Verlore kinders

Net soos ek, is my vriendin ‘n vurige leser. Sy is egter versot op historiese romans, met ‘n held en heldin en ‘n “happily ever after”. Ek hou van iets met meer om die lyf.

Anderdag kom sy by my aan met hierdie boek:

“Jy MOET dit lees, dis verskriklik. Ek kan nou nog nie glo sulke dinge het gebeur nie.”

Die boek lyk vir my soos een van haar tipe boeke en ek wil-wil eers die boek eenkant sit, maar iets dryf my om dit tog te lees. Op ‘n manier is daar toe ook ‘n “happily ever after” vir een van die karakters, maar wat ek in die boek lees, skok my tot so ‘n mate dat ek gaan naslaan om meer te wete te kom. Wat ek op afkom, is NIE vir die “fainthearted” nie, maar ek voel tog om dit te deel.

Dis ‘n ongelooflike storie, een wat meer na ‘n slegte fliek klink as die werklikheid, maar dit het regtig gebeur. In die twee dekades na die Tweede Wêreldoorlog is 10 000 Engelse kinders na Australië gestuur. Baie van hierdie kinders is mishandel en misbruik. Vir al hierdie kinders is daar gelieg.

Die storie begin in Engeland na die oorlog – ‘n triomfantelike nasie, maar nogtans gehawend, bankrot en met die las van oorvol kinderhuise. Baie van hierdie kinders is na tehuise gestuur deur familie wat doodeenvoudig te arm was om hulle groot te maak. Wat hierna gebeur, is amper onmoontlik in ‘n beskaafde land in moderne tye.

Die Britse regering, in samewerking met die kerke en welsynorganisasies, smee ‘n geheime plan om van hierdie kinders ontslae te raak. ‘n Plan wat eers in die laat negentiger jare oopgevlek word. Hierdie kinders word vertel dat hulle na ‘n wonderlike nuwe land, met baie geleenthede, gaan en dat hulle daar ‘n groter kans sal hê om deur liefdevolle families aangeneem te word. En hulle is in hul duisende verskeep na Australië. So eenvoudig soos dit.

Die eerste skip wat in 1947 vertrek, is die SS Asturias. Vrag: 147 seuns en meisies. John Hennessy, een van die seuns en 11 jaar oud op daardie stadium, vertel:

“Ons het gedink Australië was net om die draai. Hoe moes ons weet dis aan die anderkant van die wêreld? In elk geval, hulle het ons vertel dis ‘n wonderlike plek met baie vrugte.”

Soos baie ander kinders, het Mary Molloy nie mooi begryp wat aan die kinders voorgestel is nie: “Ek het gedink ons gaan net weg vir ‘n rukkie.

Regoor Brittanje, by weeshuise en ander inrigtings, is dieselfde ding aan al die kinders vertel: julle gaan na ‘n nuwe land, ‘n nuwe lewe, ‘n nuwe familie. Baie was buite-egtelike kinders. Ander was kinders van enkelma’s wat finansieel nie meer alleen die mas kon opkom nie.

Vir al hierdie kinders is vertel dat hulle ouers dood is en dat hulle nou weeskinders is. Daar was niks en niemand meer vir hulle in Engeland nie en hulle sou beter af wees in die nuwe land.

Oor die volgende 20 jaar is 10 000 kinders, sommige so jonk as 3 jaar en geeneen ouer as 15 nie, na Australië gestuur.

Ses weke en 12 000 myl later, het die kinders arriveer in Fremantle hawe in Wes-Australië. Die kinders het opgewonde rondgekyk vir die vrugtebome, die kangaroos en hulle nuwe families, maar daar was nie ‘n teken van enige van hierdie beloofde dinge nie Daar het iets heel anders op hulle gewag.

Hierdie kinders was bloot ‘n kommoditeit wat uitgevoer is deur ‘n nasie wat ‘n surplus van kinders gehad het. Hulle is bloot verskeep vanuit inrigtings in Brittanje na inrigtings in Australië. Geen wonderlike nuwe lewe of familie het vir hulle gewag nie – slegs pikke en grawe en harde arbeid.

Hennessy vertel: “Nadat hulle ons vingerafdrukke geneem het, het hulle susters en broers van mekaar geskei. Die kinders het geskree toe hulle geskei word. Ek hoor vandag nog hoe hulle skree.”

John Hennessy is na ‘n plek genaamd Bindoon gestuur, ‘n inrigting wat bestuur is deur die ‘Christian Brothers’, ‘n orde van Katolieke monnike, 60 myl uit die beskawing, in die snikhete bosveld van Wes-Australië. Bindoon was ‘n inrigting en skool vir seuns, maar hier was onderwys geensins prioriteit nie.

Prioriteit was konstruksie. Broer Francis Keaney, ‘n imposante Ier wat aan die hoof van die inrigting was, het ‘n obsessie gehad om Bindoon op te bou as die grootste Katolieke inrigting in Wes-Australië. En die kinders was die arbeiders. Van sonsopkoms tot sonsondergang moes hierdie kinders aan Keany se heiligdom bou, sonder skoene en sonder vrae.

Bindoon is vandag ‘n regte skool, ‘n landboukollege, en word steeds bestuur deur die ‘Christian Brothers’. En oudskoliere is nie welkom nie, veral nie as hulle vergesel word van die pers nie. Dié wat dit gewaag het, is weggejaag van die perseel af. Die ‘Christian Brothers’ is nie gretig om blootgestel te word as gebruikers en misbruikers van kinderarbeid in die onlangse verlede nie.

Vir hierdie kinders was daar geen ontsnapkans nie. Die kos was soos iets uit ‘n Dickens verhaal. Hulle was konstant honger en ondervoed. As enige een gevang is waar hy kos steel, is hy kaal uitgetrek en byna doodgeslaan met ‘n sambok, voor al die ander kinders. Broer Keaney het self die slaanwerk gedoen.

Lyfstraf was deel van die kinders se daaglikse roetine. Deel van die nagtelike roetine was besoeke aan die kinders se beddens, deur die ‘Christian Brothers’. Soms het hulle seuntjies selfs jonger as 10 jaar uit hul beddens kom haal en gesodomiseer.

Daar was niemand na wie hierdie kinders kon vlug nie. Die Australiese regering, wat veronderstel was om die kinders se voog te wees, kon hulle net sowel weggegooi het. Geen kinderwelsynsbeampte het ooit gaan seker maak dat hierdie kinders versorg is nie.

Die hoof van die ‘Christian Brothers’ in Wes-Australië, Tony Shanahan, erken dat daar kinders misbruik is, maar gee voor dat dit nie so erg was nie en meeste van die stories erg oordryf is. In 1993 het die Christian Brothers’ egter in antwoord op ‘n regsgeding, amptelik verskoning gevra teenoor die kinders en skadevergoeding ter waarde van 2.5 miljoen doller aan 250 gewese inwoners uitbetaal. Die meisies, wat na ander plekke gestuur is, is baie min seksueel misbruik in vergelyking met die seuns, maar hulle is net so erg fisies mishandel en geslaan en moes ook as goedkoop arbeid werk.

In 1967 het hierdie verskeping van kinders na Australië skielik opgehou. Die doodeenvoudige rede was dat Brittanje nie meer kinders vir uitvoer oorgehad het nie. Van die 10 000 kinders in Australië is net 5 aangeneem deur families. Bitter min van die kinders het geboortesertifikate of dokumente van enige aard gehad. Dit wil voorkom asof hul vaderland hulle doodeenvoudig net spoorloos wou laat verdwyn.

Mary Molloy het grootgeword in ‘n inrigting buite Sydney. Toe sy as volwassene gaan aansoek doen vir ‘n paspoort, het daar ‘n verrassing op haar gewag.

“Die enigste manier waarop ek ‘n paspoort kon kry, was om ‘n genaturaliseerde Australiër te word,” vertel Mary. “Ek het gedink ek was. Die hele storie was malligheid. Ek is al hier vandat ek 9 is. Ek is hierheen gestuur en tog word ek nie gesien as ‘n burger van hierdie land nie. Volgens Brittanje bly ek ook nie meer daar nie. So, waar behoort ek? “

Vir dekades het Engeland dit reggekry om van hierdie weggooi-kinders te vergeet. Vir dekades het hierdie kinders geglo hulle was almal weeskinders. Maar ‘n handjievol jare terug het hierdie verlore kinders – nou verlore volwassenes verspreid oor Australië – tot hul skok uitgevind hulle is vir 50 jaar belieg en bedrieg deur die regerings van Brittanje en Australië, die Katolieke kerk en die Kerk van Engeland.

Hulle was nie weeskinders nie. Hulle het families gehad in Engeland, families wat genoodsaak was om hulle in kinderhuise te los, maar alle intensies gehad het om hulle weer te kom haal sodra hulle finansieel in staat was om vir hulle te sorg.

Een van hulle, Tony Jones, was geskok toe hy hoor dat sy ma nog lewe. Omdat Maud Jones te arm was om vir Tony te sorg, het sy hom na ‘n kinderhuis gestuur. Sy het nooit toestemming gegee dat Tony na Australië kon gaan nie. Haar toestemming is nooit eers gevra nie!

Twee weke voor Tony met sy ma herenig sou word, is sy oorlede. Hy was gebroke. “Ek het my ma in haar doodskis gesien. Dit was die mees hartverskeurende ervaring van my lewe. En hulle het geweet sy lewe. Die ‘bastards’ het geweet!”

As seuntjie het die Kerk van Engeland vir Tony gesê sy ma is dood. Dit was ‘n leuen. As volwassene het die Britse en Australiese regerings vir Tony gesê sy rekords bestaan nie. Dit was nog ‘n leuen. En Tony Jones is nie die enigste een met wie dit gebeur het nie.

Margaret Humphreys, ‘n Engelse welsynswerkster, het begin om hierdie veragtelike stuk Britse geskeidenis oop te krap, nadat een van haar kliënte haar vertel het dat haar jonger boetie as kind per skip na Australië gestuur is. Humphreys het ‘n trust gestig om hierdie kinders te help om hul geboortesertifikate, hulle ouers en hul verlede te vind.

Humphreys het uitgevind dat van al 10 000 kinders, was slegs EEN werklik ‘n weeskind. Regoor Engeland het hulle ouers en familie gevind van hierdie kinders. Geeneen van hierdie ouers het geweet dat hulle kinders na Australië gestuur is nie, geeneen het toestemming gegee nie. Daar is bloot aan die ouers vertel dat hul kinders uitgeplaas is by liefdevolle families in Engeland, baie goed aanpas en dat die Welsyn nie gaan toelaat dat hulle lewens weer ontwrig word nie.

Humphreys sê duisende van hierdie sogenaamde “weeskinders” het nog nie hulle ouers gevind nie en omdat beide ouers en kinders reeds oud is, raak die tyd min.

Die Australiese regering het geen hulp aangebied om hierdie kinders se families te vind nie. Toe daar vir Philip Ruddock, die Australiese minister van immigrasie, gevra is hoekom die regering nog geen verskoning teenoor hierdie kinders gevra het nie, het hy geantwoord.

“Ek weet nie waarvoor ons verskoning moet vra nie. Wat ons in Australië wou doen, was om jong mense hierheen te bring en hulle geleenthede te bied vir ‘n nuwe begin, ‘n nuwe lewe. En hulle het van daardie geleentheid gebruik gemaak. Ek is glad nie seker dat al hierdie aaklige stories waar is nie.

Sover dit Engeland aangaan, is daar sedert hierdie kinders se vertrek na Australië net een groot stilte oor die hele onderwerp. Die Engelse stel nie belang hierin nie. Hulle wil nie daarvan weet nie. Dis asof hierdie kinders met hulle vertrek uit Engeland doodeenvoudig ophou bestaan het vir hul vaderland en sy mense.

Wie in die Britse regering het geweet van hierdie kinders se verskeping? David Hinchliffe, ‘n lid van die Parlement en die leier van die Britse regering se ondersoek na hierdie gebeurtenis, glo dat baie hoë amptenare – insluitende die eerste minister, die aartsbiskoppe, moontlik selfs die koningin – heel waarskynlik bewus was van die skema.

Die beste waarmee die Britte vorendag kon kom na 50 jaar, was om in 2000 te erken dat die skema misleidend was en ‘n reisfonds is gestig vir kinders, nou volwassenes, wat wou terugkom om met hul families herenig te word.

Sedert 1999, toe die meeste van hierdie wrede skema op die lappe gekom het, het daar nog baie volwassenes vorentoe gekom om hul stories te vertel as verlore kinders. Sommige is na ‘n half eeu weer met familielede herenig.

John Hennessy, een van die seuns wat by Bindoon mishandel en misbruik is, is ook in 1999 met sy ma in Engeland herenig. Hy was 65 jaar oud en sy ma 86.

Die merkwaardigste ding van hierdie stuk geskiedenis, is dat dit amper nooit vertel is nie. As ‘n maatskaplike werker in Nottingham nie per ongeluk hierop afgekom het toe sy ‘n ander geval probeer opspoor het nie, sou hierdie tragiese stukkie geskiedenis nooit die boeke gehaal het nie. Nóg die Britse regering, nóg die Australiese regering en nóg die ‘Christian Brothers’ wou dat die wêreld hiervan te hore kom nie. Hulle het almal gehoop dat die tyd dit sou laat verdwyn en dit het amper. Die jongste verlore kinders is reeds in hulle 50’s

Nog ‘n paar dekades en daar sou niemand oor gewees het om die stories te vertel nie. Daar is wel ‘n reisfonds, maar daar mag dalk binnekort ook nog regsgedinge wees. Maar daar kan nooit geregtigheid vir hierdie verlore kinders wees nie.

Die uiterste tragedie vir hierdie kinders is iets waarmee die meeste van ons ons nooit sal kan vereenselwig nie. Probeer jou voorstel dat jy nie een enkel gelukkige herinnering uit jou kinderdae kan onthou nie. Nie een nie.

Ja, dit is wat hierdie verlore kinders nie het nie. Geen gelukkige herinneringe uit hul kinderdae nie. En dit is iets wat niks en niemand ooit vir hulle sal kan teruggee nie!

Bron: http://www.cbsnews.com/stories/1999/03/24/60II/main40269.shtml

30 Responses

  1. Sonkind, dit herinner my aan Kanada. Kanada het sy eie waarheids-en versoeningskommissie in die lewe geroep om die vergrype teen Indiaanse kinders te ondersoek. Indiaanse kinders is met geweld van hulle ouers weggeneem en na skole gestuur wat deur die Katolieke, Anglikane en Verenigde Kerk bedryf is om die kinders te forseer om Christene te word.

    In die skole is hulle fisies, psigies en seksueel misbruik. Na bewering het 50,000 gesterf. Hulle is in ongemerkte grafte begrawe en hulle ouers is nooit vertel nie. Meisies is teen hulle wil gesteriliseer. Daar word verder beweer dat dominees en polisiemanne die kinders uitgehuur het as prostitute.

    Dit maak my siek om sulke dinge te lees.

  2. Dis verskriklik! Die Britte het natuurlik dieselfde met die Aborigines gedoen en daardeur hulle hele familiestruktuur verwoes. Eers onlangs het die nuwe Eerste Minister van Australië jammer gesê.

    Kinder lewens is mos nie iets waarin mens kan handel dryf nie!

    Baie goeie inskrywing, dankie.

  3. Dit gaan my verstand te bowe dat die kinders vir 50 jaar stil gebly het. Dit is wat ek haat van party mense se dissipline. Kinders word gesien en nie gehoor nie.

    Kinders is klein en nie stupid nie. Hulle word groot en hulle kan as groot mense verantwoordelikheid eis vir wat hulle oorgekom het.

    Die kerke, die lande en politici behoort hulle te skaam. Hulle het dalk nie op aarde rekenskap gegee nie, maar hulle dag kom.

  4. Dis om van siek te word! Ek kan nie glo dat daar sulke monsters in die samelewing is nie! Soos Jane se: Hulle dag sal kom!
    Dit moet regtig hel op aarde wees om so te moes grootword. Die kerk/politici is ook maar ‘n verrotte spul!
    Dankie vir hierdie stuk inligting.

  5. Ai, dit is so flippen sad. En ORAL in die wêreld kom die fenomeen voor. Die groot leuen word oor en oor vertel tot die leuenaars hulleself al begin glo. Die wiel draai! Die sad ding is dat jammer dit nie regmaak nie, en nie daai verlore jare terugbring nie. Ek dink ons gaan nog baie skokke in die toekoms beleef, daar is oral nog geraamtes wat wag om uit die kaste uit te spring!

  6. Dit is die skokkendeste stuk wat ek in ‘n baie lang tyd gelees het! Die erste is ek en ek dink miljoene ander het nie eers ‘n vaagste idee gehad nie.
    Mense is mense se eie ondergang! Dis so siek!

  7. ag neeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeee!nou voel ek sad!

  8. die mens is sy eie grootste vyand…

  9. Dit is baie hartseer.

  10. Onrusbarende inligting. Sad.

  11. Dit wil amper te sleg klink om waar te wees

  12. Sjoe, dis sad – het dit nie geweet nie! Mense bly maar wrede goed en dis so hartseer dat so baie dit onder die woord christen doen!

  13. Eish! Ek het ‘n paar jaar trug gehoor van hierie storie. Mens kan sien ek en my 3ling was nie deel van daai arme kjinders nie. Ons sou so waar as wragtag nie ons bekke gehou het nie. Jy sal maak lat ek somme forren praat 👿

  14. My mond hang oop…

  15. Ek was nie eers een van die kinders nie, maar ek is meer as gereed om die dak bokant die Christian Brothers se koppe aan die brand te steek. Kom skiet my asb as julle hoor ek is oppad Australie toe.

    Son, jy het huiswerk.

  16. Hi.

    Dis verskrilik… ek het nie woorde nie.

    Al wat ek weet is satan het ‘n spesiale plekkie vir mense soos die wat daarby betrokke was. Hulle kan dalk vir ons lieg, maar hulle dag sal kom.

  17. Sê net wanner Adrie, met vandag se petrol-prys sal ons jou help pannekoek verkoop om petrol-geld in te samel vir die brand!

  18. Ek is verstom. Dis so hartseer.

    Baie goeie stuk Sonnie!

  19. Dit klink nou na ‘n ware historiese roman! Een met feitlike-vleis om.
    Ongelooflike storie, soveel van WWII is steeds ongebekend aan die meeste mense. Dankie vir die inligting, ek staan verstom.

  20. Sjoe ek het nou net gecomment oor jou blog “my motto” toe lees ek die een en se vir myself ja maklik om te se “get over it ” ek dink nie ek sou onder dieselfde omstandighede kon nie. En tog seker die beste raad vir enige van die kinders nou volwassenes sou wees “get over it” live life.

  21. Nee, hel, en dit van sogenaamd beskaafde lande. Ek is siek tot in my siel.

  22. Lesley Pearse. Salute! Shoe ja, ontsettende onderrdrukking in die naam van religie of christendom, sal graag die movie wil sien

    daar was ‘n hele rukkie terug my cinema nouveau ook ‘n storie oor ‘n aborigene dogtertjie wat so weggeloop het deur die woestyn, ook dieselfde , geskei van haar ma-hulle en eers 50 jaar later het die storie uitgekom, hartverskeurend, maar ke kan nie veel meer onthou nie

  23. ek het nog noooooooooooit hiervan gehoor nie, niemand wat ek ken het al ooit hiervan gehoor nie, ek gan hierdie brief aan al myvriende stuur

    werklik ek het geen woorde nie

    autrocities against children en is volwassenes children… ek dink hulle is en ek dink DIT is die rede dat die human race NIE gaan survive nie, ons het ons eie ontwikkelde wereld geskep, vat dit weg en gee ons in ons kaal haarlose toestand terug aan die elemente van die natuur en ja ons sal sien
    DIE WêRELD IS ONS WONING NIE.

    SELa

  24. askies ek maak miskien geen sin nie en is miskien nou heel van die punt af, maar ek is nnou so ontsteld oor daai arme kinders werklik eks amper in trane ek kan eenvoudig nie mense verstaan nie en die christian brothers wat op aarde het daar gebeur
    om seuntjies te sodomise!!!!
    HEL

  25. shame dis werklik hartverskeurend om GEEN goeie memories uit die kinderjare te he nie
    dis darem net onmoontlik
    surely… iewers moet daai kinnertjies darem IETS moois onthou of dalk later … soos ou Julie Andrews sing…. ‘cause somewhere in my youth ..ooorrr childhood… i must have done something good

    ‘cause here you are standing there, loving me
    whter or not you should…

    hemel sorry ek dink eks alweer annie ontvlug in ‘n love story

    het jy ooit love story gesien rosalind?

  26. hemel askies
    ek bedoel SONKIND
    ek’t vergeet op wie se blog ek was ek was so ontstledld
    soehoeshoe
    siestog jeerre

  27. Ek is deesdae so bedrywig jy-weet-waar om dinge aan die gang te kry dat ek al die ander leesplekke verwaarloos het. Wil jy nie hierdie boek daar ook by Lees Nou opsit nie? Seblief? DIs een waaraan ons almal herinner moet word.

  28. […] aanvaar dat tyd wysheid gebring het.  Daar is immers baie eeue tussen Oliver Twist en vandag.  Sonkind het eendag geskryf oor die oorlogwesies wat na Australië toe gestuur is.   Heelwat later as […]

Lewer kommentaar op netjane Kanselleer antwoord