Verkeersman of Verkeersvark?

Die insident het Dinsdag gebeur en eers het ek oorweeg om dit net te los, maar ek bel toe tog maar rond en kry uiteindelik Donderdagmiddag die regte nommer, nadat ek vele male na bakboord gestuur is. Vrydagoggend besluit my “evil twin” dis nou tyd om die saak aan te meld. Ek bel Mnr Skinner en soos julle in my brief sal lees, was hy nou nie juis oulik met my nie.

Ek vervies my en bel Die Burger en hulle sê, nee maar dis reg, stuur vir ons ook jou brief. Ek e-pos die brief en dog daar sal tog nie seker regtig iets van kom nie.

Hier is die brief. Lees die gevolge van die brief, na die brief.

 

Sent: Friday, April 25, 2008 10:44 AM

To: ‘wskinner@pgwc.gov.za’

Cc: ‘dbnred@dieburger.com’

Subject: Optrede van verkeerspolisieman op Dinsdag, 22 April

Importance: High

Op Dinsdagoggend, 22 April 2008, om ongeveer 8h45, was ek oppad op die N1 vanaf Paarl in die rigting na Kaapstad. Ek het teen ‘n gemiddelde spoed van 120 km/h gery en die pad was redelik stil.

Daar was ‘n paar voertuie in die regter (vinnige) baan, maar voordat ek nog selfs naby hulle kon kom, het hulle oorgeskuif na die linker (stadige) baan. Ongeveer in die omgewing van die Engen Winelands het ek die verkeersvoertuig met registrasie GVY 659 G genader, wat in die regterbaan oppad was. Ek het nader gekom, maar die voertuig het geen teken getoon dat dit na die linkerbaan sal oorskuif nie.

Ek het vir ‘n hele paar minute agter die voertuig gery en my spoed het gedaal na tussen 110 en 120 km/h. Omdat ek op ‘n konstante spoed van 120 Km/h was, was dit moeilik om heeltyd stadiger te ry. Duidelik het die persoon in die verkeersvoertuig geen plan gehad om pad te maak nie en omdat die pad stil was, ek nie roekeloos gejaag het nie en sy voertuig se 120 km/h heelwaarskynlik effe stadiger as my voertuig s’n was, en ek heeltyd my petrol moes reguleer om nie te naby hom te kom nie, het ek oorgegaan na die linkerbaan, om hom dan maar aan daardie kant verby te gaan.

Die oomblik toe ek in die linkerbaan is en by hom verby begin skuif, het hy versnel. Ek het nie onmiddellik besef wat hy besig is om te doen nie en eers gedink ek misreken my met sy spoed. Ek het ook versnel en toe besef ek dat hy weereens versnel en dat hy my geensins gaan toelaat om hom verby te gaan nie. Die rede hiervoor was vir my duister, want volgens my is dit roekeloos om so op te tree. Ek het my spoed verminder en maar weereens agter hom ingeval in die regterbaan.

Naby die volgende afrit, wat die Kraaifontein een was, het hy sy blou ligte aangesit en aan my beduie om af te trek. Ek het oorgegaan na die linkerbaan en versigtig tot stilstand gekom op die linker skouer van die pad. Hy het sy voertuig tot stilstand gebring op die geel strepe tussen die afrit en die N1 en na my voertuig toe aangestap gekom.

Ek het my venster afgedraai en gevra wat het ek verkeerd gedoen. Sy woorde was: “Jy sit nie op my gat nie, hoor jy my? As ek in die vinnige baan ry, dan kom sit jy nie op my gat nie, verstaan jy? Ek ry 120 km/h en dit is die spoed beperking en dan bly jy agter my en klaar.”

Ek het geantwoord dat ek ook 120 km/h gery het en dat ek nie enige rede kon sien hoekom ek hom nie kon verbygaan nie, want my motor se 120 km/h was duidelik bietjie vinniger as sy motor s’n.

Hy het hom vererg en die volgende gesê: “Wil jy nou hê ek moet jou net hier ‘n R1000 (duisend rand) boete gee vir volgafstand, hm? Wil jy hê ek moet dit doen?”

Ek het nee geantwoord en toe sê hy my ek moet ry en klaar kry.

Ek voel steeds baie omgekrap oor die voorval. Verder moes ek 2 dae lank sukkel om die regte persoon in die hande te kry by wie ek die geval kon aanmeld. Toe ek uiteindelik vir u, Mnr Skinner, in die hande kry, vertel u my dat daar natuurlik 3 kante van ‘n storie is, myne, die verkeersman s’n en die waarheid. So, indirek het u my ook beskuldig daarvan dat ek dalk gedeeltelik lieg oor wat werklik gebeur het.

Ek verwag ‘n openbare verskoning van die verkeersdepartement, sowel as die verkeersman, ene Mnr Y Buys. Om seker te maak dat hierdie nie net weer een van die gevalle word waar my brief gerieflik net verlore en vergete raak nie, stuur ek dit ook aan Die Burger se redaksie en gee ek Die Burger toestemming om dit te plaas. Dit staan u dus vry om ook die verkeersman se weergawe, sowel as die derde kant van die storie, nl die waarheid, volgens u, aan Die Burger te stuur vir plasing

Dankie

 

Skaars twee ure na ek die brief gestuur het, bel ene Mae Jean van Die Burger my. Sy vertel my dat die koerant mnr Skinner geskakel het, maar dat hy geen kommentaar wou lewer nie, want die saak word nou ondersoek. Hulle kry toe ‘n ander groter grootkop in die hande en verwys hulle navraag na hom en hulle wag nou vir hom om terug te kom na die koerant. Intussen wil sy net weet of die verkeersman homself aan my geidentifiseer het. Ek antwoord, ‘nee, ek het sy naam op sy naambalkie op sy hemp gesien, maar hy het homself op geen manier identifiseer nie. Ek het maar goedertrou aanvaar hy is wel ‘n verkeersman.’ Sy vra of hy aggresief was, ek sê ja. Sy wil weet of ek bedreig gevoel het, ek antwoord weereens ja, ek het nogal, want die afrit was stil en dit was net ek en hy daar. Sy sê hulle sal my laat weet sodra hulle enige terugvoer van die Provinsiale Verkeer gekry het.

Minder as ‘n uur gaan verby voor my telefoon weer lui. Die persoon aan die anderkant identifiseer homself as mnr Pat Curran, hoof van die Provinsiale Verkeer (so mnr Skinner was seker ‘n Mickey Mouse waarmee hulle my eers wou sus). Mnr Curran vra ernstig om verskoning vir die verkeersman se gedrag, hy vertel my dat Buys GEEN rede gehad het om my af te trek nie en dat daar ook nie so iets bestaan soos sommer net ‘n R1000 boete vir volgafstand nie.

Hy vra ook verskoning vir Skinner se uitlating oor die 3 kante van die storie en verseker my dat ek voor die einde van volgende week ‘n verskoning van beide persone sal ontvang, hy gaan net die interne ondersoek afhandel. Mnr Curran gee ook vir my sy persoonlike selfoonnommer en vra dat ek hom asseblief direk kontak die oomblik as enige verkeersman my weer onregmatig intimideer.

LEKKER! Kry vir jou, Buys. Hierdie keer het jy die verkeerde perd opgesaal!

Advertisements

16 Responses

  1. Goed gedoen! Dis ‘n voorbeeld hoe elke individu nie moeite moet ontsien om vir sy/haar regte en waardigheid te veg nie! Jy kon so maklik die saak daar gelaat het, maar jy het nie – mooi so! Ons het meer burgers soos jy nodig in SA!

  2. Trots op jou!!! Mag ander wat hulle posisies misbruik daaruit leer.

  3. Dit is natuurlik verkeerd wat die verkeersbeampte gedoen het nl. magsposisie misbruik en ‘n lid van die publiek boelie, maar Mae Jean het (soos met die Polisieman in een van jou vorige poste) leidende vrae gevra. As die stukkie in die koerant publiseer sou word, wed ek jou sy sou geskryf het van die “aggresiewe verkeersbeampte”…natuurlik die woorde wat sy in jou mond geplaas het. Inelkgeval, regtig bly jy’s veilig en dat die parra bietjie vas gevat is. Ek het ook al so iets oorgekom, maar ongelukkig was ek nie die boete gespaar nie.

  4. Lekker! Bly jy het reggekom.

  5. […] admin wrote an interesting post today onHere’s a quick excerptDie insident het Dinsdag gebeur en eers het ek oorweeg om dit net te los, maar ek bel toe tog maar rond en kry uiteindelik Donderdagmiddag die regte nommer, nadat ek vele male na bakboord gestuur is. Vrydagoggend besluit my “evil twin” … […]

  6. Dis hoe dit gedoen word!! Buys sal volgende keer 2 keer dink.

  7. Sonkind

    Staande applaus

  8. Knap gedaan, Sonkind!

  9. Dit is great Sonkind. Dit is tyd dat almal begin opstaan teen korupsie en misbruik van mag.

  10. Goed so! Die moere kan nie sommer kom rang trek nie!

  11. Dis fantasties dat jy dit nie net daar gelos het nie!!! Baie mense sou dit net gelos het en aanvaar het daar sou niks daarvan kom nie! EK is so bly die ou het bietjie sy gat gesien! Ek kry sommer lekker vir jou part. Laat dit vir alle gesaghebbende bliksems ‘n les wees!

  12. Welgedaan, Sonkind. Dis lekker om te lees dat jy besluit het om iets daadwerkliks te doen oor wat reg en verkeerd is!

  13. Woohoo you you go girl! It’s about time some of these so called traffic officers got their come-uppance. Brilliant, well done. 🙂

  14. […] Verkeersman of Verkeersvark? […]

  15. Ek het eintlik by jou possie van vandag begin, maar hierdie een het my tot in my tone laat lekkerkry! Mooi so!

    PS. Sterkte met die griep!

  16. Hehe…So maak die media!! Laat hulle spring!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: