Muses

Wipneus vertel hier van haar Muse. Toe raak ek nuuskierig en gaan lees bietjie oor Muses.

Baie kunstenaars, skrywers, digters en musici het al vertel dat hul kreatiewe werke deur iemand anders geïnspireer is. Na hierdie iemand verwys hul dan gewoonlik as hul Muse.

‘n Muse is iemand wat so ‘n groot invloed op ‘n ander persoon het, dat hy of sy die fokus van daardie persoon se skeppende werke word. Histories is hierdie term deur mans gebruik wanneer hulle verwys het na die vroue wat hulle liefgehad het en wat hul werke geïnspireer het. Hulle het dan ook oor hierdie vroue geskryf, gedig of hulle geskilder.

Die woord muse kom van die Griekse mitologie. Zeus, koning van die gode en Mnemosine, godin van die geheue, het nege dogters gehad, wat die Muses genoem is. Hierdie nege dogters was een in hart, gees en denke. As die Muses ‘n man liefgehad het, het hierdie man se sorge soos mis voor die son verdwyn. Hierdie man is dan ook as meer heilig geag as enige ander heilige man.

Dwarsdeur die geskiedenis van die kunste is mans en vrouens geïnspireer deur hul eie muses. Dink aan John Lennon en Yoko Ono, twee mense wat mekaar geïnspireer het en ook die onderwerpe van mekaar se werk geword het. Nog ‘n wêreldberoemde kunstenaar wat deurentyd sy muses gebruik het in sy werk, was die skilder Pablo Picasso. Elkeen van die vroue wat hy ontmoet en liefgehad het, is later in sy werke verewig.

Picasso het verskeie verhoudings gehad, waarin hy vele vroue se harte gebreek het. Picasso se werk toon hoe elke verhouding van hom verloop het, van die eerste opwinding van ‘n nuwe romanse tot by die verbrokkeling van die verhoudings. Al die stadiums kan in sy werk gesien word. Hy is somtyds fel gekritiseer omdat hy die vrouens in sy lewe so maklik kon eenkant skuif as die inspirasie begin kwyn het en sy werk daaronder begin ly het. Dan het hy doodeenvoudig aanbeweeg na ‘n nuwe vrou, ‘n nuwe romanse, ‘n nuwe muse, wat hom opnuut weer inspireer het.

Die muse is nie altyd ‘n lewende wese nie. Muses kan ook van ‘n spirituele wêreld of van ‘n ander dimensie kom. Of jou muse nou van ‘n spirituele of van ‘n persoon van vlees en bloed kom,  jy sal altyd jou inspirerende of kreatiewe oomblikke te danke hê aan jou Muse. Jou lewe sonder ‘n Muse is heelwat armer.

Hier is die nege Muses, met die velde waarvan hulle die beskermers is:

Kalliope (wonderskone van spraak) – hoof van alle muses en die muse van epiese en heroïse poësie

Clio (die glorieryke een) – muse van geskiedenis

Erato ( die amoreuse een) – muse van liefdes- of erotiese poësie, lirieke en huweliksliedere

Euterpe (die welgevallige een) – muse van musiek en liriese poësie

Melpomene (die voorsanger) – muse van tragedie

Polyhymnia (die sanger van vele gesange) – muse van gewyde liedere

Terpsigore (die een wat lief is vir dans) – muse van sang en dans

Thalia (die bloesende een) – muse van komedie en herderspoësie

Urania (die hemelse een) – muse van astronomie

***************************

Wipneus, jy moes tog kon raai wat my Muse is – nie ‘n mens of wese nie 😆

Het jy ‘n Muse? Vertel ons! 😉

Bronne:

http://www.wisegeek.com/what-is-a-muse.htm

http://en.wikipedia.org/wiki/Muses

Advertisements

16 Responses

  1. muse passie

    jy’s honger
    en soekende
    en gek oor my
    soos ek oor jou
    en ek gee myself
    weg vir jou oor lyne
    en blaaie en hoofstukke
    verloor ons onsself maar ek
    ken jou nou en lees jou soos
    ‘n boek en as ons eendag in
    ‘n ander dimensie ontmoet
    sal ons lippe mekaar sinne
    op soek as ons dalk een
    dag sou ontmoet tot
    dan bly ons virewig
    muses en lovers
    tussen blaaie
    van ‘n boek

  2. ons tye in muse hande

    ons tyd is nie in ons eie hande nie
    ons moet vertrou
    dat die Muse ons sal help
    dat ons weet uit die palm van haar hand
    gee sy lewe en bessies uit die veld
    granaatpitte soet en rooi
    en varkore langs die dam
    leer ons vertrou
    en vervul ons met wysheid
    so mildelik so soet
    hierdie dinge het gebeur
    en vir my bly dit goed

  3. ek dink mens kan heeltemaal in mens se verbeelding in droom oor muses, eienaardig want ek het seker 20 Muses gedigte geskryf en twee jaar terug het ek nie geweet van die bestaan va muses nie……….

  4. He he Sonnie, ek is bly jy het jou muse gevind!! Ek het nogal gedink die berg sal jou muse wees 😛

    Kan jy die berg sien van waar jy bly?

    Musie het op ‘n spa vakansie gegaan….. al my vervlakste kreatiewe denke is nou saam die man op vakansie! 😈

    Ek wou Musie se naam Urania gegee het, maar dit klink vir my te veel na pp of “Orania” !! Net nou dink die mense ek is regtig die kluts kwyt!! 😆 😆

  5. Ja, Wipneus, ek sien die berg van waar ek bly, ek sien hom elke oggend as ek werk toe ry en ook as ek by my werk se een venster uitkyk. 🙂

    En as ek terugvlieg elke maand van Johannesburg af en die vliegtuig kom in om te land, soek ek eerste die berg, dan skop my hart choklits en ek weet: “I’m Home!”

    Soms dink ek mense dink seker ek is verspot om so aan te gaan oor ‘n stuk klip, maar daai berg is deel van my siel – ek kan dit nie verduidelik nie.

  6. Baie interessant Sonkind, ek dink my muse sal seker Polyhymnia (die sanger van vele gesange) wees.

  7. Son, daardie berg is mooi!!! Daar is net een Tafelberg in die hele wêreld en jy is nog so bevoorreg om hom elke dag te sien ook. Buitelanders moet baie dollars betaal om jou “muse” te sien!

    Ek kan verstaan dat jy so mal is oor daardie stuk klip, die natuur is magic!!!

  8. Cool stuk…baie geniet. My muse..sal moet dink daaroor. Seker maar die Babels-toring in my kop! I hear voices, they are fighting…in my head.la-la-la-la
    😆

  9. Corny as it may sound, I married my muse. Sy is die een wat my inspireer om more nog bietjie harder te probeer, en sy is ook die een wat al my sorge soos mis voor die son laat verdwyn.

  10. My ‘muse’ is ‘n Suid-Afrikaner en op strike… Ek sal maar laat weet wanneer die vergoedingskwessie opgelos is. 👿

  11. My muse . . . . alles en almal wat my pad kruis.

  12. Ek weet nie watter een my muse is nie, maar weet net sy is nou reeds maande vermis.

  13. Mooi inskrywing.

    Ek is bly om te sien Wipneus sê ook “vervlakste kreatiewe denke”, want ek het agtergekom mens stel jouself nogal bloot met ‘n skrywery – mense wat nie die drang het nie verstaan dit nie altyd nie. Dus het ek al eenkeer ‘n kort maar kragtige versie geskryf (wat ek nie sommer met enigiemand deel nie) om my muse te vertel presies wat sy met haar inspirasie kan doen. Glo my, dit help ook nie! Sy kom maar weer, al is dit nie so gereeld nie.

    En wie sy is? O nee, ek weet nie, ek ken haar nog nie so goed nie.

  14. Bib, ek dink ons s’n het saam weggeloop….

  15. My Muse het ook sy gesig versluier – nou kan ek nie help om te wonder of ek nie die probleem nie op die verkeerde plek soek nie?

    Dalk het my siel net “hokaai, give me a break!” uitgeroep, en toe niemand luister nie, het die skryfmotore afgeskakel – dit is dalk net weer ‘Spring clean’ en herstel tyd……

  16. Hier sien ek die nou eers raak! Wat ‘n heerlike inskrywing Sonkind! Dankie.
    My Muse is tot ‘n mate boeke, hulle gee my weer krag, Maar enkele woorde, of ‘n skielike besef nadat mens jare oor iets gedink het of gewonder het en dan kom dit by jou op, is vir my ook vreeslik inspirerend. Soms is dit net n sin uit iemand anders se mond, ‘n oomblik, ‘n klank of ‘n reuk.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: