Gejaag na wind?!

Ek het vandag ‘n email gekry van Anoesjka. Anoesjka het saam met my gewerk en werk nog steeds vir ons, maar sy doen dit daar uit Britstown se wêreld uit. Met behulp van Helkom en Sateliet en moderne tegnologie, programmeer Anoesjka nou bedags op die plaas.

Ek beny haar met my hele hart. Ek is so moeg vir die gejaag na wind, die dolle gejaag na niks. Dit was so pas meriete ‘meetings’ en ek wonder by myself – wat maak dit saak wat se meriete ek kry? En ek dink aan die woorde: “What strange creatures we are… and in the end, not much of this really matters.”

Anoesjka skryf, en ek haal aan:

Die plaaslewe behandel ons nog baie goed – ons was nog nie vir een oomblik spyt nie.  Eintlik kan ek nie glo ons is alweer langer as ‘n maand hier nie!  Vanoggend is dit ‘n heerlike sonskyn, windstil oggend.  Dit klink amper asof ons in die World of Birds is so erg is die getjirp en gekoer van die voëls – dit is nou lekker ontspanningsmusiek.  Natuurlik is daar een ding wat dit bederf…  die muskietee!  Na die reën wat ons ‘n tydjie terug gehad het, dra hulle jou amper weg.  As die son begin sak in die aand kan jy dit nie buite waag sonder Tabard of ‘n baadjie nie.  Hulle steek jou aan die brand.

Al die kinders (haar diere) is nog springlewedig en gesond – alhoewel, daar was ‘n paar noue ontkominge. Die een dag, toe dit tyd raak vir Hannie en Baba om terug te gaan hok toe, toe is Hannie (die kalf) net weg. Ons het oral gesoek en kon haar nêrens vind nie. Later toe sien Jaco haar ‘n hele ent weg in die veld. Hy het haar maar toe met baie geduld terug gelok huis toe. Die ander dag weer, sluk sy byna haar bottel se tiet in! Sy is mos so gulsig (sy suig tot aan die lam se ore om die bietjie melk wat daar gedrup het ook te kry). Die een oomblik suip sy nog en die volgende oomblik staan sy met die tiet in haar bek en kyk groot oog rond – “wat gaan dan nou aan?”. Terwyl ons nog sukkel om in die hok te kom sodat ons haar kan help, toe val dit gelukkig uit. Het amper gedink sy gaan die ding insluk of verstik daaraan. Nou sorg ons maar dat ons dit behoorlik vashou, want soos wat sy met daai ding tekere gaan, neem ek nie haar ma kwalik dat sy haar nie wil hê nie. Verder is sy ook lekker stout! Ek vang haar mos nou die dag pens en pote in my blombak waar ek nuwe saadjies geplant het wat nou net groen blaartjies begin maak. Trap toe net sulke diep gate daarin.  En die wat sy nie plat getrap het nie, het sy byna heel opgevreet!

Baba (die lam) raak nou vinnig groot.  Hy is sommer lekker vet.  Is vol bokspringe as ons hulle in die oggend uit die hok uit laat – ek kan my verkyk aan hulle. Ek wil dit nog een oggend afneem. Verder raak hy nou ook net so stout. Alles wat die een doen, doen die ander ene mos ook. Kort bene of nou nie, hy klim ook nou in die blombak. Maar ek slaan daai wol boude van hom. Hy het mos nou ook agtergekom ‘n skaap moet so af en toe kopstamp en my arme Kiddo is sy teiken. Maar ek het hom gewaarsku… as hy my Kiddo seer maak, dan gaan ek tjops van hom laat maak.

So gepraat van Kiddo… sy het mos amper Saterdag verdrink! Ek kry nou nog koue rillings as ek daaraan dink. Ek was in die huis en Jaco was buite in die tuin besig. Kiddo het uitasem by die voordeur aangekom en toe ek oop maak sien ek sy is pap sop nat. Jaco vertel toe dat hy ‘n vreeslike snaakse geluid gehoor het – amper soos ‘n kind geklink, maar baie benoud. Die eerste ding waaraan hy gedink het was die dam (seker so 60 meter van ons huis af) en hy en Jan het sommer dadelik soontoe begin hardloop. Toe hul daar kom toe spartel my peanut al seker ‘n hele ruk daar. Nog voor Jaco sy skoene kon uitkry, toe is Jan al in die dam om haar uit te haal. En dit is nou alles Tinkie se skuld – wat nogal ewe op die damwal gestaan en toekyk het. Sy jag mos gedurig die akkedisse en dan hardloop Kiddo maar so af en toe agterna. Nou die dag, toe kry sy mos die grootste akkedis nog (‘n likkewaan). Jaco sê sy was so bang, sy staan eintlik en bewe terwyl sy vir die ding blaf. Jaco het die likkewaan toe opgetel en verder in die veld gaan sit waar die honde dit nie kan beet kry nie. Dan is hier ‘n mol wat Tinkie nou eenvoudig nie kan uitlos nie.  Sy sal vir ure voor daardie mol gat staan (en later lê) en wag dat daar ‘n grondjie roer. Die mol het darem nou sy huis van ons voortuin verskuif na die stukkie lusernland (maar Tinkie het om al klaar weer daar ook uitgesnuffel).

Met ou Bliksem gaan dit goed. Alhoewel ek gedurig voel dat hy sy naam gestand doen, kan ek nie nou aan iets dink om oor hom te vertel nie (behalwe dat hy nou eenmaal ‘n plastiek houer nie kan uitlos nie – of daar nou ‘n blomplant in is of nie). O en hy het nou die dag ons vullissakke wat buite gelê het vir ons ‘n bietjie gerearrange. Een ding wat hy goed kan doen is slaap…kyk, hy laat nou lê lekker lyk! Maar ek moet sê ek voel darem veiliger met hom hier. As jy hom so op ‘n afstand sien staan en hoor blaf, dan sal jy nie sommer nader gaan nie.

Anoesjka – ek beny jou, met my hele hart. Een van die dae kom drink ek daai beloofde koffie en piesangbrood uit die koolstoof uit!

En om myself te troos, sal ek maar solank hierna luister – een van die mooiste songs ooit!

Advertisements

13 Responses

  1. Hierdie is die coolste song. Ek is seker die bure sal my vergewe as ek die volume so klein bietjie oopdraai

  2. Ken Britstown goed. Anoesjka is voorwaar bevoorreg.

  3. Sy laat die “landelike lewe” heel lekker klink. Weet nie of ek gereeld met hans lammers en likkewane sou wil sukkel nie, maar kan ek ook maar inloer vir koffie en piesangbrood?

  4. Ek glo Anoesjka sou gesê het: “Jy is ook meer as welkom vir daai koffie en piesangbrood, Orchid!”

    Ja Roer, jy is reg. Februarie gaan ons ‘n draai op daai plaas maak, dan sal ek fotos saambring, van AL die diere ook.

  5. Sê vir Anoesjka as sy ooit lus word vir die opwinding van die stad sal ek met haar ruil. Ek kan myself darem help met programmering en ek sal mooi na haar kinders kyk ook.

  6. Sonnie, jy gee ‘n nuwe dimensie aan “cruel intentions”!!! 😈

  7. mal oor die song,en die groep wat dit sing,het hulle cd,in elke val,ek en vader xmas het 2 jaar gelede begin jag op n plaas in richmond,eerste keer toe ek op n plaas is,ek moet se^ die plaas lewe is vir my lekker,ver^ weg van almal,dan kan ek so hard skreeu en niemand my kan hoor nie as vader xmas my bied kry,somtye trek ek n springbok outfit aan dan jag vader xmas vir my in die veld,en as hy my kry skiet hy my met sy groot pistool,sjoe!eh eh eeehhh!

  8. een van my grootste drome is om ‘n plaas te kan he….Lekker dag vir jou

  9. Ai, hoe laat hierdie ene van jou my nou verlang! Ons was ook bevoorreg genoeg om vir ‘n paar jaar op ‘n plaas te bly. Met ‘n hanskalf en twee hanslammers! Daai tiet-sluk klink so bekend! Ek mis daai dae.

  10. Ek is so bly oor jou skrywe op my blog! Ek het juis Woensdagaand ‘n lesing gedoen oor “Shadows and Light” van Joni Mitchell. Ken jy die song?

  11. […] het anderdag hier vertel van Anoesjka en Jaco op die Karoo plaas . Gister kry ons toe ‘n lekker lang brief en ‘update’ oor die plaaslewe. Vir die wat dalk […]

  12. […] February 26, 2008 by sonkind Die wat nog nie van Anoesjka gelees het nie, ek het die eerste keer HIER van Anoesjka en die plaas vertel en toe weer DEEL 2 ook […]

  13. […] ek nog my blog by WordPress gehad het, het ek hier en weer hier en laastens nog hier van Anoesjka op die plaas […]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: