Riemvasmaak en Feast

Gisteraand was dit Riemvasmaak, vanaand Feast of the Uninvited. Ek kyk gewoonlik maar min TV, maar hierdie twee programme het my gevind, nie ek vir hulle nie. So half per ongeluk.

Vir dié wat nie weet nie, Riemvasmaak vertel die verhaal van die verwydering van die mense van hulle grond af, waar hulle geslagte lank gebly het, deur die destydse apartheidsregering. Die regering het besluit dat as jou ouma- of oupagrootjie ‘n Nama was, is jy verskuif Suid-Wes toe. As hulle Xhosas was, is jy verskuif Ciskei toe. Dis net so goed die regering van vandag besluit hulle skuif my Ierland toe, want dis waar my voorouers vandaan kom. Ek het nie woorde hiervoor nie. Dalk het julle.

En natuurlik, Feast of the Uninvited vertel die verhaal van die Boere en die Engelse oorlog en hoe die Engelse die plase afgebrand het en die vrouens en kinders konsentrasiekampe toe gesleep het. En hoe die kinders dood is aan allerhande siektes weens die haglike omstandighede in die kampe. Ek het weer nie woorde nie.

Ek is op die oomblik op ‘n plek in my kop waar dit nie lekker voel nie. ‘n Mens is ‘n mens deur ander mense. Ja? ‘n Mens word egter ook op geen ander manier in soveel totaliteit van jou menswees, jou menswaardigheid, gestroop en beroof soos deur ander mense nie.

Ek wens ek kon vergeet wat ek gesien het.

One Response

  1. Ja, en dan het Anna-Mart mos nou die Godgegewe gawe om jou in trane in te speel. Ek wonder hoeveel oe was droog nadat sy haar beurt gekry het. Ek wil nog ‘n post oor haar doen.

    Ek was nou ook op ‘n site wat ek wens ek nie was nie. Per ongeluk. Jare terug het ek ook soortgelyke foto’s gesien, en was nog klein, en dit het jare lank in my gemoed saamgesleep.

    Mense kan mense maak of breek.

Lewer kommentaar