Wat is die ergste…

…om die een wat jy liefhet aan die dood te verloor, of aan die lewe te verloor?

As die een wat jy liefhet doodgaan, is dit erg. Jy is hartseer en dit vat dalk lank voor jy vrede met die persoon se dood maak, maar jy het altyd jou mooi en goeie herinneringe.

As jy die een wat jy liefhet aan die lewe verloor, (ander vrou / ander man / ander enigiets) wat het jy dan oor? Die mooi herinneringe gaan vir altyd besoedel wees met die wete dat jou geliefde nou iewers anders aan ander herinneringe bou, waaraan jy geen deel meer het nie.

Hoe lief moet mens iemand hê om tevrede te wees dat hy / sy gelukkig is, al is dit nie saam met jou nie? Watter soort liefde veroorsaak dat jy iemand eerder dood sal sien as gelukkig saam met iemand anders?

Daar is ‘n gelykenis in die Bybel, waar twee ma’s oor ‘n kind baklei het en Salomo ten einde raad voorgestel het dat hy die kind in twee kap, ‘n deel vir elke ma. Die regte ma het toe teruggestaan en gesê nee, die ander ma kan dan maar liewers die kind kry.

Dit is ware liefde. Onbaatsugtige liefde, waar die een wat jy liefhet se geluk belangriker is as jou eie.

Hoeveel van ons het so lief?

Sou jy die kind in twee laat kap het – figuurlik gesproke?

Advertisements

17 Responses

  1. Dis darem ‘n baie diep ding om oor te wil praat oor ‘n naweek… Dit het my baie gepuzzle toe jy ander dag hierdie einste uitdrukking op my blog gebruik het, en ek het nogal baie daaroor gedink.

    Paulus skryf êrens in die befaamde 1 Kor. 13, die liefde-hoofstuk van die Bybel, onder andere van die liefde dat dit nie sy eie belang soek nie; Salomo moes dit al geweet het daai dag met die twee mammies, want in wie se belang het die mammie opgetree wat gesê het, kap hom maar middeldeur, en in wie se belang het die ander mamma opgetree?

    Ek staan eerder iemand aan die lewe af voor ek iemand aan die dood afstaan. Hoekom? Daar is ‘n finaliteit aan die dood want as iemand dood is kan jy nooit weer ‘n poging aanwend om dit wat fout was reg te maak nie. Al was daardie persoon hoe kwaad vir jou, hulle kan nie eers vir jou hallo sê oor ‘n telefoon en jy partykeer hulle stem hoor nie.

    ‘n Mens kan miljoene brue verbrand, maar wanneer die lewe nie meer daar is nie, is die laaste brug gebrand en daar is geen manier meer om by daardie mens te kom nie. Solank as wat daar lewe is, is daar altyd ‘n manier.

    Dankie, Sonkind, vir ‘n mooi, sielvolle inskrywing.

  2. Ek dink dit is makliker op die mens om ‘n geliefde aan die dood af te staan as aan iemand anders.

    Tog kan jy nie iemand waarlik lief he as sy / haar geluk vir jou nie belangriker is as jou eie nie.

  3. Ek was al by daai kruispad – waar ek die einste vraag gevraag. Ek dink om iemand aan die lewe te verloor is die ergste, vir my. Dis bitter seer.

  4. Ek is oortuig dit is seerder om iemand aan die lewe af te staan…. Die dood is ‘versoenbaar’… Maar as daardie persoon ‘n ander rigting inslaan is daar altyd die vrae: Wat as ek…? Wat het ek verkeerd gedoen…? Hoe kon ek situasies anders hanteer het…? ens, ens…

  5. Dis makliker om iemand aan die dood af te staan. Hierdie ding het natuurlik ‘n ander draai ook. Jy kan iemand wat Alzeimer het aan die lewe afstaan….. sy is daar, maar eindelik ook nie…..

    Son ek is nie “pure” wat hierdie afstaan aan die lewe betref nie, ek gaan dit nie baie lekker doen nie 😈 😉

  6. Nico, om iemand aan die lewe af te staan, is ‘n seer sonder einde – veral as jy weet dit kon anders gewees het. Ek wens dit my grootste vyand nie toe nie.

    Die wond genees, maar die roof bly maar veldiep. Soms laat net die noem van ‘n naam weer die bloed uit die wond syfer. Soms is daar juis nie meer hoop nie, al is daar nog lewe.

    Om iemand aan die dood af te staan, is meer finaal, maar die seer genees tog en eendag begin mens weer vorentoe kyk en met ‘n skoon bladsy aangaan.

    Ek sal darem nie iemand doodmaak omdat ek hom nie self kan he nie, hoor 🙂

    Maar soos meeste van julle hier, dink ek ook dis makliker om iemand aan die dood as aan die lewe af te staan.

  7. Om iemand aan die dood af te staan, moet mens ook maar die omstandighede in ag neem, want dit kan die lyding van ‘n agtergeblewenne bepaal. Ek dink, dieselfde geld om iemand aan die lewe af te staan.
    Ek hoop om vroeg volgende jaar, ‘n sussie van my te ontmoet, wat 55jaar gelede aangeneem is. Al het ek haar nooit gesien of geken, was sy nooit uit my gedagtes en ek het altyd oor haar gewonder. Ek kan dus nie dink, wat het in my oorlede moeder se gedagtes aangegaan. Die lyding moes ongekend gewees het. Ek en my sussie het nou kontak oor die internet aangesien sy vir die laaste 20 jaar, in Londen woonagtig is. Daar gaan dus nog erger snot en trane wees, wanneer ons mekaar ontmoet en tog het ek vrede omdat dit met haar goed gaan en omdat sy ‘n goeie lewe het.
    Miskien aanvaar mens die afstaan aan dood makliker, as om een aan die lewe af te staan. Sou haar lewe sleg uitgedraai het, sou die lyding nog erger gewees het. Wat van, as mens nooit weet hoe so een se lewe uitgedraai het. ‘n Lyding tot by die graf.

  8. haai dis my eerste keer hier en ek moet se hierdie is ‘n eina onderwerp . Ek het die afgelope 2 maande ook my vrou aan die lewe af gestaan en dit is verseker die seerste seer want hoe se jy totsiens as jy haar nog sien hoe laat jy gaan as jy nog lief het en hoe neem jy afskyt as jy nie eers jou trou ring kan afhaal nie?Ja hoe troos jy jou kinders as jou eie hard in vlarde is? Ek het nog nie die antwoord gekry nie maar vra gereeld vir God om my te help, my te dra en mydie antwoord te wys. Ek persoonlik dink dis Boos, Suiwer uit dit hand van die vyand.

  9. Dis moeilik om te sê. Liefde is ‘n moeilike ding- en verduidelik dan vir my as mens sê dat jy vir die jare wat verby was in anyway nie die persoon lief gehad het nie, hoekom wil jy hom breuk en uit mekaar skeur dat niks oorbly nie. Maar jy het hom nie liefgehad nie hoe nou ?

    Maar die inskrywing laat my dink

  10. @ inSyarms – Boeta, ek bid saam met jou dat dinge sal betergaan. Hierdie seer van jou raak ons almal en ons almal bid saam met jou… Glo net dat dit weer beter sal gaan!

  11. Daar is ‘n bittere fyn lyn tussen liefde en haat- Ek dink dat liefde (eros) baie maklik in haat kan verander. Ek moet egter saam met Nico stem dat die dood finaal is en dat indien daar onverwerkte rou is, dit kan lei tot ‘n ewige onrus in jou gemoed. Hoe maak jy vrede met ‘n spook?

  12. eish! liefde!

  13. Ek dink wat baie keer gebeur as jy iemand aan die lewe afstaan is selfverwyt en selfs selfhaat. Die enigste manier hoe ek dink dit moontlik is om iemand aan die lewe af te staan en nie self dood te gaan nie is om jouself toe te laat om die seer so seer as moontlik te ervaar. Om te gaan stap op die strand van herinneringe. Om te skree en huil en vloek so hard en sag as wat jy kan. Om jouself jammer te kry oor dit wat nie meer is nie. En dan begin die genesing. Dan word daai wond ‘n roof. En elke nou en dan kap jy jou knie en dan bars dit weer oop en dis donders seer, maar jy laat jouself toe om seer te kry, maar net vir ‘n rukkie. Net vir tien minute in die oggend voordat jy met jou dag begin… maar dis wat jy jouself gee, niks meer nie. En as jy jou knie in die middel van die dag kap, byt jy op jou tande en wag vir moreoggend..

  14. Ek dink om iemand aan die lewe af te staan is baie seer. Om hom saam met haar te sien. Om te dink hoe hy vanaand in haar arms le. Daar waar jy moes gewees het…
    En ja, om so lief te he dat sy geluk belangrik is is seker ware liefde. Ek gun hom dit. MAAR…. dit maak nie die seer minder nie, doen dit???

  15. Toe die sonnetjie my warm bak vanoggend toe mis ek haar, O Ma ek verlang na jou..

    Dit is stil in die hoeke in die koue seisoen. Kan jy sien wat die wind en die weer aan my doen. Sonvanger, ek vra jou mooi, laat hom skyn. Sonvanger laat my verstaan hoe n somer sommer so in die niet kan verdwyn, en laat hom skyn! Bring n’ bietjie lig vir die draaie op my pad, n’ handjie vol strale vir die donker in my hart!..”

  16. Glas steek in die kaalvoetliefde en sweer nie om uit te kom die pyn laat my liggaam verkrummel in die ruk van die seer soek ek na God.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: