‘n Anderste Sprokie

Wipneus het my ge”tag” om my en die Liefie se storie te vertel, of te wel ons sprokie. Wel, my sprokie is eers glad nie ‘n sprokie nie en dan eers ‘n sprokie; so dis ‘n anderste sprokie. Kom ek voer julle weg na ‘n ver, verre land 🙂

Eendag, lank lank gelede, in die koninkryk van Berg-en-Seeland, is daar ‘n dogtertjie gebore vir koning Kenneth en koningin Magriet. Sy is in die middel van ‘n snikhete somer gebore en soos sy grootgeword het, het haar ouers gesien dat sy vreeslik moeilik en iesegrimmig is as die son nie skyn nie, maar dat sy die soetste kind denkbaar is as dit sonnige weer is. En dat sy baie lief is vir lag en vrolik wees. So het sy later die bynaam Sonnie gekry en almal in die koninkryk het later vergeet wat haar regte naam is en haar net prinses Son genoem.

Sy was ‘n maklike kind, glad nie baie stout nie, net lief vir terg en poetse bak. Sy het baie meer gelag as gehuil en was mal oor diere. Op ‘n tyd het sy 17 katte in die paleisgronde gehad en elkeen by die naam geken. Sy het ook hard geleer aan alles wat ‘n prinses moet leer en sy het haar altyd goed gedra as die koningsgesin in die openbaar moes verskyn.

In die koninkryk het sy baie maats gehad. Sy het darem later ook ‘n sussie bygekry waarmee sy kon speel. Haar ouers het haar toegelaat om met al die ander kinders ook te speel, want koning Kenneth was ‘n goeie koning wat almal dieselfde behandel het en goed was vir die mense in sy koninkryk.

Toe prinses Son 18 jaar oud word, neem die koning die gesin met vakansie na die Land-van-Goud. Daar ontmoet prinses Son vir hertog P en sy word verblind deur sy sjarme, sy aantreklikheid en al die aandag wat hy aan haar skenk.

Kort voor lank kom vra die hertog haar hand, maar koning Kenneth het dwarsdeur hom gesien en hy was nie so seker dat hy wou hê sy dogter moet met hierdie swerkater trou nie. Vir die eerste keer word prinses Son erg rebels en baklei sy lelik met die koning en koningin.

Koningin Magriet was verstom oor haar dogter se “tantrums”, maar dink toe daaraan dat prinses Son nog altyd geweet het wat sy wil hê en dat sy nog altyd ‘n goeie oordeelsvermoë gehad het en sy tree vir die paartjie in die bresse by die koning. Baie teen sy sin stem die koning in dat hulle kan trou.

In Berg-en Seeland word ‘n feestelike troue uit die boeke gereël vir die paartjie. Dis ‘n sprokiestroue en na die paartjie se wittebrood gaan bly hulle in die Land-van-Goud. Vir die eerste keer in haar lewe is prinses Son duisende kilometers van haar familie af. Sy ken niemand in die Land-van-Goud nie, net haar hertog. Die eerste ses maande leef sy en haar hertog ‘n sprokie, maar toe begin die hertog sy ware kleure wys.

Kort voor lank leer prinses Son sy verskriklike humeur ken en sy leer om altyd in haar spoor te trap en versigtig te wees om die hertog nie onnodig kwaad te maak nie. Somtyds raak die hertog so verskriklik kwaad dat hy die prinses seermaak, maar sy vertel vir niemand daarvan nie, ook nie vir koning Kenneth of die koningin nie. Sy sien hulle in elk geval net een keer ‘n jaar en dan sit die hertog sy beste voetjie voor. Die prinses kry te skaam om vir die koning te vertel hy was toe al die tyd reg en sy bly hardkoppig by die hertog, want intussen is daar al reeds ‘n klein hertog en hertogin gebore.

Vir baie jare lewe die prinses so saam met die gemene hertog. Sommige dae is sy gelukkig, of maak sy haarself wys sy is gelukkig, maar meeste van die tyd lewe sy maar net. Al haar sonskyn het verdwyn en sy het byna nooit meer gelag nie. Sy het ook nie baie vriende gehad nie, want die hertog het niks daarvan gehou as sy baie lag en gesels nie. Dit het hom net nog meer humeurig gemaak.

Op ‘n dag kom die hertog weer dronk by die huis aan en verskree die prinses, maar val toe gelukkig aan die slaap voor hy te kwaad kon raak. Die prinses het lank doodstil vir hom sit en kyk waar hy lê en slaap en baie dinge gedink. Toe staan sy op en besluit tot hiertoe en nie verder nie.

Terwyl hy slaap, pak sy net die nodigste vir haar en die klein hertog en hertogin. Sy span haar koets en perde in en val in die lang pad, terug na die koningshuis in Berg-en-Seeland. Omdat sy weet dis verskriklik ver en dat die hertog dalk agter haar sal aankom, vat sy ‘n ompad, wat haar drie keer langer neem om by Berg-en-Seeland uit te kom. Maar uiteindelik sien sy haar ouers se paleis in die verte. Doodmoeg haal sy die laaste bietjie uit die perde, wat net so verskriklik moeg is en jaag deur die hekke.

Die koning en koningin was diep geskok toe hulle uiteindelik die hele waarheid uit prinses Son kon uitkry en die koning wou dadelik van sy manskappe stuur om te gaan oorlog maak teen die hertog. Die koningin het hom egter tot bedaring gebring en laat besef dat die hertog immers hulle kleinkinders se pa is en hy dus nie sommer net die hertog kan laat doodmaak nie. Die gevolge sou verskriklik wees.

Die koning het toe sy hoogste geleerde raadslede laat kom en hulle het gesorg dat die hertog verbied word om naby die prinses te kom, en net die klein hertog en hertogin kon sien onder toesig van die koning se raadslede. Die huwelik tussen die prinses en die hertog is ook ontbind deur die koning se raadslede.

Twee jaar het verbygegaan, waarin prinses Son weer stadig maar seker haar lag en lewenslus teruggekry het. Die klein hertog en hertogin het ook gedy onder hulle ouma en oupa se aandag en daar was weer die vrolike gelag van kinders in die paleis.

Daar het gereeld hofmakers by die paleis opgedaag. Prinses Son het gelag en gedans, maar van ernstig raak oor enigeen en weer trou, wou sy niks weet nie. Sy het haar vertroue in haar eie oordeel verloor en as sy van ‘n hofmaker begin hou het, was sy aspris lelik en aaklig met hom, totdat die arme vent moed opgegee het en vanself verdwyn het.

Terwyl prinses Son in die Land-van-Goud gebly het, het sy bevriend geraak met die ma van ‘n ridder wat verbonde was aan die koningshuis van die Land-van-Goud. Soms was hierdie vrou amper vir haar soos ‘n tweede ma.

Op ‘n dag kry sy ‘n uitnodiging na ‘n dinee. Die uitnodiging was van die ridder se ma, wat besluit het om in Berg-en-Seeland te kom aftree. Prinses Son was vreeslik bly en aanvaar dadelik die uitnodiging.

Toe sy die aand by die dinee aankom, is die ridder aan sy ma se sy. Aan etenstafel sit hy langs haar en hulle gesels kort voor lank land en sand. Hy het die hertog geken en op ‘n diplomatiese wyse maak hy seker dat prinses Son weet wat hy van die hertog se lae gedrag dink en ook dat hy baie graag die prinses van nader sal wil leer ken.

Die prinses stem in om die volgende week saam met die ridder te gaan perdry, maar hoe nader die tyd aan die afspraak kom, hoe benouder word die prinses, want sy besef dat sy darem al te veel van die ridder hou.

Op die dag van die afspraak, kruip die prinses in die toringkamer weg en niemand kan haar kry toe die ridder opdaag nie. Die koningin besef dat die prinses weer besig is met haar ou streke om die ridder die skrik op die lyf te jaag, maar sy kan maar net magteloos toekyk hoe die prinses probeer om die ridder die hasepad te laat kies deur haar aaklige gedrag.

Soms kan die prinses haarself nie keer nie, en dan gaan sy saam met die ridder op uitstappies, net om agterna weer dubbeld so kwaad te wees vir haarself, want sy besef dat sy heeltemal te veel van die ridder hou.

Op ‘n dag besluit die koning hy het genoeg van haar gedrag gehad teenoor die gawe ridder en hy laat haar roep na sy studeerkamer toe. Prinses Son weet onmiddellik dat sy ernstig verbrou het, want die koning het haar omtrent nog net vier keer in haar lewe na sy studeerkamer ontbied.

In plaas van om egter met haar te baklei, laat die koning haar sit en praat mooi met haar. Hy verduidelik dat hy verstaan dat sy nie meer haar eie oordeel vertrou nie, maar dat sy darem nog sy oordeel kan vertrou en dat hy dink die ridder is regtig ‘n goeie man. Hy kan sien dat sy baie van die ridder hou en dat die ridder tot oor sy ore verlief is op haar. Hy laat dan ook die prinses belowe dat sy nie verder die ridder vir die gek sal hou nie. Sy moet hom of finaal wegstuur, of ‘n regverdige kans gee.

Hierdie keer het die prinses besluit om die koning se raad te volg. Sy het die ridder genooi vir ‘n piekniek en toe hulle alleen by die rivier sit, het sy hom alles vertel van haar lewe saam met die hertog en dat sy jammer is dat sy lelik was met hom, maar dat sy graag voor wil begin en hul vriendskap ‘n kans wil gee.

Die ridder het haar hand vasgehou en belowe dat hy haar sal leer om weer te vertrou en weer lief te hê. En dat hy ook baie mooi na die klein hertog en hertogin sal kyk.

‘n Jaar en ‘n half na daardie dag by die rivier, is die prinses en die ridder stil getroud in die kerk langs die paleis. Hulle leef nou nog gelukkig saam en hy het sy belofte nagekom, tot vandag toe nog!

Fluit-fluit, my storie is uit 😉

Advertisements

15 Responses

  1. Soos Sarel Seemonster sal sê “stories is my leeeewe!”

    Stories van die Liefde is my leeeeewe!!! 🙂

  2. Pragtig! Hoop julle sal nog lank en gelukkig saamleef 🙂

  3. Ek het so lekker gelees, ek het nie eers agtergekom hoe lank hierdie post is nie.

    Ek is bly die nagmerrie het in ‘n sprokie ontaard.

  4. There’s a happy ending for all of us! Party moet net harder werk of langer wag, maar dit moet net gebeur 😉

  5. Daai hertog kan seker sy gat skop. Ek’s bly die prinses het geluk gevind. Pragtig geskryf Son.

  6. U koningklike hoogheid prinses Son van Berg-en-Seeland, Prinses Wipneus sê mos altyd elkeen is verantwoordelik vir sy eie sprokie, as jy nie jou sprokie lewe nie, gaan soek hom. U Ma’am het dit gedoen! Bravo!! Wat ‘n mooi en gelukkige einde.

    Prinses Son, my niggie Prinses Anne van die Britse koningkryk het ook eerste met die verkeerde man getrou, en daar is sy ook nou net soos u die gelukkigste Prinses op aarde. Dis net my neefs waarmee ek so sukkel, Charles die een praat met plante 😯 en Neef Andrew se vrou Fergie het ons in die skande gesteek met daardie getoon suigery wat sy aangevang het. My tannie Koningin Elizabeth het haar dae met haar kinders.

    Groete hier vanuit die Koningkryk van Rome (Centurion) 😛

  7. ‘ n Werklik inspirerende verhaal. Ek hoop dat almal die lessie hierin sien en toepas. Mooi gedoen Son.

  8. Dis pragtig. Ek is bly die son is weer in jou lewe en dat dit goed gaan. Ons is elkeen verantwoordelik vir sy/haar eie geluk en om dit te soek of aanvaar vat moed. Ek hoop jou sprokie hou vir altyd!! 😉

  9. En so skyn die son weer. Nice storie. Wys jou net dat na ‘n nagmerrie ‘n sprokie te voorskyn kan kom.

  10. Pragtige sprokie Sonstraal.

    Jong, julle het my nou regtig bekommerd, ek sal dalk ‘n skrywer moet gaan soek vir my verhaal 😉 – Moet niks so stunning daar by my verwag nie…. Prinses Son en Wipneus!

  11. Jinne Sonnie, jy MAG maar skryf. Ek het so lekker gelees aan jou storie. En ek is so bly die prinses het weer haar lag gevind. Ek hoop sy verloor dit nooit weer nie. 😉

  12. /me maak ‘n kniebuiging vir die koninklike prosessie wat verby beweeg. 😉

    Goed geskryf prinses Son! En prinses Wipneus, sê vir jou tant Liesbet sy moet daai kinders van haar bietjie vasvat!

  13. Wow, sonkind, dis amazing! Ek is so bly daar is ‘n ridder in jou lewe – ek hoop daar is een vir almal daar buite.

  14. Son, jy moet stories skryf, as jy die waarheid so mooi skryf.
    Ek is bly jy kon die eerste man los en ware geluk vind!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: