Johannesburg, Nationwide, cool bloggers en ‘n grys gordyn

Dis Maandag oggend en ek is oppad Johannesburg toe. Op die laaste oomblik het ek besluit om een trui in my tas te gooi, want ek hoor dis winter in die noorde.

Ons styg 20 minute laat op en ons vlieg van dit

Jhb 17-19Mar08 004

na dit

Jhb 17-19Mar08 014

na dit:

Jhb 17-19Mar08 019

hierdie keer weer met Nationwide.

Gelukkig is die vlugpersoneel BAIE vriendeliker as met my vorige Nationwide vlug en ons bied nie weer die lugwaardin vyf rand aan vir ‘n ‘smile’ nie. Soos gewoonlik sit ek op die vlerk (ek begin al vermoed daar staan vlerksitter op my voorkop geskryf as ek by die inweeg toonbank aankom)

Twaalfuur namiddag land ek in ‘n koue, nat Johannesburg. Die drywer wat my moes kom oplaai, is 40 minute laat, want daar is “load shedding” in die Stad van Goud sonder robotte wat werk.

Sonkind hou nie van reën nie en ook nie van Johannesburg nie, dus “Double Whammy”!

Dis reguit kantoor toe en toe ek Maandag aand 7 uur by my blyplek kom, bibberend van die koue, besef ek dat daar geen pajamas in my tas is nie. Ek is weg uit ‘n snikhete Kaap waar ek nog Sondagnag met “next to nothing” aan geslaap het. Gelukkig het ek ‘n sweetpakbroek en die trui ingegooi en dit moet toe maar dien as nagklere.

Dit reën heelnag deur, asof dit in die middel van die winter in die Kaap is en ek kan my amper verbeel ek is by die huis. Dinsdag is nog ‘n lang dag en ek kom moeg en melancholies by my kamer, maar ek troos my daaraan, more vlieg ek suid na die son, na my berg en my huis.

Deur die loop van die dag het ek tog effens bekommerd rondgevra of die baie reën nie dalk sal maak dat die vlugte gekanselleer word nie, maar almal verseker my dit sal nie sommer gebeur nie.

Dinsdagaand na 8 praat ek vir oulaas met die Liefie en hy troos my dat dit nog net een slapie is. Na die oproep voel ek soos ‘n weeskind, maar toe kry ek ‘n verrassing.

Dankie Skoor en Skoorlief dat julle my onthou het, dat julle gesels gehelp het om die verlang bietjie minder te maak en Dinsdag aand korter te maak. En veral dankie Skoorlief dat jy verstaan hoe ek oor Johannesburg voel, dat ek nie gek is omdat ek so erg huis toe verlang as ek daar is nie en dat ek eerder in Kanada sal gaan bly as in Johannesburg, maar dat ek glad nie in Kanada sal gaan bly nie! 😆

Gisteroggend (Woensdag) staan ek op met ‘n lied in my hart. Die weer het effens gelig en ek weet vanaand as die son sak, gaan ek huis toe. Vieruur die middag is ek reeds op die lughawe, al is my vlug eers 20 oor 6. En toe kry ek nog ‘n verrassing.

Dankie Zee en Wag ‘n Bietjie dat julle die moeite gedoen het om my te kom ontmoet op die lughawe. Dankie vir die lekker kuier sommer net daar. Ek het so lekker saam met julle gekuier dat ek amper my vliegtuig gemis het. Julle sal nooit weet hoe baie ek dit waardeer het dat julle sowaar die moeite gedoen het nie. Daar is nie genoeg woorde om te vertel nie. Julle is ‘way cool’ soos die tieners sou sê! Volgende keer kuier ons langer.

Tien voor 6 toe boek ek eers my tas in en laat waai na die hekke waar ons moet deurgaan vir die bussie. En toe eers sal ek sien dit sous al weer buite. Die water val loodreg af aarde toe, soos ‘n grys gordyn. maar ons gaan vliegtuig toe en alles verloop normaal. Die kaptein begin al praat van selfone afsit en veiligheidsgordels aansit en hy vertel ons die vliegtuig is stampvol en ons gaan lekker stadig terugvlieg Kaap toe, maar in die Kaap is dit mooiweer.

En ons sit en ons sit en niks gebeur nie. Toe kom die kaptein se stem weer oor die interkom: “This is your captain, Francois Potgieter. Unfortunately we cannot take off, because the rain is coming down too hard and the runway will not be safe for taking off. But I assure you that these storms pass over soon and we will probably take off in the next 10 to 15 minutes.”

Ek het tussen ‘n klompie konstruksie ouens beland. Hulle werk aan ‘n kontrak in Johannesburg, maar bly in die Kaap en gaan een keer ‘n maand huis toe. Die ouens is hartlik, maar wil baie graag huis toe gaan. So praat ons mekaar moed in dat die reën nou-nou sal minder word en dan gaan ons huis toe.

Twintig minute later: “This is your captain, Francois Potgieter. It looks like the rain is letting up, but the storm has moved to the West and we need to take off in that direction, which means we will take off into the storm and we feel it is advisable to wait a bit longer. If we decide to take off, we will also be in a que, as no airline has taken off. We are all waiting for conditions to improve. Thanks for your patience, you can switch on your cellphones again, we will make another announcement to switch it off when we decide to take off.”

Oral begin mens net biep-biep hoor soos die selfone deurgaan. Almal bel huis toe. Die konstruksie ouens praat sommer so onder mekaar en vertel vir kaptein Potgieter dat mens mos verdomp in ‘n ander rigting kan opstyg en dan draai en dat ons nou regtig baie graag sal wil huis toe gaan. En dat Potgieter nie moet dink hulle klim vanaand van hierdie vliegtuig af voor hy nie in die Kaap geland het nie en ek dink: “My sentiments exactly!”

Langs my sit ook een van hulle, ‘n ouerige Kleurlingman van die Paarl. Ons twee begin gesels en hy vertel my hy gaan die naweek vis soek in Houtbaai, want hier in die Transvaal gee hulle vir hom net vleis en stywe pap en hy is al so lus vir snoek en patat! Ek vertel hom van die Geelbek waarvoor hulle my nou die anderdag R200 rand wou vra in Kalkbaai. Kort-kort loer ons by die venster uit en vra mekaar of dit dan nie lyk asof die reën bedaar het nie.

Half agt kom die wonderlike woorde: ons gaan opstyg! Maar ons is vyfde in die ry! Ons beweeg stadig na die aanloopbaan en dis ‘n Mango vlug net voor ons. Net toe Mango daar wegtrek, toe begin die reën weer val en ons bid hardop. Maar die neus draai en ons hoor hoe maak die kaptein daai enjins oop. Die konstruksie ouens fluit en roep: “Wen hom op Potgieter, ons wil huis toe gaan, wen hom op!”

En kaptein Potgieter gehoorsaam en ons vat daai aanloopbaan en ons gaan al hoe vinniger en vinniger en die water val, maar ons lig nie. Ek kyk vir die ou langs my en ek vra: “Moes ons nie al gelig het nie?” En die ou agter ons antwoord: “Ja, FOK, ons MOES!”

En ek, wat nie ‘n druppel bang is vir vlieg nie, maak my oë toe en ek bid soos ek lanklaas gebid het, want ons hardloop teen die spoed van witlig en ek weet daar kan nie meer baie aanloopbaan oor wees nie. En daai ouens begin singroep: “Lig hom Potgieter, LIG hom!”

En kaptein Potgieter lig hom! Maar daai water val en daai vliegtuig ruk en pluk soos ‘n tuimeldroër en ek dink ons gaan wragtig moet omdraai, die weer is net te erg! Maar Potgieter lig hom nog en ons draai en ons ruk en pluk nog so ‘n paar minute en toe is ons deur die ergste.

Kort daarna vertel die kaptein oor die interkom dat ons noord opgestyg het en dat ons nou reeds gedraai het en oor Kimberley en Wolseley gaan Kaap toe vlieg, omdat ons so van koers af gegaan het om uit die ergste storm te kom. En daai kaptein vat vir ons huistoe, al is dit twee ure laat, en hy sit vir ons mooi sagkens neer op Cape Town International gisteraand tienuur.

Dankie Kaptein Potgieter van Nationwide. Volgende week maak ons weer so. Maar Johannesburgers, ek wens vir julle net die mooiste mooiweer toe tot ten minste volgende Vrydagaand!

Advertisements

13 Responses

  1. Dankie, ons het vandag ‘n heerlike sonskyndag gehad, maar volgens die weervoorspelling lyk my dit kom al weer teen Saterdag!
    Geniet julle naweek.

  2. Dis alweer 3h00 in die oggend hier, en my gewete pla alweer! Nee, speel sommer! Ek moes die wekker vir 5h00 stel, en die vader alleen weet hoe ek dit reggekry het, maar 3h00 gaan die alarm af en Pa bespring die stort. Ons is mos oppad see toe! Nou ja, hoe vertel ‘n mens ‘n man hy is twee ure te vroeg vir sy stort??
    Ek het darem jou inskrywing vir hom voorgelees, en ons het ons papgelag. Jammer dat dit nie lyk of ek simpatie toon nie, maar ek glo nou regtig mens kry kruis na krag. Dit sou nooit met my gebeur het wat VREKBANG is vir vlieg nie! Ek sou so iets net nooit kon oorleef het nie!
    Nou gaat ek slaap – vir 2 ure! Lekker naweek!

  3. Ai Sonkind, ek lief jou posts. Jy kan ‘n ding darem so lekker skryf. Ek’s bly jy’s veilig, lekker naweek vir jou. 🙂

  4. Bly jy’s weer terug by jou eie huis!

  5. *sug* en sommer nog n SUG!!!

  6. Dankie.

    http://wagnbietjie.wordpress.com/2008/03/21/sonkind-en-zee/

    Ai tog, ons kon maar net sowel ‘n glasie wyn gedrink het.

    Jy vertel ‘n nie-lekker-storie sommer lekker.

  7. Ek hou niks van vlieg! Het ek gese ek hou niks van vlieg? Wel ek hou net mooi niks van vlieg! Hhehehe,
    ek is bly dis nie ek gewees nie. My werk en huis is nie te ver van die lughawe nie. Volgende keer bel my ook!!!

  8. Sjoe, en jy wag nogal bang dat julle nie gaan opstyg nie, gelukkig lyk dit vir my het julle ‘n goeie “pilot” gehad. Ek is bly julle het veilig anderkant uitgekom.

    Sonkind, baie dankie vir ‘n lekker kuier net jammer dit was so kort. Volgende keer hoop ek sal dit bietjie langer wees. Dankie vir die moed inpraat, ek waardeer dit baie.

    Stem saam met WnB, ons moet maar n ietsie gedrink het 🙂

  9. Bly jys veilig, en mooi vertel.

  10. SS, ‘n baie geseende Paasfees vir jou en jou familie!

  11. Die Lugwaardin R5 betaal vir ‘n smile… Mwwwwwahahahahahaha! Tussen my en jou, ek hou ook nie van Johannesburg nie, die mense daar kan nie bestuur (oor die algemeen) nie.

    Dankie vir die Sonwense, maar die eendweer duur voort. Dis lekker boek, pannekoek, Milo en blog weer…

    Geniet die res van jou paasnaweek!

  12. Wens ek het geweet jy was in die omgewing. Ek’s so dom…

  13. DM, ek is more oggend al weer daar en ons vlieg dan eers Vrydag aand half tien terug, alhoewel ons seker al so 7nm lughawe toe sal gaan 🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: