Ouers skei, nie kinders nie

Somtyds voel mens jouself gedrewe om raad te gee, waar raad dalk nie regtig welkom sal wees nie, of meer spesifiek – dat die raad wat jy gaan gee, dalk nie die raad is wat die ander persoon wil hoor nie.

Ek wou nog oor iets anders skryf, toe lees ek vanaand hier by Tristan van haar eks wat in plein Afrikaans nie ‘n pa se gat werd is nie, en ek lees ook die kommentaar daarby. Ek wou ook kommentaar los, maar toe word dit ‘n opstel, toe besluit ek om maar hier by my eie plek iets te kom skryf.

Ouers skei, dis ‘n realiteit. My ma het eendag gesê as jy deesdae nie uit ‘n gebroke huis uit kom nie, dan is jy uit die mode uit. “Sad, but true.” Maar ‘n ouer skei ‘n ander ouer, nie sy/haar kinders nie, of so behoort dit te wees. Maar ongelukkig werk die lewe nie altyd so nie.

Toe ek my kinders se pa skei, het hy besluit hy skei sy kinders ook. Ek wou dit nie so gehad het nie. Al was hy hoe, al was hy wie, hy was steeds my kinders se pa. Ek het ‘n eed gesweer dat ek nooit vir hulle een skewe woord oor hulle pa sal vertel nie. Nie vir hulle nie en ook nie waar hulle dit kon hoor as ek met ander mense praat nie. Ek het daardie eed gehou, deur al die jare.

Ek glo vandag nog die wreedste ding om te doen is om ‘n kind tussen twee ouers te laat kies. Jy bereik niks, behalwe om jou kind uitmekaar te skeur.

Ek het baie jare na my eie egskeiding geluister hoe verbitterde ma’s vir hul kinders vertel hoe sleg hulle pa is, hoe hy rondloop, hoe hy dit en hoe hy dat is. Hoe hy nie kom kuier nie omdat hy ‘n ander meisie het, of iets dergeliks. Soms het ek my mond oopgemaak en gesê; “‘n Slegte eggenoot is nie noodwendig ‘n slegte pa nie.” Ek is weinige kere bedank vir my kommentaar.

My eks het vir 10 jaar nie sy kinders besoek of onderhoud betaal nie. Hy was kwaad vir my en het sommer besluit hy straf sy kinders ook daaroor. Ten spyte daarvan het ek gereeld dat hulle hom bel, op my eie onkoste. Het ek vir hom verskoning gemaak, dat hy te ver bly, of te besig is.

Toe hulle groter word, het hulle my ‘n paar keer gevra hoekom het ek hulle pa geskei. Ek het deels gejok en gesê ons was te jonk toe ons getrou het en het later nie meer bymekaar gepas nie. Ek het niks van die wrede waarheid vertel nie. Soms het ek harder as ander kere gesluk aan die galbitter wat wou uitstort as hulle my vra na hul pa, maar met genade van Bo, het ek nooit iets slegs van hom gesê nie. Soms het dit verskriklik baie genade van Bo gekos, maar ek het dit reggekry.

Hul Oupa was my kinders se vaderfiguur, en later hul stiefpa en toe ek eendag by my ma huil dat hul pa hulle nie eers meer sal herken as hy by hulle verbyloop nie, het sy my getroos en die situasie probeer ligter maak deur te sê; “Ag jong, Pa’s is nie familie nie.” Dit is nie waar nie, maar dit het my darem laat glimlag.

Toe my seun matriek klaar geskryf het, het hy besluit dat hy vir sy pa wil gaan kuier. Drie weke later het ‘n ontnugterde kind teruggekom van sy pa af. Vir die eerste keer het hy besef hoekom ek sy pa geskei het. Toe hy my daaroor konfronteer, het ek hom vir die eerste keer ‘n kort weergawe van die waarheid vertel, maar aan die einde bygevoeg dat dit sy pa bly, dat die Bybel sê ‘Eer jou Vader en jou Moeder’, en NIE ‘Eer jou GOEIE Vader en jou GOEIE Moeder nie.’

Twee jaar gelede het my eksman vir die eerste keer in 13 jaar Kaap toe gekom om vir sy kinders te kom kuier. Een aand laat het hy in ons sitkamer gestaan, met trane in sy oë en vir my en Liefie bedank dat ons sy kinders so mooi grootgemaak het en erken dat hyself dit nooit so sou kon doen nie en dat hy bitter spyt is oor die verlore jare.

Daardie aand het daar vrede gekom. Ek het geweet dit was dubbel en dwars die moeite werd om my vir al die jare te weerhou daarvan om hom by ons kinders sleg te maak. Die wiel draai vanself en die lewe het sy eie tyd.

As jy geskei is en daar is kinders, bêre jou hatige gevoelens vir jou eksmaat, wanneer dit by jou kinders kom. Moenie uitpak oor hoe sleg hy/sy is, waar jou kinders kan hoor nie. Jy voel dalk nou daardie ander ouer is nie die naam ouer werd nie, maar jy gaan niemand meer skade aandoen as net jou kind, deur sy pa, of ma, voor hom sleg te maak nie. Geen kind wil slegte goed van sy pa of ma hoor nie, al het die kind dit dalk al self ervaar. Dit bly sy ouer en bloed bly dikker as water, maak nie saak hoe ons daar verby wil redeneer nie.

Al is dit soms hoé moeilik, al stoot die bitter jou keel hoé dik, laat jou kind altyd glo sy ander ouer is lief vir hom en sal altyd lief wees vir hom. Jy gaan niks verloor nie, maar jou waardigheid behou en jou kinders se harte beskerm.

Advertisements

20 Responses

  1. ‘n Pa kan ‘n kind maak, ‘n ma kan ‘n kind maak of breek! Jou woorde getuig van volwassenheid, wysheid en ‘n baie, baie groot karakter. Op jou Sonnie!

  2. Ek stem! Ek stem so saam… en doen dit ook nooit nie! dis juis die rede vir my blog… ek wil nooit he Triston moet my hoor praat oor sy pa met haat. As sy pa hom wel kom haal dan maak ek hom so opgewonde dat hy so nou en dan vergeet om toilet toe te gaan… n slegte man maak nie n slegte pa nie… ek weet erens in sy binniste is hy lief vir Triston… My ouers border aan mekaar haat… en ek het dit nooit geweet tot so 5 jaar terug. Ek sal my ouers volg in dit, ek sal nooit my ex voor sy seun afkraak of sleg se nie. maar terselfde tyd gaan ek nie toe laat dat hy my seun tena kom nie… dis n duble edged blade… Dankie… ek het jou post aan my hart gebind!

  3. Ek haal my hoed vir jou af Sonkind! Ek stem saam met Pikkie en ek wens daar was meer mense soos jy!

  4. Absoluut! Dis net ongelooflik hoe gereeld mens geskeide ouers kry wat mekaar verrinneweer met woorde by hul kinders. Dit voel soms of dit net die uitsondering is wat NIE sal doen nie.

  5. Wat kan ek sê, dis hoe ek jou opgesom het, Son. Mens moet jou kind se belange voorop stel. Maklik? glad nie. Maar vir ‘n kind, is sy pa superman en sy ma superwoman….as dit nie die geval is nie, sal hulle wel eendag die waarheid ontdek.

    Triston sterkte vir jou! Dis moeilike tye en ‘n ouer kry seer as sy/haar kinders seer kry. Waar dit by ‘n ma se kinders kom, kom die naels maklik uit.

    Ek kom deesdae agter dat daar baie pa’s is wat met dieselfde probleem worstel. Dat ma’s die kinders by pa los en pad vat…..

    Maar mens sal nooit regtig weet wat aangaan nie, die lewe is vol hartseer daarbuite.

  6. Ek is ook geskei – ek (En my huidige vrou) het my kinders groot gemaak. Nie alle geskeide pa’s is slegte pa’s nie. (Ek lees ook nie in hierdie inskrywing dat Sonkind wil sê alle pa’s nie i sleg nie, maar ek dog net ek sê. Ons het ook besluit om nooit sleg van haar te praat nie. En dit was die regte ding.

  7. Ek kom uit ‘n geskeide huis en is baie dankbaar dat my ma nooit sleg gepraat het van my pa nie -inteendeel, sy het aangedring dat ons na hom toe gaan wanneer dit sy naweek was, al wou ons nie. Vandag, nou dat mens ouer is, kan ons met meer direktheid daaroor praat.

    Ek haal my hoed af vir – daai trane in jou sitkamer is die beloning vir wat jy gedoen het.

    Ek het op my blog ook so ‘n paar dinge oor vaderskap geskryf in verwysing na my pa sodat my seun ook eendag kan lees hoe ek die ervaring van vaderskap beleef, eerstes sonder ‘n eie vader (14 jaar reeds oorlede) en tweedens hoe ‘n negatiewe, sleg verhouding met my pa tog sy wonderlike positiewe voordele inhou vir my verhouding met my seun.

    Lekker stuk, sonnie. Dankie vir die stukkie deel van jou hart.

  8. Sonkind ek stem 100% met jou saam!
    Ek is baie gelukkig gewees in die opsig dat my ex weet en tot vandag toe erken dat hy die vark was in ons egskeidingesverhaal, ek het nooit nodig gehad om hom af te kraak by ons kinders nie, en een dang waaroor ons ooreengekom het na die egskeiding was die opvoeding van ons kinders, ons altwee se waardes en “reëls” was dieselfde…
    Ek kan so kwaad word as ek by iemand kom wat sy/haar ex slegpraat voor die kinders, ek sien sommer dadelik rooi en gewoonlik vat ek daai persoon sommer aan.
    Jou probleem met jou ex is joune en nie sy kinders sin nie!! Maak nie saak hoe sleh hy/sy is nie en nog minde hoe min hy/sy, hulle kinders sien of kontak KLAAR!!

  9. Sonkind – Ek wens my susters het ook soos jy gedink, dan sal daar dalk minder drama in die kinders se lewe gewees het.

  10. Baie waar, al wie gaan seerkry is die kinders. En dan is dit dalk net omdat jy aan jou eks ‘n “punt” wou bewys. Dit is so onnodig en ongelooflik dat ‘n volwassene soos ‘n tienerjarige wil optree. Ek haal my hoed vir jou af, dat jy ten spyte daarvan nog steeds deurgedruk het!

  11. Ek self ook is dankbaar dat my Ma my Pa nooit sleg gepraat het nie. Hulle altwee het hul foute gehad en ek is bly dat hulle ons nie gedwing het om te kies tussen hulle nie. Ek dink jy’t goed gedoen Sonkind. 🙂

  12. Sonkind

    Ek lees seker al vir die 100ste keer hierso. My ouers is nog met mekaar getroud en ek was nog nooit getroud nie. Dus het ek eerstehandse ervaring nie.

    Ek stem saam met dat ‘n mens nie die ander ouer moet swart smeer nie. Kinders moet maar eendag vir hulle self besluit. Ek stem ook saam dat ‘n slegte eggenoot nie noodwendig ‘n slegte ma of pa is nie.

    Maar ‘n slegte persoon kan die kinders mee skade as goed doen. As die persoon ‘n geweldenaar is, hoe weet jy hy / sy gaan nie geweldadig met die kinders raak nie? As ‘n voorbeeld. As toegang dan geweier word is dit beskerming en ek sien niks daarmee verkeerd nie.

    Die Bybel se wel eer jou vader en jou moeder, maar die Bybel se nie dat jy jou kinders se lewe in gevaar moet stel nie.

  13. Dis so donners waar. Hierdie liedjie laat my altyd dink aan die kinders van egskeidings, dat dit moeilik vir hulle is, maar dat daar ook uitkoms kan wees.

  14. Triston, ek dink jy is sterk genoeg om jou seunyjie mooi en reg groot te maak – ek dink aan julle twee.

    Attie, ek het darem bedoel om waar ek van ‘n pa praat, ook ‘n ma in te sluit. Ons het self twee goeie vriende waar hulle, as pa’s, hul kinders gekry het – die hof se besluit. So ek wil net beklemtoon dat ek WEET dat daar baie goeie pa’s daar buite is, ook sommiges wat alles vir hul kinders wil doen, maar waar die ma dit uit “spiteful”geit nie toelaat nie. Ek het dit juis ook teen sulke ma’s.

    Adrie, elke kind wil sy ouer ken, of hy nou ‘n geweldenaar, dief of moordenaar is. Besoek kan onder toesig plaasvind, selfs mense in die tronk sien hul kinders. So, ja, ek glo jy moet die kind beskerm, maar ek glo ook jy moet alles probeer om ‘n kind se band met ‘n ouer te behou, indien enigsins moontlik. Ek weet ook terdeë dat daar sommige gevalle is waar die kind op die einde beter af is sonder die ouer, maar dit bly hartseer.

  15. Sonkind

    Met geweldenaar het ek iemand bedoel wat in gesinsverband geweldadig word (soos in ek sal jou en die kinders skiet.) Of eerder, ek dink toegang moet beheer word waar die ouer die kind sal skade berokken.

  16. Ek kan net saamstem Son!! My kinders moes ook maar met die gemis grootword, maar nooit met verwyte nie – en ek moes vir baie jare hulle lofgesang oor hulle pa aanhoor – daardie koortjie is nou stil – en eintlik is dit damn hartseer – die skielike bewuswording dat hulle pa ‘n ‘pie-in-the-sky’ was. Ek troos maar steeds soms – veral omdat ons omring is met gesinne waar die pa’s vreeslike betrokke is – dit maak dit moeilik vir hulle – want wat het hulle gedoen om dit nie te verdien nie??
    Sad inskrywing – maar jy is ‘n great inspirasie, Son!!

  17. Dankie BB – jou woorde raak my hart

  18. EK WIL NET GRAAG WEET OF ALLE GESKEIDE PA S HULLE KINDERS SO VERAFGOD. EK WAS IN N VERHOUDING VAN 9 JAAR MET N MAN MET N SEUN VAN 9 EN N DOGTER VAN 12. HY GLO HULLE KAN NIKS VERKEERD DOEN NIE. EK MAAK KOS EN MAAK SKOON AGTER HULLE . HULLE MAG VOOR DIE TV LE EN EET IN DIE KAMER, MAG 6 UUR IN DIE OGGEND TV KYK MAG ALMAL IN DIE HUIS WAKKER RAAS. MAAR AS EK MY MOND OOP MAAK IS DAAR PERRE HULLE BREEK MY GOED DAN SE EK NIKS WANT DAN WEET EK DAAR IS OOLOG. EK WIL NET WEET OF DAAR ANDER VROUENS IS WAT SO VOEL DAAROOR.

  19. Ai Sonkind, ek het vandag jou gedagtes gelees oor die bogenoemde onderwerp en ek wens ek het jjou guts gehad , ek sit nou al meer as tien jaar vas in so ‘n toksieke verhouding wnt ek weet dat ek nooit alleen vir my kinders sal kan sorg nie.

    Ek sal tot my werk verloor want ons werk vir die selfde firma en base wil nie konflik he nie.

    Nou ja nou lewe ek maar die leuen dag vir dag en hoop more, het minder drama en meer vreugdes.
    Bid vir my ASB.

  20. Sjoe Son, dankie! Ek dink nie dit wat jy gedoen het was maklik nie. Maar jy het die vrugte daarvan gepluk. Ek wonder of ek in jou omstandighede so sterk sou wees??? Mens weet nooit.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: