‘Punks’ by die Plaas Paartie

My suster, Lisa, sing verskriklik mooi. Gewoonlik speel ek kitaar, sy speel keyboard en sy sing ook. Nou, as mens kan musiek maak, word daar gewoonlik sommer gou gekuier waar mens ook al gaan en ontmoet jy soms vreemde karakters.

Lisa het ook op ‘n tyd deur die stadium gegaan waar sy haar hare ‘n paar kleure gemaak het, ‘n stud in haar neus gehad het en omtrent so agt gaatjies in haar een oor en ‘n paar in die ander oor ook. Soms, as sy regtig daarop uit was om aandag te trek, het sy ‘n fyn kettinkie van die neusstud na die een stud in haar oor laat hang.

My arme ma het na die eerste skok besluit dis beter om nie te veel ophef van die kind se streke te maak nie, want dan waai dit dalk gouer oor. Gelukkig was ek die oudste en min of meer normaal en my ma het hierdie vertroue gehad dat ek sal keer dat my suster nie te heeltemal mal raak nie of iets doen wat die polisie betrokke sal maak nie!

Op een stadium het Lisa saam met swart vriende (in die goeie ou dae!) gaan konserte hou in die lokasie met ons Oupa se kamerjas aan – dit was een van daardie “check” oumenskamerjasse. Sy was ‘n moerse “hit” tussen die swart mense, want sy het daai verhoog aan die brand gesing en die swart anties onder die tafel in gedans.

Gelukkig vir ons almal het sy een oggend opgestaan, haar hare een kleur gemaak, die neusstud en al die oorringe weggegooi en vandag is sy ‘n “boring” voorstedelike ma en vrou en g’n mens sal glo dat sy eens op ‘n tyd ge-“live on the wild side” het nie.

In hierdie tyd wat sy soos ‘n punkrocker lyk, vra ‘n kennis van haar, wat saam met haar op kollege is, vir ons om te kom musiek maak by sy verjaarsdag. Die ou lyk op die oog af ook maar wilderig en ons neem toe aan dat dit die aard van die paartie sal wees. Lisa vertel my toe ook sommer dat sy my sal aantrek en my hare sal doen vir die paartie, want ek gaan nie daar aankom tussen die ander sommer net met ‘n jeans en t-hemp aan en haar in die skande steek as haar koekerige suster nie.

So moet ek die aand ‘n leerbroek en so ‘n blinkerige pienk baadjie (waarin ek vandag nie dood gesien sal word nie!) aantrek (haar klere, natuurlik) met ‘n paar doodskop stewels. Sy doen my make-up en my hare en toe ek in die spieël kyk, skrik ek myself eers in ‘n ander dimensie in voordat ek besef ek kyk eintlik na myself. My hare is in alle rigtings in ge-jel, my oë is swart omlyn en ek lyk soos iets wat jy AC/DC kan noem.

Lisa lyk self nie minder skrikwekkend nie en ons metgeselle is ook vooraf aangesê om in “leathers” aan te trek en sommer so hier en daar ‘n klinknael armband ook.

So vertrek ons na die plaas waar die verjaarsdag paartie is, min wetende dat dit die ou wat verjaar se pa se plaas is en dat dit eintlik letterlik ‘n plaas paartie is! Na so bietjie soek, kry ons die plaas en sien sommer gou waar al die karre parkeer is. Ons parkeer ook en klim uit en stap ewe breë skouers die skuur binne.

Ek weet nie wie het die grootste geskrik of was die meeste geskok, ons of die ander kuiergaste, nie. Want daar binne is dit plaasmense wat solank by tafels sit en wag vir die musiek om op te daag. Tannies met rokke en jerseys aan en ooms met kortbroeke en skoene met lang kouse! En tafels vol boerekos.

Toe ons instap en hulle sien ons, het daar so ‘n doodse stilte neergedaal. Agterna wanneer ek teruggedink het aan daardie aand, het dit my altyd herinner aan een van daai cowboy flieks waar die skurke die dorpie se kroeg so breëbors binnestap en almal van die dorpie word so stil in die kroeg, uit vrees vir die brekers.

Die tannies se oë het gerek en gerek en ek dink die ooms was al oppad om te besluit hoe hulle ons gaan weg donner van die plaas af, toe Kobus (die verjaarsdag ou) ons name uitroep en ons welkom heet. Toe hy by ons kom, fluistersis Lisa vir hom tussen haar tande deur: “Hoekom de hel het jy nie vir my gesê dis ‘n plaas paartie nie?!” Hy: “Maar ek HET vir jou gesê dis ‘n plaaspaartie.” Sy: “NEE, jy het nie gesê dis ‘n plaaspaartie met jou MA-HULLE nie.”

En ek en ons “partners” staan en ek wens die aarde wil oopmaak en my net insluk, want ek het in my lewe nog nooit so uit my plek uit gevoel nie. En niemand het my nog ooit so gekyk asof die kat my ingesleep het nie.

Maar nou ja, Lisa besluit daar en dan dat ons vanaand vir hierdie mense sal wys ons KAN musiek maak, al lyk ons soos iets wat hulle nie naby hulle agterdeur sal laat kom nie. So, ons slaan ons musieke op en ons val daar weg en ek sal nooit vergeet nie, sy begin met “By the Rivers of Babilon” van Boney M.

Ek kan maar net vermoed wat die mense verwag het, seker iets soos Bat out of Hell, want na die duidelike verbasing toe die eerste note die lug tref, vat-vat die eerste oom sy tannie en begin so half versigtig dans, asof hulle nog nie lekker seker is ons gaan nie dalk enige oomblik oorslaan in ‘n “head banger rock ‘n roll” nie. En so een vir een begin die ooms en die tannies ontspan en begin dans. En Lisa sing en ek speel daai kitaar en ons gaan haal ou songs uit wat ons ma en ons pa ons nog geleer het.

En so deur die spelery sien ons, wanneer ons “partners” vir ons iets te drinke gaan haal by die boere bar, dan maak daai oompies so ‘n pad oop vir hulle. Weet nie of hulle bang was vir die klinknaels nie, maar ek weet net, ons “partners” staan nie in die ry by die kroeg nie!

Maar hoe later, hoe kwater. Toe ons hier teen driekwart deur die paartie wegval en vir hulle so ‘n tipiese Briel nommertjie sing, daai een van die seuntjie wat op sterwe lê en vra dat sy speelgoed en als vir sy boeties gegee moet word, maar dat sy ma net sy skoentjies moet bêre, en Lisa rek daai note so uit, en ek gooi so ‘n ekstra draai met daai kitaar, amper so asof ek in Hawai is, toe kon ek sweer ‘n paar van die tannies knip-knip hulle oë so teen die trane.

En teen twaalfuur, toe ons oppak om huis toe te gaan, toe het die ooms al begin arm om die skouers staan met ons “partners” en die tannies het ons al begin ‘hartjie’ en ‘my kind’. Toe weet ek, vanaand het hierdie boere gesien hoe kan “punks” ‘n boere paartie aan die brand sing!

Advertisements

15 Responses

  1. Dit laat dink my aan die boeredans op Nina. Dis nou ages long ago in Suidwes. My neef Dappies het al die karre se wiele afgeblaas en wel ontsettend stoute goed angevang en ons het gebokspring en gedans dat die stof opstyg.
    Nouja, Viva die Punk Briel sussies!!
    hieha

  2. Mwahahaha! Ek sou my dinges afgelag het…het julle darem ‘n paar fotos ook geneem?

  3. Goeie een!

    Gaan jy omgee as ek hierdie storie eye vir my Afrikaanse Staaltjie projek? Dis nou ‘n mooi, moderne staaltjie.

  4. Hehehehehe, ek sien al daai anties se ogies…. Dit is nou ‘n storie duisend! Bêre hom tog vir die kleinkinders! 🙂

  5. Dit was ‘n lekker lees storie…..hoe lus is ek nou vir so ‘n regte boere-skoffel in ‘n stoor!!

  6. Wens ek kon dit sien. Ha Ha Ha

    Pragtig.

  7. Nou het ek lekker gelees! Son gaan grou daai foto’s uit ek wil sien hoe lyk daai hare en leathers!

  8. hehehe! Dis so lekker storie! Ek het dit nou baie geniet!

  9. Ag tog te lekker! Wens ek was daar.

  10. Nico, jy kan dit enige tyd gebruik vir jou Afrikaanse Staaltjie projek. Ek voel geëerd. 🙂

    Van fotos weet ek nie so mooi nie. Ek het actaully ‘n foto van Lisa toe sy soos ‘n punk gelyk het, maar sy het dit eendag in die hande gekry en opgefrommel, maar gelukkig nie geskeur nie. Toe gaan grawe ek dit uit die drom en stryk dit plat en steek dit so ver weg dat ek nou sal moet gaan soek daarvoor.

    Kry ek dit, sal ek dit hier plaas, maar as julle dan hoor van sustersmoord, sal julle weet wat was die oorsaak 😆

  11. ek wens ek en vader xmas en die elfs was daar,dit sou sooooooo lekker gewees het!

  12. Dit was nou regtig ‘n lekker storie. Gee mens ‘n warm gevoel om die hart!

  13. wys foto’s!

    hehe. nice storie, ja. ek lees heeltemal te min hier en elke keer as ek hier kom, is hier nice goed.

  14. Wat ‘n pragtige storie. Laat my terugverlang na die wonderlike dae op my oupa en oom’hulle se plaas. Doet so voort. Ek geniet al die skrywes en die komentaar.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: