Wat as jou huis nie is waar jou hart is nie?

Ek is van nature gou om my opinie oor dinge uit te spreek, maar ek is ook gou om verskoning te vra as ek besef ek is/was verkeerd. Miskien spreek ek my opinies so sterk uit omdat ek nog altyd probeer het om voluit te lewe en omdat ek glo mens doen ‘n ding ordentlik of mens los dit.

Vandag het iemand my herinner aan ‘n tyd in my lewe wat my opeens laat besef het dat ek nie ongekwalifiseerd kan uitsprake maak oor Suid-Afrikaners wat in anderland sit en huil oor hul hartland, maar nie hier is om te help om dinge beter te maak nie. Ek stem deels met die persoon saam, maar deels ook nie, maar ek dink ek het vir ‘n wyle gevoel hoe dit voel om die skoen aan die ander voet te dra.

Ek het op een stadium van my lewe vir 12 jaar in Gauteng gewoon. Ek het daar gewoon, gewerk en gelewe. Dit was my huis, ja, maar my hart was nooit daar nie. Vandag is ek opeens herinner dat mens se huis nie altyd kan wees waar jou hart is nie en dat mens dan “cope” na die beste van jou vermoë, sonder jou hart. Ek MOES daar bly, vir verskeie redes, maar ek het harder as wat al die Transvalers vir die Blou Bulle geskree het, vir WP geskree as daar rugby was. Ek is gespot, ek is uitgekryt. Ek is vertel dat ek my brood en botter daar verdien, so ek moet lojaal wees teenoor die plek. Ek is vertel as die Kaap so wonderlik is, hoekom fok ek nie terug soontoe nie.

En ek het my agterent afgevee aan hierdie mense, want ek het in my agterkop geweet, as ek more die kans kry, SAL ek teruggaan na my Kaap toe. Ek het elke moontlike geleentheid gaan kuier in die Kaap en uiteindelik is dit dan ook presies wat ek gedoen het. Ek het huis toe gekom, terug na my hart toe, na die huis waar my hart na 12 jaar steeds was.

Miskien nie heeltemal nie, maar dalk amper so, moet sommige Suid-Afrikaners in anderland voel. Vir bekende en onbekende redes maak hulle tans ‘n lewe iewers ver, maar in hul hart is hul huis Suid-Afrika. In hul hart bly hulle Suid-Afrikaners, soos wat ek steeds myself na 12 jaar nog altyd gesien het as ‘n Kapenaar. En dalk sal hulle ook terugkom as hulle kon, of as dinge anders was, maar vir nou kan hulle nie.

Ek glo wel daar is sommiges wat bloot net weggehardloop het en met hulle het ek nie simpatie nie, maar ek glo ook daar is ander wat daar is, maar eerder hier sou wou wees as dit moontlik was, of as dinge in hul lewens anders was. Vir hulle wil ek vandag sê dat ons wat hier agtergebly het, sal aanhou werk en hoop en probeer om dinge beter en reg te maak en dalk, eendag, sal hulle ook kan terugkom na ‘n huis waar hul hart agtergebly het.

Ek is te koppig om hier weg te gaan en sou dit ooit my lewe kos, sal ek hierdie lewe uitgaan met die volle wete dat ek die gevolge van my ingeligte keuse gedra het. Tot die dag wat hul my as daar oor die see gaan strooi, sal ek werk en bid en hoop vir ‘n beter Suid-Afrika. Vir my, my kinders en almal wat hierdie land liefhet in murg en been. Viva SA!

Advertisements

12 Responses

  1. So bek moet jêm kry, Viva SA.

  2. Ek’s met jou Sonkind, lekker naweek….. 😉

  3. Mooi inskrywing.

    Ek dink my hart het iewers langs my lewenspad in die Kaap agtergebly. Wanneer en waar dit gebeur het weet ek nie. My ma vertel graag die storie hoe ek as klein dogtertjie baklei het wanneer iemand my ‘n Transvaler genoem het. Al was ek gebore in Transvaal en al het ek in Natal grootgeword, was ek my hele lewe lank ‘n Kapenaar. Miskien het ek dit van my ma gekry. Sy is ‘n gebore Kapenaar en al moes sy op al hierdie ander plekke woon, het sy dit Kaap ‘geleef’. Of miskien is ek net op ‘n verkeerde plek gebore.

  4. Jy vat dit raak sonkind. die verlange, en die wil-terug-huis-toe gaan nooit weg nie. maak nie saak hoeveel ander lande en ervaringe mens jou huis maak nie. jou Home is waar jou hart is

  5. Ek is nou al by 11 jaar in Gauteng, darem nog nie by 12 nie, maar moet nog amper 6 jaar bly. Nog nooit was my hart hier gewees nie, die Noord-Kaap is my tuisland. So op ‘n manier doen ek maar dieselfde ding as die ouens in anderland. Hoe het een van ons ou digters gesê? “,,,wat ek verlaat het… vir geld!”

  6. Ek was my lewe lank ‘n Transvaler, en die afgelope 6 jaar in die Kaap. Nog nooit het ek so tuis gevoel op ‘n ander plek as juis hier nie! Huis is waar die hart al voorheen was, al was dit waarskynlik in ‘n ander lewe.

  7. Sonkind! Elke slag as ek huis toe verlang kom kyk ek na Tafelberg op jou blog. Woon al sedert 1996 in Europa. Die rede was agv werk en niks met politiek te doen. Ook Kapenaar in murg en been. Langs Weskus groot geword op wynplaas. Nou is Hermanus my tuiste. Johannesburg gestudeer en was my langste drie jaar in my lewe. Sal baie graag wil terug keer na SA, maar is regtig uitvoeling met alles in SA. Mens kom skielik agter dat jy nie regtig baie dinge in gemeen het met mense en vriende nie. Dit is nie maklik nie, en enige iemand wat so se is regtig nie baie eerlik met homself nie. Is nie lekker om elke jaar huis toe te gaan en te sien hoe jou ouers ouer word nie. Mis die sonskyn en die lewe, maar ons kan nie alles her in die lewe nie.

  8. Bravo vir hierdie woorde van jou! Ek moet erken dat ek (as Kapenaar) ook feitlik meer patrioties oor die Kaap is as oor Suid-Afrika. Ek het ook 10 jaar in Gauteng gewoon en ek verstaan dit wat jy verwoord, baie goed.

  9. ek wou darem net se, op dae soos vandag, wat dit SO heerlik warm was, en ek met my brakke op die strand baljaar het nadat ek vir ‘n uur lank oor skype geVideo chat het met my sus en pa’le, mis ek nie juis SA nie. Ek dink ek soek my sussie naby, maar skype en webcams sit haar gesiggie in my sitkamer eenkeer ‘n week die laaste ruk, so die wereld is reg 🙂

  10. Ek is ‘n gebore Transvaler. Ek is bevooreg genoeg om in die plek te bly waar ek die graagste wil. Tog is ek ook lief vir die Moederstad. Ek is gereeld in die Kaap. Ek sal Kaap toe trek vir R10000 meer as wat ek nou verdien. Maar dan sal my hart punt trek Jakaranda stad toe.

    Ek is egter ‘n WP rugby ondersteuner. Die lekkerste lekker is om iewers rugby te kyk, vingeralleen WP te skree en die Bulle dan verloor (teen WP natuurlik). Omdat ek ‘n sit is, is ek darem teen ‘n bakleiery gevrywaar.

  11. Dit laat my biekie dink, maar jy praat die waarheid. Ons elkeen moet daaraan werk om SA ‘n beter plek te maak nie vir ons self nie maar vir elke liewe suid-afrikaner

  12. Nice post. Daar’s ook mense wat nie na SA verlang nie. Al wat my ongelukkig maak van my getrekkery is dat ek nie wortels het in my nuwe land nie. Mens raak so ‘n floating ding, wat nêrens tuishoort nie. Tussen die Hollanders is ek ‘n Suid-Afrikaner, tussen die Suid-Afrikaners is ek ‘n Hollander.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: