Oom Fred en Oom Harry

Ek het vandag gehoor oom Fred is oorlede. Dat oom Harry tot op die laaste by hom was. As mens met ouer mense aan die gesels raak, dan hoor jy altyd hierdie persoon is getroud of daardie persoon is dood en so aan en so aan. Vir my het hierdie nuus baie, baie ver teruggevat. Meer as dertig jaar terug.

Ek weet nie meer waar het my ouers hulle ontmoet nie. Op ‘n dag was oom Fred en oom Harry maar net deel van my ma-hulle se vriendekring. Eers het hulle in ‘n woonstel in die Paarl gebly, maar later het my Pa gehoor van een van die kothuise wat leeg gaan op die groot plaas en hy het gereël dat hulle dit huur. Dit was ‘n lieflike plekkie, langs die riviertjie en ek onthou nog hoe mooi het hulle die kothuis gemaak.

Hulle het die mooiste skilderye, ornamente en meubels gehad. Ek kan ook nie meer onthou wat se werk hulle gedoen het nie, maar daar was beslis geen gebrek aan geld nie. Oom Harry was die spreekwoordelike ‘tall, dark and handsome’ en oom Fred was so ‘n kort, ronde oompie, amper soos ‘n teddiebeer. Ek was mal oor hulle en ek dink, noudat ek terugkyk oor die jare, dat hulle nogal erg was oor my ook.

Dit klink seker bietjie materialisties, maar ek onthou die beste van alles die wonderlike geskenke wat hulle altyd met ons verjaarsdae en Kersfees vir my en my sussie gegee het. Niemand, nie eers my ma-hulle se geskenke, kon kers vashou by hulle s’n nie. Ek onthou die hele kompendium van speletjies – daardie wat saam met slangetjies en leertjies en al die bordspeletjies, ook nog ‘n tafeltennis net en rakkette bygehad het – wat ek een Kersfees by hulle gekry het. En die Lego stel, die poppe vir my sussie, die boeke vir my. Ek het vandag nog ‘n FAK sangbundel waar hulle voor in vir my ‘n boodskap geskryf het.

Toe hulle agterkom hoe lief ek vir lees is, was daar altyd ‘n boek ook by my geskenke. As ons by hulle gaan eet het, het hulle altyd vir my ‘n boek gehad om te lees, terwyl die grootmense kuier. En speelgoed vir my sussie. Hulle etes was altyd iets uit ‘n ander wêreld. Albei kon goed kook en ek onthou nog die wonderlike disse wat hulle vir ons voorgesit het, op die mooiste breekgoed. Hulle was nooit bang ons breek iets nie. Ons het saam met die grootmense aan tafel geëet en ons was in elk geval so versigtig met al die mooi goed, dat ons alles baie mooi hanteer het.

Nie dat daar nie mooi goed in ons eie huis was nie – hulle s’n was net anders en mooier. Ek het gedink die son skyn uit hulle uit. Oom Harry kon altyd so lekker lag, oom Fred was die ernstige een. Maar oom Fred het die mooiste stories vertel.

Toe my ouers later geskei is, het ons weggetrek saam met my ma en ongelukkig mettertyd kontak met hulle verloor.

Eers baie jare later het ek op ‘n dag besef dat hierdie die eerste gay mense was waarmee ek in my lewe te doen gehad het. Ek het baie dinge baie beter begryp. Ek het besef dat, behalwe my ouers, ek nooit eintlik gehoor het van baie ander vriende wat by hulle gekuier het nie. Ek het besef dat my ma en pa vir oom Fred en oom Harry onvoorwaardelik as vriende aanvaar het. Ek het besef dat ek en my suster vir hulle die kinders was wat hulle geweet het hulle nooit eendag self sou hê nie.

Ek ‘salute’ vandag my ouers omdat hulle niks daarvan gedink het om in daardie jare hierdie twee wonderlike mense deel van hul vriendekring en deel van ons lewe te maak nie, ongeag. Hulle het my baie goed geleer, maar ek besef vandag dat hulle onbewustelik vir my deur hulle gedrag die belangrikste van alles geleer het – behandel alle mense soos wat jy self behandel wil word.

Oom Fred, rus in vrede. Oom Harry, na al die jare het ek julle nooit vergeet nie. Mag jy vertroos word in jou hartseer.

Advertisements
« »

18 Responses

  1. sonkind,
    wat mens mooi maak le binne.
    As mens het jy dit raak gesien
    dit spreek boekdele…

  2. sonkind, dit raak my hart díe pos. weet jy in my familie het dit anders verloop. die gevolg is dat my boetie nie meer kontak wil he met die ander familie nie. hij en sy vriend woon sommer naby ons. ons geniet dit om vir hulle te kuier. maar daar is altyd die hartseer dat daar persone in die familie is wat nie met hulle wil praat nie omdat die twee mans anders is…
    groete en tot ‘n volgende keer.
    my oudste seun en ek het baie van jou pos met die kitesurfer geniet. ons kan nie wag dat die water weer bietjie warmer word, dan gaan windsurf ons weer.

  3. Feit bly….. hulle was ‘mense’! Die REGTE soort….

    Son, jy’s ook bevoorregd om so te kon grootword, met die ‘regte’ soort ouers….

    ((((Sonkind))))

  4. Ek is bly daar is darem ander mense wat ook oopkop sensible ouers het.

  5. Mooi verhaal. Mens hoor nie gereeld genoeg van gays wat saam oud word nie.

  6. Baie nice inskrywing. Hoe bevoorreg is jy om van kleins af die waarde van aanvaarding en liefde te kon leer.

  7. ‘n Spesiale post. Dankie dat jy skryf. En dat jy deel.

  8. Sonkind, wat ‘n wonderlike post, jy en jou ouers is wonderlike mense, wens daar was meer soos julle! Dit is wat hulle bedoel by “mensch”.
    Machiel, ek het talle gays was saam oudgeword het, een ook ‘n hele paar wat nou alleen is nadat een oorlede is mens.

  9. Wie is enigeen van ons om sulke mense te veroordeel?

    Nou, heeltemal ‘of topic’ wil ek net sê: wat ‘n toeval om die twee name saam te sien. Hier naby ons in Strubensvallei draai ‘n straat uit Hendrik Potgieterweg, met die naam Fredenharry. Ek het eers gehoor die mense spreek dit in Engels uit Freden-Harry, maar later gehoor dis “Fred en Harry”. Toe ek laasjaar Leon Rousseau se biografie van Eugene Marais weer gelees het, sien ek hy skryf iets van die twee broers. Toe ek nou soek met google, vind ek eers daar was twee broers Fred en Harry Barber wat Barberton gestig het, maar lyk my die twee na wie die straat vernoem is, se van was Struben.

  10. Sonkind, ek stem saam met jou. Hulle is ook net mens. My “stief”skoonmoeder het 2 gay seuns en ek sê vir jou, hulle is wonderlike mense. Hulle is regte omgee mense.
    Pragtige post!

  11. Hoi – ek saluut jou ouers, maar ook dat jy die waarde van menswees so mooi kan bewoord. Ek dink in elke geval ‘n mens se seksualiteit is maar net 2% van jou menswees en dat ons as mense soms 98% tyd daaraan bestee… ander se andersheid ..dis verkeerd. Ons is in God se ogen almal dieselfde. I salute you my friend!! Rx

  12. Dankie dat jy die mooi storie met ons deel. Ek dink: Dankie tog dat die wereld sy Victoriaanse styfheid tot ‘n groot mate reeds afgeskud het. Gelukkig word mense deesdae soveel makliker aanvaar vir wie hulle is, ten spyte van hulle ‘andersheid’

  13. Sonkind, dis ‘n baie mooi verhaal en vir baie ook ‘n lewensles. Jy is ‘n wonderlike mens.

    Ek weet nie hoe ek ooit hierde post van jou gemis het nie. Ek is bly daar is so baie wat dit genomineer het, anders het ek dit gemis. Welgedaan.

  14. Regtig mooi. Ek het eers ‘n ruk terug besef my meneer toe ek in St. 1 was, was gay. Of ek vermoed so en almal met wie ek daaroor gepraat het vermoed ook so. Mnr. P was net so fantastiese mens, en die feir dat hy gay was het nie van hom ‘n pedofiel of een of ander siek ek weet nie wat gemaak nie. Ek onthou ek was baie hardop dat Mnr. P vir ons moes kom kuier, en wraggies, een aand toe nooi my ouers hom oor.

    Van my gay vriende het laas Vrydag getrou, en ek hoop hulle word ook soos Oom Fred en Oom Harry saam oud.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: