan ander met ‘n traan in die oog
    net droom…

  15. SJOE, EK DOG JY PRAAT NOU VAN FRANCOIS, HUL SO EERBIEDIG, SKAAM EN TOG VOL BRAVADE WAT MENS SOMS WIL LAAT SE WORD NOG NET SO BIETJIE GROTER VOOR JY DINK JY MAG MAAR! WIL KEER AS HY PRAAT SOOS ‘N MAN SAAM DIE MANNE MAAR TOG HULLE LUISTER!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: