Dag- of Nagmens?

Van kleintyd af moes ek gereeld hoor: “Komaan, komaan, staan op! Gisteraand was jy Kaatjie van die baan en vanoggend is jy dooie bobbejaan!”

EK IS NIE ‘N OGGENDMENS NIE! EK IS NIE ‘N OGGENDMENS NIE! EK IS NIE ‘N OGGENDMENS NIE!

Ek dink julle kry die prentjie 🙂

Ek is die Wilde Wragtig van die Weste vroegmore. Moenie vir my sê die oggendstond het goud in die mond nie – ek mag jou dalk net spoeg!

Ek is nie in ‘n beroep waar ek vroegaand tot laatnag kan werk nie, ek MOET soggens 6 uur opstaan en dis ook al “pushing my luck”. Maar van skooldae af het ek geleer om alles reg te sit in die aand, voor ek gaan slaap. Soggens is ek op robot ‘mode’.

Toe ek nog op skool was, was my skoolklere mooi netjies in volgorde neergesit, sodat ek toe oë kon aantrek in die oggend, nadat ek toe oë my tande en hare geborsel het, gelukkig darem elkeen met die regte borsel. Ja, moet eerder nie vra hoe lyk toe oë geborselde hare nie. Kleintyd het my ma dit gevleg terwyl ek gil met toe oë. Hoërskooltyd het ek dit kort genoeg laat knip sodat ek dit toe oë kon borsel en min of meer respektabelik kan lyk.

Winters het ek gehaat, want dan moes ek nog donkernag ook opstaan en baie meer klere toe oë aansukkel!

In elk geval, nadat ek darem aangetrek gekom het, het ek my oë net effens genoeg oopgemaak om my fiets te kry en skool toe te ry, sonder om te veel wakker te wees. Ek het dan ook gewoonlik met klokslag eers deur die hekke gejaag en die ry klas toe met ‘n splitsekonde betyds gehaal. Darem nooit laat nie, maar ook net op ‘n nerf na betyds. Omdat ek andersins redelik georganiseerd was, het ek nie te sleg gevaar tot ek hier teen 10 uur eers wakker geword het nie. Ek het die kuns om slapend wakker te lyk, vervolmaak!

Tweede pouse het die vaak my oë vetergaatjies getrek en het ek myself belowe; vanaand gaan ek vroeg slaap! “Famous last words.”  As dit kom aand word, dan is ek so wakker soos tien. Dan kan ek berge versit en wonderwerke verrig. Die energie borrel behoorlik deur my are. Ek sal ‘n marathon hardloop, my kaste begin regpak – enige iets en alles, behalwe slaap. As ek dan noodgedwonge bed toe gaan, lê ek en gaan op reise in my kop. Dit help min ek vertel myself ek moet nou slaap, want môre gaan ek weer doodmoeg wees. Aikona. Iewers kom haal die slaapfeetjies my darem, net om die volgende dag die patroon te herhaal.

Net na skool, is ek Weermag toe, Vroueleërkollege op George. WAT my besiel het, sal ek nooit weet nie. Behalwe vir die feit dat ek tot vandag toe nie ordentlik kan stryk nie, kan ek ook nie voor 10 in die oggend enige kos in my keel af kry nie. Teen die tyd dat ek behoorlik wakker was, was ons gewoonlik reeds op die paradegrond, besig om te dril. Omdat ek nie so vroeg kan eet nie, was ek in die begin menige dag naar gedril. Later het ek myself gedwing om soggens in my slapende toestand taai pap of harde eiers deur my keel te wurg, sodat ek net nie later omval nie. Gelukkig het ons nooit vroeg skietbaan toe gegaan nie, want ek kon nogal goed skiet en sou dalk net in my slapende toestand die 9 mil in die Korporaal se rigting gemik het.

In my huidige werk het niks verander nie. Ek sleep my slapende lyf soggens uit die bed, in my klere in, in my motor in en werk toe. Moenie met my praat nie, moenie vir my kyk nie, moenie my iets vra nie en moet verdomp asseblief ook veral nie voor my inry voor 10 uur in die oggend nie. Of dan ten minste nie voor ek 2 koppies koffie gedrink het nie – die wonder van kafeїen! Sommige oggende word ek verwonderd by my rekenaar wakker en wonder hoe ek daar gekom het, ten volle geklee en nogal met grimering aan. Ek verwag steeds soms om ‘n streep lipstiffie oor my oog te sien en dalk oogskadu oor my lippe.

Naweke is natuurlik ‘n fees. Dan kan ek slaap tot so laat ek wil en wakkerbly tot 3 uur in die oggend, as ek wil. Tussen 1 en 2 uur in die nag is ek op my kreatiefste. Gelukkig is die Liefie ook ‘n nagmens, anders het ons mekaar dalk al verloor tussen dag en nag 😆

Ek dink dit moet hel wees vir ‘n nagmens om met ‘n dagmens getroud te wees, of andersom. Ek wil hierdie glimlaggende oggendmense, wat soggens rondwip en tjirp soos kwikstertjies, soms gryp en verwoed rondpluk. Hoe kan hulle so vrolik wees so vroeg in die dag? En hoe kan hulle dit regkry om saam met die hoenders te gaan slaap?!  😈

Maar nou ja “sug”.

Is jy ‘n dagmens of ‘n nagmens?

Advertisements

18 Responses

  1. Ek is een van die gelukkiges. Dit maakie regtig saak nie. Ek kan met baie min slaap funksioneer. Maar ek staan nooit later as 6 uur in die oggend op nie. Ek is dus seker so bietjie van beide.

  2. Ek is ‘n nagmens. Veral in die winter. Kan maklik voltyds nagskof werk.

  3. “Ek wil hierdie glimlaggende oggendmense, wat soggens rondwip en tjirp soos kwikstertjies, soms gryp en verwoed rondpluk”

    Ek kan nie meer saam met jou stem nie! Ek is ‘n mens vir die nag!

  4. Stem 100% met jou saam, is ook nie ‘n dagmens nie. Maar my man is wel en dit het veral in ons begindae soms nogal kwaai wrywing veroorsaak.

  5. Jy beskryf my daar! Ek kan ook jol en tekere gaan tot baie, baie laat. Ek gaan bed toe omdat ek myself dwing. Somtyds eers 3 – 4 uur. My man is ‘n dagmens. Sesuur is hy wakker, maak nie saak wat nie. Gee die romanse nogal opdraende, want die idee om 8 uur in die bed te gaan klim, skakel my nie juis aan nie! 😀

  6. Dis asof jy my opgesom het…!
    Ek haat oggende en my ma was altyd so wreed toe ek nog op skool was. Sommer die gordyne so oopgepluk en die komberse afgeruk en dit oor naweke ook nog. “Mens kan nie net heeldag wil slaap nie” Se wie??? My pa aan die anderkant, het bietjie meer simpatie gehad en my altyd mooi wakker probeer maak.
    Ek begin eers spoed vang as die son begin sak en ek moet se dat my lewenstyl hier in Korea hemels is en dat dit baie moeilik sal wees om weer by normale werksure aan te pas. As jy my nou deur die dinges en bemoerd wil sien, maak my vroeg wakker! My hart slaap nog, dan moet ek al operate….vergeet dit!

  7. Nag mens hier! Ek praat met niemand in die ogend, selfs Triston het geleer om nie teveel van my te vra vroeg ogend nie… snaaks dat hy n oggend mens is… hy word met n groot smile wakker en vertel my hoe lekker hy geslaap het… ek moed eerst tande borsel hare kam en soos n mens voel dan se ek more vir almal!

  8. Ek is ʼn naguil, maar ek skryf die lekkerste vroegoggend hehe, baie vroegoggend, so hier van 4uur se ontwaak af, dis natuurlik te sê as ek myself kon forseer om voor 10 uur te gaan slaap – maar, met my gebloglesery gebeur dit maar min deesdae.

  9. Saans vrolik, smoors olik is die spreuk wat my ma ons altyd mee wakker gemaak het.

    Noudat ek oud is, is daar minder slaap nodig en naweke of vakansiedae wat mens laat kan slaap, word ek wragtig elke oggend 4.30 wakker, so slaap maar julle slaap terwyl julle nog kan.

  10. 😆 Ek is nou een van daai voëltjies wat julle lus kry om rond te pluk!! In die somer staan ek soms 4 uur op maar in die winter lê ek bietjie later. Ek is weer op my kreatiefste so vroeg in die oggend. My bedliggie word darem eers êrens tussen 10 en 11 in die aand afgesit.

  11. Nagmens. En in die oggend moet ek saggies wakker word, ek wil nie met ‘n lawaai wakker gemaak word nie,
    Dêm alarm!!

  12. Versteekseker ‘n nagmens. Ek moes al heeldag werk,maar ek het eerder rond gele en nou dat die son gesak het gaan ek begin werk tot die mooiste tyd van die dag – moreoggend..

  13. My man en altwee my kinders is oggendmense…. Soms wik ek aan die randjie van moord… Ek wil slaap, inlê tot ten minste 7 uur, maar nee, 4 uur is Poppe op en kort op haar hakke is die ander twee aan die gang…. En vanaand 8 uur, slaap almal en ek loop soos ‘n verwoede bees deur die huis!!!! Dis nie maklik nie Sonnie, glad nie maklik nie… 👿

  14. Toe ek jonk was het ek dikwels deurgedruk tot 1-uur of 2-uur in die nag. Deesdae sukkel ek om verby 11-uur of middernag te kom. Soggens is ek ook maar redelik op auto-pilot. Behalwe naweke – dan is ek gewoonlik wakker dieselfde tyd as in die week, besig om te lees en radio te luister. Dalk hang dit bietjie af van wat mens moet of wil doen.

  15. Ek’s ‘n dag mens, maar nie ‘n oggend mens nie. Hou van so 8 uur opstaan en dan operate ek goed tot so 11 of 12 uur. Liefie is uit en uit ‘n nag-uil. As my liggie begin dof skyn gaan hy op bright! Dis moeilik… 😉

  16. Ek het nie rerig ‘n probleem met vroeg opstaan nie, maar ek is ook nie so vrolik dat jy my sal wil wurg nie! 😆

    Ek is mal oor slaap. In die week slaap ek teen 10uur in die aand. Naweke kan ek laat wakkerbly, want ek weet ek kan die volgende dag laat slaap. Maar my liefie is naweke ook teen 6:30 uit die vere. Ek kan maklik slaap tot 11uur!

    Sondae aande sal jy my dikwels teen 7uur saans in die bed kry, veral in die winter. Maar ek slaap darem nie dan al nie, ek lees of vul blokraaisels in tot so 9uur… 😉

  17. As die wekker afgaan, staan ek haaswakker, op aandag langs my bed. 3am, 11pm, 5am, whenever. Ek het nie ‘n probleem met wakker word nie.

    Dis die bykom wat soms hikkings toon!

  18. Die mense wat 6 uur die die oggend al 10 goed gedoen het, moet ‘n lewe kry asb.

    Ek kan met oortuiging se dat ek nog nooit in my lewe , op en wakker, glimlaggend en plesierig uit die bed gespring het nie.

    bring vir my die nag, wanneer alles stil is en ‘n mens na jou binnekant kan luister. niks is so mooi soos 3 uur se stilte en koue nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: