Sonkind sluit

So 20 maande terug het ek uitgekuier geraak op WordPress en my eie werf gaan soek. Daardie werf se hek het ek nou gesluit en dit sal nie weer oopgemaak word nie. Vir dié wat sou belangstel om latere inskrywings van Sonkind te lees, het ek alles oorgeskuif HIERHEEN.

Ek sal weer blog, baie binnekort van nou, maar op ‘n nuwe WordPress werf.

Tot dan, hou die sonkant bo!


Dis tyd

Alles in die lewe het ‘n tyd. Al is Baas Lewe se tyd nie altyd ons tyd nie. So is daar dan ‘n tyd om te kom en ook weer ‘n tyd om te gaan.

Op 24 Mei 2007 het ek my eerste inskrywing hier gemaak. Ek was nog SO groen wat die blog-ding betref en het ook maar in die begin lekker aangejaag. Een keer amper my hele blog uitgevee toe ek die gesig bietjie wou verander. Gelukkig het ek deur lank terug se dure lesse geleer om altyd ‘backups’ van rekenaar goed te maak. Die goed het mos soms hul eie wil en rigting.

Die gesig het dan ook ‘n paar keer verander totdat ek gemaklik gevoel het met my huis. Dis maar soos meubels rondskuif in mens se huis en na ‘n rukkie dan raak jy weer verveeld en dan koop jy nuwe gordyne, of nuwe strooikussings of so iets.

En net soos ek my bloghuis geverf het en meubels rondgeskuif het, net so het my bure gekom en gegaan. Amper soos die Desperate Huisvrouens van Wisteria laan 😆

Ek onthou in die begin het ek eerste vir Anja en George en Johan raakgelees. Vandag is Anja nog steeds hier en amper ‘n baba ryker; George wil die land verlaat en ek sal sy skrywery mis – hoop hy heroorweeg en as hy sou gaan, dat hy tog bly skryf. George, jy skuld my nog ‘n Tequila by Doodles! 😉

Johan het ook getrek na ander weivelde, waar hy sy eie bloghuis gekoop het.

Daar het baie nuwe, lekker mense in die buurt ingetrek, saam met die ou ingesetelde burgers, en “all-in-all” is ons ‘n lekker klomp wat hier saam kuier, al spring die een soms in die ander se hare. 😈

Party het diep in my hart gekruip en party wat diep in my hart gekruip het, het weggegaan en nooit weer teruggekom nie. Een van hulle is Ding.

Met alle respek aan al my mede-bloggers – daar sal nooit weer iemand soos Ding wees nie. Sy stories, sy lewenswysheid, sy raakvat aan hartsgoed – dis uniek. Mag Ding vrede en vreugde in die lewe hê daar waar hy sy dae verwyl, vir altyd en ‘n dag. Soos die Kaapse kleurlinge sou sê: Jy is duidelik, Ding. Vrek duidelik.

Nou het my tyd om te trek ook aangebreek. Darem nie te ver nie, net so om die draai. 

SONKIND BLY NOU HIER!

Die trek is so bietjie gouer as wat ek verwag het, maar soos my haastige pa altyd vir my alewige laat ma gesê het: “Maak gou vrou, ek het nie tyd saamgebring nie.”, so is ek ook maar en ek is amper klaar gebreek en bou daar anderkant. Byna twee weke voor skedule.

Dit sal doelloos wees om verder hier te skryf en ek het baie nuwe goete in my kop. So, die naweek wil ek die laaste bourommel wegry. Maandag tot Woensdag is ek weer in die Goudstad en sal ek min tyd kry vir skryf, want dan jaag ek deur my dae en Maandagaand gaan ek ook nog vir my beste, beste ‘pal’ in Heidelberg, Gauteng kuier. Ons was van Sub A af vriende, deur dik en dun en goed en kwaad en skei en trou en al daai. Toe verloor ons mekaar ‘n handvol jare terug en nou het ek haar weer gekry – toevallig deur ‘n gesamentlike kennis wat ook op Riaan se begrafnis was. Somtyds is die lewe regtig vreemder as fiksie.

Daar sal seker nie veel geslaap word nie en ek slaap mos in elk geval altyd sleg in die vreemde, so as ek Woensdagaand terug is op Kaapse bodem, sal ek lekker vodde wees. Maar Donderdag, ‘n week van nou af, sien ek julle in my nuwe huis. Kom drink tee of Tequila of Jack Daniels of rooiwyn of kom sommer net!

Sien julle DAAR!!!

Ek trek 1 September

Vir die wat dalk so bietjie gewonder het waarom ek so skaars is – Sonkind het ‘n nuwe speelplek gekry. Dit gaan nog hak en tak en ek het al die afgelope twee weke my anderkant afgesukkel, maar “slowly but surely I am getting there”!

Ek het besluit om die stoute skoene aan te trek en in die groot kanonne (no pun intended  😈 ), SOLDAAT en JOHAN SWARTS, se voetspore te volg.

Ek, wat nie ‘n cookin clue het van CSS en Stylesheet en HTML en .php files nie, het die afgelope week  my koppigheid tot my voordeel gebruik, want ek het doodeenvoudig geweier om op te gee. Ek het met ‘n bietjie hulp van Gestorwe Soldaat en BAIE frustrasie van my eie, vasgebyt en geleer hoe om hierdie goete te lees en te edit, plug-ins te install en… en… en… ek leer nog steeds.

Ek het naderhand so baie copies van copies van oorspronklike files gehad, omdat ek bang is ek donner iets op, dat ek soms onseker was of ekself nog die oorspronklike Sonkind is! 🙂

Gelukkig het ek sover nog niks opgefoeter nie – touch wood!

Toe ek vir onse Vokof vertel ek gaan trek, vertel hy my so ewe dat hy nie homself SOOO liefhet dat hy sy eie webspasie wil koop nie. Maar dis nie waaroor dit gaan om mens se eie plekkie hier te koop nie. Dis amper soos huis huur en huis koop. As dit jou eie is, dan kan jy bou en breek en mooi maak soos jy wil en daar is nie veel beperkings nie. En buitendien – a change is as good as a holiday!

En hopelik sal julle almal nog steeds daar vir my kom kuier.

Ek hoop om op 1 September klaar gebou en gebreek te wees, (onthou, ek kan my mind nog dalk ‘n paar keer verander oor die “look”), maar intussen sal enige kommentaar welkom wees. En kritiek is ook okay 😆

Op lentedag wil ek dak natmaak

HIER

Die winter was hoeka lank genoeg!

Twee-in-Een Tags

Ek is so ver agter met my huiswerk, ek sal nog ‘n rukkie vat om als in te haal 😆

Zee tag my om my “brands” bekend te maak en toe kom Soldaat ook nog en tag my vir my mosaiek, so ek slaan nou twee vlieë met een klap dood.

BRANDS:

Tandepaste? Aquafresh Mint

Wasgoedseep? Bio Classic

Skottelgoed seep? ICU

Lyfseep? Elizabeth Anne babaseep

Parfuum? Dior se Pure Poison of Charlie blou

Tjoklit? Orange Flake

Tjips? Kaas Bubbles

Kougom? Mango & Lime Stimorol

Aanmaakkoeldrank? Ceres in die kannetjies

Grocery Winkel? Checkers

Kar? Toyota RunX

Klere? Foschini

Bank? Nedbank

Selfoon? Nokia

Computer? HP Entertainment

MOSAIEK:

Die foto’s in die mosaic is antwoorde op die volgende vrae:

Wat is jou naam?

Wat is jou gunsteling kos?

Watter hoërskool het jy bygewoon?

Wat is jou gunsteling kleur?

Watter vermaaklikheid ster is jou gunsteling?

Jou gunsteling drankie?

Jou droom vakansie?

Gunsteling nagereg?

Wat wil jy wees wanneer jy groot is?

Wat in die lewe het vir jou die meeste waarde?

Een woord om jouself te beskryf?

Jou blog/flickr/chat naam?

Teen die tyd ken almal seker al die mosaiek speletjie. Dit werk so:

Gaan eerste na Mosaic Maker toe. Kies daar jou kolomme (3) en rye (4). Maak Flickr se search bladsy oop in ‘n aparte venster. Tik dan die antwoord van elke vraag in en kies een foto van DIE EERSTE bladsy, en copy sy url in die mosaic maker se spasies. Wanneer jy klaar is, save die hele prentjie na jou rekenaar. Daar is ‘n SAVE button. Upload dan die mosaic soos ‘n gewone foto in jou post. Aan die onderkant sal jy ‘n code kry wat jy by die HTML deel van jou post paste, om erkenning te gee aan die foto’s wat jy gebruik.

Ek is natuurlik agteros in die kraal, so almal wat hier lees en nog nie getag is nie – consider yourself tagged – sommer vir albei tags!

Erkenning vir fotos:
1. “Saint Joan” starring Anne-Marie Duff 4, 2. The real cost of food, 3. oil painted sky, 4. Blue ice cave at the Jostedalsbreen glacier, 5. Non è un paese per vecchi, 6. My Friend Jack, 7. Fred R. White passes St. Helena Light, 8. Cherry Trifle, 9. when I grow up, I want to be a lawyer or a judge…, 10. The Chesil Beach at Portland – Jurassic Coast World Heritage Site, 11. S t u b b o r n *, 12. Sunchild

Riaan Carsten – R.I.P.

9 Oktober 1965 – 2 Augustus 2008

Gisteroggend in die koudste ure, toe die nag op sy donkerste was, het jy ons gegroet, sommerso in jou slaap. Jy was ook een van die Anderstes, al het so min mense dit ooit besef. Net, jy het dit met drank verdoof. Daarom het ons jou soms misgekyk, die diepte wat jy in jou gedra het, verbygekyk. Nie altyd besef dat jy eintlik nie van hierdie wêreld hou nie.

Onthou jy destyds toe jy my in ‘n grap gevra het om met jou te trou, want dan sal jy ophou drink? Ek het jou in ‘n grap in jou dinges gestuur, maar ook geweet dat jy eintlik ernstig was. Jy het toe nooit getrou nie en op 42 was jy eintlik al amper die spreekwoordelike knorrige oujongkêrel.

Onthou jy hoe het ons jou ma geterg, net omdat sy tog so dierbaar tergbaar was? Ek en jy het haar siel uitgetrek tot dit net aan een lang flenter hang. Sy was een van die sout van die aarde en toe sy in 2003 groet, was jy stukkend. Jy was altyd haar “baby”, die jongste van julle drie broers.

Jy was die beste “mechanic” wat daar was, daar is nie ‘n motor wat jy nie kon regmaak nie. En jy was die enigste een wat ek ooit vertrou het om aan my motors te werk. Waarheen gaan ek nou en wie gaan ek ooit weer vertrou om die eerste keer reg te werk? Martin het vanaand gesê hy gaan die besigheid verkoop. Dis die einde van ‘n era, Riaan.

Jy het tog soms so kwaad geword vir jou boeta en gereeld gedreig jy gaan vroeg aftree, dan moet hy maar aansukkel sonder jou. Toe breek jou vroeg “aftree” heeltemal te vroeg aan.

Die Liefie sou komende Maandag sy motor vir jou gebring het en toe laat jy hom verlede Maandag weet hy moet kom, jy is reg vir hom en al die onderdele het gekom. Het jy dalk toe al vermoed dat jy nie hierdie Maandag sal sien nie?

En vanaand vertel hulle my dat jy reeds die afgelope maand al opgehou drink het. Het jy jou dalk onwetend voorberei vir die weggaan? Ten minste glo ek dat jy jou ma met ‘n nugter siel gaan ontmoet het. Sy sal tog so bly wees.

Ons het vanaand gesels oor julle twee en ons dink julle sit nou lekker iewers en skinder oor wat alles gebeur het vandat sy weg is. 😉

Weet een ding – jy het ons almal vandag in ons spore gestop en laat besin. Jou weggaan sny te na aan die been – jy is dan so oud soos ons! Jy moes nog hier gewees het. Jy moes vanaand saam gebraai het en ons weereens verpes het met jou terglustigheid.

Nou is jy weg en binnekort sal ons jou as ook Kleinmond toe neem.

Mooi loop, daar waar jy nou is, Riaan. Ons gaan jou mis.