Rock vir die Sunday Blues!

Once upon a lifetime
The spirits of the dark
Came to kill the beauty
Of our world

Every soul was spell bound
And prisoned into ice
Just shining through
Sad as a blue tattoo

Tears have turned to ice
As a sacrifice
Broken voices rise
From the age of the ice
To the raging skies
And they exorcise
‘Cos on judgement day
We must hide – we must fight – we must pray – hey
It’s a blue tattoo

But the monks of mercy
They prayed for every soul
‘Til the sword of fire
Took control

In a crash of thunder
The ice broke into two
And shining through
There was the blue tattoo

[Chorus]

Monks:
You know
Down low
There’s a light – it’s a true – blue tattoo
Just go
Down low
Gotta hide now – gotta fight now –
Gotta save your soul and pray
Gotta break the ice away
Gotta find the true blue tattoo

Terug by die huis.

Jip, ek is terug by my Berg en my Liefie – lekkerrrrrrrrrr! Het wel eers gisteraand half twaalf geland, maar nie omdat die vliegtuig laat was of iets nie, net omdat die vrou wat in beheer van ons reis reëlings is, so oulik was om ons eers op die halftien vlug vanaf OR Tambo na Kaapstad te boek. Wonder nou nog of sy dalk gedrink of gerook was toe sy daardie bespreking gemaak het?! 😈

Gistermiddag. toe die bussie ons oplaai om lughawe toe te gaan, sê Bruce, die bestuurder van die bussie, vir ons dat daar ‘n groot ongeluk op die deurpad was en dat hy ons met ‘n ander pad gaan lughawe toe neem. So kry ons toe ‘n lekker toer deur ‘n hele paar voorstede van Johannesburg, met Bruce wat kommentaar lewer so ver ons ry.  Die kommentaar was natuurlik ook ter wille van die ou wat ons opleiding kom aanbied het. Hy is van Engeland en het sy vlug terug Heathrow toe gisteraand half nege gekry en is saam met ons lughawe toe geneem.

Ons is deur Rosebank, deur Houghton, deur Orange Grove, wat hy “Little Nigeria” noem, deur Linksfield (ek dink) waar hy vertel dat daar net Jode bly en deur nog ‘n plek wat hy “Little China” noem en later deur Edenvale en toe die lughawe. Tussen in was daar nog ‘n paar, waarvan ek nie nou meer die name onthou nie, maar dit was nogal vir my lekker om al hierdie plekke te sien, waar ek andersins seker nooit sou gekom het nie.

Ek het vergeet om te noem dat ek Woensdagoggend in Kaapstad voor Krynauw van Egoli gestaan het in die ry om deur die sekuriteitshekke te gaan, maar natuurlik vlieg hy SAL, seker te “grand” vir Kulula. Maar raai wie vlieg toe gisteraand saam met my?…   Oubaas (van 7de laan) en sy jong bokkie! Sjoe, maar sy kyk mooi na hom. Terwyl ons in die ry staan, liefie sy hom en sy trek sy hemp mooi reg en soen hom op die wang. Ek spot nie nou nie, ek dink sy is regtig erg oor hom. En hy lyk en tree presies net so verstrooid op soos in die sepie.

Op Johannesburg se lughawe het niemand hulle gepla of oe of aaa gemaak oor hulle nie. In Kaapstad het ons so saam-saam ons tasse gekry en na ek en Liefie die parkering betaal het en omdraai om te loop, stap hulle voor ons verby, saam met hulle eskort, twee sulke lekker brekers. Hulle bly toe so ‘n entjie voor ons loop en net waar ons die onderdakparkering verlaat en moet oorkruis na die oop parkering, kom drie Kaapse kleurling outjies van voor af. Eers besef hulle nie wie hulle sien nie en toe steek hulle viervoet vas en sê: “Oubaaaaas, wat maak djy hier?” En hulle kyk so rond en sien ons en sê so ewe: “Kyk, hier is Oubaas!”

Oubaas smile maar net en knik sy kop en die brekers eskort hom verby, maar die laaties kyk en sê weer: “Oubaaas, lekker kuier hier innie Kaap, hoor!” En hulle kyk vir ons, en sê: “Haaits, ons loep nog soe en hier is Oubaas skielik lewensgroot voor ons!” Ek lag en sê: “Ja, my broer, hy was tog saam met my op die vliegtuig.” Hulle check my so uit en skud hulle koppe: ” Haaits, daaisie fair nie. Lucky djy.”

Toe lag ek maar net en loop verder en weet, ja my broer, nou weet jy jy is terug in die Kaap, by die huis. 😆

Ek’s moeg en ek verlang

My dag het al vanoggend vieruur begin. Ek het met ‘n swaar gemoed uit my warm bed opgestaan. Vyf uur het die Liefie my afgelaai by die lughawe, want kwart oor 6 was my vlug. Baie dankie Liefie, dat jy so vroeg opgestaan het vir my, veral omdat jy hierdie week laat werk en eintlik self eers nege uur hoef te gaan werk het.

Hierdie keer was die weer mooi en die vliegtuie betyds. Vandag het ek op Lanseria geland, moenie my vra hoekom nie, die maatskappy doen partykeer die snaakste dinge. Maar dit was nogals ‘n aangename ondervinding. Dit is die eerste keer in my lewe wat ek op Lanseria kom. Die lughawe is klein, maar silwerskoon en alles verloop glad en vinnig en die verkeer kantoor toe was rustig. Dis net die pad wat party plekke lelike slaggate in het. Ek het ‘n mooier deel van Johannesburg gesien as wat ek altyd sien van OR Tambo af.

So gepraat van OR Tambo, terwyl ek by Lanseria wag vir die drywer, hoor ek hierdie ouerige man vir iemand op sy selfoon se: “My ou maat, volgende keer moet hulle liewers op Jan Smuts land, dis net 8 km van my huis af, terwyl hierdie (Lanseria) amper 50 km ver is.”

Jan Smuts? Jan Smuts!? Vir ‘n oomblik het ek gewonder waarvan praat die man en toe onthou ek dit is natuurlik OR Tambo, voorheen Johannesburg International, voorheen Jan Smuts lughawe. Kan dit regtig al so lank gelede wees dat mens al kon vergeet wat die naam eers was? Gaan ons een van die dae glad nie meer onthou wat seker plekke, strate en goed se naam voorheen was nie?  Dit maak my so effe hartseer, maar nou ja, ek het nie veel nodig om hartseer te voel as ek weg is van my huis af nie.

Ek is moeg en wag net vir Liefie om te bel, sodat ek my battery bietjie kan laai met sy stem. Hierdie is te veel weg van my huis vir my, te kort op mekaar. Na Liefie se liefie gaan ek slaap, want more as ek wakker word kan ek se^, more gaan ek huis toe!

PS. Ek het vergeet om te vertel dat ek vandag darem ook ‘n belangrike mylpaal bereik het – ek het SELF in Johannesburg bestuur! En op een plek het ek selfs ingedruk ook en vinnig versnel en voorgebly! Noddy badge vir my op daai een 😆

AVE MARIA – Aaron Neville

Vodpod videos no longer available. from sonkind.vodpod.com

Johannesburg, Nationwide, cool bloggers en ‘n grys gordyn

Dis Maandag oggend en ek is oppad Johannesburg toe. Op die laaste oomblik het ek besluit om een trui in my tas te gooi, want ek hoor dis winter in die noorde.

Ons styg 20 minute laat op en ons vlieg van dit

Jhb 17-19Mar08 004

na dit

Jhb 17-19Mar08 014

na dit:

Jhb 17-19Mar08 019

hierdie keer weer met Nationwide.

Gelukkig is die vlugpersoneel BAIE vriendeliker as met my vorige Nationwide vlug en ons bied nie weer die lugwaardin vyf rand aan vir ‘n ‘smile’ nie. Soos gewoonlik sit ek op die vlerk (ek begin al vermoed daar staan vlerksitter op my voorkop geskryf as ek by die inweeg toonbank aankom)

Twaalfuur namiddag land ek in ‘n koue, nat Johannesburg. Die drywer wat my moes kom oplaai, is 40 minute laat, want daar is “load shedding” in die Stad van Goud sonder robotte wat werk.

Sonkind hou nie van reën nie en ook nie van Johannesburg nie, dus “Double Whammy”!

Dis reguit kantoor toe en toe ek Maandag aand 7 uur by my blyplek kom, bibberend van die koue, besef ek dat daar geen pajamas in my tas is nie. Ek is weg uit ‘n snikhete Kaap waar ek nog Sondagnag met “next to nothing” aan geslaap het. Gelukkig het ek ‘n sweetpakbroek en die trui ingegooi en dit moet toe maar dien as nagklere.

Dit reën heelnag deur, asof dit in die middel van die winter in die Kaap is en ek kan my amper verbeel ek is by die huis. Dinsdag is nog ‘n lang dag en ek kom moeg en melancholies by my kamer, maar ek troos my daaraan, more vlieg ek suid na die son, na my berg en my huis.

Deur die loop van die dag het ek tog effens bekommerd rondgevra of die baie reën nie dalk sal maak dat die vlugte gekanselleer word nie, maar almal verseker my dit sal nie sommer gebeur nie.

Dinsdagaand na 8 praat ek vir oulaas met die Liefie en hy troos my dat dit nog net een slapie is. Na die oproep voel ek soos ‘n weeskind, maar toe kry ek ‘n verrassing.

Dankie Skoor en Skoorlief dat julle my onthou het, dat julle gesels gehelp het om die verlang bietjie minder te maak en Dinsdag aand korter te maak. En veral dankie Skoorlief dat jy verstaan hoe ek oor Johannesburg voel, dat ek nie gek is omdat ek so erg huis toe verlang as ek daar is nie en dat ek eerder in Kanada sal gaan bly as in Johannesburg, maar dat ek glad nie in Kanada sal gaan bly nie! 😆

Gisteroggend (Woensdag) staan ek op met ‘n lied in my hart. Die weer het effens gelig en ek weet vanaand as die son sak, gaan ek huis toe. Vieruur die middag is ek reeds op die lughawe, al is my vlug eers 20 oor 6. En toe kry ek nog ‘n verrassing.

Dankie Zee en Wag ‘n Bietjie dat julle die moeite gedoen het om my te kom ontmoet op die lughawe. Dankie vir die lekker kuier sommer net daar. Ek het so lekker saam met julle gekuier dat ek amper my vliegtuig gemis het. Julle sal nooit weet hoe baie ek dit waardeer het dat julle sowaar die moeite gedoen het nie. Daar is nie genoeg woorde om te vertel nie. Julle is ‘way cool’ soos die tieners sou sê! Volgende keer kuier ons langer.

Tien voor 6 toe boek ek eers my tas in en laat waai na die hekke waar ons moet deurgaan vir die bussie. En toe eers sal ek sien dit sous al weer buite. Die water val loodreg af aarde toe, soos ‘n grys gordyn. maar ons gaan vliegtuig toe en alles verloop normaal. Die kaptein begin al praat van selfone afsit en veiligheidsgordels aansit en hy vertel ons die vliegtuig is stampvol en ons gaan lekker stadig terugvlieg Kaap toe, maar in die Kaap is dit mooiweer.

En ons sit en ons sit en niks gebeur nie. Toe kom die kaptein se stem weer oor die interkom: “This is your captain, Francois Potgieter. Unfortunately we cannot take off, because the rain is coming down too hard and the runway will not be safe for taking off. But I assure you that these storms pass over soon and we will probably take off in the next 10 to 15 minutes.”

Ek het tussen ‘n klompie konstruksie ouens beland. Hulle werk aan ‘n kontrak in Johannesburg, maar bly in die Kaap en gaan een keer ‘n maand huis toe. Die ouens is hartlik, maar wil baie graag huis toe gaan. So praat ons mekaar moed in dat die reën nou-nou sal minder word en dan gaan ons huis toe.

Twintig minute later: “This is your captain, Francois Potgieter. It looks like the rain is letting up, but the storm has moved to the West and we need to take off in that direction, which means we will take off into the storm and we feel it is advisable to wait a bit longer. If we decide to take off, we will also be in a que, as no airline has taken off. We are all waiting for conditions to improve. Thanks for your patience, you can switch on your cellphones again, we will make another announcement to switch it off when we decide to take off.”

Oral begin mens net biep-biep hoor soos die selfone deurgaan. Almal bel huis toe. Die konstruksie ouens praat sommer so onder mekaar en vertel vir kaptein Potgieter dat mens mos verdomp in ‘n ander rigting kan opstyg en dan draai en dat ons nou regtig baie graag sal wil huis toe gaan. En dat Potgieter nie moet dink hulle klim vanaand van hierdie vliegtuig af voor hy nie in die Kaap geland het nie en ek dink: “My sentiments exactly!”

Langs my sit ook een van hulle, ‘n ouerige Kleurlingman van die Paarl. Ons twee begin gesels en hy vertel my hy gaan die naweek vis soek in Houtbaai, want hier in die Transvaal gee hulle vir hom net vleis en stywe pap en hy is al so lus vir snoek en patat! Ek vertel hom van die Geelbek waarvoor hulle my nou die anderdag R200 rand wou vra in Kalkbaai. Kort-kort loer ons by die venster uit en vra mekaar of dit dan nie lyk asof die reën bedaar het nie.

Half agt kom die wonderlike woorde: ons gaan opstyg! Maar ons is vyfde in die ry! Ons beweeg stadig na die aanloopbaan en dis ‘n Mango vlug net voor ons. Net toe Mango daar wegtrek, toe begin die reën weer val en ons bid hardop. Maar die neus draai en ons hoor hoe maak die kaptein daai enjins oop. Die konstruksie ouens fluit en roep: “Wen hom op Potgieter, ons wil huis toe gaan, wen hom op!”

En kaptein Potgieter gehoorsaam en ons vat daai aanloopbaan en ons gaan al hoe vinniger en vinniger en die water val, maar ons lig nie. Ek kyk vir die ou langs my en ek vra: “Moes ons nie al gelig het nie?” En die ou agter ons antwoord: “Ja, FOK, ons MOES!”

En ek, wat nie ‘n druppel bang is vir vlieg nie, maak my oë toe en ek bid soos ek lanklaas gebid het, want ons hardloop teen die spoed van witlig en ek weet daar kan nie meer baie aanloopbaan oor wees nie. En daai ouens begin singroep: “Lig hom Potgieter, LIG hom!”

En kaptein Potgieter lig hom! Maar daai water val en daai vliegtuig ruk en pluk soos ‘n tuimeldroër en ek dink ons gaan wragtig moet omdraai, die weer is net te erg! Maar Potgieter lig hom nog en ons draai en ons ruk en pluk nog so ‘n paar minute en toe is ons deur die ergste.

Kort daarna vertel die kaptein oor die interkom dat ons noord opgestyg het en dat ons nou reeds gedraai het en oor Kimberley en Wolseley gaan Kaap toe vlieg, omdat ons so van koers af gegaan het om uit die ergste storm te kom. En daai kaptein vat vir ons huistoe, al is dit twee ure laat, en hy sit vir ons mooi sagkens neer op Cape Town International gisteraand tienuur.

Dankie Kaptein Potgieter van Nationwide. Volgende week maak ons weer so. Maar Johannesburgers, ek wens vir julle net die mooiste mooiweer toe tot ten minste volgende Vrydagaand!