Dis tyd

Alles in die lewe het ‘n tyd. Al is Baas Lewe se tyd nie altyd ons tyd nie. So is daar dan ‘n tyd om te kom en ook weer ‘n tyd om te gaan.

Op 24 Mei 2007 het ek my eerste inskrywing hier gemaak. Ek was nog SO groen wat die blog-ding betref en het ook maar in die begin lekker aangejaag. Een keer amper my hele blog uitgevee toe ek die gesig bietjie wou verander. Gelukkig het ek deur lank terug se dure lesse geleer om altyd ‘backups’ van rekenaar goed te maak. Die goed het mos soms hul eie wil en rigting.

Die gesig het dan ook ‘n paar keer verander totdat ek gemaklik gevoel het met my huis. Dis maar soos meubels rondskuif in mens se huis en na ‘n rukkie dan raak jy weer verveeld en dan koop jy nuwe gordyne, of nuwe strooikussings of so iets.

En net soos ek my bloghuis geverf het en meubels rondgeskuif het, net so het my bure gekom en gegaan. Amper soos die Desperate Huisvrouens van Wisteria laan 😆

Ek onthou in die begin het ek eerste vir Anja en George en Johan raakgelees. Vandag is Anja nog steeds hier en amper ‘n baba ryker; George wil die land verlaat en ek sal sy skrywery mis – hoop hy heroorweeg en as hy sou gaan, dat hy tog bly skryf. George, jy skuld my nog ‘n Tequila by Doodles! 😉

Johan het ook getrek na ander weivelde, waar hy sy eie bloghuis gekoop het.

Daar het baie nuwe, lekker mense in die buurt ingetrek, saam met die ou ingesetelde burgers, en “all-in-all” is ons ‘n lekker klomp wat hier saam kuier, al spring die een soms in die ander se hare. 😈

Party het diep in my hart gekruip en party wat diep in my hart gekruip het, het weggegaan en nooit weer teruggekom nie. Een van hulle is Ding.

Met alle respek aan al my mede-bloggers – daar sal nooit weer iemand soos Ding wees nie. Sy stories, sy lewenswysheid, sy raakvat aan hartsgoed – dis uniek. Mag Ding vrede en vreugde in die lewe hê daar waar hy sy dae verwyl, vir altyd en ‘n dag. Soos die Kaapse kleurlinge sou sê: Jy is duidelik, Ding. Vrek duidelik.

Nou het my tyd om te trek ook aangebreek. Darem nie te ver nie, net so om die draai. 

SONKIND BLY NOU HIER!

Die trek is so bietjie gouer as wat ek verwag het, maar soos my haastige pa altyd vir my alewige laat ma gesê het: “Maak gou vrou, ek het nie tyd saamgebring nie.”, so is ek ook maar en ek is amper klaar gebreek en bou daar anderkant. Byna twee weke voor skedule.

Dit sal doelloos wees om verder hier te skryf en ek het baie nuwe goete in my kop. So, die naweek wil ek die laaste bourommel wegry. Maandag tot Woensdag is ek weer in die Goudstad en sal ek min tyd kry vir skryf, want dan jaag ek deur my dae en Maandagaand gaan ek ook nog vir my beste, beste ‘pal’ in Heidelberg, Gauteng kuier. Ons was van Sub A af vriende, deur dik en dun en goed en kwaad en skei en trou en al daai. Toe verloor ons mekaar ‘n handvol jare terug en nou het ek haar weer gekry – toevallig deur ‘n gesamentlike kennis wat ook op Riaan se begrafnis was. Somtyds is die lewe regtig vreemder as fiksie.

Daar sal seker nie veel geslaap word nie en ek slaap mos in elk geval altyd sleg in die vreemde, so as ek Woensdagaand terug is op Kaapse bodem, sal ek lekker vodde wees. Maar Donderdag, ‘n week van nou af, sien ek julle in my nuwe huis. Kom drink tee of Tequila of Jack Daniels of rooiwyn of kom sommer net!

Sien julle DAAR!!!

Advertisements