Bring jou Hart

Ek het nooit “posters” teen my kamermure opgeplak toe ek ‘n tiener was nie. Dit was altyd vir my so half doelloos om te smag na onbereikbare mense, soos Hollywood sterre en diesulkes.

Ek het eerder ‘regte’ mense bewonder, mense wat ek geken het, mense van vlees en bloed, nie net papier teen my kamermuur nie.

Daar was ‘n neef van my wat ‘n polisieman was. Hy was heelwat ouer as ek en sy een oordrom het gebars in ‘n landmyn ontploffing, destyds in Angola, toe ons soldate mos nie regtig in Angola was nie. Danie Benz – ek het gedink hy is cooler as ‘n slush puppy.

Dan was daar ‘n prokureur wat my pa geken het, Golombik. Ek was bitter jonk, maar ek onthou dat hy die ou wat sy vrou met ‘n beeldjie doodgeslaan het, (iewers in ‘n rykmansbuurt in die suidelike voorstede van Kaapstad) verdedig het. “I was in awe of him!” Elke keer as hy by ons op die plaas gekom het, het ek so stil soos ‘n muis gesit, sodat die grootmense my nie moet raaksien en uit die geselsskap stuur nie, want hy was die mees fassinerende man wat ek ooit gesien het. En eendag het hy einste dié kliënt, wat toe op borgtog uit was, saamgebring plaas toe. Ek het nie geweet of ek bang of nuuskierig moes wees nie. 🙂

Toe kom TV en sepies en die eerste sepie wat ek gekyk het, was Santa Barbara en daar raak ek die eerste keer verlief op ‘n akteur – Cruz. “O my word!” As ek toe ‘n ‘poster’ van hom in die hande kon kry, was dit sekerlik teen my muur.

 

Maar ook daardie liefde het oorgewaai en ek het groot geword en ouer geword en geeneen het weer my pad gekruis, wat my heldeverering werd was nie.

Tot gisteraand toe. As ek nou nog op die plakkaat-teen-die-muur stadium was, sou die versoeking BAIE groot gewees het.

Liefie het my al baie gespot oor my sagte plekkie vir dié spesifieke persoon. As hy op TV is, dan roep Liefie; “Kom kyk gou! Hier’s jou boykie van Beaufort-Wes!” Dan vat ek die draai na die TV-kamer so op een been, met skreeuende voetsole.

Megan, my meisiekind, was al so bevoorreg om een aand saam met vriende by Theuns se huis in die Kaap te kuier, saam met hom. Dit was nou die een keer wat hierdie ma groen van jaloesie was. Vra ek haar wat sê hy, hoe is hy? Antwoord sy my ongeërg; “Jene Maaa, hy is net soos enige ander mens, doodgewoon, baie nice.”

Ai tog kind, hoe blasé kan mens tog wees? Maar nou ja, sy is seker reg.

Toe bring Liefie gister vir my die DVD – Bring jou hart.

 

Ag, my swak hart. Dis so mooi, so verskriklik mooi. Daai man se STEM! En selfs Juanita, wie se musiek ek nie eintlik luister nie. het my doeksaf gesing. Die twee het werklik ‘n vertoning gelewer wat onvergeetlik is. Daar is ietsie op vir amper elke smaak en nes mens dink jy het nou die beste gehoor, dan kom die volgende lied en dis mooier as die vorige een.

Die heel, heel mooiste is waar Theuns en Juanita saam Koos du Plessis se Gebed sing. Ek het hoendervleis gekry en koue rillings en trane in my oë, als tesame, so mooi is dit.

Gebed van Koos du Plessis

Laat my nooit die grond verlaat nie

Laat my in U skaduwee bly

Gee dat elke aardse vreugde en vrees

Eintlik nietig word vir my

Elke dag is ‘n gedagte

Elke kamer net vir U,

Elke aardse droom van rykdom en roem

Net ‘n skadu teen die muur

Elke afdraaipaadjie ken ek

En elke keer het ek gedwaal

Elke keer het U my iewers kom haal

Maak dit Heer die laaste maal

Wat ek is, is net genade

Wat ek het, is net geleen

Eintlik smag ek na U waters van rus

Lei my Heer, vanaand daarheen

Ek het vasgenael gesit tot die laaste note wegsterf en toe het ek Liefie ‘n vet soen gegee vir ‘n lief-geskenk.
 
Eintlik moes hy twee gekoop het, want ek dink ek gaan hierdie een stukkend kyk en luister!  😆

Advertisements

6 Responses

  1. Na Supersterre het ek nie veel tyd vir die man nie, maar sy stem bly besonders mooi. My man luister hom graag.

  2. Is dit nou nie die grootste toeval ooit nie… 1. Ek deel jou bewondering. 2. Ek vrek oor sy stem 3. Mynick het verlede Sondag met ons huweliksherdenking vir my hierdie einste DVD’tjie gegee…. 4. Ek deel jou oortuiging, ek sal BESLIS nog een moet kry!

  3. As Mathys Roets hierdie “Gebed” van Koos sing, raak my hele wese sommer stil en verwonder ek my net aan die ondervinding . . .

  4. Hierdie twee is magic saam! Wanneer ek Bring Jou Hart hoor, gaan staan ek altyd vir daai paar oomblikke stil en luister.

    Wil iemand dit nie maar op YouTube laai nie?! 😉

  5. Koos se musiek/gedigte is wonderlik.
    Jy noem plakkate teen die mure, ek het nou die dag by my ma afgekom op die plakboek wat ek gehad het van die helde. Eintlik baie snaaks.

  6. Ek is seker Theuns se grootste fan ooit… ai! :blush:

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: