Donderdag, 11 Mei 1978

11 Mei 2008, Sondag, Moedersdag.

30 jaar gelede – 11 Mei 1978, Donderdag. Die laaste dag wat enige iemand vir Andrea gesien het. Was daar vorige jare wat Moedersdag op 11 Mei was? Ek weet nie. Waar is Andrea se ma vandag en hoe voel sy, na 30 jaar, op Moedersdag? Ek kan my nie indink nie.

Selfs vandag nog kan ek vir Andrea sien as ek my oë toemaak. Haar Pippie Langkous vlegsels wat hop as sy “hopscotch” gespeel het. My ma het altyd gepraat oor hoe besonders haar bruin oë by die witblonde hare was. Blonde mense het mos meestal blou oë. Sy was mooi, regtig mooi, die seuns was mal oor haar. Maar sy was nie gepla met hulle nie. Sy was ‘n ‘tomboy’ wat rokke gehaat het, boom geklim het, albaster gespeel het beter as enige seunskind. Of dalk het hulle haar net laat wen.

Sy sou daardie jaar twaalf geword het, maar sy is weg lank voor haar verjaarsdag. Daar was netbal die middag, sy is omtrent drie uur die middag by die skool weg, op haar fiets. Soos soveel ander middae voor dit. Almal van ons het destyds fiets gery, party het soms sommer gestap. Hulle plaas was omtrent twee kilometer van die skool af, met die grootste gedeelte plaaspad, grondpad.

Sy het nooit by die huis gekom nie. Ouers het nie daardie jare sommer binne ‘n uur of wat na kinders begin soek nie. Kinders het tussen die plase oor en weer by mekaar gekuier. Ses uur daardie aand het haar ma gebel. Nee, sy was nie by ons nie, sy het gesê sy gaan huis toe, na die netbal. Sy moes gaan leer vir ‘n toets.

Niemand was onmiddellik bekommerd nie. Elkeen wat gebel is, het maar gedink sy is dalk by die volgende een. Maar teen agtuur daardie aand het die grootmense besef sy is weg.

Die polisie is gebel, maar daar was nog nie genoeg tyd verby om haar as vermis aan te gee nie. Dit was jare voordat kinders wat sommer net verdwyn, onmiddellik as baie ernstig beskou is. Almal het maar net geglo sy gaan iewers opduik. Hoe kon almal so blind gewees het? Is dit omdat dit ‘n ander era was? Sou hulle haar gekry het as hulle gouer in alle erns na haar begin soek het? Hoe sal ons ooit weet en watter verskil sou dit na alles maak?

Sy het nie die volgende dag teruggekom nie en ook nie die dag daarna nie. Sy het nooit weer teruggekom nie. Uiteindelik is daar ‘n volskaalse soektog na haar geloods. Volkshuise (soos ons dit daardie jare genoem het) is met ‘n fynkam deursoek deur die polisie. Ek dink soms het hulle die mense onnodig hardhandig behandel, maar niemand kon lig op Andrea se verdwyning werp nie. Nie toe nie en ook nooit daarna nie.

Dit was asof sy in die niet verdwyn het, asof sy nooit regtig daar was nie. Daar was later pamflette. Ek onthou die pamflette.

VERMIS, Andrea Louise du Toit, 11 jaar oud. Met ‘n skoolfoto van haar, wat die vorige jaar geneem is. Sy glimlag breed op die foto en mens sien die ‘dimples’ in haar wange. Ek het nooit eers geweet sy het nog ‘n naam gehad nie. Louise – dit het nie by haar gepas nie en ek het gewonder van wie sy dit geërf het.

By die skool het almal ‘n storie gehad oor waar Andrea is. Sy het weggeloop Hollywood toe om ‘n beroemde filmster te gaan word. Sy het mal geraak en die berge ingevlug en bly iewers in ‘n grot. Sy het saam met ‘n ouer man weggeloop en hulle sou trou sodra sy groot is. ‘n Vreemde vlieënde voorwerp het haar opgesuig en nou gebruik die ‘aliens’ haar vir toetse. ‘n Mal man het haar gesteel en haar in stukke gekap.

Die laaste scenario was die gewildste, totdat dit tot ons kinderbreine begin deurdring het dat dit ook die heel waarskynlikste was. Hoe naïef was ons destyds?

Was ons te jonk om te verstaan van verkragting? Amper. Seks was ‘n vae iets waarvan ons geweet het, maar die detail was soos om vir jouself deur stoom in ‘n spieël te kyk. Verkragting was ‘n woord wat mens op ‘n fluistertoon gesê het. Dit het ons laat dink aan vuiste, vuilheid, donker plekke, blou kneusmerke, skande, pyn en hartseer. ‘n Woord wat ons laat voel het ons gaan gestraf word as ons dit hardop sê.

My kleinsussie het in hierdie tyd vir my ma gevra wat is verkragting. My ma het rondgeskuif, weggekyk en toe geantwoord, en ek sal haar woorde nooit vergeet nie.

“Dit is die vernietiging van alles wat vir ‘n vrou mooi behoort te wees.” Ek het dit nie toe verstaan nie, eers baie jare later het ek besef daar was nie ‘n beter antwoord nie.

‘n Paar dae na sy verdwyn het, het die polisie Andrea se fiets onder ‘n bos gekry, naby die treinspoor. Dit was nie naby haar roete huis toe nie, daar was geen verklaring oor hoe die fiets daar gekom het nie. Daar was net een stel vingerafdrukke op die fiets, Andrea s’n. As die fiets maar net kon praat. Verder was daar niks nie.

Andrea is nooit gekry nie, nie lewendig nie en ook nie dood nie. Haar ouers het die volgende jaar weggetrek. Sy was die enigste kind en hulle was reeds ouerig toe sy gebore is. Vir baie jare het ek gewonder of haar ma nou nie meer ‘n ma is nie. As ‘n mens skei, dan praat jy van jou eks-man of eks-vrou. Was haar ma nou ‘n eks-ma omdat sy nie meer ‘n kind gehad het nie?

Ek verskoon hierdie onsinnige gedagtes van my omdat ek dit gedink het toe ekself nog net ‘n kind was, omdat ek nie die omvang besef het van die verlies van ‘n kind nie. Verlies is ‘n eensame ding, maak nie saak hoeveel ander jou troos nie, dit bly net jou eie seer. Niks en niemand kan dit ligter maak nie. Die verlies van ‘n kind is iets wat ‘n ouer doodmaak. Jy kan asemhaal en aanhou lewe, maar eintlik is jy dood, saam met jou kind. Hoeveel te meer as jou kind net weg is, vir altyd net weg is.

Ek het Andrea se ma net een keer daarna weer gesien, amper twintig jaar later. Ons was in ‘n winkel waar daar linne op uitverkoping was. Ek het haar glad nie herken nie. My niggie wat by my was, het gesê; “Onthou jy vir Andrea wat weggeraak het? Daar is haar ma.”

Sy was spierwit grys en het oud en verwaarloos gelyk. Ek wou nie vir haar kyk nie en ek is uit die winkel sonder om enige iets te koop. Dit was vir my soos heiligskennis om na haar te kyk en te weet haar kind is na al die jare nog steeds net weg.

Vandag het ek haar weer onthou. Vanoggend het ek gewonder hoekom die datum aan my krap. Eers het ek gedink iemand verjaar en ek kon nie onthou wie nie. Dis eers vanmiddag, toe ek in die kafee staan om melk en brood te koop en die witkopdogtertjie haar ma se hand vat, toe hulle uitloop, dat die onthou my getref het, soos ‘n vuishou in die maag.

Sy sou nou 41 gewees het, maar vir my sal sy altyd 11 bly. Ek hoop iewers is daar vandag iemand om haar ma te troos op hierdie bitter dag, wat vandag saamval met Moedersdag, vir ‘n ma sonder haar kind.

Advertisements

14 Responses

  1. Dis ‘n inskrywing wat mens laat nadink…..ek dink mens word seker oornag oud en moeg. Jou ma het verkragting baie raak beskryf: Dit is die vernietiging van alles wat vir ‘n vrou mooi behoort te wees. Presies net soos dit is.
    Andrea se verdwyning is hartseer.

  2. Sjoe, ek hoop daar was iemand met ‘n groot skouer en ‘n stil gemoed by haar. So seer gaan nie maklik weg nie.

  3. Baie hartseer, en ek dink selfs tyd kan nie regmaak vir die verloor van ‘n kind nie.

  4. Dis ‘n ongelooflike hartseer inskrywing, en ongelooflik goed en ek glo nie ek sal in my lewe ooit weer my verjaarsdag kan vier sonder om aan Andrea du Toit te dink nie. My hart is nou so seer, en saam met jou bid ek dat daar iemand is wat op hierdie dag haar ma vertroos…

  5. Sonkind, hierdie inskrywing is uitstekend gedoen en ‘n tydskrif soos Sarie sal belis belangstel om jou te publiseer…. al oorweeg?

    Dit het hard met my gepraat. Ek het gister af gevoel omdat my ma dood is en ek moederloos op moedersdag is. Ook omdat my kinders te besig was om vroegdag van hulle te laat hoor. En hier is ‘n vrou wat kinderloos is onder nare omstandighede en waarvoor moedersdag ‘n kruis moet wees.

    Dit vind ook nogal baie aanklank by die boek waarmee ek sopas klaar is – “Missing” van Susan Lewis.

  6. Dammit, dis bad. En nice geskryf Son.

  7. Baie hartseer, maar mooi dat jy onthou het.

  8. My hart het nou ‘n klamp om na die stukkie. My kop wil nie die idee verewerk nie. Ek voel vir die tannie…..

  9. baie sad,en ons dink altyd ons lewe is swaar,kyk net in hierdie geval,tjoe!en dit is net enn geval,hoeveel ander gevalle is daar,wat ons nie van weet nie,eish!

  10. SS, hierdie is nou ‘n inskrywing om regtig oor na te dink. Dankie dat jy daardie tannie se seer met ons gedeel het. Hoop daar was darem iemand by haar op Moedersdag, soveel te meer omdat dit die 11 Mei was.

  11. […] 14, 2008 Dit is hoe Sonkind se ma jare gelede verkragting beskryf het.  Ek dink nie mense besef altyd die volle omvatting van […]

  12. Ek dink dis die ergste, ergste ding wat met ‘n ouer kan gebeur. Ek sal eerder my kind dood wil he, as net WEG. Hoe gaan mens aan met jou lewe?

    Ek stem saam met die ander. Jy is ‘n ware storieverteller.

  13. Ek dink hierdie is die beste inskrywing wat ek nog ooit gelees het.

    Dis ek, Anna is ‘n boek wat ek so een keer ‘n jaar lees. Ek lees dit vir myself. Mens maak vrede so.

    Dankie vir ‘n briljante inskrywing.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: