Vyf minus een

Dis koud in die Kaap, vrek koud en nat! Dit reën al twee dae aanmekaar. Ek verpes winter en ek verpes nat, eendeweer nog meer. Maar wat ek meer as winter en nat weer verpes, is ‘n tandarts. Ek loop Kaapse draaie om tandarts toe gaan, maar so maand of wat terug begin my mond aan die regterkant verskriklik pyn.

Eers kan ek nie die punt van pyn presies identifiseer nie, en ek maak myself wys dis iets soos koue in die kakebeen en NIE ‘n tand nie. Een oggend druk-druk ek so teen my kies en spring amper uit my klere uit. Die duiwel se drietandvurk kon nie seerder gesteek het nie.

Toe weet ek, my nommer is op. Tandarts is my voorland.

My vorige tandarts was ‘n sadis, so daar is geen kans dat hy my weer sal sien nie. Toe hoor ek van Dr Baard in Somerset-Wes, glo ‘n engel van ‘n tandarts. Ek bel, maar die eerste opening is in die tyd wat ek in Johannesburg is. Ek kry toe plek op 26 Mei, maar as gevolg van werksomstandighede, moet ek 26 Mei skuif na 4 Junie.

Ja, vandag! Intussen dokter ek my tandpyn met Myprodol stroop. Dis nogal vreeslik lekker verdowend 😆

Toe ek vanoggend opstaan, is dit 4 Junie en dis koud en dis nat. Ek vra vir Liefie of hy nie dink die tand sal vanself gesond word nie. Ek het darem nie lus om in die reën Somerset-Wes (dis 30km van ons af) toe te ry nie. Hy lag my uit en vertel my ek is nie ‘n babatjie nie en tande word nie vanself gesond nie.

Wel, ek het die kruistog aangepak en was nogals aangenaam verras deur die tandarts. Hy lyk glad nie soos ‘n tandarts nie en toe ek eers op daai stoel lê en hy sien hoe bewe ek, belowe hy plegtig om my nie seer te maak nie.

Met ondersoek vind hy toe uit dat ‘n tand links onder ook sommer aandag nodig het en hy tik-tik regs bo rond en ek hop toe hy die seer raak tik. “Aaa” sê hy, “hier is die probleempie. Toemaar, ons maak dit gou-gou reg.”

Om sy belofte van nie seer maak nie, na te kom, spuit hy my mond seker 12 keer in, maar ek moet erken, baie mooi sagkens. Elke spuit was net ‘n speldeprik. Dit voel naderhand of ek nie meer wange of lippe het nie.

Eers werskaf hy links en ‘fix’ gou daardie probleempie. Ek lê toe oë en begin amper dink ek kan van tandartse begin hou. Toe skuif hy oor regs toe en ek dog hy gaan nou gou daar ook stop. Die volgende voel ek net hoe worstel hy met iets hier bo in my mond. Ek kan nie vra nie, want ek lê met oopgesperde kake. Hy ruk en pluk nog ‘n paar keer en ek voel letterlik iets gee mee, en toe sê hy; “So ja, klaar.”

So ‘n paar maande terug het ek HIER vertel van my vyf verstandtande. Wel, daar is nou net vier.

HY HET MY VERDOMDE VERSTANDTAND GETREK! Hy het die hele tyd niks vir my gesê dat hy my tand gaan trek nie, ook nie dat dit my verstandtand is wat so seer is nie. Net stilletjies besluit hy gaan hom trek. Sommer net so trek!

En ek kan nie eers regtig vir hom kwaad wees nie, want hy het my niks seergemaak nie. Maar darem. En toe vertel hy my so ewe hy gaan nog my ander verstandtande ook trek!

Wel, ons sal maar moet sien oor daai ene. Maar ek moet sê, ek sal enige tyd dat hy weer aan my tande werk.

Maar hier waar ek nou sit, is die lewe behoorlik terug. En al het ek ‘n goeie dosis pynpille agter die blad, voel ek daai gat!

Advertisements

16 Responses

  1. Ek hou niks van tandartse nie. Probeer hulle so vêr as moontlik vermy. Ek is altyd so stokstyf soos ‘n stok en kan nie ontspan nie.

  2. So tand storie is baie seer. Ek is ook nie lief vir tandartse nie. Maar ek het ‘n juweel van ‘n tandarts man gekry. Moet sê ek het hom goed die leviete voorgelees oor die seermaak storie. As hy my seermaak, sien hy my nooit weer nie.

    Dis hier by ons ook nat en koud.

    Sterkte met die tand storie, spoel maar net gereeld met die soutwater.

  3. Sonkind, dan is ons nou altwee tandloos 😛

    Ek dink jou tong gaan nou ‘n ander plekkie soek vir die volgende paar weke. 😆

  4. 5 verstand tande! Oh my word…
    Laat die res ook gaan, kry dit oor en verby – ek het vir jou die naam van allerlei goetertjies wat die swelling sal afhou as jy belangstel?

    Laat my weet wanneer jy gereed is dan stuur ek vir jou die inligting…

  5. Einaaaaa bleddie pyn, ek kan nie eens van tandartse lees nie dan gaan ek aan die bewe….

  6. Ek kan ook aan ander dinge dink as ‘n tandarts om my tyd te spend. Maar at least is jou pain nou koebaai, en kan jy weer mooi smile.

  7. Ek het net een verstand tand! Twee het blykbaar skeef gedraai en lê onder die tandvleis en die vierde een het nooit eens uitgekom nie! Toe ek 22 was het ‘n tandarts voorgestel ek moet ‘n operasie ondergaan sodat hulle die 2 “ondergrondse” tande kan uithaal want dit “sal my baie probleme gee vorentoe”. Ek het natuurlik geweier. Dis nou al 22 jaar later en ek het nog nooit enige probleme met die tande gehad nie.

  8. Hulle probeer al vir jare my verstandtande uithaal. Ek sien nie kans daarvoor nie – is ‘n sissie. Eendjie, ek ook – doom en gloom is voorspel met myne wat die tande van agter skeef druk – behalwe vir oneweredige tande is daar niks ander fout nie. Nee wat, narkose indien dit regtig moet.

  9. Gelukkig myne jare terug verloor…laat my nou dink dat dit dalk is wat van my verstand geword het…hehehe

  10. Oi Son – ek en jy in dieselfde bootjie die week! Gelukkig is niks van my getrek nie!

    Ek het so vier jaar terug my verstandtande laat uitslag en dit was d***ners seer – gelukkig hoef ek dit nie weer deur te gaan nie! Ek dink ek sou daai tandarts aan sy knaters beetgekry het as hy my tand sommer net so getrek het sonder om iets te sê! Iets soos “Ons gaan mekaar nie seermaak nie né dokter??” 😆

  11. Ek is jammer. maar dit is flippen oneties om ‘n tand net te trek sonder om die pasient eers te konsulteer daaroor. Deesdae word tande ook nie sommer net getrek nie.
    Ek kan dit nie glo nie, hy is ‘n kwak!
    Jy kan hopm daaroor gaan aangee. Hy mag dit nie gedoen het sonder om dit eers met jou te bespreek nie.

  12. Ag nee wat Rosa, as hy gevra het, sou ek seker in elk geval ja gesê het. Die tand het my vir meer as ‘n maand laat vrek van die pyn. En hy het darem BAIE mooi met my gewerk en my niks seergemaak nie.

    Ek sal beslis weer teruggaan na hom toe, maar volgende keer sal ek hom net voor die tyd baie mooi laat verduidelik wat hy gaan doen 😆

  13. Mmm netnou trek hy ‘n voortand in plaas van om hom te kroon…?

  14. 😆 Rosa! Dan doen ek met hom soos René hier bo voorgestel het! En ek laat nie los nie!

  15. Ek is banger vir tandartse as om geboorte te gee. Toe ons kinders was het ons ‘n tandarts gehad – ‘n myn tandarts – so stokoud soos die berge, en hy het al sy berg wetenskap saam hom gebring. As jy nie wou stilsit wanneer hy sy moewiese groot inspuiting kontrepsie nader bring nie, dan gil hy sommer vir jou ma om jou stil te maak. Geen maar geen genade gehad met die inspuitslag nie. Bid jou aan hoe voel ‘n kind van 8 wanneer ‘n horing oue alkoholis omie met ‘n rooi gevlekte gesig al bewend met sy tools naby jou mond kom. My oudste kind word oor 2 maande 20 en my jongste is 15, en nie een van hulle weet eers hoe lyk die binnekant van ‘n tandarts spreekkamer nie. Ek is maar al te dankbaar dat hulle pragtige probleemlose tande het…

    Ek het ‘n gebreekte kiestand…en ek dokter hom met disprin en naeltjie olie as hy begin pyn….hehehe 😀

    Groetetjies
    Sonneblom

  16. Ja jong, dis baie moeilik om ‘n regtig goeie tandarts op te spoor. Gelukkig het ek my verstandtande as tiener laat verwyder – en ek het sedertdien nog nooit weer ‘n migraine ontwikkel nie. Dit opsigself het dit die moeite werd gemaak.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: