Woorddroogte

Dalk is dit die griepvirus. Ek stel my sulke klein, groen, harige, rondhardlopende klein trolle voor. Hulle steel my asem, maar ‘n rukkie voor hulle my suurstof begin steel het, het hulle al begin om my woorde te steel.

Sonkind het woorddroogte. Dis al ‘n rukkie. Eers wou ek dit nie aan myself erken nie. Ek het geglo ek verbeel my. More oggend as ek wakker word, sal ek sommer weer iets hê om oor te skryf. Of in die middag. Of in die aand.

Maar nee, my kop is plat, leeg, sonder woorde. So skoon soos ‘n nuwe aantekeningboek aan die begin van ‘n nuwe skooljaar. Ek speel met ander se woorde, maar my eie woorde is op AWOL.

Dis nie net my skryfwoorde wat opgedroog het nie, my praatwoorde is ook nie deesdae te baie nie. Dalk is dit die winter. Ek weet lankal ek moes eintlik ‘n hibernerende gedierte/gedoente gewees het, wat winters om kon slaap.

Ek het nie lus vir praat nie, ek het ook nie lus vir antwoord as daar met my gepraat word nie. Ek het ook nie lus vir mense om my nie. Ek IS nog lus vir skryf, dis net dat die woorde weg is. Dit loer vir my, terg my, en nes ek dink ek kan my hand daarop lê, dan verdwyn dit soos mis voor die son.

Jare terug het ek en my suster dowetaal met mekaar gepraat in die kerk. Ons het dit (vingertaal) geleer by ‘n dowe oom wat vriende was met my pa-hulle. Vir die res van ons jare daarna het ons so met mekaar gepraat, ook as ons wou skinder van iemand. Of iewers was waar ons nie hardop kon praat nie. Ons kon dit nogal vinnig doen en volsinne praat, sonder dat iemand wat horende is, ons gesprek sou kon volg.

My  ma het haar soms gruwelik vererg vir ons, veral as sy ons aangepraat het oor iets en dan gesien het hoe sein ons vir mekaar. Nodeloos om te sê dat sy tog nooit die gesprek uit ons kon trek nie 🙂

Dalk is my woorde more of oormore terug, ek hoop! Maar vir nou dink ek dat ek vir my suster moet gaan kuier, waar ek in stilte kan sit en praat.

Advertisements

16 Responses

  1. En tog het jy nou ‘n baie oulike post geskryf, al is dit tydens woorddroogte.. Die trolle sal wel binnekort die res van jou woorde terugbring, jy sal sien 🙂

  2. Son, jy gee al vir so lank so baie van jouself en soms moet jy toelaat dat ander hulle arms om jou vou en jou net vashou…. ek stap al ʼn lang pad saam met jou, en ek kan getuig hoe jou omgee baie dieper strek as wat meeste mense ooit sal besef. ((((((Sonkind))))))

  3. (((Sonkind))) Ek voel ook soos Mefri, maar ek kan dit net nie so mooi stel nie want winter en virusse het ook iets aan my brein gedoen. Dis gelukkig nie meer te lank nie, dan’s die winter verby en so met die draai van die seisoene, kry mens weer nuwe lewe. Ek wil ook in hiberneer “mode” gaan in die winter!

  4. Ai, ek dink dis ‘n ding wat by ons almal aan die orde van die dag is… Ons ‘vertel’ het opgeraak. Sterkte vir jou (((Sonkind)))! En mag ek maar bylas dat ek werklik hoop jou stomheid hou nie vir te lank nie!!! 😉

  5. Jou woorddroogte is steeds vol lekker-lees!

  6. Ons gun jou bietjie woorddroogte, gooi maar vingertaal dit sal doen 😆

    Gee die virus kans om uit te woed!!

    Lekker week verder, dis amper naweek!

  7. Drank help, maar dis ongelukkig nie ‘n langtermynoplossing nie. Wees maar net geduldig.

  8. LOL, Bertus….ja, ek sal ook ‘n glasie of 2 rooiwyn voorstel.

  9. “…waar ek in stilte kan sit en praat.” Dis partymaal die heel beste geselskap.

    Sterkte!

  10. Sterkte.

  11. Jy’t my aangesteek. Niks. Nada. Droog sê ek jou.

  12. Google iets, dit help my altyd.

    Net nie IETS nie, dit is ‘n akroniem vir iets wat ek weer vergeet.

  13. Nou ja, laat die woorde terugkom. Ek wag geduldig. 😉

  14. Uhm ek sien dit is nogsteeds droog hier 😆

  15. Droog soos in ‘n woestyn. Sonkind, hier is bietjie (woord) sand korreltjies vir jou! 😛

  16. jy het te veel om te se^,moet nou nie op hou nie,ek hou baie van hoe jy skryf,kry n tafel,le^ op dit,maak jou oe” toe,en imagine…………………………….

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: