Lees en lag!

Ek lees selde kortverhaal bundels. Ek hou van ‘n boek met ‘n begin en ‘n einde en tussen in moet ‘n ordentlike storie wees. Maar soms gaan ek deur ‘n stadium waar ek moeg raak van ‘hele’ boeke lees en dan krap ek rond vir kort stories of sketse. So kom ek onlangs af op Dana Snyman se bundel sketse – Uit die binneland.

uit-die-binneland-dana-snyman.jpg

Ek begin lees en kort voor lank kan ek die boek nie neersit nie; dalk ook omdat ek met so baie dinge waaroor hy skryf kan identifiseer. Gisteraand lees ek ‘Neem my op vlerke’, en terwyl ek lees, begin ek lag. Ek lag naderhand so dat die Liefie kom kyk wat aangaan. Ek probeer vir hom voorlees, maar ek lag so, (want ek het toe mos reeds die prentjie in my kop), dat hy geen woord kan uitmaak wat ek lees nie. Na ‘n paar probeerslae, waarin die lag net elke keer bo-oor my lees hardloop, het hy maar die boek gevat en self gelees. Ek hoop Dana vergewe my, maar ek gaan die skets hier vir julle herhaal. Alle erkenning aan Dana Snyman, wie se ander boeke ek nou gaan soek en ook gaan lees!!! Ek hoop julle geniet dit net soveel soos ek.

Neem my op vlerke

Ek kan steeds nie na daardie liedjie luister nie. Daardie een van Anneli van Rooyen: “Neem my op vlerke”. As dit speel, skakel ek die radio af. Jammer.

Dit herinner my te veel aan die nag toe Oupa tussen Grootfontein en Otjituru in die ry uit ons Hilux-bakkie geklim het.

Ons is die oggend vroeg by die huis weg, op pad om by oom Jors Stroh op sy plaas anderkant Grootfontein te gaan jag. By Postmasburg ontdek ons toe ons het die tassie met die kassette vergeet. Al wat ons gehad het, was Annelie se Ek wil jou ken-kasset wat Ma in die Hilux se kassetspeler gelos het. (“Neem my op vlerke” is nommer 3 op kant 2, as ek dit nie mis het nie.)

Daar was darem ook die radio maar êrens tussen Nakop en Karasburg het dit ontroosbaar begin suis en krap. Toe stoot Pa maar vir Anneli in. Neem my op vlerke verby Karasburg, Grunau en Keetmanshoop. Later was dit donker. Êrens anderkant Rehoboth het die vaak gekom. Oupa het reeds geslaap. Ek weet want ek het met my kop teen hom gaan lê en ek kon voel hoe ruk die snork aan hom.

Pa het wakkerblypille gedrink.

Pa het ná daardie nag ook ‘n inskrywing in die Guinness Book of Records verdien: Die man wat die meeste kere agtereenvolgens na Anneli van Rooyen se Ek wil jou ken-kasset geluister het. Want halfvyf daardie oggend toe ons by die vulstasie op Grootfontein stilhou, meer as 1000 kilometer verder, toe sing sy steeds.

Die pad tussen Grootfontein en Otjituru, oor die makalanivlakte, het toe nog hekke gehad. Die vlakte het die naam gekry oor die baie makalanipalms wat daar groei; sulke hoës wat ‘n bietjie soos windpompe in die maanlig lyk.

Nie dat ek of Oupa daardie nag veel makalani’s gesien het nie. Ons het te lekker geslaap. Êrens het Pa stilgehou en my in die ribbes gestamp. Daar was ‘n hek. Ek het op my beurt aan Oupa gestamp en Oupa het uitgeklim en die hek gaan oopmaak. Anneli het bly sing. Pa het deurgery en Oupa het teruggeklim. Ek en Oupa het verder geslaap. Tot daar weer ‘n hek was. Ek weet nie deur hoeveel hekke ons is nie, maar later was dit ‘n outomatiese reaksie: Pa stamp aan my, ek stamp aan Oupa en hy gaan maak oop.

Naby Otjituru het Pa weer aan my gestamp. Ek het my kop gelig en aan Oupa gestamp. Toe besef ek die bakkie beweeg nog. Dit is nie ‘n hek nie. Pa wil net hê ons moet na die koedoes langs die pad kyk.

“Nee, Oupa!”

Te laat.

Die deur was reeds oop, Oupa besig om uit te klim terwyl Anneli sing: “Neem my op vlerke…”

Oupa Swannie het darem niks gebreek nie. Maar hy is ‘n waardige man, ek gaan nie hier vertel van sy nerfaf lyf en sy stukkende bril en hoe hy gevloek het waar hy in die stof gelê het nie.

Die res van die pad het ons in doodse stilte afgelê.

Dankie Dana Snyman!

Advertisements

9 Responses

  1. Ja nee, nou lag ek ook dat die trane loop!

  2. Ek sien hoe trek oupa deur die lug… Snaak hoe n mens jouself so in die boek kan inlewe asof jy deel is daarvan! 😆

  3. Ek is gek oor Dana se sketse! Mens kan alles so in jou verbeelding sien!

  4. Dana is briljant – het nou weer lekker gelag. Ek geniet van Nataniël se sketse ook.

  5. jinne son, lag ek nou so, die kat val van my skoot af! En toe kom Skoorlief in om te sien wat aangaan, en ek lees dit weer. Dit was moersnaaks. Dankie!

  6. Ek is soms so bang dat die vermoë om so storie te vertel sterf saam met die groot name soos Tolla, Jan Spies, oom Koos Meyer en Danny Pretorius.

    Maar van al die stories staan oorle’ Pieter Pieterse se werfjoernale vir my uit. As jy ooit BOSBERAAD of SKATERLAG in die hande kry, lees tog die storie, “Jambruin tender sy laaste tender”. My maagspiere raak seer net om aan daardie storie te dink wat so lank terug gebeur het, wat ek al 100 keer gelees het, maar altyd vir my tydloos en snaaks sal bly.

  7. […] ‘n wafferse fliekmeisie March 13, 2008 Posted by vygie in Uncategorized. trackback Sonkind se aanhaling van die Dana Snyman skets (wat my laat lag het tot ek huil) het my laat dink aan ‘n […]

  8. Wahahahaha!!! 😆

  9. Ai, arme Oupa op vlerke! Ek hou van kortverhale, ek het nogal heelwat bundels met versamelings kortverhale, die probleem daarmee is dat dieselfde kortverhale dikwels in verskillende bundels opgeneem is, en jy eers moet begin lees aan ‘n verhaal om agter te kom maar ek het hom al iewers gelees. En ook in sulke bundels is daar partykeer hengse as ek dit so kan stel “mood swings” van verhaal tot verhaal, mens is nie altyd daarvoor lus nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: