Dood en Begrafnisse

Voorverlede week het George oor begrafnis en dood geskryf en ek wou toe al ‘n inskrywing hieroor gemaak het, maar my dae het onder my uitgegly en ek het nooit daarby uitgekom nie. Intussen het my moermeter ge-overrev en ek moes ‘n prentjie teken en so bly die dood en begrafnis post steeds agter.

Vanmiddag gaan ek en die Liefie gou na ons naaste winkelsentrum, Cape Gate. Ek wou ‘n spesifieke CD gaan koop en soos gewoonlik, oppad terug, maak ons eers ‘n draai by House of Coffees vir koffie. Ons het ‘n lang verbintenis met House of Coffees en drink maar altyd daar koffie, dus ken ons ook meeste van die kelners.

So middel verlede jaar het daar ‘n nuwe kelnerin daar begin werk. Jonk, mooi en met ‘n vreeslike “attitude”. Toevallig het sy ons amper elke keer bedien, en nadat sy die eerste keer ‘n wipstert houding gehad het omdat ons net koffie bestel het, het sy gou ‘n beter houding gekry toe sy sien ons ‘tip’ ordentlik en ons ‘tip’ altyd. Iemand wat self al in sy lewe ge-waiter het, sal weet hoe irriterend is ‘net koffie’ drinkers en dat hulle gewoonlik min of geen fooitjie los.

In Desember kry ons haar laat in die aande nog daar, as die laaste flieks al uit is. Soms is sy die enigste kelnerin wat nog werk teen toemaak tyd. Ek begin respek kry vir die kind wat so hard werk en ek glimlag maar net as ek sien sy het nog steeds haar wipgat “attitude” terwyl sy die mense bedien.

Toe ons vandag inloop by House of Coffees vang my oog dadelik die groot foto van haar. Dit staan op die een rakkie, tussen twee brandende kerse. Ek en Liefie het albei in ons spore vasgesteek toe ons besef wat dit beteken. Dis ‘n huldeblyk aan haar deur die ander kelners. Sy het op 2 April verongeluk op die N1, oppad huis toe. Saam met haar in die motor was haar niggie en ‘n vriend. Die vriend is ook dood en die niggie is in die waakeenheid.

Ons het verslae gaan sit om koffie te drink, maar die koffie het maar swaar afgegaan. Selfs nou kan ek skaars glo sy is dood, al was sy niks van my nie, maar net iemand waaraan ek gewoond geraak het, wat vir my koffie aangedra het. Sy was maar 17 jaar oud.

Geen ouer behoort sy kind te begrawe nie en ek wonder oor haar ouers en ek hoop hulle kry krag en troos iewers vandaan.

En dit bring my terug by die oorspronklike skrywe wat ek wou gemaak het. Ek is nie en was nog nooit een vir begrafnisse nie. Betoon eer aan die lewendes, gee blomme aan jou geliefdes terwyl hulle lewe. Blomme op ‘n kis beteken vir die een wat dood is niks nie.

As ek doodgaan, wil ek eerstens nie begrawe word nie, ek wil veras word. Tweedens wil ek geen snot en trane by my diens (met gebrek aan ‘n oop graf, nou) hê nie.

Almal wat vir my omgegee het en by my graf sou kom huil het, moet eerder al die geld wat hulle op blomme en begrafnisklere en tee en koek en toebroodjies na die tyd, sou uitgegee het, bymekaar gooi. Huur ‘n boot daarmee en vat sommer elkeen sy eie drank saam. Gaan oopsee toe en strooi my as oor die see en hou ‘n lekker ‘party’ ter nagedagtenis aan my. Drink en wees vrolik, asseblief. En as daar bietjie dronkverdriet ook is, is dit ook okay. Onthou my en gaan dan huis toe en gaan aan met die lewe.

Nee, ek is nie ligsinnig nie, dit is net hoe ek dit wil hê:

“When I come to the end of the road

And the sun has set for me

I want no rites in a gloom-filled room

Why cry for a soul set free?

Miss me a little – but not too long

And not with your head bowed low.

Remember all that we once shared

Miss me – but let me go!”

Steffie Vermeulen, ek sal altyd jou wipgat manier van koffie aandra onthou.

Advertisements

8 Responses

  1. Ek het ook altyd gedink ek sou eerder veras wou word en dan sou ek graag wou gehad het die mense moes eerder ‘n partytjie hou as ‘n treurige storie…miskien kon hulle dalk ‘n heildronk ingestel het en my ashouertjie breek, op my dans en my die volgende oggend saam met die vullis uitvee…

    Toe het ek weer mooi daaroor gedink en besluit dat dit heel onwaarskynlik is dat hulle ooit so iets sal doen, en ek gee nou nie meer om nie – ek gaan nie daar wees nie, hulle moet maar maak wat hulle dink is beste en waarmee ookal hulle kan saamlewe.

    Dis aaklig as iemand so doodgaan wat jy ken, ek’s jammer om te hoor van die meisie se dood 😦 17?! Dis darem maar baie jonk.

  2. Hallo Sonkind, dankie vir jou besoek aan Wiaemama, maar die ou siel is nou weg, dus is dit net ek, Antie Koekie, wat nou sal saam kuier.
    Tog te wonderlik om mens se hartsgoed in jou eie taal neer te pen, nê?
    Ek het ook ‘n dogter met ‘n “attitude”, ook ‘n waitron, aan Leukemia afgestaan. Sal later oor haar skryf.
    Antie Koekie

  3. Ek wonder altyd hoekom dit vir mense so moeilik is om so ‘n eenvoudige versoek te respekteer? Ek het in my lewe net eenkeer so versoek gerespekteer gesien.

    Dis tog soms so vreemd hoe iemand met wie jy net so ligtelik te doene gehad het se heengaan jou so ontstel! Ek het dit ook al ervaar in my lewe…

  4. Ek wil ook veras word, onthou word met ‘n smile en asseblief nie oor gehuil word nie. Ek probeer om elke dag te leef asof dit my laaste is, dadelik om verskoning te vra, saam met ander te lag vir hulle flou grappies en my gesin se lewe ‘lekker’ te maak. Want as ek die dag nie meer daar is nie, wil ek hê almal moet lag, en sê, sy’t niks gemis nie.
    Mense wat vroeg sterf breek my hart. Dit maak my vreesbevange want ek wonder altyd of alles klaar was wat hulle moes doen…

  5. Hi Son, ek voel ook hulle moet maar liewers ‘n partytjie hou op my begrafnis, ek hou nie van ‘n tranedal nie, ek gee nie om of hulle die hele tyd grappies vertel nie, solank hulle net lag, want ek is lief vir lag en so wil ek onthou word!
    Hierdie waiters klim maar diep onder ‘n ou se vel in, ek bou altyd goeie verhoudings met hulle op, sodoende kry ek goeie diens!

  6. Dis baie hartseer van die meisie. Ek’s bly ek is nie in ‘n grim werk waar ek sulke goed elke dag hoef te sien nie. Daai mense (wat met dit moet werk) is spesiaal. Wat veras betref, dis vir my ook ‘n beter opsie. Spasie en moeite gewys. Persoonlik (en dis persoonlik, ek respekteer ander se siening hieroor) dink ek begrafnisse is ‘n mors van geld. Veral groot en duur grafstene. Om nie eers te praat van die duur kis nie. Ek het gesien met my pa se begrafnis, dis nou ‘n geld maak storie hoor en hulle melk jou wanneer jy op jou ‘vulnerable’ste is. Dan praat mense van prokureurs… Hah!

  7. Ek dink ‘n wonderlike ding is ‘n “wake” waar almal byeen kom en die een wat dood is se lewe vier, lag geselfs en terugkyk op ‘n vol lewe. Waar mense sit en staaltjies vertel. Baie beter as ‘n begrafnis. Ek sal dit graag wil he, as ek dood is.

  8. Dit is presies wat ek wil hê moet gebeur wanneer ek die tydelike met die ewige ruil. Geen trane en hartseer by ‘n oop graf nie. Hulle moet my veras en dan my “on my way” stuur met ‘n lekker party. Ek sal baie bly wees as my mense dit vir my kan doen.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: