Terug by die huis.

Jip, ek is terug by my Berg en my Liefie – lekkerrrrrrrrrr! Het wel eers gisteraand half twaalf geland, maar nie omdat die vliegtuig laat was of iets nie, net omdat die vrou wat in beheer van ons reis reëlings is, so oulik was om ons eers op die halftien vlug vanaf OR Tambo na Kaapstad te boek. Wonder nou nog of sy dalk gedrink of gerook was toe sy daardie bespreking gemaak het?! 😈

Gistermiddag. toe die bussie ons oplaai om lughawe toe te gaan, sê Bruce, die bestuurder van die bussie, vir ons dat daar ‘n groot ongeluk op die deurpad was en dat hy ons met ‘n ander pad gaan lughawe toe neem. So kry ons toe ‘n lekker toer deur ‘n hele paar voorstede van Johannesburg, met Bruce wat kommentaar lewer so ver ons ry.  Die kommentaar was natuurlik ook ter wille van die ou wat ons opleiding kom aanbied het. Hy is van Engeland en het sy vlug terug Heathrow toe gisteraand half nege gekry en is saam met ons lughawe toe geneem.

Ons is deur Rosebank, deur Houghton, deur Orange Grove, wat hy “Little Nigeria” noem, deur Linksfield (ek dink) waar hy vertel dat daar net Jode bly en deur nog ‘n plek wat hy “Little China” noem en later deur Edenvale en toe die lughawe. Tussen in was daar nog ‘n paar, waarvan ek nie nou meer die name onthou nie, maar dit was nogal vir my lekker om al hierdie plekke te sien, waar ek andersins seker nooit sou gekom het nie.

Ek het vergeet om te noem dat ek Woensdagoggend in Kaapstad voor Krynauw van Egoli gestaan het in die ry om deur die sekuriteitshekke te gaan, maar natuurlik vlieg hy SAL, seker te “grand” vir Kulula. Maar raai wie vlieg toe gisteraand saam met my?…   Oubaas (van 7de laan) en sy jong bokkie! Sjoe, maar sy kyk mooi na hom. Terwyl ons in die ry staan, liefie sy hom en sy trek sy hemp mooi reg en soen hom op die wang. Ek spot nie nou nie, ek dink sy is regtig erg oor hom. En hy lyk en tree presies net so verstrooid op soos in die sepie.

Op Johannesburg se lughawe het niemand hulle gepla of oe of aaa gemaak oor hulle nie. In Kaapstad het ons so saam-saam ons tasse gekry en na ek en Liefie die parkering betaal het en omdraai om te loop, stap hulle voor ons verby, saam met hulle eskort, twee sulke lekker brekers. Hulle bly toe so ‘n entjie voor ons loop en net waar ons die onderdakparkering verlaat en moet oorkruis na die oop parkering, kom drie Kaapse kleurling outjies van voor af. Eers besef hulle nie wie hulle sien nie en toe steek hulle viervoet vas en sê: “Oubaaaaas, wat maak djy hier?” En hulle kyk so rond en sien ons en sê so ewe: “Kyk, hier is Oubaas!”

Oubaas smile maar net en knik sy kop en die brekers eskort hom verby, maar die laaties kyk en sê weer: “Oubaaas, lekker kuier hier innie Kaap, hoor!” En hulle kyk vir ons, en sê: “Haaits, ons loep nog soe en hier is Oubaas skielik lewensgroot voor ons!” Ek lag en sê: “Ja, my broer, hy was tog saam met my op die vliegtuig.” Hulle check my so uit en skud hulle koppe: ” Haaits, daaisie fair nie. Lucky djy.”

Toe lag ek maar net en loop verder en weet, ja my broer, nou weet jy jy is terug in die Kaap, by die huis. 😆

Advertisements

13 Responses

  1. Jy moet stilbly oor daai shortcut lughawe toe – dis my noodpaadjie! (en baie min mense gebruik dit…)

  2. ” Haaits, daaisie fair nie. Lucky djy.” Gelukkig was dit net oubaas en nie San Marie of Paula nie. Dan sou jy hulle gehoor kommentaar lewer het! Bly jy is terug, en lekker dag vir jou…

  3. Ek moet eendag jou ‘huis’ kom uitcheck! Klink na interessante karakters wat julle daar het. 😀
    En ek’s bly jy is weer by jou liefie. Wanneer is jy weer op jou bicycle…of eerder aerie? (En belangriker, wanneer kom kuier jy nou vir ‘n slaggie by MY??)

  4. /me wil nooit ‘n celeb wees nie! Toe ons vanoggend gaan kruideniersware koop het, moes ek ten minste vir 3 mense hallo sê vir wie ek skoolgehou het. Ek kan nie dink hoe dit is as jy ‘n celeb is nie!

    O, en ek is bly jy het nog ‘n rondte van Gauteng oorleef. Dis nie vir sissies nie! ;-P

  5. Welkom terug by jou huis. Plaas jy vir daardie twee vra of hulle nie jou handtekening wil hê nie.

  6. Jammer ek het jou alweer gemis, tussen die siektes deur kon ek dit nie maak nie… 😦

  7. NetJane, self sal ek daai pad lughawe toe NOOIT weer kry nie, al martel hulle my 😆

    Pikkelik, as dit Paula was, sou hulle seker nou nog daar gestaan het met oophang monde!

    Boendoe, as ek weg was van die huis en ek kom terug en ek hoor daardie Kaapse Kleurling dialekm dan skop my hart choclits, want dan weet ek, hierdie is my huis, for better or worse. Dit lyk my ek gaan eers Egipte sien voor ek Angola sien, jong. Sal jou op hoogte hou.

    Nico, wat jou nie dood maak nie, maak jou sterk, of hoe sê hulle? Een van die dae moet Gauteng bly wees as hy MY oorleef! 😉

    Attie, ek dink nogal hulle sou my handtekening gevat het, al was ek nou net op dieselfde vliegtuig 😆

    Daar is altyd volgende keer DM. Hoe sê hulle nou weer: “All good things come to those who wait!” 😆 kliphard!

  8. Demmit! Ek sal begin voetslaan en die Nyl oproei. Kry jou by die eerste piramiede!

  9. Nee Sonkind, laat ek dit maar nou sê soos ek dit lees…….daai berg toor met jou! Wat my bekommer in jou eerste sin sê jy ek is terug!!!! by my berg en my liefie, wonder nou net of liefie bewus is dat die berg voor hom is. ha ha
    Mens kan sommer lees jy is terug in die Kaap!
    Groete

  10. 😆 @ Wipneus. Kom ons volstaan eerder net deur te sê ek het hulle in alfabetiese volgorde genoem en nie volgens belangrikheid nie! 😉

  11. Halo! Ek lees OR Tambo en het vir ‘n oomblik gedink jy was êrens anders in Afrika. Ek was meer as twee jaar laas in die RS of A en bly nie by die naamvernaderinge nie.
    Op een vd die kortpaadjies na die lughawe ry mens eers verby Fourways met reusasgtige mansions, en die volgende oomblik by die shacks van Diepsloot. Interessant, kannie sê ek mis die depressing sigbare gaping tussen die haves en havenots nie. Tot later!

  12. ek gooi ook so nou en dan ‘n draai hier by jou, sonnige kind, en dankie vir jou komtaar op my blogspot.
    hoe maak ek dat jy makliker ‘n kortpad kry na my, dat die kuiers sukkelvry kan wees?

  13. Daar is niks soos mens se eie huis nie. Geniet jou liefie en jou berg! 😉

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: