Heimwee

So ‘n tydjie terug, een Saterdagoggend, sit ek en Megan, by die huis. Die Liefie werk en Megan is “between boyfriends”.

Vra sy: “Ma, wat kan ons doen?” (met die doen so klaerig uitgerek!) “Kom ons gaan doen iets lekkers.”

Ek: “Ons kan enige iets doen, maar daar is nie ‘n kans ek gaan saam met jou winkels toe nie. Dis uit.”

Om hierdie reaksie van my te verstaan, moet jy die begrip van Megan tesame met ‘n winkelkompleks hê. ‘She was born to shop’, met of sonder geld. Ek gaan dood eenvoudig al vir baie jare nie saam met haar winkels toe nie, of ons gaan op my terme en dan is sy gewoonlik hoogs de hel in vir my na die tyd, want ek het haar heeltyd aangejaag en sy wou nog hier in en daar in en dié kyk en daai kyk. Ek het lankal geleer om dit nie aan myself te doen nie. Ek is lief vir haar, maar selfs ouerliefde het perke. 😆

“Okay,” sê sy “gaan wys my dan waar het jy grootgeword.”

Ek is stom verbaas. Ek het nooit gedink sy wonder daaroor nie. Ekself was in jare nie daar nie, al is dit nie ver van ons af nie. Dit klink toe nogal na ‘n goeie idee.

Ons ry met die N1 Paarl toe en net voor die Paarl, draai ons regs op die R45, Simondium toe. Soos ek ry, kom die onthou oor baie jare terug en ek vertel haar so ver ons ry.

Net na ons afgedraai het en onder deur die bruggie is, lê die ou Simondium gevangenis. Dis nou een of ander skool.

“Hier het jou ouma en oupa baie keer op ‘n Saterdag aand kom dans. Die gevangenissaal is ook altyd uitgehuur vir troues en so. Van hierdie gevangenes wat hulself goed gedra het, het soms by ons op die plaas in die tuin kom werk, saam met hulle bewaarder om hulle op te pas.”

Haar oë rek groot. Ons ry oor die bultjie en regs op teen die heuwel staan die groot huis nog steeds.

“Hier het ‘n uitlandse oom en tannie met 3 dogters gebly. Ek kan nie meer hul naam onthou nie, ook nie van watter land hulle was nie, maar ek weet hulle was Rooms Katolieke. Jou oupa het altyd sy hare by die oom laat sny. Die oom se dogters was baie mooi en eendag het die middelste dogter weggeloop en met ‘n boerseun getrou. Haar pa het haar onterf, want sy is met ‘n man getroud wat nie van hulle geloof was nie. Daarna mag niemand ooit weer haar naam in hulle huis genoem het nie. Hy het gesê sy is dood.”

Megan kyk my aan asof sy dink ek maak die storie op. Ons ry aan met die pad en begin verby die plase ry. Plase waar die skoolbus altyd soggens langs die pad gestop het en kinders opgelaai het, oppad na die hoërskole in die Paarl. En ek onthou soveel meer as wat ek ooit besef het ek nog onthou.

“Hierdie plaas het aan die Van der Merwes behoort. Daar was twee seuns en een dogter. Hulle ma was ‘n Duitser en die meisiekind het nooit haar beenhare geskeer nie. Ek kon my altyd verkyk daaraan in die bus en kon nie glo sy skeer nie haar beenhare nie. Al ons meisies het ons beenhare geskeer!”

“En hier het die Marais’s gebly. Hulle was van die rykste mense in die kontrei. Maar die oom het net vier dogters gehad en nie een van sy skoonseuns wou ooit boer nie. Vandag bly die oom en tannie in die aftree-oord in die Paarl, die plaas is lankal verkoop en die meisiekinders is elkeen in ‘n ander rigting. Ek dink twee bly iewers oorsee, een bly in Johannesburg en een bly nog in die Paarl.”

Ons ry verby ‘n groot kwekery.

“Hier het die Standers gebly. Johan was van Sub A af saam met my in die skool. Hy was ‘n boelie en het in die begin van Sub A ons meisies afgeknou. Nicolene het haar arm gebreek, voor die skooljaar begin het. Eendag het hy nog so met ons aangegaan, toe slaan Nicolene hom met daai gipsarm van haar al oor sy kop. Op ‘n manier het sy sy neus raakgeslaan en dit het aan die bloei gegaan. End van die storie is dat ons almal na die hoof se kantoor is en die hele storie van die geboelie het uitgekom en Johan het by sy bloedneus nog ‘n ordentlike pak slae ook gekry. Daarna het ons groot maats geword, tot in die hoërskool toe!”

“Johan se suster, Melinda, was ‘n jaar ouer as ons. Sy het na skool met ‘n ou getrou wat vir die Spoorweë gewerk het en so word hulle Transvaal toe verplaas. Melinda huil haar dood daar bo en haar ma huil haar dood hier onder. Jou oupa se groot vriend, oom Billy, was een of ander grootkop in die Spoorweë en oupa praat mooi met hom en hy trek toutjies en Melinda se man word terug verplaas. Almal is net te bly. Drie weke na hulle teruggetrek het Kaap toe, verongeluk Melinda en haar kind op die N1. Haar ma het haarself verwyt omdat sy gehuil het dat Melinda moet terugkom Kaap toe. Sy het geglo sy het haar kind net laat terugkom om haar dood hier te kom kry. Die tannie was nooit weer dieselfde nie. En ‘n paar jaar daarna verongeluk Johan ook, een aand oppad huis toe van ‘n stampkar byeenkoms. Na sy suster se dood het hy baie keer te veel gedrink. Nou is daar nog net die oudste broer oor en ek weet nie waar hy in die wêreld is nie.”

Megan kyk my aan en vra my hoe weet ek so alles van almal af. Ek vertel haar dat almal destyds alles van almal af geweet het, dis hoe dit werk in klein dorpies of plaasgemeenskappe. Sy sê sy wens sy het ook op so ‘n plek gebly waar sy almal ken. Ek vertel haar dis nie regtig so romanties soos wat dit klink nie. Ons ry aan.

Ek vertel haar van hoe die sentrale nog ‘n “nommer asseblief” was en hoe almal kon inluister na almal se gesprekke. Sy dink dis vreeslik snaaks.

“Een aand baie laat lui die telefoon die dominee se lui. Een korte, twee langes. Maar die dominee is met vakansie en omdat jou oupa hoof ouderling is, is daar gereël dat hy die dominee se oproepe vat. Dis die outjie wat op die sentrale werk. Hy bel om te sê daar was ‘n groot ongeluk by die kruising en Joa is dood. Joa was my skoolmaatjie – ons was standerd drie. Joa en Erich, haar broer, en hulle ma en pa was inryteater toe. Oppad terug huis toe het ‘n dronk man, wat van sy verlowingspartytjie af gekom het, oor die kruising gejaag en Joa-hulle se motor voluit getref agter aan die kant waar sy gesit het. Sy is op slag dood.”

Ek het nie eers geweet ek onthou dit meer nie, tot ek aan die sentrale begin dink het. Ek sal nooit vergeet hoe ons kinders ‘n erewag vir haar gemaak het op haar begrafnis nie. Megan is nou stil. Ek dink sy dink vir die eerste keer regtig aan my as ‘n kind, iemand wat ‘n hele lewe geleef het voor sy daar was, nie net iemand wat haar ma is nie.

Ons kom by die afdraai na die plaas waar ek grootgeword het. Aan die begin van die plaaspad, kry jy eers die pastorie. Die dominee bly blykbaar nog steeds daar, natuurlik nie meer die dominee uit my kindertyd nie.

“Dominee Terblanche was ‘n wonderlike dominee, hy was ‘n regte herder. Elke Sondag het hy voor die kerk gestaan en elke persoon met die hand gegroet. Hy het sy hele gemeente geken. Hy het altyd gedraf vir oefening en as jy vir twee Sondae agtermekaar nie in die kerk was nie, het hy sommer een middag by jou aangedraf gekom en kom hoor hoekom is jy so skaars. Hy was eers mens en dan dominee. Hy het net vier seuns gehad en Pietertjie was saam met my in die klas. Ek en hy het mekaar altyd gejaag wat punte betref, maar Pietertjie kon my maar nooit regtig wen nie. Soms in een vak, maar dan gaan ek hom weer die volgende kwartaal verby. Daai jare het ons nog boekpryse gekry vir goeie prestasie. Die skool se prysuitdeling was ‘n hele gedoente!”

“En hier is die huis wat Simon van der Stel in gebly het. Dit is die herehuis van die plaas.”

Ons ry verby en eindelik kom ons by die ingang na die plaas waar ek grootgeword het. Daar is nou ‘n groot bord wat sê Privaat en Toegang Verbode, maar daar is nie ‘n hek nie en ook geen mens in sig nie. Ek ry in en stop so entjie van die huis af. Niks of niemand roer nie. Die huis lyk nog dieselfde na al die jare – dis in 1945 deur Italiaanse krygsgevangenes gebou. Die huis lyk net vir my baie kleiner noudat ek groot is.

Ek wys vir Megan waar my pa se motor altyd gestaan het. Daar het ek altyd in die winter gaan inklim en in die sonnetjie aan die slaap geraak, terwyl ek lees of leer. Die eerste keer het my pa en Anna, ons Xhosa bediende, die wêreld vol na my gesoek en ek het ‘n hengse pak slae gekry toe ek later wakker word en ewe houtgerus uit die motor klim. Toe is my pa-hulle al mal gesoek na my!

Ek wys haar langs die buitegeboue, waar die een hondjie wat ons gehad het, een dag sy kop in ‘n vrot pampoen gedruk het en toe nie weer kon uitkry nie. Toe ons aankom, sien ons net hierdie pampoen op en af beweeg in die gras. Megan lê soos sy lag.

Ons loop nie nader aan die huis nie, daar is nie veel meer te sien nie. So ons klim maar weer in en ry terug. Onder by die teerpad, draai ek regs en gaan wys vir haar die laerskool waar ek was. Dis vandag ‘n privaat skool. Ons loop reg rondom die skooltjie en aan die een kant kan ons deur die vensters in die klasse insien. Dit lyk maar net soos enige ander skool. Ver weg blaf daar honde en ek sê vir Megan ons moet nou begin teruggaan huis toe, dit word laat.

Toe ons terugdraai in die pad, onthou ek van Moffson’s, die algemene handelaar, amper langs die skool, met die poskantoor langsaan. Ek draai eers slap links en ons ry daar in. Die gebou staan nog, maar dis nou ‘n winkel wat antieke meubels verkoop. Ek onthou hoe ons alles wat jy aan kan dink by Moffson’s kon koop. Ek onthou hoe die kleurling vrou agter die toonbank altyd skelm fotoboekies aan my en my suster verkoop het. Ons mag dit nie gelees het nie, my pa het dit verbied. Hy het dit duiwelbybeltjies genoem. Maar ons kon die versoeking nie weerstaan nie! Ek wonder wat het van Moffson self geword. Ek dink hulle was Jode.

Dis nou al goed warm en ons koop koeldrank by die antieke winkel – daar is ‘n “vending machine” en dis so half ‘n “let down”. Toe klim ons in die motor en draai om, terug huis toe.

Oppad is ons altwee stil. My gedagtes loop ver paaie. Ek het vandag meer onthou as wat ek wou, meer onthou as wat ek geweet het ek onthou. Megan sê later sy is bly ek het haar alles kom wys en ek moet haar nog stories vertel van die mense.

Ek sê: “Anderdag. Vir vandag is my stories eers bietjie opgedroog.”

Sy vra nie weer nie. Ek dink sy sien die heimwee loop dik.

Sy het hierdie naweek gesê ons moet weer een Saterdag op so ‘n toer gaan. Ek het gesê ek sal sien, ja.

Advertisements

19 Responses

  1. Pragtige storie – ek besef ook nie altyd dat my ma en pa heel ander vol lewens gehad het voor my nie…

  2. Die Moffson’s het hopelik verkoop en met hulle geldjies veilig oudgeword en doodgegaan.

    Net om die hoek van jou, waar ek grootgeword het, is daar in die 90’s hartseer afgesluit aan ‘n era van General Dealers.

    As jy Mnr. Muller in Pniel se General Dealer ooit ingegaan het, sal jy weet hy was ‘n General Dealer. Enigiets onder die son, wettig natuurlik, was agter daai twee broers se counter te vinde. Of in een van die stoorkamers.

    Ongelukkig het die misdaad sy mantel oor die gemeenskap kom swiep, en swartes het eers die een broer, en ‘n paar maande daarna, die ander broer doodgeskiet op die perseel.

    Die gemeenskap was geruk. Ek onthou my malkop engelse vriende. Die meisiekind het op laerskool stry opgetel met haar ma, toe besluit sy vat die pad. Het gestap na mister Muller, en op haar ma se rekening ‘n lekker klomp blikkieskos en lekkers gekoop. Toe hy sien sy knoop die bondeltjie aan ‘n stok vas, het hy doodluiters omgedraai, en vir tannie Liz loop bel.

    Haar gatvelle het gewaai, maar dis hoe dit was in daai dae.

    By die Simondium T, was daar ook ‘n kafee, die Myburgs s’n. Man en vrou is albei in die kafee doodgeskiet. Ook swartes van die Kaap.

    O, daai tweedehandse plek is interessant – gaan loer eendag daar in. Bitter duur vir groot nonsens, maar nietemin ‘n deurstap werd.

  3. Haai jinne sonkind

    bring jy darm nou ou foto’s terug

    so op die storie lyn af

    boelies nommer asseblief en als…

    Ek hou hiervan!

  4. Dit was nou lekker om te lees.

  5. Baie lekker gelees. Dankie dat jy gedeel het. Ek geniet sulke verhale so baie.

  6. Baie mooi. Dankie Sonnie. Ek dink jy het die naweek ‘n tydjie met jou meisiekind deurgebring wat sy vir altyd sal onthou. Koot, ons moet almal as ouers dieselfde ding doen as ons kan.

  7. hallo sonkind, kos vir die siel en rus in mens de kop, dis wat ‘n storie soos die een mens bring. ek sien dit alles so voor my en sommer gou-gou begin my herinnerings terugkom. skool, skooldrag (wat vir ons eers maar baie snaaks was, ek was 13 toe ons pretoria toe emigreer), die plot waar ons gebly het, die eerste vark en bees wat ons geslag het en natuurlik al die skelm awonture wat ons gemaak het. voel nou weer die pyn in my broek as ons weer die hoof se kantoor moes besoek het. daar is darem ook baie soet herinnerings en gedagtes. maar dit bewaar ek vir ‘n ander keer.
    groet,

  8. Haai jis, narrator, Pretoria is darem nou nie so ver nie! 😉 Ek voel dieselfde heimweë oor Pretoria in die ’80s: hoe ons warm somermiddae op die trampolien gelê het en na die valskermspringers gekyk het; hoe ons verkleurmannetjies op die Magaliesberg gaan soek het; donderstorms; my suster se aleweige obsessie met haarsproei en hoë-hoë kapsels! Hoe kosbaar is sulke stories nie, sonkind: jy herinner my ook aan my ma se stories oor haar tannie se winkeltjie op Vryheid in die ’60s – ‘n ander plek, ‘n leeftyd ver…

  9. Dit is nou interessant, ek dink my mond sal oopval as my dogter my so iets vra, miskien nie ‘n slegte idee om ‘n keer te doen nie.

  10. Ek dink ek is besig om mal te word, want ek is nou tranerig! En dis nie eers my storie nie…
    Ek het so 2 jaar terug ‘n trip deur memory lane gehad in Durban – een van vele plekke met stories van my kinderlewe – en dis absoluut amazing hoe baie dinge mens onthou al lyk dit nie meer dieselfde nie.

  11. Dis ‘n meesleurende heimwee-trip! 🙂

    Ai, ek was altyd so effe jaloers op my pa wat ook plaas- en kleindorpie- grootwordstories kon vertel, want, haha, wat sal ek tog eendag vir my kinders kan noem van my kindertyd in die stad? Hulle sal seker net hulle oë rol en dink hoe agterlik ons was voor rekenaars, mikrogolwe, selfone en DSTV.

    (Ek moet wel noem dat ek nie van Pniel af is nie.)

  12. Ek is baie ver weg van waar ek groot geword het. Dis lekker dat julle so trippie kon gehad het.

  13. My ma het in Pta grootgeword en sy het al baie stories met ons gedeel. Die alleen bus ry van omtrent regoor die hele Pta as klein dogtertjie is vir my nogal erg.
    Ek het vir so 8 jaar in die Kaap gebly en 4 jaar later weer daar ‘n draai gemaak en dit was omtrent ‘n ander wereld soos alles verander het.

  14. Dankie, dit was diep lekker lees terwyl die reen sulke vlae op ‘n Sondag hier in Pretoria gooi.

  15. Ag flip ek tik en tik en tik en submit en submit maar niks gebeur.

    Anyway, wat ek besig was om te se: Ekke het gedink hierdie is stunning! Ekke het hom genomineer.

  16. Dit was inderdaad “a walk through memory lane”. Ek het ook in Simondium groot geword. Daardie “kleurlingvrou” is inderdaad my ma. Sy was welbekend en geliefd onder die boeregemeenskap van Simondium. Sy kry nou nog besoeke van oud inwoners van Simondium. Sy woon in Pniel. ‘n Rustige plek om in te woon. Die Moffssons is albei oorlede. Ons is in verbinding met hulle kinders en kleinkinders wat in Israel en Frankryk woon.

    • Simondium uitgespreek “Simonium” sonder die “d” soos in my voorouers dit uitgespreek het. Ek kan ook trots se ek is daar gebore op “Pickstone Nursery”-Watervliet op die Sandbult soos baie van die Phillipse. Ja ek woon ook nou in Pniel soos baie ander wat later ‘n heenkome elders moes vind. Simondium ‘n plek waar self die Muslims ‘n kuboor-begrafplaas gehad het. Die heel oudste slawe begrafplaas by Ysblokke (Moffson Cottages) is rerig verwaarloos en word nie meer in stand gehou nie. Ja die plekkie gee nie baie weg as mens verbyry nie en die ou-Simoniumers het aanbeweeg, ja miskien moet ons vir die kinders gaan wys waar ons groot geword het.

    • Hi Jennifer
      Daar was 2 Moffson broers in Simondium. een was H Moffson en sy winkel was langs die poskantoor en sdy broer was L Moffson en sy winkel was naby Simondium stasie. Met watter een se kinders is jy nog in kontak. Ek het ook daar grootgeword en wil graag inligting verkry oor die mense van daardie tyd.
      Fp

    • Hallo Jennifer
      My naam is Chris Prins. Ons het in die Ysblokke gebly langs Loskie

      Ons het jare daar gebly en was goeie vriende met Leon Mouwers. Ons het nog kontak met Leon

      Ek sal graag met jou en jou ma in kontak kom en dan sommer hoor van al die mense wat ook in die Ysblokke gebly het

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: