Ek, die gek

Daar is een ding wat ek in my kinders ingedril het. Nee, wag, dit was twee. Die eerste een was dat hulle nie mag lieg nie. Die oumense het altyd gesê as jy lieg, dan kan jy steel, en as jy steel, dan kan jy moor. Ek stem nou nie heeltemal saam met daai redenasie nie, want dan kon ons almal vandag moordenaars gewees het. Maar lieg is vir my erg. Hulle het ook gou geleer dat hulle 9 uit 10 keer minder swaar gestraf is vir die waarheid, nadat hulle drooggemaak het, as wat ek hulle gestraf het as ek die droogmaak agter ‘n leuen uitgevind het. Maar dis nie waaroor ek hier wil skryf nie.

Die tweede ding wat ek in hulle ingedril het, is dat jy nooit, en ek bedoel NOOIT ‘n ander kind / mens spot nie. Nie oor hy dom is, lelik is, vet is, sy pa of ma iets is of hoegenaamd wat ook al nie. Ek sou hulle gatvelle aftrek, in gewone mooi Afrikaans, as ek uitvind hulle maak hulself skuldig aan so iets. (Ja, ek glo nog in pakslae vir ‘n kind, vir die wat wonder en ook die wat my daaroor wil aanvat.)

Ek het hulle geleer elke mens is ‘n individu, elke mens het ‘n hart, elke mens het goed én kwaad in hom, en dat dit nie ons plek is om enige iemand te oordeel nie. Dat ons uit die aard van die saak nie met almal kan of hoef te meng nie, maar dat ons almal menswaardig moet behandel. En dat ons eerder stilbly as ons niks goeds te sê het nie.

Vandag is hulle groot en het ek nie regtig meer beheer oor hoe hulle optree nie, maar ek het al verskeie kere gesien hoe hulle ander mense aanspreek wat aanmerkings maak oor iemand wat “anders” is, so dit wat ek hulle geleer het, het wel vasgesteek en hopelik sal hulle eendag hul eie kinders dieselfde leer.

Die afgelope ruk het ek op ‘n paar blogs goed raakgelees wat my nie lekker laat voel nie. Ek gaan nie name noem nie, dié wat die skoen voor pas, sal self weet om hom aan te trek.

Daar is niks mee fout om te blog en dinge te bevraagteken nie. ‘n Goeie debat op die regte manier is net ‘n plesier. Maar hoekom iemand aanval? Met naels en tande en lelike woorde. Wat bereik so iemand?

Ek lees hoe iemand vir skynheilig uitgeskel word, terwyl die uitskeller agter ‘n vals naam wegkruip. Hoe lafhartig is dit?

Ek lees hoe iemand anders se geloof bevraagteken word, op ‘n erg beledigende manier. Ek het ook al vrae oor geloof gehad, maar daar is maniere en dan is daar maniere. Wat se genot kry ‘n persoon daaruit om alles wat ‘n ander persoon sê, te probeer afbreek en sleg maak? Al stem jy nie saam nie, kan jy dit nie ten minste beskaafd doen nie?

Ek lees hoe een persoon iemand anders se vetsug in detail skets. Dink jy daardie persoon het nie ‘n hart nie? Dink jy daardie persoon voel nie dalk ook selfbewus oor sy so lyk nie, maar steek dit agter bravade weg nie?

Ek lees hierdie tipe goed en ek word naar. Ja, kom vertel vir my ek hoef nie daar te lees nie, ek kan verbyhou. Dit gaan net mooi niks aan die feit verander dat daardie goed geskryf is nie. Dat daar mense is wat eerder sal probeer om die lelike in ander raak te sien as die goeie, die mooie. Mense wat teer op ander se seer.

Het julle al ooit gesien hoe blom iemand as jy eerder op sy/haar goeie punte konsentreer, as om net die slegtes uit te wys? Ek is nie ‘n dwaas nie, ek weet daar is mense wat onherroeplik boos is, maar ek wonder altyd, ALTYD, as iemand dalk iewers in hulle lewens anders opgetree het, sou hulle vandag nog net sleg gewees het, of sou die goeie dalk gegroei het en die slegte oorwin het?

Ek weet dit gaan nooit gebeur nie, maar ek sou so graag wou hê dat ons eerder die goeie in mekaar sou soek, sou uitlig, sou oorvertel. Maar natuurlik, ek het vergeet, die goeie dra nie genoeg sensasiewaarde nie!

Wie wil dan nou net goeie nuus lees? Wie wil dan hê dat ons eerder verdraagsaam teenoor mekaar moet wees? Mekaar moet ruimte gee – “live and let live.”

Seker net ‘n gek

Soos ek

In ‘n gekkeparadys.

Advertisements

25 Responses

  1. Sonkind

    Jy klink soos my ma. As daar nie ‘n foto by was het ek erenstig gewonder of Ma-drie hier geskryf het. Die was ook die twee goed waaroor sy erg is.

  2. Jy en ek kom uit dieselfde kraal… as jy wou hê my ma moes haar lippies dun trek, moes jy anders as goed praat van ander mense. Daar is ‘n knorrigheid in die omte wat my ongemaklik maak. Net so ongemaklik soos wat ‘n taai stroperigheid my maak. Ek lees deesdae baie selektief. Daar is darem ‘n hele paar staatmakers wat die Afrikaanse vaandel met trots hoog dra.

  3. Sonkind… sak ek nou my kop so stilweg… ek was een van daai (of jy my nou gelees het of nie) wat iemand so ingevlieg het laas week… ek was woedent vir my ex… maar nee dis geen verskooning nie! Ek stem saam met jou dis genoeg om van naar te word… selfs al het ek dit self geskryf…

  4. Sonkind, dis so asof jy die gevoel van ‘n hele paar van ons hier baie mooi opsom. Dit is darem nie lekker om sulke goed te lees nie. EK hoop ‘n hele paar “take note” hier vandag!

  5. Ek voel ook deesdae ongemaklik om party blogs te lees. By party kry ek so vrek seer namens die persoon wat aangeval word en skaam vir die mense wat die aanval werk doen. Hulle verneder iemand tot in die grond in en voel nie ‘n veer nie. Dis of hulle vanselfsprekend aanneem die ander persoon het geen gevoel nie.

  6. Ek het ook die afgelope ruk op ‘n paar lelike goed afgekom en dis vir my regtig vieslik hoe party mense hul debatte voer. Daar is maniere en maniere. Mens hoef nie met almal saam te stem nie, maar mens kan sekerlik beskaafd optree. Dit maak my moerig en hartseer om te sien hoe hierdie mense te werk gaan en dan nog agteraf daaroor sit en lag. Mag ek NOOIT so iets aan iemand anders doen nie!
    Ek dink jy het goed opgesom hoe ‘n hele paar mense voel oor die saak!

  7. Sonkind, ek is bly jy is gebore.

    Mag jy altyd geseën wees met ongemak oor maklike antwoorde en halwe waarhede.

  8. Bravo! Ek wonder die laaste paar weke oor “mob mentality” en die parallel daarvan in die blogwereld tussen die kommentaar skrywers. Die gevolg … ek lees 5 blogs met ‘n RSS feed (Blogbridge), wat geen kommentaar wys, die afgelope 4/5 dae.

  9. Skuldig. Eintlik behoort ek net hier om te draai en myself te gaan jammer kry, synde dat ek ook baie vinnig met ‘n skerp woord is.

    Ek het geen verskonings om aan te voer nie, want my Ma het my ook nie so grootgemaak nie. Ter verduideliking wil ek dalk net sê dat ons leef in tye waar elke persoon sy bes sal probeer om bo uit te kom ten spyte van ander mense se gevoelens. Mense is kwaad vir alles. Koppel dit aan ‘n totale gebrek aan respek en jy kom by ons huidige situasie uit.

    Dan Vader vir mense soos jy wat nog probeer om die regte waardes te behou.

  10. Wat my geweldig fassineer is dat sommige mense op hulle eie blogs op een manier oorkom en sodra hulle op ‘n ander blog gaan kommentaar lewer, hulle amper ‘n ander persona weerspieël…. ek het mense in kommentaar sien lelike taal gebruik wat ek nooit van hulle verwag het terwyl ek hulle blogs lees nie.

  11. Sonkind, jy laat my hart warm klop. Dis die EEN ding wat ek ook in my bloedjies se kop wil prent: om hulle nie te verlustig in iemand anders se pyn nie. Soms is ek bly as HULLE aan die ontvangkant is. Dalk leer hulle so meer empatie!
    Om terug te kom na die blogs wat so koelbloedig kan wees. Ek hou verby, en kan net my kop skud. Miskien raak meer mense nou moeg daarvoor. Ek hoop so.

  12. Jo-Ann, ek dink ek kan daardie vraag antwoord synde dat ek myself nogals gereeld vang dat ek skuldig is daaraan.
    Op jou eie blog kou jy soms dae aan ‘n inskrywing, en spandeer ure aan die redigering daarvan om dit so vriendelik moontlik te laat oorkom. Kommentaar woord meestal in die hitte van die oomblik gelewer en gee dus dalk ‘n meer akurate beeld van die persoon se werklike geaardheid.

  13. Sjoe, voel ek nou skuldig. Ja, ek weet ek doen dit ook, en daar is sekerlik geen goeie verskoning nie. Ek is egter besig om hard te studeer aan my B.A(verdraagsaamheid) en kan maar ok net my hoed vir jou afhaal en sê jy is sekerlik ‘n beter mens as ek sover “live-and-let-live” aangaan.

  14. Baie goed gestel! 😉

  15. Son, goeie inskrywing! Ongelukkig is die blogosfeer (soos baie ander terreine van die lewe) ‘n refleksie van die samelewing. Al is die (uiters) onsmaaklike optrede van party bloggers ‘n steen des aanstoots, kan mens dit seker te wagte wees.

  16. Ek proe nou nog die seep in my mond oor vloek. Ek knoop soms as ek praat en voel altyd skuldig. Mens het tyd om daaroor te dink as jy skryf. Ek is seker ons taal het genoeg woorde in om te beskryf hoe ongelooflik mooi ‘n ding is of hoe snaaks dit is of hoe kwaad ons in sonder om ewig te vloek.

  17. Triston, Jaco en Demoerin – ek het dit beslis nie teen een van julle bedoel nie, julle is nog steeds op my gunsteling-lysie blogs 🙂

    Ek is ook soms skuldig, nes ons almal maar. My humeur is ook baie keer erg kort en ek kan goed omge-ellie raak. Maar solank mens nog kan omdraai en besef dat jy nou lelik was, dan is jy nog iemand met ‘n hart.

    Gewoonlik, as ek so ontplof het, voel ek agterna slegter as die een wat ek ingevlieg het 😆

    Ek het dit egter teen diegene wat net voort stoomroller en nie ‘n veer voel hoe hulle ander vertrap nie. Hulle sal ook nooit erken hulle was verkeerd nie. Hulle neuk net voort en ander se seer is hulle sensasie. Dis vir my erg.

    BiB, jy het dit natuurlik baie goed opgesom, in ‘n paar sinne. Daar is nie ‘n ideale wêreld nie – ek wens maar net daar was.

  18. Hi Sonkind.

    Ek het nou nie almal se kommentaar gelees nie maar ek voel maar baie dieselde as wat ek op Pik se blog gesê het.

  19. Sonkind, ek stem saam met jou, maar ek wil ook nie te veel saamstem nie, omdat ek self soms skuldig is, en ek wil nou nie holier than thou voorkom nie. 🙂

    Ek dink wel dat dit ‘n feit is dat mense oor jou pad gaan kom wat jou gaan seermaak met woorde. Dit kan mens nie verander nie. Maar jy kan kies hoe om dit te hanteer. Ek dink dit help om bietjie meer dikvellig te raak. Buitendien, dikwels as mense nasty raak, kom dump hulle maar net hulle kak op jou skouers. Partykeer dink ek dan “Dude, ek is nie jou pakdonkie nie. Vat terug jou kak.”

    Maar ek gee toe. Dit is nie altyd maklik nie.

  20. Sonkind, skuldig bly skuldig….

  21. I hear you. But people won’t always agree on everything. What a boring thing to think of. But yes, there are more civilised ways to state that you differ, other than attacking the persona.

    Why don’t you name the people, Sonkind, because you try to avoid personal attacks, or because you really care? Just a thought.

  22. Kate as sonkind name noem, sal dit ‘n vreeslike ding op die blog afgee. whahaha 😆 Ek hardloop dan regtig weg.

  23. Ja nee, niemand wil tog op iemand se tone pie-pie nie, veral nie ou seertandjies nie!

    Daai vir wie die skoen pas, sal anyway dit aantrek.

    Jammer vokof het gewaai Sonnie, anders kon jy hom opgetrek het om sommer die bloggers by name aan die short en curlies nader te trek…

    Ai, waar’s die dae, ne!

  24. Kate, I am not hear to name and shame. If just one person, who reads here, decides to be more positive, then it’s good. I saw last year how getting in a tangle with someone directly, can become a mud slinging contest and I promised myself never again.

    Don’t get me wrong, if I had a problem with someone and we could meet face-to-face, I won’t back down and stand for my principles. But as much as I don’t like to be humiliated in public, just as much I respect other peoples feelings, not to humiliate them in public.

    My email is on this site, if someone wants to kick my ass 😆

    Nee, Skoor. Ek is wel seertandjies, maar ek is darem nie Vokof nie. En onthou jy nou weer, ek en Vokof was nie juis “allies” nie? Nietemin, ek moet sê, ek mis hom (haar?) ook nogal 😈

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: