Morele Dilemma

Wat is ‘n morele dilemma?

Die presiese betekenis van ‘n dilemma is ‘n situasie waar jy moet kies tussen twee ewe onaangename alternatiewe. Daar is ‘n gesegde “om tussen die duiwel en die diep blou see te wees”. ‘n Morele dilemma is nog erger, want watter opsie jy ookal kies, iets of iemand gaan daaronder ly. Twee keuses is in konflik met mekaar en jy kan net een kies. Maak nie saak watter een jy kies nie, jy gaan iemand faal. Jy gaan vir altyd met ‘n skuldgevoel van een of ander aard moet saamlewe. In ‘n morele dilemma moet jy besluit wat is moreel die korrekte keuse, NIE slegs dié een wat jy sou verkies het nie.

‘n Professor wat klas gee in etiek, is gevra of mens iemand kan karakter aanleer, en indien nie, wat is dan die doel daarvan om etiek vir iemand te leer. Sy antwoord was dat mens nie mense kan leer om die regte ding te doen nie en dat dit ook nie die doel is van die studie van etiek nie. Om die regte ding te doen is ‘n twee-ledige proses. Eerstens moet mens eers besef wat is die regte ding om te doen en tweedens moet jy dit dan doen. Stap een is etiek en stap twee het te doen met karakter.

Voorbeelde van morele dilemmas: –

1. Jy het twee kinders. Jou huis is aan die brand. Jy kan net een van jou kinders red. Daar is niemand anders wat hulle kan red nie, behalwe jy. Watter kind kies jy?

2. Jy en jou seun is gevangenes in ‘n konsentrasiekamp. Jou seun het probeer ontsnap, maar is gevang. ‘n Sadistiese wag besluit jou seun moet gehang word en hy besluit jy moet die stoel onder jou seun wegskop. Doen jy dit nie, dreig die wag om van die ander onskuldige gevangenes ook dood te maak. Jy glo dat die wag dit wel sal doen. Wat besluit jy?

En nou, die belangrikste keuse van almal en die rede hoekom ek hierdie geskryf het. Stel jou die volgende voor:

‘n Dogtertjie van 4 jaar oud word gesteel uit haar ouerhuis. Met die ondersoek van die saak vind jy uit dat die ma van die dogtertjie ‘n dwelmverslaafde is, dat sy al meer as een keer die kind alleen by die huis gelos het, dat sy die kind een keer vir twee ure in ‘n snikhete, geslote motor gelos het. Dat sy soms as ‘n prostituut werk en dan mans huis toe bring, waar die dogtertjie ook is. En dat sy die aand van die kind se verdwyning gelieg het oor waar sy was, dat sy eintlik iewers in ‘n klub was, op soek na dwelms.

Soos die tyd verloop, dui alles daarop dat die dogtertjie dood is. Die ma aanvaar naderhand die kind is dood. Sy toon geen teken van berou oor haar dade nie, maar hou aan met haar losbandige lewe, al treur sy tog oor haar kind.

En dan, heel toevallig, val die waarheid eendag in jou skoot. Die dogtertjie se oom het gereël dat sy gesteel word, want hy kon nie meer toekyk hoe sy suster die kind verwaarloos nie. Sy bly nou by ‘n ouerpaar wat haar verskriklik liefhet en wat haar soos goud oppas. En die dogtertjie is gelukkig by hulle. Jy sien haar, jy sien hoe gelukkig sy is. Meer as wat sy ooit by haar eie ma was.

Wat doen jy?

Konfronteer jy die mense wat haar gesteel het? En dan sê hulle vir jou: “As jy so seker was wat die regte ding is, hoekom het jy nog nie die polisie laat weet nie? Omdat jy weet dit sal ‘n onherstelbare fout wees? Omdat jy weet, maak nie saak wat sê die wet nie, dat jy diep binne in jou weet dat sy beter af is waar sy nou is, as by haar eie ma? Omdat jy weet, as jy haar terugbesorg aan haar ma, gaan sy self oor ‘n paar jaar vorentoe dieselfde pad loop as waar haar ma nou is, dalk ook met haar eie verwaarloosde kind? Hoe gaan jy met jouself kan saamlewe?”

Sê jy vir hierdie ouers: “Ja, ek weet dit kan dalk gebeur. En as dit gebeur sal ek daarmee moet saamlewe. Maar wat as sy eendag voor my kom staan en vir my sê; ‘Ek is ontvoer toe ek ‘n klein dogtertjie was en jy het my gevind. Jy het my by ‘n vreemde familie gevind en jy het my daar gelos. Hoekom? Hoekom het jy my nie huis toe gevat nie? Want al die mooi goed, al die klere, al die speelgoed, al die bederf, het vir my niks beteken nie. Hulle het my gesteel. Hulle was nie my regte familie nie en jy het dit geweet en jy het NIKS gedoen nie. Hoekom?’ En dalk sal daardie volwasse vrou my daarvoor kan vergewe, maar ek sal myself nooit daarvoor kan vergewe nie.”

Wat doen jy? Watter keuse maak jy? Los jy die kind by haar nuwe ouers, wetende dat sy net die beste vorentoe in haar lewe sal kry, die beste opvoeding, die beste van alles.

Of vat jy die kind terug na haar eie ma toe, wat haar seker op haar eie manier liefhet, maar wat eers aan haarself dink en dan aan die kind, as sy die slag onthou sy het ‘n kind? Vat jy die kind terug na ‘n lewe waar die kanse 50/50 is dat sy ook maar net eendag op die strate gaan beland, met geen toekoms nie?

Wat sou jy gedoen het? Wat is hier die regte morele keuse?

Wat sou ek gedoen het? Ek weet nie wat dit van my karakter sê nie, maar ek sou die dogtertjie doodstil gelos het waar sy is en probeer vergeet het wat ek weet. Sou ek daarmee kon saamlewe? Ek dink nogal ek sou kon.

En jy?

Advertisements

15 Responses

  1. Ek is toevallig besig om te skryf aan ‘n post oor ‘n verwante onderwerp, maar hier is my gedagtes in kort. Alles in die lewe het ‘n prys. Die prys vir hierdie kind se geluk is moontlik dat ek vir die res van my lewe moet saamleef met die wete dat sy van haar ma gesteel is, en dat ek weet waar sy is. Ek dink ek sou ook stilgebly het.

  2. Ek sal optree wat ek dink die beste vir die kind sal wees. Ook stil bly en in my hart bly wees dat sy ook geluk gevind het.
    Die ander is baie moeilik, omdat as persoon ek nie die reg het om te besluit wie mag leef en wie nie. Is baie moeilik, maar dink tog dat indien jy in die situasie is, dat die besluit wel reg sal wees.

  3. ek sou nie eens skuldig voel om haar daar te los nie. Ek sou seker vir die kind ‘n fiets koop uit blydskap dat die Engele haar oom se hart geroer het. ek bly toevallig in ‘n buurt waar ek baie onheilige huishoudings bespied … met baie sulke ouers soos die dogtertjie se ma.

    wat jy beskryf klink half baie soos wat Social Workers anyway doen. Hulle vat kinders weg by ouers wat hulle neglect. maar in die geval van Social workers kan hulle ook net die kinders weer pos na huise waar mense saamwerk – en in BAIE gevalle is daai huise net oop vir Foster kinders oor die mense paar honderd dollers per maand betaal word om na hulle te kyk. Hulle is baie kere glad nie beter af nie, en word in die Foster homes ook erg verwaarloos.

    Moet daai Social workers dan ook sleg voel om die kinders by die Junkies weg te neem en in huise te plaas waar die ouers meestal vergeet hulle het kinders oor hulle Meth & Heroinne net soveel meer belangrik is ? ek twyfel sterk

  4. Sonkind ek sou definitief stilgebly het! Hier sou my gewete nie ‘n uitkomkans gehad het nie. Daardie kind is gelukkig, moontlik vir die eerste keer in haar lewe, lewe sy ‘n ‘normale’ lewe. Daar is geen manier wat ek met myself sou kon saamlewe as ek na die owerhede toe moes gaan nie.

  5. By haar ma gaan sy miskien oorleef, by die ander paar gaan sy leef. Ek sal haar nie uit die lig terugdruk in die duisternis nie. En ek sal geen slapelose oomblik verduur nie.

  6. Partykeer is dit beter om stil te bly….

  7. Ek sal verseker stilbly. As daardie kind behoefte het om haar eie ma weer te sien sal sy op ‘n stadium van haar lewe begin soek. Terwyl sy nog nie emosioneel ryp genoeg is om self te besluit nie, is die situasie waarin sy nou is die beter een.

  8. Ek sou stilgebly het, sonder om nagte daaroor wakker te lê. Maar sê nou die ma rehabiliteer haarself (let wel: sy probeer nie net nie). Wat dan? Verdien die ma en kind om bymekaar te kom? Daar is egter soveel potensiële probleme hiermee wat dit moeilik maak. Wat die oom gedoen het is onwettig en sou die ma wou, kan sy seker baie probleme veroorsaak. Of sy kan dankie sê. Die vraag wat ek myself dan sal moet afvra is in watter mate ek die ma vertrou en hoe dit opweeg teenoor ma en dogter se regte om die waarheid te weet?

  9. Ek sou nie hierdie ‘n morele dilemma noem nie! Jy sou nooit met jouself kon saamleef om daardie kind na haar ma toe terug te stuur nie.

  10. Dis mos waaroor die fliek Sophie’s Choice gegaan het, sy moes kies tussen hara kinders.

  11. Ek sou maklik stil gebly het oor waar sy is.

  12. MaanKind, ek het nooit Sophie’s Choice gesien nie, maar dalk moet ek nou ‘n plan maak.

    George, jou antwoord is omtrent die naaste aan die kern van die saak, maar ek voel natuurlik soos die meeste ander wat hier geantwoord het.

    Die scenario wat ek hierbo beskryf het, van die dogtertjie, kom uit die fliek “Gone Baby Gone”. Die fliek is in 2007 uitgegee en behoort in DVD winkels beskikbaar te wees.

    My skets is net die geraamte van die fliek. Kyk dit gerus en sien hoe kan een besluit in ‘n mens se lewe jou volg, by jou spook en alles in jou lewe verander.

    En nee, ek het nie die storie of die slot weggegee nie. Glo my, dit sal steeds die moeite werd wees om te kyk.

  13. – Baie goeie movie.

    Ek sou beslis stilgebly het.

  14. ich kan nicht ein ko”se machen nicht… uit sophie’s choice

    ek sal lat die ma rehabiliteer of probeer en dan in kontak bring met die kindjie, of d.m.v. die sosiale wekers en howe wetlik ‘n oplossing kry, vir pleegsorg en so, in for a penny, in for a pound, mens mag nie kids steel nie

    ek sal graag gone baby gone wil gaan kyk

  15. Ek is ‘n ewige optimis.

    Ek sal kyk of ek die ontvoerders kan help om die hele storie wettig te maak. Dit sal anoniem moet geskiet tot hulle kan wen. Anders sal ek stilbly.

    Ek dink ouers moet een kans kry. Rehab is gewoonlik nie permanent nie. Dit is die kind se keuse of hy/sy kontak met die biologiese ouer wil hervat wanneer hulle groot is.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: