Somer, son en saffier

Lanklaas REGTIG hier geskryf, soos in sommer net uit die hart uit geskryf. Maar nou ja, hoe gaan daai liedjie – “al die eksamens is nou klaar!”

Die afgelope weke was dit leer, leer en leer en eintlik het ek in elk geval nog steeds te min geleer en hopelik sal ek darem deurskraap aan my broek se gat. Van skooldag af het ek hierdie teensin in leer gehad, het net altyd baie mooi geluister in die klas en dan so ‘n deurnag swot gedoen die dag voor die eksamen. Het darem nooit iets gedop nie, ook seker net aan my beskermengele (en ‘n paar breinselle) te danke!

Maar nou is hierdie jaar se eksamens verby, vir my in elk geval. Die wat nog skryf, sterkte. En moenie eers die dag voor die tyd begin leer nie – ha ha ha! Net so ter afsluiting hiervan, vandag was Percy Sledge en Peter Tosh en Nina Simone deel van my eksamenvraestel – so ek wonder – wie de F stel deesdae eksamenvraestelle op?

Elk geval, nou kom die somer en die son en die lekkerste deel van die jaar. Hierdie tyd van die jaar is altyd vir my die heel heel lekkerste. Vroeg soggens is dit lig en die duiwe koer in die bome. Dis maklik om op te staan en ek wals deur die huis en sit die musiek “full blast” aan. In die verkeer is minder suur gesigte en mense ry nog soms met hulle ruite afgedraai hier in die Kaap en mens hoor musiek uit die motors kom. Nie daai doef-doef musiek van taxi’s nie, sommer net lekker musiek.

By die werk is die lippe nie so dik en so lank nie en as ons huis toe gaan, skyn die son nog. Dis LANG somersaande. Somtyds, na aandete, ry ons Blouberg toe en gaan loop op die strand, sien hoe sak die son. Gaan drink na die tyd ‘cocktails’ by een van die plekke langs die see. Een van my gunsteling plekke is Doodles.

 Sunset

Een van die dae sal die GP-karre begin instroom, maar dis ook lekker. Dis ander gesigte, ander mense. Naweke is die strande vol en mense loop langs die see met roomyse, met seewater druppels wat op sommige lywe blink. En daar is die reuk van somer, son en saffier in die lug. En ‘n gevoel van welbehae!

Mag hierdie somer ook draal, soos daai vaag bekende deuntjie uit die baie ou verhaal!

18 Responses

  1. Ek sal elke jaar Oktober ‘n eksamen skryf as ek die res van die jaar in die Kaap mag bly. Ek hou nogal van Percy Sledge, hy’t ‘n paar mooi songs gehad.
    (Mooi geskryf – lyk my ons gaan nou die vakansie-feeling begin kry.)

  2. Wel-wel, Sonson, was bepaald nie een van ding se vraestelle nie, want ding se karakters wissel enigiets van Peter Stuyvasant en Paul Revere, Jack Daniels, Dimple Haig, Johnny Walker, Blackie Label, Rookie Crook, tot by Pussy Galore, Ivana Humpalot, Adam Noteve en Steve Noteve, Dyke en Lessy Wellhung en dan natuurlik die rerige rowwes … hehe (die laaste helfte van die klomp hierbo word gewoonlik gebruik wanneer Stoutsus help opstel aan die vrae!)

  3. Ag, dit was sommer net mooi. Ek is mal oor Suid-Afrikaanse somers. Vrugteslaai in die tuin; Hoëveld donderstorms; warm teerpaaie in die aand; familie en vriende; eindelose groen dae; seevakansies. En die winter hier by my het nou maar eers begin. Dankie vir nog ‘n laaste stukkie son.

  4. Nina Simone was deel van jou vraestel?! En jy kla oor swot? Good grief, ek swot haar sommer vir die lekker op.

    Doodles is cool. Dalk het ons al langs mekaar gedrink en weet dit nie eers nie. 🙂

  5. Besef julle Kapenaars hoe uiters gelukkig julle is om in die mooiste, mooiste Kaap te bly? Ons kan darem self nie kla hier in Gauteng nie, die wereld is lieflik groen na al die reen. 🙂

  6. Ja, die Kaap is ‘n anderste mooi plek.
    Ons kry nou so weekliks ‘n reenbui, net om die gras mooi groen te hou – dorpswater doen mos nie die ding vir ‘n tuin nie. Al die chloor vergeel eerder die blare!
    Die mooiste vir my van die Kaap, is die berge. As die rotse saans toegevou word in ‘n pienk en pers kombers, en die skaduwees tydsaam die berg omskep in ‘n bewegende slaapkous. Dan is ek op my gelukkigste.
    Met my oe op die berge.

  7. Jou gelukkige mens! Hoe verlang ek nou na die Kaap!

  8. Ek self hou van Doodles…en somer. Was altyd ‘n winter mens, maar hoe ouer ek word (of eerder hoe meer ondervinding ek in die lewe opdoen), hoe meer begin ek winter verpes. Wat swot/skryf jy?

  9. Sonstraaltjie – hierdie is sulke mooi mooie woorde. Hier raak my vingerpunt nou aan joune, sien.

    Skoorblok, as ek vroegaand, sonsaktyd, so by my kantoor se venster uitkyk, dan sien ek hoe sak daai kombers van jou so saggies oor my berge neer. My hart is vas verweef aan hierdie wynland, bergland van my.

    Jy en Sonstraaltjie kan gerus ‘n glasie port saam met my klink.

  10. Welkom Bastardo – en ek raak met my vingerpunt aan joune – soos ET!;-)

  11. Roer – sorry, wou jou nog antwoord. Kom ons sê maar net ek swot daai ding wat moet besluit: Stuur ek hulle tronk toe of stuur ek hulle parlement toe? 😆

  12. Is dit Doodles in Bloubergrant, daai plekke reg oorkant die pad van die strand?

  13. Dis hy daai, Bertus – die einste hy! As jy nou ook daar kuier, dan moet ons almal dalk ‘n slag SAAM daar kuier 🙂

  14. Ek het net oorkant die duin van daar gebly tot so jaar gelede. Sal graag weer daar kuier een of ander tyd. Wat doen ‘n meisie van Durbanville dan in daai we^reld?

  15. Ek is mos ‘n Gypsey! 😆

    Ons kuier daar, ek is ‘n sucker vir cocktails en hulle s’n is lekkerrr. En die cocktails van die plek oorkant die Lagune in Langebaan. En Primi se “jam jar”.

    Ek doen cocktail crawling as ek die kans kry – ha ha ha!

    Net so by the way, ek bly nie in D’ville nie – te veel snobs. Ek bly in die Paarl. 😉

  16. ‘n Primi jam-jar, wanneer dit te donker raak op die Purple Turtle se grasperk. Ja!

  17. Son, en jy meen nou te sê die Paarl het NIE snobs nie? ❓

  18. Touché, Bastardo! 😆

Lewer kommentaar op sonkind Kanselleer antwoord