Viva Tequila!

Hier word deesdae geskryf oor koffie en oor wyn. Een koppie koffie op ‘n dag is genoeg vir my en een glas wyn op ‘n dag is te veel vir my. Gee my eerder Tequila!

Die feit dat George besluit het om Tequila af te sweer het my laat besluit om bietjie te gaan uitvind wat is Tequila nou eintlik. Waar kom dit vandaan en al daai 12 dinge.

Tequila, ‘n eeue oue Mexikaanse drank, word gemaak van die hart, ook genoem die “pina”, van die blou agave plant. Die blou agave, een van oor die 200 soorte agave spesies, is die enigste agave plant wat gebruik mag word om Tequila te produseer en dan die naam Tequila mag dra. Drank wat gemaak word van enige van die ander tipes agave plante, word Mescal genoem.

Sodra die blou agave plant ryp is, ongeveer 8 tot 12 jaar nadat dit geplant is, word die lang blare afgekap deur ‘n opgeleide Jimador, iemand wat agave oes. Die blou agave word net daar skoongemaak en net die pinas, die harte, word na die distilleerders vervoer. Hier word dit opgekap en gerooster, sodat die agave se natuurlike suiker kan uitkom.

Daar is 5 soorte Tequila.

Blanco of Silwer: – Dit is Tequila wat onmiddellik na die distilleringsproses gebottel is en wat die ware aroma en geur van die blou agave bevat. Hierdie soort is baie sterk en word in klein glasies bedien.

Goud: – Dit is Tequila Blanco wat versag is met bygevoegde geursels en kleursel, waarvan karamel die mees algemene is.

Reposado: – Tequila Blanco wat in wit eikehout vate verouder is, vir meer as twee maande tot en met ‘n jaar. Die vate gee aan Reposado ‘n sagte blou agave geur en ‘n bleek, amber kleur.

Anejo: – Hierdie Tequila moet vir ten minste een jaar verouder het in vate waarin voorheen whiskey of konjak was, om die unieke geur te kry wat eie is aan Tequila Anejo.

Reserva: – Hierdie word nie deur die Mexikaanse regering erken as amptelike Tequila nie, maar dit is ook die skaarste soort Tequila. Reserva is ‘n spesiale Aneja wat deur distilleerders in “reserve” gehou is, in eikehout vate, vir so lank as 8 jaar! Dit het ‘n komplekse en intense geur.

So, Tequila is nie sommer net nog ‘n drankie uit ‘n eksotiese land, wat jy moet drink net om dronk te word en die volgende dag ‘n kopseer te hê nie. Agter al die mooi bottels en snaakse name, is ‘n 3 eeu-oue industrie, wat saamloop met ‘n land se kultuur en tradisies.

REGTE Tequila kan net uit Mexiko kom. Dit word daar geproduseer en gebottel, so as daar nie op jou Tequila bottel staan dat dit van Mexiko af kom nie en die bottel het nie die CRT seël nie, moet dit eerder nie drink nie!

Hoe drink mens Tequila? Wel, dis nou net hier waar die groot misverstand is. Mens drink nie ‘n “shot” Tequila nie, nee. Tequila ‘shots’ met suurlemoen en sout is ‘n Hollywood mite en slegs toeriste drink Tequila so.

Tequila moet langsaam geproe word en stadig gedrink word om die totale smaak te kan geniet. In Mexiko gebruik jy Tequila saam met “Sangrita” of “little blood”. Dit is ‘n mengsel van lemoen, tamatiesap, speserye en lemmetjie. Dit komplimenteer die smaak van Tequila en is baie beter as net sout en suurlemoen.

Tequila moet eintlik as aperatief gedrink word, want dit stimuleer die eetlus. Meer verouderde Tequila, soos “Reserva de la Familia Cuervo” word na ete gedrink, soos Konjak.

Tequila is die drank van die gode. Salud!!

Advertisements

17 Responses

  1. Daai Sangrita laat my nogals dink aan ‘n bloody mary so effens. Ek weet nie jong, dis vir my lekker om dit net met die suurlemoen te drink ook.
    🙂

  2. Dankie, dit was vrek interessant. Tequila is vir my baie sterk – as ek dit drink wil ek dit altyd so vinnig as moontlik oor en verby kry! Ek het nog nooit probeer om dit soos ‘n connoisseur slukkie vir slukkie te proe nie.

  3. Dis baie interessant! Ek moet erken, ek het nog net Tequila soos ‘n toeris gedrink. Maar noudat ek weet dis ‘n drankie wat respek verdien, sal ek sip-sip en nadink oor wat ek proe!

  4. Kierts! Manman gaat darem slim raak tussen hierdie Kapenaars – koffie, wyn, tequila … ding is te bang om te wonder wat is volgende! 🙄
    Ding het groot waardering vir julle moeite – altyd lekker om iets te leer terwyl manman ontspan.

    Jawel, ten minste troos manman hom daaraan dat sy toeris-drinkgewoonte van tequila ‘n verdere bevestiging is daarvan dat hy eintlik maar niks anders is as net ‘n toeris deur die landskap van die aardse lewe nie! 😉

  5. Dankie Sonkind. Ek sal maar weer die perd opsaal. Ek sal gaan dink hoe ‘n mens dit moet drink. Wat jy skryf maak sin, maar so ook wat Ding geskryf het. Ons is toeriste. Miskien hang dit van die geleentheid af?

  6. Dankie Son, hierdie was nou werklik insiggewend, alhoewel ek glad nie Tequila drink nie. Ek kon nog nooit ‘n smaak daarvoor ontwikkel nie. Gee my maar eerder outydse brandewyn en my glasie rooi wyn, per geleentheid.

    Ja Ding, hierdie bloggerasie het vir my ook as ‘n heel leersame oefening uitgedraai. Nooit gedink ek sal ‘n dominee hier raakloop nie. En nou weet ek ook wat sit in my oggend se koppie wakkerword.

    Ek sal nou nie so waaghalsig wees soos Boer met sy rou seekos nie, sal eerder net bietjie van Bertus se broodjies probeer. Hier het ek ook ander interessante goed raakgeloop, soos hierdie kontroversiële en andersdenkende jong man. Dan het ek ook nagedink oor onsterflikheid en ek, wat nog nooit in Welkom was nie, voel nou ook welkom daar.

    Bepaald meer gekry as waarop ek gereken het. En ook ‘n goeie idee vir my volgende inskrywing – bietjie regte inligting oor rooiwyn, vir die ernstige drinkers.

  7. Ag nee, Son en Ding, ek het nou gedink ek is slim, maar die skakels na die ander blogs het nie reg uitgekom nie, so vergewe maar die lang inskrywing. Maar julle ken ook seker teen hierdie tyd al die pad na die ander plekke. 🙂

  8. “Viva Tequila Viva”

    Neeneenee, nooit weer tequila nie. LOL!!!

    Wingerdman, Basil sal nog nooit sy skandes hier kan vertel nie, dan sal Uno mos nooit vir Basil na daai vallei nooi nie. LOL!

    Dit is hier, ja, hier in die wingerdland waar ek kom slim raak het van wyne en al daai lekker
    brandewyne.

    Daar is tog so baie om van te kies maar eintlik is meeste wyn seker maar goeie wyn. Ek het ook hier kom leer dat elke wingerdman glo sy mengsel is die beste.

    Trossie, daar in die vallei is baie goeie wyne natuurlik. Basil en son ry gereeld in daai rigting van jou wingerd en verby nie sonder om ‘n wingerd se wyn te proe of te koop nie.

    Dis nou daai ry in die vallei wat Basil vreeslik geniet want kyk, Basil kan proe en sien dat daar word goeie mengsels gemaak in daardie vallei.

    Trossie maak mos uit van daai warmbad wat daar in vallei lê!!!

  9. Baie verfrissend! Terloops, hoeveel bottels Tequila dink jy behoort mens te kan verdien deur ‘n hele storieboek in te scan?

  10. 😆 @ MKOB! Hoeveel wil jy he, Kop? Nou nooit gedink jy kan dalk omkoopbaar wees nie! 😀

  11. SkoorLief drink graag Tequila op ys, maar deur die jare van eksperimenteer met die alkohol, is my maagwande te dun vir daai agave se tande!

    Ek het een aand, jaaaare terug, in ‘n Catina Tequila gesit, ek dink deel van die dekor was dat daar toilette onder die tafels vasgepleister is. So ‘n funny plek, waarvoor ek vandag sal frons, ‘nee dankie’ se, en omdraai. Maar as mens jonk is, what the hell.

    Daai aand sit en drink ek en my liewe vriend affie Transvaal so Sangrita, toe ek opstaan, voel dit kompleet of my voete nog langs die pot staan. Nee goeie geestes, daai was my laaste Sangrita.

    Van ‘n vol bottel Olmeca het ek sommer in ‘n agtermiddag ‘n blompot gemaak. Gee my net een goeie pel, ‘n lekker klomp musiek, en genoeg grappe.

    Goddank daai is nou van die verlede. Nee, dis viesword vog daai.

    Ek verkies my deesdae my Americano, my volronde rooi en ‘n yskoue Sauv met ys.

  12. Kop – watter boek scan jy, h’ummm?

  13. Ek het dan ook nog altyd Tequila gedrink soos ‘n toeris… 😆 maar dankie, nou weet ek van beter! Sangrita klink vir my baie lekker.

  14. Sonkind, dankie vir hierdie interessante inskrywing! Ek is ‘n groot tequila-liefhebber. Gooi hom altyd as ‘n aperetief in my keel af. Soms dinki mense dis nogals snaaks, dan vertel ek hulle, ek doen dit om my lewer wakker te maak vir wat kom.

  15. Ek hou ook baie van tequila, maar ek drink hom graag so met die sout en die suurlemoen. Magtag, nou is ek lus. Tequila werk natuurlik ook wondere as mens ‘n effense sooibrand het, hy slaan dit weg.

  16. hehehe tequila….daar is niks lekkerder nie en niks maak lekkerder nie

  17. Sonkind, ek luister vanmôre op pad werktoe weer na Hugo se CD “deur die straights”. Daar’s ‘n song op wat dalk spesiaal vir jou geskryf is: Rooi son en Tequila! Dit begin met die woorde “Ek wens vir jou ‘n rooi son, en ‘n lyf vol tequila”! He he he!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: