Anoesjka op die plaas – Deel 2

plaas2.jpg

Ek het anderdag hier vertel van Anoesjka en Jaco op die Karoo plaas . Gister kry ons toe ‘n lekker lang brief en ‘update’ oor die plaaslewe. Vir die wat dalk gewonder het hoe dit intussen op die plaas gaan – hier is ‘n opvolg. Ek stel Anoesjka self aan die woord:

“Vir almal vir wie ek dit nog nie gesê het nie… Voorspoedige Nuwe Jaar! Hoop dit gaan goed met julle almal.

Die slag is ek glad nie opgewonde oor eiers nie. Ons hennetjie het elke dag so getrou vir ons gelê en ons kon nie wag dat sy op haar nessie begin sit en broei nie. Ons het beplan om ‘n ander soort hoendereier onder haar te sit sodra sy nou net lekker gevestig raak. Met so ‘n bietjie geduld het sy uiteindelik toe begin nes skrop en kon ons ‘n paar van haar eie eiers omruil met die ander. In totaal het sy toe 8 eiers gehad. Ons het mooi op die almanak gemerk wanneer ons kuikens sou uitbroei, maar die volgende oggend was al ons eiers weg!

Eers was ek bang dat dit dalk ‘n slang is, maar ‘n dag of wat later toe kom Tinkie weereens op ons Likkewaan af. Jaco het gaan kyk waarvoor sy so ‘n keel opsit en toe met die likkewaan hier aangekom. Hy’t hom in ‘n boks gesit bo-op die kalfhok sodat ons hom later die middag ver in die veld kon gaan aflaai, maar toe ons later by die boks kom, was dit leeg. So ons eiervanger is nog op vrye voet.

Intussen het ons nog nie weer op die henne se nuwe lêplek afgekom nie – hopelik kry die likkewaan dit nie voor ons nie. Met my skapie gaan dit sommer te goed. Hy raak nou groot en vet en ek is bevrees sy daggies hier raak nou min. Hy moet glo mark toe, maar daai dag huil ek my seker dood.

My tannie-hulle het vir ‘n paar dae hier en ook op die buurplaas gekuier. Kort nadat hulle hier aangekom het, het hulle aangebied om vir Jaco die melk op die buurplaas te gaan haal. Met hul terugkomslag kry hulle toe vir Bliksem en Baba (skapie) langs die pad – al halfpad op pad na die ander plaas toe – tonge amper op die grond. Toe word een van die sitplekke van die VW Polo ewe platgeslaan en skapie word ingelaai en in styl terug huis toe gebring. Ou Blikkies moes maar weer agterna hardloop.

Daardie selfde aand is Jaco amper deur ‘n pofadder gepik. Hy’t ‘n verdagte voertuig sien ry en na die pad geloop om te gaan kyk. Dit was al redelik donker. Toe dit lyk of die kar wil omdraai, het Jaco in die bosse ingeloop sodat hulle hom nie kan sien nie. Die volgende oomblik hoor hy net hoe blaas die slang voor hom. Dit was BAIE amper!

Terwyl ek hier tik, is die muskiete alweer besig om my aan die brand te steek! Hier is duisende… of nee… miljoene van die goed. Ons het so ‘n shock lig hier buite en soggens lê daar omtrent ‘n matras van muskiete en motte hier buite. Alhoewel, die motte is darem nou weer minder erg as voorheen. Het fotos geneem en sal dit een of ander tyd by die ander fotos sit.

Verder het ek vir die eerste keer probeer om gemmerbier te maak, maar wat ‘n ramp! Dit was net voordat my ma en my suster-hulle kom kuier het – sodat ons dit nou kan drink terwyl hulle hier is. Die maak daarvan was heel maklik en eenvoudig en dan gooi jy dit nou maar net in bottels en wag totdat die rosyntjies bo-op dryf. Fout nommer een was dat ek die verkeerde gis gebruik het (met ekstra skop), fout nommer twee was om dit in glas bottels te sit nadat ek gis met ekstra skop gebruik het, en fout nommer drie was om dit in die spens te bêre.

Die Saterdagoggend besluit ons om ons kuiergaste vir ‘n trippie in die veld op die bakkie te neem. Net voor ons ry kyk ek toe na die bottels om te sien of daar nie al een is wat reg is om te drink nie en sowaar, een van hulle se rosyntjies dryf toe bo. Ek het hom skelm in die yskas gaan sit sodat ek hulle daarmee kon verras as ons terug kom. Eintlik was dit al laat oggend en teen die tyd wat ons teruggekom het, was dit al middag. Dit was warm en ons almal het in die son verbrand en was moeg na ons uitstappie en yskoue gemmerbier sou toe net die ding wees wat almal nodig het. Toe ek die huis se deur oop maak, ruik ek onraad. Onmiddellik gaan kyk ek in die yskas, maar daar was nie fout nie. Toe ek in die spens kom, was dit ‘n ander storie! Die hele vloer was vol gemmerbier en glasstukke het die wêreld vol gelê … tot in die kombuis! Nou ja, toe is dit operasie skoonmaak ipv rus en koue gemmerbier drink. Alles was taai en die reuk van gemmerbier het nog vir lank daarna in die spens gehang. Ek het nou die dag nog my vinger raak gesny met ‘n stukkie glas. Weet nie of ek dit gou weer gaan probeer nie.

Ek en Kiddo het nou die aand op ons eerste skerpioen afgekom… in die kombuis nogal! Kiddo wou nog nader gaan – sy vreet mos enige ding wat op die grond lê of hardloop – maar gelukkig het sy geluister toe ek sê sy moet dit los. Al was dit nog ‘n kleintjie moes Jaco hom kom doodmaak.

Ons het nou die dag amper nog ‘n toevoeging tot ons familie gekry… ‘n bergskilpad. Ons het hom in die tuin gesit, maar gedurende die nag het hy besluit die veld is groener en ons het hom nog nie weer gesien nie. Met die ander diere gaan dit ook nog goed. Hannie (mookiekind) word nou groot (het al vir Blikkies verbygesteek) en begin ook horings kry. Sy het ook van kleur verander en het nou heelwat donkerder dele met ‘n oulike ligte kringetjie om haar snoet. En van melk kan sy nie genoeg kry nie! Het my nou die dag omtrent vies gemaak. Eers wou sy nie in die hok ingaan voor ek haar melk gee nie en toe trap sy nog met haar swaar lyf op my kaal toon ook. Ek het nie geweet of ek moet lag en of ek moet huil nie.

Met Jaco gaan dit ook nog goed. Die plaaslewe hou hom aan die gang van vroeg tot laat. Nee wag, nou gaan die gorramanjorras my hier begin wegdra. Almal kom natuurlik agter die lig aan. Dis motte, muskiete, muggies en nou ook ‘n sprinkaan! Ek gaan eers groet. Laat dit goed gaan met julle almal! Hoop om gou van julle te hoor. Gogga groete, Anoesjka”

plaas5.jpg

Vir die wat dalk wil gaan loer – hier is fotos van die plaaslewe:

http://www.putfile.com/anoesjka

Anoesjka, jy beter die piesangbrood reghou, Februarie is om die draai! En gelukkig drink ek nie gemmerbier nie, so moenie daarmee sukkel nie! 😆