OCD, die Obsessie

Wipneus vra HIER of sy ‘weird’ is. Die kommentaar het my laat besef daar is baie van ons “out there”. Maar is dit werklik obsessiewe gedrag, of soos die Engels sê OCD (Obsessive-Compulsive Disorder)? Ek het bietjie gaan lees en op ‘n paar interessante, maar ook kommerwekkende (vir myself) feite afgekom.

OCD is ‘n sielkundige angsversteuring, meestal gekarakteriseerd deur die persoon se obsessiewe, ontstellende, indringende gedagtes en verwante dwanghandelings (take of rituele) wat die persoon doen of gebruik om die obsessies te neutraliseer.

Die frase ‘obsessief-kompulsief’ het egter al sy pad so ingewurm in die wyer betekenis van die taal en word soms sommer op ‘n ongeërgde manier gebruik om iemand wat bloot puntenerig, oorpresies of eksie-perfeksie is (lees ook dalk hier ‘pyn-in-die-gat’), te beskryf.

Sulke optredes moenie nou sommer as OCD aangesien word nie. Dit is ook belangrik om te onderskei tussen OCD en ander tipes angs, insluitende spanning en stres, wat maar in mens se alledaagse lewe voorkom. Alhoewel hierdie tekens ook gereeld voorkom in OCD, beteken dit nie noodwendig dat ‘n persoon wat tekens toon van fiksasie met ‘n onderwerp of voorwerp, of ‘n persoon wat kenmerke van perfeksionisme het, aan OCD ly nie. OCD is ‘n spesifieke en goedgedefinieerde toestand.

Om gediagnoseer te word met obsessiewe-kompulsiewe gedrag, moet mens óf net obsessies óf  net kompulsies hê, of albei.

Obsessies is:

  • 1. Herhalende en aanhoudende gedagtes, impulse of beelde wat ervaar word as indringend en onvanpas en wat merkbare angs en stres veroorsaak
  • 2. Die gedagtes, impulse of beelde is nie bloot net oormatige kommer oor werklike probleme nie.
  • 3. Die persoon probeer die gedagtes, impulse of beelde ignoreer of neutraliseer met ‘n ander gedagte of aksie.
  • 4. Die persoon besef die obsessiewe gedagtes, impulse of beelde is ‘n produk van sy eie denke en nie gebaseer op die werklikheid nie.

Kompulsie is:

  • 1. Herhalende gedrag of denke wat die persoon gedrewe voel om uit te voer in reaksie op ‘n obsessie, en volgens reëls wat onbuigsaam moet toegepas word.
  • 2. Die gedrag of denke is daarop gemik om angs te verminder of om een of ander aaklige gebeurtenis of situasie te verhoed. Hierdie gedrag of denke is egter glad nie op ‘n realistiese manier gekoppel aan die gebeurtenis of situasie wat dit veronderstel is om te neutraliseer of te voorkom nie en is heel duidelik oordadig.

Tesame hiermee moet die obsessies of kompulsies ook meer as een uur van die persoon se tyd per dag in beslag neem, dit moet angs veroorsaak en dit moet die persoon verhoed om normaal sosiaal te verkeer of hom strem in sy funksionering in die werks- of skoolomgewing. OCD veroorsaak ook heel dikwels gevoelens soortgelyk aan depressie.

Selfs met vandag se gevorderde wetenskap is daar steeds ‘n skeuring onder wetenskaplikes oor wat hulle glo die oorsaak van OCD is. Een groep glo dis sielkundig van aard, terwyl ‘n ander groep glo dis neurologies.

Die kognitiewe gedragsmodel stel voor dat die gedrag wat uitgevoer word om die angsgedagtes te verwyder, slegs tydelike verligting bring. Elke keer as die gedrag voorkom, word dit negatief versterk deur die verligting van die angs. Dus neem die disfunksionele gedrag toe en kan dit mettertyd oorgaan tot ander, verwante stimuli.

Byvoorbeeld: Na die persoon aan ‘n deurknop gevat het, dink hy dat hy ‘n siekte gaan kry van die kieme aan die knop. Hy word angstig en gaan was dadelik sy hande, wat verligting van die angs bring. Die volgende oomblik begin die persoon wonder; “Het ek my hande deeglik genoeg gewas?”. Hierdie gedagte veroorsaak opnuut weer angs en die persoon voel gedrewe om sy hande weer te gaan was. Die angs word verlig, net totdat die persoon weer dink dis dalk nie goed genoeg gewas nie en so ontstaan die bose kringloop.

Nog ‘n voorbeeld kan iemand wees wat aanhoudend seker maak dat sy geparkeerde motor gesluit is voordat hy wegloop of iemand wat die ligte ‘n paar keer aan en af sit voordat hy ‘n vertrek verlaat. Fisiese simptome kan ook voorkom as gevolg van die angs, soos byvoorbeeld trekkings of Parkinsons tipe simptome, byvoorbeeld styfheid, bewerigheid of onwillekeurige rukbewegings van sekere ledemate.

Simptome kan die volgende insluit:

  • Herhalende was van die hande.
  • Herhalende keelskoonmakery, al is daar niks in die persoon se keel nie.
  • ‘n Spesifieke tel sisteem – bv. tel in groepe van vier, rangskik onderwerpe in groep van drie, rangskik goed in ewe/onewe genommerde groep.
  • ‘n Ernstige simptoom is wanneer die persoon sy treë begin tel en byvoorbeeld voel hy MOET net ‘n sekere hoeveelheid treë na sy motor toe loop in die oggend.
  • Die perfekte opstelling van onderwerpe, met absolute reghoeke, of presies parallel.
  • ‘n Vrees vir geweldadige optrede of die oormatige gevoel van verantwoordelikheid vir ander se veiligheid.
  • Seksuele obsessies of ongevraagde seksuele gedagtes. Twee klassieke voorbeelde is dat die persoon vrees dat hy dalk ‘n homoseksueel is of ‘n pedofiel is.
  • Vreemde en kroniese kommer oor sekere dinge soos slaap, eet, die huis verlaat, ens, sonder sekere items. Amper soos ‘n kind met ‘n trooskombersie of ‘n fopspeen.
  • ‘n Vrees om mal te word.
  • ‘n Vrees om siektes op te doen deur ander mense se spoeg, bloed, sweet, trane, ens.
  • Die behoefte om te sorg dat albei kante van die lyf in balans bly. ‘n Persoon met OCD sal op die sypaadjie loop en met sy linkervoet op ‘n kraak trap. Hy sal dan voel hy MOET met sy regtervoet ook op ‘n kraak trap, anders is alles uit balans uit. As een hand nat word, moet die ander hand ook nat word.
  • ‘n Obsessie met nommers. Sommige mense is obsessief oor gelyke getalle en haat ongelyke getalle.

Die persoon se brein stel vir hom ‘n uitdaging wat veroorsaak dat hy voel hy sal doodgaan as hy dit nie presies reg doen nie.

OCD lyers weet ook dat hulle gedagtes en gedrag nie rasioneel is nie, maar voel hulpeloos om dit te verander. OCD word ook beskou as een van die moeilikste angsversteurings om te behandel.

OCD begin gewoonlik eers in die laat tienerjare tot die middel 20’s, maar dit neig om vroeër voor te kom by mans as vrouens. Dit is ook vasgestel dat OCD lyers oor die algemeen bo-gemiddeld intelligent is.

Hoe lyk my eie prentjie?

Ek gaan slaap nie in die aand sonder dat my skottelgoed gewas is en my kombuis 100% aan die kant is nie. Ek het nogal ‘n obsessie daaroor.

Ek sal nooit my klere net iewers neergooi nie. As ek uittrek, word alles onmiddellik gebêre of in die wasgoedmandjie gegooi. En behode enige een wat sy klere iewers net neergooi.

My klere in my kas is in netjiese hopies sorteer, volgens my eie stelsel, wat net ek natuurlik verstaan. En die wat hang, het ook ‘n presiese plek – soort by soort. Maar ek bekommer my nie oor enige iemand anders se kas nie.

As ons iewers heen weggaan, sal ek aan die anderkant onmiddellik eers alles uitpak en ‘n plekkie vir alles kry, voordat ek kan begin ontspan en vakansie hou.

(Dammit, hoe meer ek skryf, hoe meer onthou ek nog)

As ek ‘n motor eers een keer gestamp het, verkoop ek hom. Ek sal nooit weer dieselfde oor hom voel nie.

Ek probeer om nie op die lyne op sypaadjies en blokkiesvloere te trap nie, maar ek gaan darem nie terug en doen dit oor as ek nou wel op ‘n lyn getrap het nie. Hierdie obsessie het ook al bietjie vervaag met die jare.

Ek tel ALTYD die trappe as ek dit klim, dis nogal ‘n erg een by my.

Ek haat tandepasta buisies wat in die middel gedruk is.

Ek verpes ‘n onnet en vuil plek en alhoewel ek nie ‘n aanval kry vir ‘n bietjie stof nie, maak ek my huis self skoon en ten minste elke tweede week amper soos in ‘spring cleaning’ skoon. Die res van die tyd darem net bolangs. Maar dis altyd netjies.

Goed, dan moet ek darem ook net noem – ek vergeet soms my huis se ligte aan, ek het al met oop deure geslaap, my motor is meer vuil as wat hy blinkskoon is, ek het ook al vergeet om my motor te sluit in ‘n parkeer area, ek is nie sommer bang vir kieme nie en ek was nie aanmekaar my hande nie.

So, is ek OCD, of sommer net soms ‘n pyn in die gat? 😆

En jy?

{Bron: – Wikipedia}

Advertisements

9 Responses

  1. Lol Sonkind, ek dink ek is ‘n pyn in die gat!
    Baie goeie post hoor!

  2. Brilliant vriendin….. Maar ek het ongelukkig nie ‘n hele week tyd om al my ‘k@kkies’ en dinge neer te pen nie! HEHE!

    Obsessief, kompulsief, aggressief… eish Asseblieffffffffff!!!

    ((((hugs))))

  3. Ek sien rooi ligte – regtig. Gelukkig tel ek nog nie my tree nie.

    Ek het regtig ‘n ding met nommers. As ek fliek, moet ek op ‘n sekere nommer sit of ek mors my tyd. Behalwe van 8, hou ek ook nie ewe getalle nie.

  4. 😆 Son jy het my dag gemaak!!!!

    Jy doen baie navorsing vir ons oor die saak. Baie dankie. Ek dink nie daar is meer omdraai kans nie, “loony bin” toe vir ons.
    Ek gaan regtig nie al my “loony’s” neerpen nie…..ek hou van al die vriende wat ek al in hierdie wêreld gemaak het. Ek wil hulle nie laat skrik en weg hardloop nie….Ek is nie net ‘n pyn in die g@t nie, ek gee jou ‘n ontstelde maag!!!

  5. Nou se ek ook niks meer nie! Deesdae is alles ‘n sindroom. So pyn in die gat is ook seker dan ‘n sindroom. Gelukkig het ek darem al afgekoel.
    🙂

  6. Ag nee wat! Ek steur my lankal nie meer aan al die stories rondom OCD, COD, BBC en CNN nie 😉 As ek als moet glo sal ek seker regtig in ‘n loony bin opeindig. Ek het nogal ‘n ding met nommers en ek tel ook trappe, maar verder dink ek ek is ok!

  7. Adrie, ek hou weer nie van onewe getalle nie…

    Son, smaak my ek kan geklassifiseer word as ‘n pyn-in-die-gat, maar dit hoor ek al jare. 😀 Kleure is ook nogal ‘n issue by my. Bv smarties moet in hopies van dieselfde kleur gepak word en dan eet ek van lig na donker kleure. Hallo! So hierdie een het my laat lag – “‘n Vrees om mal te word.”

  8. 😆 @Smarties!

    Roer, ek eet nie Smarties nie, maar wel Jelly Tots. So sit ek eendag by my lessenaar en ek volg my ou ritueel. Ek gooi eers al die JTots uit op ‘n vel papier, met die suiker. Dan pak ek die JTots oor op ‘n ander vel papier, kleur by kleur, en dan vou ek die ander vel papier met die agtergeblewe suiker op en gooi dit weg. Dan begin ek eet. Eers die geles, dan die groenes, want dis die slegtes vir my, en dan die res, kleur vir kleur. Gewoonlik eet ek die pienkes laaste, dis die lekkerstes.

    Ek sien nie my kollega hou my SOOO dop nie en naderhand kon hy seker net nie meer hou nie en vra: “Se my asseblief, WAT MAAK jy?”

    Ek het net gelag en geantwoord, “toemaar, jy sal nie verstaan nie.”

  9. Ek tel ook trappe, en wasgoedpennetjies. Soos wat ek die wasgoed ophang. Ek onthou nie die hoeveelheid pennetjies nie, en begin met elke bondel weer van voor af. G’n mens sal weet hoekom ek dit doen nie! 😯

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: