Karre weeshuis

Ek was gister by ‘n karre weeshuis. Ek het stadig verby al die weeskarre geloop en ek het gewonder wat sou elkeen my vertel van sy lewe tot op daardie oomblik. Van ver paaie wat hy verken het en mense wat dalk op sy agtersitplekke gevry het.

Vir my het ‘n motor ook ‘n siel, nou nie een wat sal hemel of hel toe gaan nie, maar nogtans.

Na 7 jaar saam, het Liefie besluit om sy motor te verkoop en ‘n ander een te koop. Woensdagaand, as ek terug kom by die huis, kom die nuwe eienaar vir Mazda haal. Donderdag kom Liefie se Toyota in Mazda se plek slaap. Gelukkig weet ek Mazda gaan na ‘n goeie huis toe, na iemand wat amper net so mooi na hom sal kyk as wat Liefie sover gedoen het. Want glo my, daai was Liefie se tweede vrou en soms het ek net-net die eerste plek gehaal.

Ek weet nou al ek gaan Woensdagaand swaar afskeid neem. Vandat ek weet Mazda is oppad na ‘n ander huis, is dit asof hy my saans half verwytend aankyk as ek die deur tussen die kombuis en die motorhuis toesluit.

Dis met die soektog na die vervanging vir Mazda, dat ons by die karre weeshuis beland het. Julle weet, een van daardie informele “car dealers” iewers langs ‘n pad. Motors word daar gelos met ‘n prys op en ‘n telefoonnommer en ek dink soms word party vir altyd daar vergeet.

Nou, daar is nogal so ‘n GROOT weeshuis so 15 kilometer van ons af. Gister het ons daar gaan rondloop om sommer net te kyk. Liefie het toe reeds al so halfpad op die Toyota, (wat darem nie van die weeshuis af kom nie), besluit, maar soos hy altyd sê, hy wou net sy oë bietjie was en seker maak hy koop reg.

Dis ‘n hartseer plek daardie, die karre weeshuis. Party lyk nog mooi en wag hoopvol dat iemand hulle binnekort sal koop. Hulle glimlag vir jou as jy verbystap en probeer op en wakker lyk, sodat jy nie die ou bietjie roes hier en die ou duikie daar sal raaksien nie. En jy weet, hulle het nog ‘n goeie kans om weer ‘n huis te kry binne ‘n dag of twee, of ‘n week of twee.

Ander is klaar moedeloos. Hulle lyk afgerem en probeer nie eers meer jou aandag trek as jy verbyloop nie. Die swaarkry lê reeds te diep afge-ets om selfs deur ‘n bietjie blinkvryf gekamoefleer te word. Jy weet hulle weet hulle is lankal in die weeshuis vergeet. Niemand gaan meer op ‘n dag kom en hulle huis toe vat nie. Hul dae in die weeshuis gaan net al hoe meer word, hulle lywe al hoe ouer en leliker en eendag sal ‘n lelike monster ding hulle kom wegsleep, na die karre begrafplaas toe. Daar is niemand meer wat hulle wil of kan liefhê nie.

My hart is seer vir die weeskarre. Ek wens ek kon hulle almal weer huise gee, mense wat met hulle kan rondry en kan lag en dalk musiek kan maak in hulle, terwyl hulle ry. En dalk sommer kan saamsing ook. Ek wens ek kon vir hulle hul fleur en hul blinkgeit teruggee.

Maar ek kan nie, en dit krap my nogal om, daai karre weeshuis. Want ek weet, eens op ‘n tyd het elkeen van hulle iemand gehad wat blinkoog was oor hulle omdat hulle nuut en mooi was. En nou is hulle weggegooi.

Ek sluk swaar as ek dink ek moet vir Mazda groet, maar ek troos my daaraan hy gaan nie weeshuis toe nie. Dit sou ek nooit oor my hart kon kry nie.

Advertisements

6 Responses

  1. Sonnie, jy het my nou amper hier in snot en trane oor karre!
    My man het my op ons huweliksherdenking verras met ‘n karretjie, afgelewer met rooi linte, man dit was so lekker dag, ek sal dit tot op my sterfbed onthou as my lewe se prentjies so een vir een verby flits. In elk geval toe ek nou my ou kar wat nie so oud was nie (3 jaar) moet weggee, was dit vreeslik. Kan jy glo dat ek regtig gehuil het! Ek jok nie! Die trane het gespat toe ek die blou dingetjie in die straat sien afry…..! Dit het gevoel of ek hom weggooi!
    Hoe kan mens huil oor ‘n kar?
    Dus ja ek het seker ook hierdie affair met karre, dink jy ons is normaal Son (vra ek groot-oog)

    Geniet julle nuwe kar!!!

  2. Ai ja, hulle het ook persoonlikhede, en gesigte. Hulle word soos troeteldiere!

  3. En hier dink ek ons is die enigste mense wat so oor motorkarre voel. 🙂

    Dit is nog moeiliker as jy die goed eers name gegee het. Ek probeer nou al vir meer as ‘n jaar die moed bymekaar maak om vir bees (my 1979 F250) te verkoop, maar ek kan dit nie oor my hart kry nie

  4. Nou mis ek my ou blou Golfie… Ai die tye wat ons saam gehad het…. 😉

  5. Nog voordat ek teken vir ‘n kar, het die kar ‘n naam. Toegegee, ek is op my tweede kar. Die eerste een het my pa gekoop en ek betaal. My alie het 2 jaar gejeuk vir ‘n nuwe kar, voordat Lucy my geroep het. Ek kon Becky nie verkoop nie. Toe koop my pa dit terug vir my broer wat dit weer verkoop (2 jaar later) om sy Viki te koop.

  6. Ag hoe mis ek nie my ou eerste karretjie nie! Hy het so n ou cute dolfyntjie agterop geplak gehad en glo dit of nie, ek sien die ou dingetjie so nou in dan hier in ons geweste.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: