Ek dra nie rok nie

Maak dit my gay, skeef, ‘n reënboogkind? Ek dink nogal nie so nie. Nie dat dit my sou gepla het as ek was nie, maar dis ‘n ander storie vir ‘n ander dag.

Ek het myself so bloediglik vererg vandag. Hulle sit in die kombuis, want hier mag ons mos nie by ons lessenaar eet nie, so as ek in Rome is, dan maak ek nou maar soos die Romeine. Langs my sit ‘n skewe girl, noem haar maar E, iemand van wie ek baie hou en met wie ek goed oor die wegkom. Sy het nie fieterjasies nie en haar werks-etiek is dieselfde as myne, m.a.w. jy doen ‘n ding flippin ordentlik of jy doen hom glad nie.

Oorkant ons sit ‘n paar ander vroumense. Ek het nie die gesprek gevolg nie, want in my kop was ek nie daar nie. Toe vang ek net so die laaste deel op, toe my bord hier by amper leeg kom en ek terugkom van waar ek in my kop was. Iemand moes van rokke gepraat het, iemand moes seker gevra het oor wat se rok iemand anders iewers heen gaan aantrek en toe moes iemand vir E gevra het wat sy gaan aantrek of so iets.

Ek vang op waar E antwoord dat sy nie ‘n rok gaan aantrek nie, want sy besit nie een nie. Toe daal daar so ‘n asem-ophou-stilte en toe sal die een koeksuster so fokkin wragtig sê: “Ag sorry man, natuurlik sal jy mos nie rok dra nie.” En ek sien hoe sak E se kop. My bliksem, hoe onsensitief! En wie sê net straight girls dra rokke? Of dat alle gay girls NIE rok dra nie?

Dis toe net daar wat die duiwel mos reg van my oor afspring, so ‘n Tarzan swaai aan my hare maak, terwyl hy “hie-ha hie kom k&k” skree en tot binne in my mond spring. Ek kyk so stadig op van my bord af, sit my mes en vurk so mooi neer, kyk vir Koeksuster mooi reguit in die oë en sê so half stadig, asof sy nie te vinnig van begrip is nie; “E k  d r a  o o k  n i e  r o k  n i e.”

En ek wag en ek bly kyk vir haar en ek wag en sy weet nie waar om te kyk nie. Niemand sê iets nie. En ek wonder of hulle sit en wag vir ‘n groot onthulling van my kant af.

En toe eers las ek by; “En ek besit ook nie ‘n rok nie. Maar weet jy, ek hou van mans, sommer baie, veral baie van my eie man. Eintlik is ek nog na al die jare dolverlief op hom. So ek dink nie rokdra of nie, het iets daarmee te doen nie, né.”

Sy het eers rooi geword en toe mompel sy iets van sy het dit nie so bedoel nie, en toe sê ek dat sy dalk volgende keer moet dink voor sy praat. Toe staan ek op en sê vir E; “Kom ons loop. Ek het nog nooit in my lewe sooibrand gehad nie, weet nie eers wat dit is nie, maar ek dink ek is so pas besig om uit te vind.” Toe loop ons.

Agterna het ek gedink ek het dalk bietjie kras opgetree, tot E my vertel dis nie die eerste keer dat die koeksuster haar afknou met woorde nie. Toe is ek spyt ek het nie my oorskietkos op koeksuster se kop uitgegooi nie. 👿

Ek dra regtig nie rok nie, bloot omdat broeke veel meer gemaklik is. Ek het mooi langbroeke, sexy langbroeke, mooi kantoorklere, mooi toppies en hemde en stylvolle broeke. Ek vrek oor mooi juwele, veral oorbelle en mooi onderklere. Ek het die mooiste skoene met die fynste hakke. Maar ek HOU NIE van rokke nie. So wat maak dit my?

Ek voel ‘n “flying feather” wat iemand dink omdat ek nie rok dra nie, want ek weet wie ek is. Maar wat my wel tot in oneindigheid afpis, is dat mense ander mense nog steeds wil “label” oor uiterlike dinge. Vet mense is lui, mooi mense is windgat, blondines is dom, mans soek almal een ding. En pas jy NIE in die hokkie nie, is hulle stom verbaas, amper asof jy jou nou snaaks hou en nie mooi wil saamspeel nie.

Hoe de fok kan mens so vlak wees dat jy net kan vaskyk in die sienlike en dan GLO jy het reg geoordeel? Somtyds wens ek daar was ‘n ander planeet waar menslike lewe moontlik was, baie ver van hier af. En dat ek sou kon kies wie ek met my saamneem soontoe.

Advertisements

22 Responses

  1. Ek ken gay vroue wat drie keer vrouliker is as wat ek is.

    Ek self haat rokke. Ek haat grimering nog meer, ek dra dit nooit nie. Maar ek het al geleer om mense met klere te “manipuleer”. Dus dra ek bv ‘n pakkie as ek iemand moet bewys dat ek bevoeg is. Maar met ‘n romp om te wys dat ek approachable is (ek intimideer mense maklik). Met hakskoene, grimering en die hele toetie. Maar met my hare los, ek lyk bedonnerd met my hare vas.

  2. Amen, ‘n goeie stukkie skryfwerk! Ja vir wat moet mense ander in boksies indruk en oordeel, Vir wat moet daar teen ander mense gediskrimineer word om welke rede ookal. Hoekom moet jy rok dra, ek dra ook baie min rokke, wat het iemand se seksuele voorkeure met iemand anders te doen. Mense het onsensitief geraak, hulle maak ander links en regs seer.

    As jy die planeet gevind het, ek soek ook ‘n erf daar asb.

  3. Oorhaastig! Glad nie Sonkind. Ek sal haar nog so bietjie die Leviete voorgelees het. Jy het reg opgetree. Selfs al stem ek nie altyd met mense se lewenswyses saam nie, gee dit niemand die reg om sleg te laat voel nie. Koeksuster se man loop seker rond. Deesdae is ek ook nie meer iemand wat sommer ‘n ding laar los nie. Is soos Rottweiler. Mense loop maar sirkels om my.

  4. Ek dink almal stereotipeer maar van tyd tot tyd en plaas mense in boksies. Maar ek dink ook dit is nodig, nou meer as ooit, om dit uit te daag. Daarom dink ek jy het vir koeksuster ‘n guns bewys, al mag sy nou nie so dink nie.

    Ek weet dat ek hoop mense sal my konfronteer as ek my daaraan skuldig maak. So leer ons. Ek begin al hoe meer wonder of ons mense nie ‘n groter onreg aandoen deur altyd net nice te probeer wees nie.

  5. George het ‘n punt beet, almal probeer heeltyd nice te wees, maar dis nie altyd die regte manier om goed te doen nie.

    Bravo vir jou optrede, ek dink jy’t dit reg hanteer. 🙂

  6. Great stuff!!! Wens ek kon haar gesig sien… hahaha!
    Ek is ook nie ‘n fan van rokke nie en besit ook nie eers een nie. Ek sal dalk nog so af en toe ‘n romp dra, maar daarvan het ek ook nie veel nie. ‘n Broek is tog net soveel meer prakties en gemakliker! Imagine veldwerk met ‘n rok….whahaha! Hier is Korea gaan werk ek met shorts noudat dit somer is en dis tog te lekker!

  7. Ek ook nie 😀

  8. Ek dra ook nie rok nie. Ek het een romp in my kas wat ek tien jaar terug gekoop het, en die dra ek ook nie. Ek’s bly jy’t hulle op hul plek gesit.

  9. Ek het nie ‘n probleem met rok, broek, romp, hemp watookal nie. Ek dra wat lekker pas en basta, wat ek wel ‘n moerse probleem mee het is mense wat ander mense nie die paar slukkies suurstof van elke dag gun nie, net omdat hulle nie soos jy is nie.. . Ek sê nie anders is nie, want ons is almal anders, ek sê nie soos JY is nie. Wat de hel maak dit saak waar jou smaak lê. Van my beste vriende (ek het bitter min) is ‘anders’. Dis diè mense wat al ‘n paar keer deur die meul was, wat al oor helse hindernisse is, wat al opgegrain is deur die samelewing, wat WERKLIK weet wat vriendskap beteken. So aan almal wat nie van skewe mense hou nie… Bokker of… Ek sal en wil nooit hierdie vriende van my verloor nie, want toe ek mense nodig gehad het wat omgee is dit hulle wat deur dik en dun by my gestaan het… Sonkind, ek buig laag voor jou. Jy is besonders….

  10. […] lees hier by Sonkind van broeke dra, by Oopkop oor orgaanskenking, by Gert oor mishandeling en so kan ek aangaan en […]

  11. Stereotipeer is hier die woord. Ietwat afgesaag maar baie van pas, Do not judge a book by it’s cover. En ons is ALMAL skuldig!

  12. Hallo Sonkind, eerste keer wat ek hier by jou kuier. Dra ook nie rokke nie. Besit twee rompe wat ek “ge-erf” het maar het dit nog nooit gedra nie. Dra ook nie vreeslik grimering nie behalwe as ons uitgaan.
    Ek dink jy het reg opgetree, net jammer jy kon tog nie jou laaste eet goedjies op haar kop uitgegooi het nie.
    Demoerin praat waar – ons almal is skuldig daaraan -om te stereotipeer.
    Goeie stukkie Sonkind.

  13. Good for you! was ‘n goeie idee om jou oorskietkos haar kant te gooi. mense kan aaklig wees en dan is heel verbaas as hulle iemand seermaak daarmee, dan ewe skielik het ander dit “verkeerd verstaan”…

    sooibrand inderdaad!!
    🙂

  14. Toe ek nog jonk was en skaflike bene gehad het, het ek baie rok gedra. Vandag is dit ‘n ander storie, met fyn spataartjies wat oral hul verskyning maak is ek maar te bly om permanent broek te dra. Het twee rompe in die klerekas, maar hul hang omtrent op my enkels! Kannie eens onthou wanneer laas ek hulle aangehad het nie. Soos kaalvoet sê, ‘n broek is prakties en gemaklik, en jy kan jou nog steeds op “dollie”, dit hoef mos nie “butch” te wees nie.

  15. Ek het rokke, maar ek dra dit nie, Langbroek is net meer gemaklik!

  16. jy is n VRIENDIN! Well done!

    Ek stem oor die kos…. Maar maybe kan jy dalk asblik omkeer!

  17. Ek ga’ saam, ek ga’ saam!

    Ek het rokke. Netnou te vinnig ‘nee’ gese. Maar almal kortes. Want ek kry nie langes nie. Want ek is te lank.

    Shit life. Ek dra nie graag rok nie, om die waarheid te se, ek dra NOOIT rok nie – daais in die kas was die odd party, troue, roue. Maar uit 365 dae van deesdae se jaar, sou ek se is 365 nogal veilig om met broekspype (hetsy kort of lank) deur die lewe te gaan.

    Ry nou ‘n poegie met ‘n mini aan!!! Ons is nie almal so nie.

  18. You’ll always find people like your koeksister in die wereld daarbuite.

    Wearing pants all the time does not classify you as being gay, and being gay doesn’t mean you’ won’t look stunning in a dress! Of verruklik soos die Afrikaanses dit noem.

    Strange that my first stroll in blog life leads to this entry!

  19. Hel, ek het sommer nog meer respek vir jou. Sulke mense moet aangevat word want hulle maak die wêreld daar buite `n klipharde plek. Ten minste is daar mense wat bereid is om op te staan vir wat reg is.

  20. Ek is seker ons sal so goed in die regte lewe oor die weg kom. Ditsem, vrou!

  21. you go girl!
    ek dra ook nie rok nie.
    besit geen rokke nie.
    het nie eers in ‘n rok getrou nie.

  22. ditto, ditsem, dankie en hoera

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: