Verkeer vra askies; Griepgat

Ja, nie grapgat nie, griepgat. Dis ekke vanaand.

Eers gou vertel van gisteraand. Verlede week bel Mnr Pat Curran van die Provinsiale Verkeer toe mos en vra wanneer sal dit my pas om hom, Mnr Buys en Mnr Skinner te ontmoet, by hul Brackenfell kantore, sodat ons die insident wat voorverlede week op die N1 gebeur het (sien hier: https://sonkind.wordpress.com/2008/04/26/verkeersman-of-verkeersvark/) kan uitsorteer.

Ek maak toe die afspraak vir 6 uur gisteraand. Ek moet erken, ek was aangenaam verras. Ek het ‘n BAIE mooi verskoning gekry by beide mnr Skinner (oor sy drie-kante-van-‘n-storie aanmerking) en mnr Buys (oor sy optrede en taalgebruik). Natuurlik het die feit dat Die Burger op hul nekke gelê het sekerlik bygedra tot hul verskoning, maar ek glo dat Mnr Buys iets positiefs geleer het en ek was regtig beindruk deur Mnr Curran se hantering van alles. Toe ons gisteraand, na byna ‘n uur se gesels, groet, was dit met ‘n goeie gemoed van alle kante af. Dus, dit help tog soms om die bul by die horings te pak, jou stem dik te maak en vir die wetstoepassers te wys jy sal jou nie laat boelie nie.

Op ‘n ander noot – toe ek nog ‘n kind was, het ons ‘n vreeslike goeie dokter gehad, Dokter Appel Louw, van die Paarl. Hy was van daardie rare dokters wat nog sou uitkom vir huisbesoek as iemand te siek was om spreekkamer toe te kom. Hy was ook ‘n dokter wat baie reguit was, m.a.w. “he called a spade a spade” en basta.

Nou, my pa was mos eintlik ‘n Van Helsdingen. Vir die wat nie weet nie, dis een van daai mense wat glo siekwees is ‘n vloekwoord. As die lewe hulle druk, dan druk hulle terug, en so aan. En hy het sy filosofie so op ons kinders ook toegepas. As ons nog asemgehaal het, moes ons opstaan en skool toe gaan. Ek onthou nog baie goed hoe hy my skool toe gestuur het met masels, omdat hy my vertel het dis sommer net ‘n vel uitslaggie. My ma is die oggend vroeg al werk toe en toe ek opstaan en die kolletjies sien en my pa roep, toe sê hy, ag nee wat, dit lyk nie ernstig nie en jy is nie eers koorsig nie.

Daai aand het my ma amper die wilde piep gekry en einste dokter Appel laat uitkom plaas toe, wat toe masels by my diagnoseer en my pa se kop vir hom was dat die see dit skaars kon skoonkry. So, die dokter was nooit juis my pa se gunsteling nie. Pa het geglo dokters vertel jou sommer net jy is siek en dan maak hulle geld uit jou. Aan die een kant het sy filosofie gemaak dat ek eintlik baie gesond grootgeword het en geleer het dat mens jouself met jou kop kan gesond dink. Tot vandag is ek relatief geseënd met uitstekende gesondheid.

Elk geval, soos die duiwel nou wou hê, word my pa eendag hondsiek. So siek dat hy regtig met die beste wil in die wêreld nie sy lyf uit die bed kon sleep om op te staan nie. Na hy homself tot die uiterste verset het, wen my ma en bel vir dokter Appel. Ek dink dit was een van die dinge wat my pa die swaarste aan moes sluk.

Dokter kom en hy ondersoek my pa agter geslote deur. Die afloop hiervan vertel my ma later vir die ander familie met smaak.

Hy het my pa glo sooo gekyk en ondersoek, en toe haal hy ‘n inspuiting uit en sê so ewe: “Ja-nee Mnr Goosen, ek sal jou maar ‘n inspuiting moet gee, want jou gat is darem sowaar nou lekker vol griep.”

My pa het dit nooit vergeet nie. Ek dink hy is vandag nog verontwaardig oor daardie woorde! 😆

Hy het ‘n eed gesweer dat daai dokter nooit weer naby hom sal kom nie. Ek moet darem ook net bysê dat hy al 73 is en steeds so gesond soos ‘n vis in die water is en homself elke dag nog aktief besig hou. Ek dink ook nie hy het ooit weer daarna griep gekry nie!

Nou ja, vanaand is hierdie Sonkind se gat nou lekker vol griep! Dit het my so stilletjies bekruip en vanoggend toe weet ek die treine het gisternag oor my geloop. Ek lê lekker in my bed en tik, Liefie het vir my gaan medisyne koop, want ek hoes soos ‘n ou afgetrede roker, sulke skeurhoese.

So, buite kan dit maar storm en reën, ek gaan nie ‘n voet versit met my griepgat nie 😆

Advertisements

5 Responses

  1. Ek is bly hulle het jou omverskoning gevra. Dis niks minder as reg nie. Moet se, ek is nogal verbaas daaroor, maar hulle het seker maar vir die koerant-dreigement geskrik 🙂

    Sterkte met die griepgogga! Hier in Korea was ‘n lelike bug en ek hoop SA spring hom vry!

  2. Dankie tog daar is nog mense wat om verskoning kan vra. Ek hoop jy voel gou beter. (Probeer bietjie Vicks onder die voete vir die hoes. Dit werk vir ons hier in die grammadoelas). Lekker dag.

  3. Hoop jy voel gou beter, dis niks lekker om siek te wees nie, maar baie lekker om in die bed te bly met ‘n Liefie wat vir jou sorg!

  4. Son, kan nie glo hulle het onverskoning gevra, so leer mens elke dag.

    Ek het ook griep dink ek moet bed toe gaan…

  5. haha, ek is ook een van daai Van Helsdingens. Maar die griep het my ook soos ‘n dief in die nag ingewag. Voel darem nou weer mens! Sterkte.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: