Die dag as jy deel van die statistieke word

Ek sit in Lanseria se vertreksaal terwyl ek hierdie tik. Ek moes kwart oor drie gevlieg het, terug huis toe, maar die vliegtuig is met ‘n uur vertraag. Ek is letterlik bitter koffie gedrink, ek drink al van laasnag af koffie asof my lewe daarvan afhang, want kos kry ek nie verby my lippe nie. Daarom het ek nou hier kom sit en tik, dalk help dit om dit uit my uit te skryf.

Ja, ek moes eintlik eers more teruggegaan het huis toe. Vannag kwart voor 12 word ek wakker gebel, dis Megan, my dogter se nommer wat flits. Ek skrik myself buite weste voordat ek nog die telefoon geantwoord het. Toe ek antwoord, is dit Liefie aan die ander kant. “Bel my terug asseblief.” Dis al wat hy sê voor hy dooddruk en in die sekondes wat dit my neem om die regte knoppies te druk, flits te veel dinge deur my gedagtes. En elke een spel Moeilikheid.

Liefie het gisteraand by Megan-hulle gaan eet en kuier, want ek is mos in Johannesburg. Laataand, oppad huis toe, sien hy sy sigarette is min en ry gou by Engen om, so 4 blokke van ons huis af. Hy koop sigarette, en ry oudergewoonte met sy deur ongesluit en sy venster oop, huis toe. In die ry steek hy ‘n sigaret aan, stop by die stopstraat en die volgende oomblik is hulle op hom. Drie van hulle.

Hulle het hom uitgeruk, met ‘n pistool teen die kop, en selfoon, beursie en GPS (wat ek vir Kersfees vir hom gekoop het, omdat hy al solank al so graag een wil hê) gegryp. Een het die motorsleutels gegryp en goddank die sleutels weggegooi. Die bliksems kon gelukkig seker nie bestuur nie, anders was die motor ook weg. Hulle het hom eenkant toe gestamp en weggehardloop.

Vir alle praktiese doeleindes was hy seker gelukkig. Die motorsleutels het hy na ‘n gesoek gekry, net die Tracker se remote het met die gooi verlore geraak, maar dis die minste. Dis die eerste keer dat so iets in ons omgewing gebeur, maar daar is seker ‘n eerste keer vir alles.

Hy is terug na Megan-hulle en het my dadelik gebel, want ek is die een wat maar rekord hou van al ons kaartnommers. So bel ek laasnag middernag die lyne warm om kaarte te kanselleer, terwyl ek soos ‘n vasgekeerde dier op en af loop in ‘n kamer, 1600 km van my mense af. Die magteloosheid om te weet ek is hier, ek het nie vervoer nie, dis die middel van die nag en ek kan nie by hom uitkom nie, was genoeg om my gek te maak.

Om hom te hoor sê: “Ek is jammer ek het die goed gegee, maar wat moes ek doen met die gun teen my kop?” wou maak dat ek hom skud en vir hom skree: “Hoe de fok kan jy vir my sê jy is jammer? Jy is nie die verkeerde een hier nie, JY is nie die donnerse krimineel nie!”

Ek het nie veel geslaap nie, ek ‘operate’ op kafeien. Die gevolge sal ek maar later dra. Gelukkig was my werk wonderlik. Hulle het dadelik gereël dat ek die eerste beskikbare vlug huis toe kan kry, al was dit nou eers vanmiddag. Ek het vanoggend probeer om sover moontlik soveel moontlik werk nog gedoen te kry, maar elke 5 minute loop die trane. Ek HAAT huil, maar ek het geen flippin beheer daaroor nie, dit loop sommer net. Dit is dan seker hoe dit voel as mens die dag deel van hierdie liewe land se statistieke geword het. En ja, ek is deeglik bewus daarvan dat ons relatief skotvry daarvan afgekom het.

Is dit veronderstel om ‘n troos te wees? My rasionele brein sê vir my nee, my emosionele brein sê net Dankie Vader dat hy okay is, vir sover enige mens na so iets regtig okay kan wees. Maar dis dan seker hoe dit is.

Ek gaan nou eers nog koffie drink. Die skryf het so bietjie gehelp. Ek sal more weer okay wees, as ek net eers by die huis is.

Advertisements

32 Responses

  1. Ai Sonkind

    So iets bly ‘n skok en die trauma om daar deur te gaan is erg genoeg. So iets kan baie lank by ‘n mens spook.

    Al wat ek gaan se is STERKTE!!!!

  2. Sonkind, hulle sê hierdie statistieke kruip nader na jou toe. Dit word erger, so een of ander tyd gaan jy deel van die statistieke word. Dit maak mens bang en kwaad. Jy bekommer jou alewig oor die goed. As die kinders in die aand uit gaan is dit of ek op kole loop, kan nie wag dat hulle terug in hulle bedjies is nie!!

    Sterkte

  3. Ai Sonkind, sterkte…

  4. Eish, sterkte vir julle. Ek dink ons almal loop op hete kole deesdae, loer heeltyd oor ons blerrie skouers en wag om statistiek te word.Dit is niks anders as n vorm van terrorisme nie.

  5. Sterkte jong. Ek het twee weke terug vir myself geskrik toe ek totaal ongeërg gevoel het na ‘n inbraak in my motorhuis. Ek was vies omdat my seun wat in die huis was, oënskynlik die hond se geblaf ignoreer het. Later was ek bly; dit was net R8,000 se versekerde verlies. Hy kon seergekry het. Dit is net dat ek die vorige keer hewig geskok en ge”violate” gevoel het en die keer geen werklike emosie ervaar het nie. Raak ek gewoond?

  6. wat een afschuwelijke ervaring voor jou en lief. ik heb verder geen woorden. vraag me wel af wat geworden is van het land dat eens zo mooi en vruchtbaar was. het land van melk en honing zeiden ze tegen ons. volgens mij is de honing op en zijn de koeien uitgestorven. op de resten schuimen nu bandieten rond om hen die nog iets proberen leeg te roven omdat de bandieten zelf te bedonderd zijn te gaan bouwen aan een mooie toekomst en in plaats daarvan het leven van iedereen zuur maken.

  7. Verskriklik jammer om te hoor van hiedie lelike ding wat oor julle pad gekom het en baie bly dat dit nie erger was nie. Maar die skok en die na-skok en die gevolge daarvan moet nie onderskat word nie. In so ‘n geval is almal slagoffers van die voorval, jy ook, al was jy ‘n duisend myl weg. Sterkte Sonkind! Julle is, is in ons gedagtes. Mooibly.

  8. Ai man, jammer om te hoor, sterkte vir julle, maar ons gaan ons NIE laat afskrik nie, dis ons land ook.

  9. Sterkte Sonkind. Toe my broer laasjaar twee keer in een maand in gewapende rowe was het ek so kwaad geraak dis net nie eers waar nie…ek is so gatvol vir mense wat dink hulle kan maak wat hulle wil met die res van ons hier.

    Voel maar jammer vir die volgende een wat iets by my probeer steel…

  10. Sterkte aan jou en jou gesin. Dit is ‘n verdomde skande dat Suid Afrikaners so gekondisioneer is dat ons nou al begin jammer sê as ons slagoffers van misdaad word, erger nog dat ons ‘n mentaliteit moet handhaaf van dankie tog ek het niks oorgekom nie.

    Ek is egter baie bly dat jou liefie ok is. Mag ek voorstel dat berading dalk sal help? Dit is nie ‘n skande om ‘n slagoffer te wees nie.

  11. Sterkte! Ek kan egter meedeel met die gevoel! Ek is in ‘n baie kort tydjie deur 2 sulke ervarings en het vir ‘n hele rukkie aan bomskok gelei! Mens kom daardeur, maar daar sal altyd iets van daardie ervaring in jou agterbly…deesdae is die vraag ook nie meer of dit met jou gaan gebeur nie, maar wanneer?
    Weereens baie sterkte!

  12. Baie sterkte vir jou en jou familie. Not nice.

  13. Baie baie sterkte, Sonkind! Ek is net baie bly jou man is nie seergemaak nie, maar die emosionele skade is afgryslik. Ons dink aan julle…

  14. Ag tog, twee, drie dae gelede het jy nog gepraat van die mense wat agterbly in die land om dit ‘n beter plek te probeer maak, en nou dit! Dit maak mens moedeloos. Sterkte.

  15. Dieselfde tipe ding het met ‘n maat van my gebeur. Iemand reken hom “that’s life”.

    Ek sweer as iemand dit vir my se donner ek hom op slag. Dit is nie lewe nie. Geen mens wil in vrees lewe nie.

  16. Sterkte vir julle. Bly hy is veilig.

  17. Sterkte, man!!!!
    Ongelukkig is dit een van die realiteite van SA en daardie statistiek se net span al wyer.

  18. Sonkind, ons was onlangs op vakansie in Engeland en ek het ongelooflik ontnugter en verbitterd teruggekom. Nie net bitter omdat ons hier so moet lewe nie, maar omdat dit ons menswees so beïnvloed, op maniere wat ons nie voor vra nie. Hoe tree mens op? Dis vir my alles sulke onmoontlike opsies, maak nie saak hoe jy reageer nie.

  19. Ek is so jammer, regtig. En so bly jy man het niks oorgekom nie. Dit is goed dat hy homself nie teengesit het nie.
    Baie sterkte.

  20. ((((((((((((hugs x 2))))))))))))

    Sterkte……… maar ons IS fighters!!!!

    En…. hy IS gelukkig, netsowel kon hy erg seergekry het, dalk erger…….

  21. Dankie, so baie dankie vir julle almal se woorde. Hy het die hele gebeurtenis met my deurgepraat en al het ek gevoel hoe kwaad word ek vir die bliksems, het ek stilgebly en geluister, want ek weet dat hy nou nodig het om dit uit sy gestel te praat.

    Jasper, ek stem met jou saam. Soos Michael J Fox gesê het in “Casualties of War”, wil ek nou ook sê: “That’s not life, that ain’t no fuckin’ life!”

    Maar soos KoP sê, hierdie is MY land ook. Ek sal my nie laat wegskrik hier nie, maar dat ons iets sal moet doen aan die situasie, dis verseker. Wat, weet ek nie nou nie, ek is op die oomblik nog te vol haat om reguit te dink. Wanneer ek afgekoel het, sal my rasionele denke weer terugkeer, want vir nou voel ek om ‘n pistool te vat en daar te gaan wag en ek is amper seker hulle gaan weer daar toeslaan, want dis hul MO, hul slaan ‘n paar keer toe op dieselfde plek en beweeg dan aan.

    En dan wil ek die fokkers doodskiet, maar ek weet ek sal nie, ek weet ek mag nie, en dis wat my onderskei van hulle, vir wie ‘n menselewe soveel as ‘n foon of ‘n paar rand werd is. Ek klou vir nou baie hard aan daardie gedagte vas.

  22. Hulle kan jou kar steel, maar nie jou sonskyn nie!

  23. Ek is baie jammer om dit te hoor, dis iets wat julle nie gou gaan vergeet nie. Ek dink aan julle en baie, baie sterkte.

  24. Het net gou kom inloer om te sê baie sterkte, ons gedagtes is heeeeeltyd by julle… 😉

  25. Sterkte ek kan dink dit is nie lekker as jy een van die statisieke word nie.

    Sterkte

  26. Ook net weer kom inloer om te sê sterkte!

  27. (((sonkind))) vang gou die drukkie

    Sterkte en lekker naweek…..

  28. Ek is so verskriklik jammer. En ek kan nie glo dat so iets met jou gebeur terselfde tyd as wat my liewe blog-vriendin Arcadia in Pretoria gekaap word nie. Lees haar stuk oor haar ondervinding hier. Miskien kan julle mekaar ‘n bietjie vertroosting bied.

    Ek kan nou die Nuwe Groot Trek verstaan, want hoe kan ‘n mens bly bestaan en bou aan ‘n toekoms in ‘n land waar, soos jy tereg sê, ” ‘n menselewe soveel as ‘n foon of ‘n paar rand werd is “?

  29. Ai, Sonkind, jou antie was nie so op datum met die lesery en hoor nou eers van jou Liefie en die rowers……..ag, man, ek is so jammer dat dit met julle gebeur het! Hoop jy voel darem al beter? Sterkte!

  30. […] hoe die een gelyk het wat die Liefie gehad het en wat hulle mos by hom geroof het. (ek het destyds HIER daarvan vertel ) Langs die een wat soos Liefie s’n lyk, is ‘n pienke, presies dieselfde soort, maar net pienk! […]

  31. Hi Sonkind. Sjoe ek het toevallig op jou webblad afgekom en glo my, ek kan net nie ophou lees nie. Die lag en trane vir jou stories is elke sekonde werd wat ek afstaan aan my daaglikse dinge in die lewe. Ek is regtig jammer oor wat met jou man gebeur het, jammer ek “comment” eers baie lank daarna, ek weet presies hoe hy moes voel, want ek is op n Saterdag oggend op 13 Augustus 2011 om 10uur deur n nie-blanke man genader in die straat na ek teruggekeer het van my gereelde stappies wat ek maar doen op naweke winkel toe. Hy het n pistool uit sy broek gehaal en dit teen my kop gedruk en my selfoon gevra. Natuurlik soos jy weet bere ons vrouens ons selfone mos op privaat plekke en sodoende se ek toe vir hom ek het nie een nie met die vrees dat hy hom daar sal uithaal. Hy haal die pistool toe oor teen my kop en op daardie stadium het ek geweet dis of my selfoon of ek. (Nodeloos om te se, ek het myself papnat net daar voor hom gemaak). Ek het toe my hand in my bloes gedruk om my selfoon uit te haal, maar ja TA het die geleentheid aangegryp, my hand weggeklap en self sy hand ingedruk. (En natuurlik eers bietjie langer aan my gevat as wat nodig is). Tot vandag toe raak ek nogsteeds vreesbevange om alleen in die strate te loop, so ja so iets vergeet mens nooit, want jou hele menswees en die bestaan daarvan word van jou weggevat in n kwessie van sekondes. Beste groete.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: