Dankie Pa

Liewe Pa

Vandag was Vadersdag en al steur ons familie ons nie juis aan sulke mens gemaakte dankie-sê-dae nie, wil ek tog vandag gebruik om vir Pa dankie te sê vir ‘n paar dinge.

Dankie dat Pa my kleintyd geleer het dat ‘n mens nie iemand oordeel bloot omdat hy anders as jy is nie. By Pa het ek geleer van medemenslikheid, teenoor alle mense, nie net my eie mense nie.

Dankie dat Pa my geleer het dat ‘n man kan kos maak en huis skoon maak en kinders oppas en sy vrou in die huis help, sonder om te dink hy gaan sy manlikheid prysgee. Pa was in hierdie opsig ander mans ligjare vooruit.

Omdat Ma op die dorp gewerk het en Pa naby die huis op die plaas was, was Pa die een wat na ons gekyk het as ons siek was. Dankie daarvoor. ‘n Siek kind is ‘n moeilike kind, maar Pa het nooit geduld met ons verloor nie. Pa het ook nie omgegee om in die nag vir ons op te staan nie.

Dankie dat Pa my geleer het dat, al loop die leuen ook so snel, die waarheid agterhaal hom wel.

Dankie dat Pa vir MY geglo het toe Pa se vriend my eenkeer probeer molesteer het. Ek was bang Pa maak hom dood, maar my hart was warm en ek het geweet ek is veilig toe Pa hom sonder huiwering weggejaag het en hom duidelik laat verstaan het dat ek nie oor so iets sou lieg nie.

Dankie dat Pa my gekeer het toe ek in Standerd 9 uit die skool wou gaan en toe ek Pa afdreig dat ek dan net skool toe sal gaan en nie sal leer nie, ewe kalm gesê het; “Dis reg so, jy hoef nie te leer nie. Dan sit jy maar in die skool tot jy 21 jaar oud is.” Ek het gou genoeg besef dit sal gouer gaan as ek net leer en klaarkry. 🙂

Dankie vir al die kere wat Pa jouself tekort gedoen het om vir my geld te stuur om te kom kuier toe ek ver van die huis af was. Dit was onverdiende genade, want ek het nie destyds vir Pa geluister nie.

Dankie dat Pa nooit daarna geoordeel het toe ek stert tussen die bene huis toe gekom het nie, maar net getroos het en my weer regop gehelp het.

Dankie dat Pa my geleer het dat, solank ‘n mens gesond is, jy kan werk. Dat dit nie saak maak watter soort werk jy doen nie, maar dat dit slegs saak maak dat jy BEREID is om te werk en dat jy wel werk, al vee jy die strate. Dat mens nie neersien op enige werk nie en dat ‘n mens se hande altyd iets sal vind om te doen as jy WIL werk.

Dankie dat Pa die voorbeeld gestel het deur ‘n heeltemal nuwe loopbaan rigting in te slaan en weer onder te begin, toe Pa destyds “retrenched” is, en dat Pa, wat volgende maand 73 is, vandag Pa se eie besigheid het, met te veel werk, en nog steeds elke dag net so hard werk as die werkers.

Ek is jammer ek was nie die seun wat Pa so graag wou gehad het nie, maar ek weet dat ek die beste dogter moontlik probeer wees het en dat Pa vandag trots is op my.

Al het ons so baie kere koppe gestamp, sou ek geen ander Pa wou gehad het nie. Vandag besef ek dis omdat ons so baie dieselfde is, ewe hardkoppig, dat ons so baie vasgesit het. 😉

Dankie dat Pa my Pa is.

Pa se sonkind

Advertisements

12 Responses

  1. Dis ‘n mooi inskrywing, Sonkind.

  2. 😳

    Ek pes dae soos Vadersdag. Tog koop ek die geskenk ens. Ek het vandag onthou van vadersdag, maar vergeet om my pa te bel. He He He. Ek het hom net na 8 gebel – vanaand. Ek is op die oomblik nie die gunsteling kind nie.

  3. O ja. Lyk my jy en jou pa is baie na aan mekaar. Nader as jy en jou ma. Ek sal my pa se betekenis in my lewe in 3 paragrawe kan opsom.

  4. Mooi post, Sonkind. Hoop almal daarbuite waardeer hul pa’s, ek het nie een nie en dae soos vandag is nogal moeilik.

  5. Die appel val nie ver van die boom nie lyk dit vir my. Mooi inskrywing Sonnie.

  6. Sonkind

    Jou pa klink na iemand wat mens graag sal wil ontmoet.

    Baie mooi inskrywing.

  7. Ek sê elke dag dankie om so bevoorreg te wees om ‘n goeie pa te hê. Dit raak aan my hart as ek nog iemand se dankbaarheid raaksien. Daar is soveel mense wat nooit die voorreg geniet het van ‘n vaderfiguur waarna hulle kon opkyk nie. Baie mooi inskrywing Sonkind.

  8. Dankie. Weereens was jou blog nou ‘n lekker lees.

  9. Baie mooi inskrywing Sonnie! Ek luv my dad!!! Hy ken my so blerrie goed en hy weet altyd wat om te se om my beter te laat voel. Ons het baie fun saam!

  10. Baie mooi inskrywing.

  11. Niks, ek het niks om te sê nie! Pragtig… x 🙂 x

  12. Hopelik kry jou nou jou tafel na dese!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: