29 Februarie – Skrikkeldag

Môre is skrikkeldag, 29 Februarie 2008.

Op 29 Februarie 1988 word aartsbiskop Desmond Tutu saam met 100 geestelikes gearresteer in ‘n vyf dae lange anti-apartheid betoging in Kaapstad.

‘n Skrikkeljaar is ‘n jaar wat ‘n ekstra dag bevat om sodoende die kalenderjaar te sinchroniseer met die astronomiese jaar. Seisoengebeure en astronomiese gebeure herhaal nie op ‘n presiese aantal dae nie, met die gevolg dat ‘n kalender met dieselfde aantal dae in elke jaar geleidelik sal verskuif ten opsigte van die gebeurtenisse waarmee dit moet ooreenstem. Deur dus by geleentheid ‘n ekstra dag in die jaar by te voeg, kan hierdie verskuiwing herstel word.

Julius Ceasar is die eintlike vader van die skrikkeljaar. Die ontstaan daarvan was in 45 BC. Die vroeë Romeine het ‘n 355 dag kalender gehad en om feeste elke jaar gedurende dieselfde seisoen te kon hou, het hulle elke tweede jaar ‘n ekstra maand van 22 of 23 dae gehad. Julius Ceasar het toe besluit om dinge eenvoudiger te maak en het ekstra dae by elke maand gevoeg om sodoende ‘n 365 dag kalender te skep. Die eintlike berekening is deur Ceasar se sterrekundige, Sosigenes, gemaak. Elke vierde jaar het Februarie, wat normaalweg net 28 dae het, dus 29 dae gehad.

In 1582 het Pous Gregory XIII die kalender verfyn met die reël dat skrikkeljaar elke jaar sal wees wat deur 4 kan deel, basies maar net presies wat Ceasar gedoen het.

Die Gregoriaanse kalender voeg ‘n ekstra dag by Februarie in jare wat deelbaar is deur vier, behalwe vir jare wat deelbaar is deur 100, maar nie deur 400 deel nie. Dus is 1996 en 2000 skrikkeljare, maar nie 1900 of 2100 nie.

In 1712 het die kalender van die Sweedse ryk ‘n tweede skrikkeldag gehad, 30 Februarie, om ‘n fout reg te maak met hul oorskakeling van die Juliaanse na die Gregoriaanse kalender wat sou plaasvind deur 40 jaar se skrikkeldae weg te laat van 1700, maar in 1704 en 1708 is skrikkeldae wel ingesluit.

In 1930 en 1931 het die Sowjet-Unie 30 dae gehad in Februarie as gevolg van hul revolusionêre kalender. Volgens hierdie kalender het elke maand 30 dae gehad, met 5 of 6 maandlose vakansiedae. Die oorspronklike maandlengtes is in 1932 herstel.

Skrikkeljare is ook tradisioneel die tyd waarin ‘n vrou ‘n man kan vra om met haar te trou. In ons hedendaagse tyd hoef vrouens darem nie regtig meer vir skrikkeljaar te wag as hulle ‘n man wil vra nie, maar voorheen is daar neergesien op ‘n vrou wat so iets sou waag. Toe word besluit om vroue toe te laat om op een dag in elke vierde jaar dit te mag doen, nl. 29 Februarie.

Die tradisie het blykbaar ontstaan in die 5de eeu in Ierland. St Bridget het by St Patrick gekla omdat vrouens so lank moet wag vir mans om die jawoord te vra. Volgens die legende het St Patrick toe ‘n toegewing gemaak dat vrou mans mag vra op hierdie een dag in vier jaar.

Volgens die Engelse wet is 29 Februarie ignoreer en het dit geen wetlike status gehad nie, dus het tradisies daaraan verbonde ook geen status in Engeland gehad nie.

Die eerste dokumentasie oor hierdie praktyk dateer uit 1288, toe Skotland ‘n wet uitgevaardig het dat vrouens wettig toegelaat word om mans te vra om te trou op 29 Februarie. Die wet het ook gestipuleer dat, as die man sou nee sê, hy ‘n boete moes betaal. Die boete kon enigiets wees van slegs ‘n soen tot ‘n paar handskoene of ‘n syrok.

In die Verenigde State verwys sommige mense na 29 Februarie as Sadie Hawkins Dag. Dié tradisie het in 1937 begin na aanleiding van die strokiesprent Li’l Abner. Sadie het op die dorpie Dogpatch gewoon. Sy was ‘n regte plat-op-die-aarde-meisie. Maar niemand wou haar vra om te trou nie. Toe sê haar pa, die burgemeester, dat 29 Februarie Sadie Hawkins-dag is. Die ongetroude meisies van Dogpatch kon agter enkellopende mans aanloop. As ‘n vrou ‘n man kon vang en hom teen sonsondergang saamsleep na die eindstreep, moes hy met haar trou. Sadie het darem ‘n outjie oor die eindstreep gesleep!

Baie mense verkies egter om Sadie Hawkins Dag in November te vier, die dag waarop Al Capp die eerste vermelding van Sadie Hawkins gemaak het

Die Griekse bygeloof is dat paartjies wat in ‘n skrikkeljaar trou, ongelukkig sal wees. Blykbaar trou net een uit elke vyf verloofde pare in Griekeland gedurende ‘n skrikkeljaar.

Geniet die dag môre en mag die waaghalsige vrouens die dag goed gebruik om daar die groot vraag te vra! Hopelik is die antwoord ja.  🙂

Advertisements

8 Responses

  1. Sjoe, al hierdie datums en dae het my nou heeltemal deurmekaar!!
    Dankie vir die bietjie geskiedenis rondom skrikkeljaar! 🙂

  2. Dankie Juffrou
    Ek is reg vir die eksamen
    8)

  3. Dit was nou sommer baie interessant! En nou sit ek en dink, imagine jy was op 30 Februarie 1932 gebore in Moskou. Dan het jy flippen nog nooit weer werklik verjaar nie. 😆

  4. Eish! Baie ingewikkeld!

  5. Sonkind, ek het dit nou baie geniet, dankie.
    So elke paar jaar kry ons ‘n skrikkelsekonde of twee ook by, sodat ons tyd presies-presies reg kan wees.

  6. Dis nou my tipe pos die! Lekker gelees, Sonkind. ‘n Puntjie wat ek wil opklaar: Jy sê:
    “Volgens hierdie kalender het elke maand 30 dae gehad, met 5 of 6 maandlose vakansiedae”

    Maandlose vakansiedae? Eish, die klinknaels wat my kop bymekaar hou rattle van daai een. Dalk “vakansiedaglose maande”?

    Maar steeds ‘n lekker tjoklit-pos hoor!

    Die storie oor vrouens wat mans mag vra skrikkeldag laat my dink aan wat Andy Capp oor trou gesê het: “Marriage is a case of 50/50. She gives 50, and I takes 50…”

    S

  7. Soos ek dit verstaan:
    “Maandlose vakansiedae” ja. M.a.w. die 5 of 6 dae wat oor was na 12 maande van 30 dae elk, het nie tot enige maand behoort nie. Na 30 Desember 1931was daar dus 5 of 6 dae wat net dae was, voor jy 1 Januarie 1932 getref het… 😉

  8. Dankie DM, jou verduideliking is 100% reg. Scrib, dit het my ook eers bietjie gegooi toe ek dit lees, maar dis definitief so geskryf en ek het basies tot dieselfde gevolgtrekking gekom as DaMario. 🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: