Swart Maandag!

Vandag moet ek hier ‘acid’ kwyl (met apologie aan Rustig), want as ek dit nie doen nie, gaan ek verstik en ‘n lawa gat dwarsdeur my lyf brand.

Hierdie Maandag was nie blou nie, dit was nie pers nie, dit was SWART!

Wat maak jy as jou kollega, wat die ENIGSTE een is wat laasweek se twee werksdae verlof gehad het, en dus ‘n hele week se verlof gehad het, terwyl jy en jou ander 3 kollegas ‘n week se werk in twee dae moes inpas, jou vanoggend 6 uur huis toe bel en vertel sy is nog in Bredasdorp en weet nie hoe laat sy by die werk sal wees nie, met die verkeer nou en so aan? En jy hoor sommer sy wag eintlik dat jy moet sê dis okay, sy kan maar eers more inkom, want jy het haar al vantevore die pinkie gegee, en nou wil sy jou skouer uit sy armholte ruk, nevermind nog die hele hand gryp!

Jy staan met ‘n mond vol tandepasta en jy brom iets en sy vra, ja, sy het die vermetelheid om nog wragtig te VRA: “Is dit ‘n probleem? Hoekom klink jy so snaaks?” Verskoon my, maar ek het dit verloor. Halftien toe is sy by die werk, maar ek was nie vandag die gewildste peanut in haar pakkie nie.

En die ander kollega wat elke nou en dan ‘n werksbreek vat so tussen sy rokery deur. Elke keer as ek hom soek, is hy Missing In Action. Hy sal nie gou weer twee keer in een uur gaan rook nie.

Sien, dis wat gebeur as mens te lank, TE flippin ‘nice’ is. My oupa het hoeka altyd gesê alles wat ‘n ‘te’ by het is te veel, behalwe tevrede. ‘Nice’ is vir die voëls, hoor julle my. Ek het gedink julle is mooi volwasse, ek hoef nie polisieman te speel nie, maar nou het julle te lank, te veel kere op die leeuwyfie se stert getrap.

En jy, Madame Fifi, daar in Johannesburg, as jy een keer, NET een keer weer bo-oor my praat met jou skeermesstemmetjie, terwyl ons in ‘n tele-vergadering is, gaan ek jou tjank kort digby jou dinges aftrap. Jy het nog doeke gedra toe doen ek al wat ek nou doen. Look and learn; Madame Fifi. Ek gaan vir jou vertel presies waar wie wat se wortels begrawe het as jy weer ander mense boelie sodat jou goed eerste gedoen kan word. Volgende keer as ek in Johannesburg kom, gaan ek daai hoë hakkies van jou morsaf breek sodat jy ‘n slag kan terugkom aarde toe. Jy het net gehoor ek kan ‘n “bitch” wees. Tot nou toe het ek jou gespaar, want ek was “the new kid on the block” in hierdie posisie. Maar nou het ek genoeg van jou ook gehad. Ek laat nie my mense boelie nie. Punt.

En jy, Bonny Baby, as jy weer vir ‘n kliënt sê dat ons op ons koppe ook kan staan en vir hulle Sarie Marais met ons tone op die klavier kan speel, sonder dat jy met my ge-check het of ons akrobate kan wees, dan gaan ek jou maak op jou kop staan en wals vir die kliënt. Jy belowe nie die kliënt ‘n vraelys in vyf verskillende tale omdat jy weet dat een van ons programme dit kan doen, maar jou kop is te klein om te weet watter een, en dit is NIE die een waarin hierdie spesifieke kliënt se werk gedoen word nie. En dan los jy my om die donnerse gemors uit te sorteer nie. Jy is volgende op my “hit list”. Hulle het my gewaarsku toe ek die nuwe werk vat, dat ek en jy gaan koppe stamp. Ek het jou die voordeel van die twyfel gegee. Nou is jou nommer op. Koppe stamp, gaan ons koppe stamp, en ek belowe jou, myne is BAIE harder as joune.

By alles het ek opgestaan met ‘n tandpyn uit die vure van die hel uit en die goeie, gawe tandarts kan my eers op 19 Mei help, maar ek is op 19 Mei in Johannesburg, besig om party mense se skoene se hakke af te breek, sodat hulle net weer bietjie nader aan die aarde kan begin beweeg. So, dan kan dokter my eers 26 Mei help, anders moet ek maar kom sit en wag as die pyn te erg raak. Nou sal ek maar gaan sit en wag, wanneer die pyn te erg raak. As ek vandag of more gaan, brand ek dalk net ‘n ‘acid’ gat in die tandarts se stoel en dan moet ek nog daarvoor ook betaal.

Ek sal nie verbaas wees as daar more ‘n besem langs my lessenaar staan nie.

Advertisements

14 Responses

  1. Sê hulle Son(skyn nie vandag in my gemoed nie)kind, sê hulle! Ek vermoed die tandpyn het dalk iets te doen met te veel op jou tande kners as ander mense jou debliksem in maak!

  2. Nou weet jy hoe ek voel. Ek doen nie meer nice nie. Ek doen net ongeskik. Die meeste weet nie eers die verskil nie. Lewe is net te kort Sonkind om nice te wees met mense wat dit nie eers raak sien. Ek is soos “pit bull” in die laaste tyd. As ek eers vasbyt gaan geen moer of marine my van my punt laat afsien.
    More is nog ‘n dag! Ek hou lekker lang naweek in Ierland. Vandag vakansie dag. En son skyn vandag na paar dae se afwesigheid.

  3. Ek dink ek moet dadelik ophou blog voordat iets my tref (grappie). Ek het eenkeer ‘n girl gehad wat by my gewerk het. Sy het my aan die einde van haar vakansie gebel en laat weet sy hou so lekker vakansie dat sy nog ‘n week gaan bly. Sy hou nou nog vakansie. Ek het haar duidelik laat verstaan sy hoef nie weer terug te kom nie.

  4. Riaan: Ek sal dieselfde gedoen het. Sal sommer enige uitstaande geld vir haar gepos het. Sy hoef dit nie te kom haal nie.
    Daar is net nie meer werk etiek onder die mense nie. Nie hier by my in Ierland of in Suid Afrika nie.

  5. ((((Sonkind)))) hel wat ‘n dag…. Maar sê hulle, magtig, laat die son nou so bietjie oor hulle boudjies ook ondergaan… 👿 Vreksels – Sleep hulle sommer aan hulle wimpers rond as dit te veel raak. BTW as daai besem langs jou lesenaar staan, ry hom! Gee hulle al hulle hel. Ek hoop jou dag is more sommer baie beter…. ♥ ♥

  6. Sonkind,
    hulle se Prozac werk so af en toe…..
    hmmmm… Ek wonder 😆

  7. Pikkelik

    Nou maak jy my ook bekommerd. Soveel geweld. Onthou hierdie is ‘n openbare blog. Kinders lees dit ook. Netnou moet Sonkind ouderdomsbeperking laai. (hi hi)

  8. Ag Riaan, ek bedoel sy moet dit sagkens en met liefde doen. Selfs kinders het soms tug nodig… Met teerheid en geduld… 😆 😆

  9. Son

    Ek het simpatie met jou. Ek was ‘n ruk terug waar jy is. Toe gaan ek heeltemaal oorboord. Ek het ‘n paar klagtes teen my gekry.

  10. Ek hoop nie ek’s die enigste een wat lag vir hierdie tirade nie?! Nee, kyk, dit was ‘n pikswart Maandag, ek gee jou toe, maar moet jy dit so komies vertel?! 😀
    Ek wens ek kan saam Johies toe om te sien hoe jy mense nader aarde toe bring…
    En ek is self ‘n roker, maar dis een ding wat my ook erg geirriteer het (toe ek nog nie gerook het nie, mind you!) – as hulle uitgaan vir ‘n ‘smoke break’. Genade! As ‘n nie-roker uitgaan vir ‘vars lug’, word hy/sy sommer as lui bestempel!

  11. 😆 Son maar jy kan warm skyn, as jy die dag wil? Nice is nie iets wat ek meer doen nie! Veral nie in die besigheids wêreld, hulle misbruik dit.

  12. Jinne jy het my simpatie. Ek ken daai gevoel. Onthou jy die aap wat 2 keer in my vasgery het? Nouja toe ek vandag my kardeur toemaak, doef, toe val daai swart strip aan die kant van die deur op my voete.
    Die bliksems wat die kar ge-pannelbeat het, het hom natuurlik nie reg opgesit nie.
    Maar soos Liefie se, dit kon in die ry afgeval het.

    Swart dae word nie swarter, mens moet wag vir ‘n nuwe een.

  13. Hulle almal se moere.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: