Mamma, ek wil ‘n boer wees…

Skuus Pikkie dat ek nou eers my huiswerk doen, maar ek het darem ‘n sieksertifikaat as verskoning 😆

Van ek my verstand kom kry het, wou ek ‘n boer wees. Nie ‘n boer se vrou nie, nee. Ek wou SELF boer. Met wingerde, vernaamlik. En ek wou wyn maak.

Maar ek wou ook skape en beeste en varke en hoenders op my plaas hê, so op die eenkant. Dan moes daar ook ‘n lappie grond wees vir groente en langs my huis ‘n kruietuin, met elke moontlike kruie wat jy aan kan dink – tiemie, pietersielie, laventel, kruisement.

My man kon maar saam met my boer as hy wou of hy kon soggens in sy voertuig klim en op die dorp gaan werk – daardie deel het my nie veel gepla nie. Ek het om een of ander rede altyd gedink hy sal ‘n onderwyser wees.

My plaashuis sou spierwit mure hê, met ‘n stoep reg rondom, sodat ek op naweke agter die son aan kan trek, al om die stoep. In die kombuis sou ‘n kaggel wees, met ‘n lang tafel, waar ons saans sou aansit en eet van die kos, gemaak deur iemand met die naam Sarah, met ‘n kappie en ‘n voorskoot en ‘n ruim boesem, waar ek soms my frustrasies sou kon uitsnik, as dit dalk nie goed gaan met die boerdery nie, of as my onderwys man my kwaad gemaak het.

Daar sou altyd vars tuisgebakte brood en plaasbotter op my etenstafel wees, met korrel-druiwekonfyt. En moerkoffie.

En na ete sou almal op die plaas kom naderstaan het vir boekevat.

Met die jare het die lewe verbygegaan en die droom vervaag. Soms nog, as ek deur die Karoo ry, dan dink ek dat ek dalk van ‘n Karooplaas ook sou gehou het, met skape wat blêr in die verte. Met lammertjies wat in murgbeenkoue in die oggend gebore word, terwyl ek wolkies uitasem.

Die mens maak planne terwyl die lewe met jou gebeur, maar eendag as ek groot is wil ek nog steeds ‘n boer wees 🙂

Advertisements

7 Responses

  1. Ai, sou dit darem nou nie lekker gewees het nie né?! Maar mens kan darem nog droom daaroor! 🙂

  2. Dis ‘n lekker jop. Vrek harde werk, maar ek glo so belonend.

  3. Sonkind ek ruik sommer die tuisgebakte brood en moerkoffie!!! Jou inskrywing het lekker herinneringe en groot verlanges oopgekrap.
    Hoop jy voel al stukke beter na die griep 🙂

  4. Dit laat my terugdink aan kuiers by ouma en oupa op die plaas. Daar was ALTYD vars brood, lekker boerbeskuit en ouma se vyekonfyt was die beste in die wereld saam met dikgesmeerde plaasbotter. Ontbyt ,met krummelpap, roereier en biltong (net voorgereg) en dan spek en eiers en worsies en allerhande ander lekker dinge. Die lekkerste was ‘n yskoue glas volroom melk…vars van die plaas!
    Mens weet nooit, jy word dalk nog ‘n boer 😉

  5. Dankie, en jou sieknota word aanvaar. Dit is vreemd toe ek dit lees onthou ek maar dit was ook een van my drome, ek kan nie dink dat ek dit vergeet het nie. Ek het myself op ‘n perd se rug al langs die lyndraad sien afry, en ‘n verdwaalde skaap langs die pad kry… Snaaks hoe die lewe se uitdraaipaaie mens soms sulke dinge laat vergeet!!! Lekker inskrywing!

  6. Sonkind, dit is geen wonder ek boer hier by jou nie. Jou drome en my herinnering loop hand-aan-hand.

    Die kaggel in die kombuis klink wonderlik!

    Ek hou van taai donker broodkorsies met bietjie Marmite op. Daar kort net ʼn roostuin, watervore, ou akker en wilgerbome en die geklingel van ʼn koperklokkie om ‘n dier se nek. Amper vergeet ek van die ou klavier – nou is die prentjie perfek!

  7. My jinne, kan jy nou glo Ansophie laat die skrywe by haar verbygaan.

    Sy kon nou aangebied het om die moerkoffie vir jou aan te dra, en jou sweterige gesiggie met ‘n natgemaakte sakdoekie af te vee.

    Terwyl die koor in die agtergrond sing (baie sag):

    “Ou Son sny koring op die land, dis geel en lyk soos goud……….bring HAAR koffie na die land…..”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: